’n Selfgerigte-lees-proses: traumabelewing en -verwerking in die jeugroman Blou is nie ’n kleur nie: ’n onderhoud

  • 0
  • Gesprek van Estelle Kruger met Elize Vos en Ronel van Oort oor hulle artikel:  

Julle het ’n wennerjeugverhaal gekies om te ontleed en bespreek. Watter kriteria is gebruik by Sanlam en MER onderskeidelik om te besluit watter boek die beste is vir die jaar?

Na aanleiding van ’n gesprek met Betsie van der Westhuizen, bekende kenner en ervare beoordelaar van kinder- en jeugboeke, blyk dit dat beoordelaars nie kriteria vir bekronings ontvang nie. Vir prof Van der Westhuizen is die belangrikste kriteria dat die bedoelde lesers deur die verhaal geboei, vermaak, getroos, aangespoor, verryk en verruim sal word en ook insig en hoop daaruit sal verkry. Dit is vir haar belangrik dat beoordelaars nie aan bande gelê moet word met ’n vooropgestelde stel kriteria nie, want die manuskripte en boeke wat beoordeel moet word, “kan jou dalk buite die nate van ’n voorafopgestelde lysie kriteria verras”. Daar behoort volgens hierdie kenner ruimte vir beoordelaars te wees vir verrassing en vernuwing.

Wat het julle elkeen persoonlik aangetrokke laat voel tot hierdie jeugteks om dit so indringend te ontleed en bespreek?

EV: Trauma (veral verlies en dood) is so deel van elkeen van ons se lewens, en met die lees van hierdie jeugroman het ek tot die besef gekom dat jou geloof en die verbreking van stilte tot heling en veerkragtigheid lei.

RvO: Hierdie roman het soveel diepte en rykheid, en telkens met ’n herlees was daar byna op elke bladsy nuwe dimensies wat na vore getree het.

Julle het trauma as basiese tema gekies waarmee julle die boek ontleed en bespreek het. Dit is op sigself ’n sielkundige onderwerp – was dit nie moontlik om dalk in sielkundige terme te verval nie?

Hierdie artikel is geensins bedoel vir terapeutiese waarde nie en ons wou ook nie in sielkundige terme verval nie. Ons doel was bloot om agtergrondkennis oor trauma vir die algemene leser (veral onderwysers en leerders) te bied om die roman se boodskap van hoop raak te lees.

Hoe het julle afgekom op al die intertekste wat die diepte van die verhaal verryk?

Ons het op die drie epigrawe/motto’s voor in die roman gefokus. ’n Epigraaf is ’n kort reël/aanhaling/uitdrukking aan die begin van die boek of hoofstuk wat ’n aanduiding van die tema gee. Hierdie drie epigrawe/motto’s was vir ons die sleutels waarmee ons die verhaal kon ontgin. Eerstens kon ons ’n vergelyking tref tussen die inhoud van die epigrawe/motto’s en die toepassing daarvan op die lewens van die verhaalkarakters. Tweedens het dit tot ’n verdieping van ons leeservarings gelei; en derdens het dit meerduidige konteks vir die verhaal geskep.

Julle eie agtergrond in die lees en verstaan van fiksietekste (selfs die opleiding om dit as onderwysers te onderrig) het moontlik bestaan uit die blote strukturele ontleding van die inhoud om die teksinhoud tot kunsmatige stukkies en brokkies taal te verkap.1 Nou het julle die verstaan van die teks verryk met die resepsie-estetika-benadering tot lees – waar het die draaipunt gebeur in julle elkeen se lewens?

EV: Selfs in my onderwysloopbaan het ek nooit ’n literêre werk tot “kunsmatige stukkies en brokkies taal verkap” nie, maar altyd gepoog om die waarde wat dit tot die leser se lewe byvoeg te beklemtoon. Die Nasionale Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (2011) lê juis klem op die genotsaspek van ’n literêre werk en nie op die klakkelose literêre ontleding daarvan nie.

RvO: My draaipunt het gekom met die koms van prosesbenaderings tot kurrikulumontwerp, wat wegbeweeg het van onderwysergesentreerde onderrig na leerdergesentreerde onderrig waarin die resepsie-estetika-benadering tot volle wasdom kan kom.

Kan julle “resepsie-estetika” in ongeveer 25 woorde beskryf vir ’n onderwyser wat dalk nog nooit daarvan gehoor het nie?

Die resepsie-estetika-benadering is ’n selfgerigte-lees-benadering, asook ’n individuele interpretasie en reaksie op ’n letterkundige teks vanuit ’n persoonlike agtergrond en verwysingsraamwerk om leesbegrip te konstrueer.

Dit lyk of jeugletterkunde toenemend begin om omstrede temas aan te raak – wat beskou julle as die rede daarvoor?

Hedendaagse samelewingsgebeure en die toenemende vryheid van spraak laat omstrede temas toe wat sekerlik hedendaagse skrywers beïnvloed en sodoende in sekere behoeftes van die adolessenteleser voorsien.

Dink julle dat die deursnee-onderwyser toegerus is om omstrede temas in die klas te behandel? Soos julle meld – die onderwyser moet ook pastor wees.

Die feit dat sommige onderwysers hierdie soort tekste met omstrede temas ontwyk en dit nie met hulle leerders in die klaskamer wil bespreek nie, of verkies om eerder nie hierdie omstrede verhale vir hulle leerders voor te skryf nie, is ’n probleem. Taalonderwysers behoort daarom tydens hulle opleiding aan leesstrategieë soos die gebruik van tekstuele leidrade en kontekstuele merkers blootgestel te word, sodat hulle hulle leerders uiteindelik kan leer om kontensieuse jeugromans selfgerig te kan lees, betekenis te konstrueer en ’n boodskap af te lei.

Hoe het julle elkeen persoonlik gegroei in die proses om hierdie boek te lees, te ontleed en te interpreteer, en ook hoe om dit in die klaskamer aan te bied, en uiteindelik julle navorsingsresultate te publiseer?

EV: Ek het besef dat die leesproses kompleks is en dat die verhaalinhoud verskillend deur ingewyde en oningewyde lesers geïnterpreteer kan word. Die boodskap van hoop kan sodoende maklik verdwyn en daarom moet voornemende onderwysers, en leerders, toegerus word om omstrede jeugromans selfgerig en betekenisvol te kan lees.

RvO: Tydens die lees- en herleesproses het ek besef dat die gebruik van leesstrategieë, leidrade en kontekstuele merkers vir onderwysers en leerders noodsaaklik is om ’n teks van hierdie aard en omvang sinvol te interpreteer.

Wat was vir julle elkeen die grootste ontdekking op hierdie hele reis waarop julle gesamentlik was?

EV: Ek het herontdek dat trauma uit bepaalde fases bestaan en verskillend deur verskillende mense beleef en hanteer word. Uiteindelik kan genesing van trauma plaasvind net as die stilte daaroor verbreek word; sodoende lei dit tot die veerkragtigheid van getraumatiseerdes.

RvO: Die treffende en dieperliggende toepassing van die gedig van Kavafis (as interteks) op hierdie jeugroman se gebeure en karakters, waarin universele riglyne vir die mens se lewensreis gegee word, het vir my besondere persoonlike waarde gehad. 

Is daar iets waarmee julle gesukkel het?

Ons het aanvanklik beplan om ook ander aspekte van hierdie verhaal buiten traumabelewing en -verwerking, in een artikel te betrek, maar het besef dat die verhaal te omvang- en betekenisryk vir so ’n ontleding is.

Dit lyk of julle ’n gedugte span is om saam te werk – het julle enige ander nuwe projekte op julle horison – tesame of alleen?

Ons werk baie lekker saam, dink dieselfde en vul mekaar ongelooflik goed aan. Ons beplan beslis opvolgartikels oor Blou is nie ’n kleur nie – juis vanweë die omvangrykheid van hierdie verhaal.


Eindnota

1Combrink, L. 1992. Die literêre teks as vertrekpunt vir temagerigte en integrerende literatuuronderrig. Tydskrif vir Taalonderrig, 26(3):17–37.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top