Jeugroman of historiese roman? ’n Lesersindruk van Louis Pretorius se ’n Jaar in my lewe

  • 0

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Titel: ’n Jaar in my lewe
Skrywer: Louis Pretorius
ISBN 9780637008280
Uitgewer: LAPA

Dit is nie aldag dat ’n jeugroman moontlik met ’n historiese roman verwar sou word nie, ook nie noodwendig anders om nie. Louis Pretorius se roman ’n Jaar in my lewe laat ’n mens nogal wonder.

Die voordeel is dat jongmense én ouer lesers aanklank sal vind by die teks.

Die ruimte: Potgietersrus in 1996

Die roman speel af in die jaar 1996; die dorp is Potgietersrus.

Vandag staan Potgietersrus bekend as Mokopane, ’n effense opgradering vanaf Piepierus, soos dit algemeen bekend gestaan het onder swart mense in 1996. (S’true! Vra maar ouer mense wat nog onthou.)

Potgietersrus was een van die dorpe wat trots “nee” gestem het in die 1992-referendum. (Lees Jan-Jan Joubert as 1992 te ver terug is om te onthou.)

Nou ja. Julle kry die idee.

Al sou die Nuwe Suid-Afrika reeds twee jaar oud geword het in 1996, het Potgietersrus nie bekend gestaan as ’n dorp wat nuwe idees maklik aanvaar het nie.

’n Baie kort opsomming van die verhaalgegewe – sonder om iets weg te gee

Die verhaal begin in Januarie 1996. Liam is ’n uitstekende diskusgooier. Hy is ook akademies sterk en hou daarvan om deel te neem aan redenaarskompetisies en toneelspel. Hy hou ook vreeslik baie van sommige meisies, maar is tog aangetrokke tot seuns. Dit maak hom deurmekaar. In 1996 in Potgietersrus is die woord biseksueel nie algemeen gebruik nie.

Daar daag ’n nuwe dominee op in Potgietersrus en dié se seun Martin is gay.

Die NG Kerk kan in 2025 steeds nie saamstem oor gayregte nie en in 1996 te Potgietersrus was daar talle mense wat nie van gays gehou het nie.

Liam en Martin se vriendskap het dus die tonge los gehad.

Die jaar 1996 was egter ook om ’n ander rede belangrik. Die splinternuwe grondwet is in 1996 aanvaar en skielik was dit ongrondwetlik om teen mense te diskrimineer op grond van hulle seksuele oriëntasie. ’n Nuwe grondwet verskaf wel ’n wetlike platform aan mense om hul regte op te eis, maar grondwette verander nie harte nie. Dit sou Martin, veral, baie deeglik uitvind.

Hierdie mooi, maar ook met tye hartseer roman handel oor die ontluikende verhouding tussen Liam en Martin, ’n verhouding wat nie sonder teenspoed is nie.

’n Historiese roman, dalk?

’n Historiese roman is tradisioneel ’n verhaal wat in ’n vervloë era afspeel. Dit is fiksie, maar gebruik baie dikwels ware historiese gebeure, ook egte mense of werklike omgewings, om ’n gevoel van egtheid te skep. So sal ’n fiktiewe karakter in ’n historiese roman heel dikwels skouers skuur met ware mense, of hulle sal ware gebeure “beleef”.

Dink byvoorbeeld aan Irma Joubert se uitstekende historiese romans. Feit en fiksie loop hand aan hand in haar verhale, maar as Irma sê iets histories het op daardie dag in daardie dorp gebeur, kan jy maar die leeswerk nadersleep. Joubert is ’n uitstekende navorser en laat nie toe dat histories onjuiste feite inglip in die fiktiewe lewens van haar karakters nie.

Louis Pretorius neem die leser terug na 1996.

Is 1996 dus ’n historiese tyd? Helaas. Ek was daar, maar nie een van my kinders is toe al gebore nie. Vir diegene wat in die 21ste eeu gebore is, sou 1996 waarskynlik reeds gelyk wees aan die antieke tye.

Pretorius doen baie moeite met sy navorsing. Hy het byvoorbeeld seker gemaak dat produksies by Oudtshoorn-kunstefees (nou bekend as die KKNK) korrek weergegee word. Liedjies en rekenaars uit daardie tyd kom ook ter sprake. Die koms van ons nuwe grondwet word deeglik benut in die boek.

Veral jongmense sal dit interessant vind dat telefone in daardie dae met drade aan mure gekoppel is en dat gewone skoolgaande jongmense in 1996 nie selfone gehad het nie.

Die roman neem dus die leser deeglik op ’n historiese reis na ’n ander tyd.

’n Jeugroman?

Jeugromans word opsetlik vir ’n jonger gehoor geskryf en handel oor die soort goed wat jongmense pla. Dit doen ’n Jaar in my lewe ook baie deeglik.

Dinge soos skoolsokkies, bestuurslisensies, die matriekafskeid en die eindeksamen is belangrike fases van ’n jongmens se lewe. Meer nog: Verhoudings, of die gebrek aan verhoudings, word geweldige kopsere vir diegene wat binnekort die skool gaan verlaat.

In 1996 was dit steeds feitlik onmoontlik om openlik in ’n gayverhouding te wees in ’n aardskonserwatiewe dorp soos Potgietersrus.

Dit is wonderlik dat ons deesdae jeugromans het wat hierdie sake aanspreek.

Vir hopeloos te lank is Suid-Afrika se jeugromans vreeslik kuis gehou. ’n Ligte blos op iemand se wange sou dalk lei na ’n kus, maar verder sou ons nie durf gaan nie.

Ek is bly om te sê dinge het verander en Pretorius se jongmense leer mekaar se lywe op toepaslike wyses ken. Sy beskrywings hiervan is smaakvol gedoen, nie sensasioneel nie.

Wanneer dinge skeefloop vir die hoofkarakter, en ja, dit gebeur, word die skokkendste tonele van geweld sonder onnodige sensasie uitgebeeld. Die sielkundige nadraai van die gruwels op die karakters, getrou aan byvoorbeeld Lord of the flies se jongmanne, word ook deeglik verwoord.

’n Jaar in my lewe handel nie oor sensasie nie. Dit ondersoek bloot die lewens van jongmense wat swaarkry, omdat hulle as “ander” gesien word.

Vloekwoorde

Ek moes glimlag oor die vloekwoorde in die boek. Hulle word almal met simbole aangedui. Daar is ’n glossarium van die vloekwoorde, as mense die moeite sou wou doen om hulle uit te pluis. Ek het nie gebodder nie; vir my was dit bloot amusant en baie slim opgedis. G’n onnie, of ouer, sou nou kon gaan kla as hulle kind hierdie boek lees nie, want sien, daar is regtig nie een enkele skunnige woord in nie. (Was ek beter met jongmenstaal, sou hier nou talle lag-emotikons gepryk het.)

Dapper

’n Jaar in my lewe is ’n dapper boek.

Net soos ek enige een sal aanbeveel om steeds, groot asseblief, Statements after an arrest under the Immorality Act deur Athol Fugard te gaan sien wanneer dit in ’n teater naby jou speel, sal ek ewe graag Louis Pretorius se roman vir oud en jonk aanbeveel.

Lees ’n Jaar in my lewe voor iemand ’n fliek hieroor maak. Daardie een danstoneel sal die film ’n enorm hoë ouderdomsbeperking gee. (Gelukkig sal dit dan ook die regisseur toelaat om tydens die intieme tonele die klere te laat waai.)

Daar is egter niks skunnigs aan Louis Pretorius se ’n Jaar in my lewe nie, maar ou mense soos ek moet gereeld herinner word daaraan hoe ver ons gevorder het met menseregte in die nuwe Suid-Afrika. Jonger mense, aan die ander kant, moet bewus gemaak word daarvan dat hulle vandag in ’n baie, baie beter land woon as tevore.

“Want jou ouers ondersteun jou onvoorwaardelik”

Ek was eintlik reeds klaar met hierdie lesersindruk toe ek Hermione le Roux se lieflike verhaal oor haar troue lees. Een sin het my veral getref: “Want jou ouers ondersteun jou onvoorwaardelik.”

Daarmee kry ek toe die regte einde vir hierdie leesverslag: Liam sou baie wou gee om te weet sy ouers ondersteun hom onvoorwaardelik. In 1996, in konserwatiewe Potgietersrus, kon daardie woorde nie oor hom, of baie ander, gesê word nie.

Ons moet egter nie bloot een dorp sleg maak in die proses nie. Le Roux se vertelling oor gebeure van enkele weke gelede bewys dat Liam se ondervinding steeds verteenwoordigend is van baie mense in hierdie mooi land van ons, die wonderlike grondwet ten spyt.

Lees ook:

’n Jaar in my lewe deur Louis Pretorius, ’n resensie

’n Dag vol hoop en liefde

’n Selfgerigte-lees-proses: traumabelewing en -verwerking in die jeugroman Blou is nie ’n kleur nie: ’n onderhoud

Fanie Viljoen se Onderwêreld as voorbeeld van die gesag- en magstryd in die jeugroman

Uit deur Fanie Viljoen

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top