
Hermione en haar pa, Willie, voor die seremonie (Foto: Judith Belle)
...
“Want jou ouers ondersteun jou onvoorwaardelik?”
...
Op 20 September 2025 het ek en my vrou amptelik getrou. Maande se werk en beplanning loop saam en om 15:30 loop ek op ’n rooi tapyt na die koepel toe waar vroulief vir my wag.

Hermione in haar trourok (Foto: Judith Belle)
Alles het foutloos verloop. Wel, behalwe die musiek, hier en daar. Almal was vol komplimente oor alles: die venue, die dekor, die kos ... alles was net wonderlik.
“Gaan jy iets vir LitNet skryf oor die troue?” vra my vriendin Annie vir my toe ons sit en ’n drankie drink na al die formaliteite.
“Nee. Waarom?”
“Want jou ouers ondersteun jou onvoorwaardelik?”

Die hele familie saam (Foto: Judith Belle)
Annie praat sin. Haar ouers het haar nog nooit werklik ondersteun nie. Haar ouers weet nie eers sy’s ’n lesbian nie.
Soos ek bietjie aan die saak begin dink het, het ek gedink Annie het ’n punt beet. Daar is besonder baie mense, ongeag van kulturele agtergrond, wat nie werklik enigiets wat anders is aanvaar of verstaan nie. Of dit nou iets so klein is soos ’n ander kerk of iets skynbaar groot soos uitkom as LGBT+, daar is soms weerstand.
Ek’t ook al Annie se ouers ontmoet. Haar ma vrees vir haar lewe wanneer sy ’n swart loods sien en laat staan maar enige aanvaarding van LGBT+ mense. Dis mos mense wat yl en voor gebid moet word.
Dis besonder verskriklik om te dink sulke dinge gebeur nog in 2025. Met die wêreldwye teruggryping na verregse denke en fascisme, moet ek eintlik nie verbaas wees nie. Tristán Kapp het vir Daily Maverick ’n besonder deeglike analise geskryf oor die status quo en hoe dit die Afrikaner beïnvloed.
Annie se woorde draai in my kop. Soos ek meer en meer dink wat sy gesê het, hoe meer en meer kom ek agter ek het ondersteuning wat baie min het.
Ek kan klaar hoor hoe mense kommentaar gaan skryf oor “my ouers moes harder probeer om my straight te maak” of soortgelyke onsinnige kommentaar. Sulke kommentare toon ’n soort onkunde oor LGBT+-sake wat jy vind by mense wat dink ons kies om LGBT+ te wees. Snaaks hoe jy nooit hoor dat mense kies om straight te wees nie, of hoor oor hul wroegings met geloof en God omdat hulle straight is nie.
As straight-wees ’n keuse is, is dit dan ook ’n keuse om LGBT+ te wees. Dan kan daar mos iets gedoen word om jou “normaal” te maak. Dis waarom conversion therapy nog beoefen word, hoewel dit al lankal deur elke gesaghebbende mediese en sielkundige raad as pseudo-wetenskaplike praktyke bestempel is. Ek sluit Wikipedia-skakels in, want dis ’n goeie plek om te begin as jy nie weet wat hierdie praktyk is nie of waarom dit nie werk nie.
In my lewe het ek nog altyd liefde en ondersteuning gevind. Ja, daar is hier en daar ’n paar haakplekke gewees, maar dit is hoe dit gaan met enige verhouding tussen mense. Annie het nie daardie tipe ondersteuning nie. Sy is een van baie wat ek ken wat óf hul identiteit van hul familie moet wegsteek óf heeltemal moes wegbreek van die familie af om gelukkig en hulself te kan wees.
Snaaks dat jy nooit hoor oor konserwatiewe jongmense wat aan hulle liberale ouers moes ontsnap nie, maar dis dalk net my ervaring.
“Jou ma-hulle is hier. Lisa se ma is hier. Die familie is hier ...”
Dit is hoe dit was. Nooit in my lewe sou ek ooit gedink het dat ek gelukkig kon wees nie, laat staan maar romanse of trou. Maar hier is dit: Ek is getroud. Ek is gelukkig. Ek is bevoorreg om so iets te kan doen, veral in ’n wêreld waar baie mense my bestaansreg ontken.
My troue en daarmee ook my huwelik kan dien as ’n voorbeeld vir queer mense wat dink hulle gaan alleen wees vir die res van hul lewens, of queer mense wat hopeloos voel. Een van die gaste het juis gesê die wêreld is ’n baie negatiewe plek vir ons mense, maar dat ons troue haar nuwe hoop gegee het.

Lisa en Hermione neem foto’s na die afloop van die seremonie. (Foto: Judith Belle)
Dis tog waaroor ’n troue gaan: Dis ’n nuwe begin. Dit word aangepak met hoop en liefde. Dit is ’n viering van liefde, ongeag jou gender of oriëntasie. Ek en my vrou het ons liefde vir mekaar gevier, ten spyte van al die slegte dinge wat aangaan.
Ek hoop werklik Annie se situasie kan beter raak, nes ander pelle van my. Dinge is beter vir ons gemeenskap, maar daar’s nog ’n lang pad om te loop.

