
Fotobron: https://pixabay.com/photos/bride-wedding-flowers-4707741/
’n Sprokiesmooi troue. ’n Bruid se grootste dag. Oral in die media word hierdie idee – of mite – aangeblaas. Dink maar net hoeveel televisieprogramme op kykNET alleen word daar nie afgestaan aan die een of ander faset van huwelikseremonies nie. Trourokke, die onthaal, makeovers … Daar is ’n florerende mark vir bruidstydskrifte en Sarie loods gewilde kompetisies soos Bruidspaar van die Jaar.
.............
Ja, ’n paartjie se troudag as liminale geleentheid bly inderdaad een van die gewildste feeste van ons moderne tyd. ’n Bruid word gehuldig as soort argetipiese prinses en dis haar reg om soos ’n diva op te tree.
...............
Ja, ’n paartjie se troudag as liminale geleentheid bly inderdaad een van die gewildste feeste van ons moderne tyd. ’n Bruid word gehuldig as soort argetipiese prinses en dis haar reg om soos ’n diva op te tree.
Hollywood het ook volledig ingekoop in hierdie immergroen sprokie – dink maar aan films soos Four weddings and a funeral (1994) of Very bad things (1998). In laasgenoemde film, ’n donker komedie, lei ’n ramparty in ’n Las Vegas-hotel tot ’n kettingreaksie van moorde nadat ’n prostituut per ongeluk dood is tydens ’n rampartygefuif. Die bruid bly egter ten spyte van die een ná die ander ramp vasbeslote om getroud te kom – en die film eindig op ’n makabere noot.
Die boodskap is duidelik: ’n Bruid sal oor lyke loop om die knoop deurgehaak te kry. Troukoors kan oorborrel in volskaalse delirium en die bruid eis vir haarself ’n tipe vrypas, ’n licence to kill, op. Die negatiewe keersy van die muntstuk word belig: Daar is min mense so selfgesentreerd (of selfsugtig) soos ’n bruid. Dit is immers haar groot dag en dit word so gekondoneer of selfs verromantiseer deur die groter samelewing.
En natuurlik is rowwe rampartye nóg ’n gewilde tema vir die silwerdoek … reken strippers, dwelms en ’n paar zef pelle by, en jy lag verslae vir die swart humor in The hangover-reeks.
...........
Ek was ’n paar weke gelede by ’n familietroue, ’n deftige storie iewers in die Boland. Die tantes (dis nou afgesien van my ook ’n weduwee, ’n feminis en ’n divorcée) se verblyfreëlings was bevestig in ’n luukse boetiekhotel met ’n trotse ouwêreldse geskiedenis. ’n Logiese gevolg was dat ons vier tantes ’n saamrygeleentheid gevorm het – die 4-ster trou-venue was ongeveer twee ure se ry weg.
.............
Ek was ’n paar weke gelede by ’n familietroue, ’n deftige storie iewers in die Boland. Die tantes (dis nou afgesien van my ook ’n weduwee, ’n feminis en ’n divorcée) se verblyfreëlings was bevestig in ’n luukse boetiekhotel met ’n trotse ouwêreldse geskiedenis. ’n Logiese gevolg was dat ons vier tantes ’n saamrygeleentheid gevorm het – die 4-ster trou-venue was ongeveer twee ure se ry weg. Bewapen in ’n swart nommertjie (’n lang rok), hoëhakskoene en ’n groot Jackie O-sonbril was ek gereed vir die okkasie. Ons sou vroegaand arriveer en die troue was die volgende middag vieruur. Maar ek was heeltemal overdressed, sou ek later uitvind – die aandete was ’n regte boerebraai. Ek het ook onlangs een van my gebreekte kiestande laat opbou deur ’n wonderwerker van ’n tandarts in Somerset-Wes. Die fancy nuwe tand het met so ‘n blougoud opaalskynsel geflits as ek smaail.
Nou, nadat ons vir maande aaneen gebombardeer was deur die jong bruid-to-be se kommer, wat by tye histrioniese afmetings aangeneem het, het ons die pad aangedurf. Hopelik sou alles volgens plan verloop – geen haakplekke rondom die verblyf, blomme, kerse, strooimeisies, foto’s of drakoniese inperkingsreëlings nie. Die beplanning rondom enige troue laat my sidder. Dís nou afgesien van my drie saamrymaats – die middeljarige bitterbekke wat ’n slagveld van egskeidings, weduskappe, lelike break-ups en die alleenvoortfok van vroue ken. Siniese sêgoed het drukkend in die Range Rover Evoque gehang.
“Hulle moet ’n huwelik maak soos met ’n bestuurslisensie, dit moet elke vyf jaar hernu word,” het die gryskop divorcée droog opgemerk.
“Ja, met ’n escape clause in vir ander planne … soos met die buurman,” het die weduwee gelag.
“Daar gaan soveel geld, tyd en stres in ’n troue in. Maar weet julle dat amper die helfte van alle huwelike in Suid-Afrika in die skeihof eindig?” het die feminis gebits. “En ken julle die simboliek van ’n huwelikseremonie?”
“Nee,” het die ander twee gelyk geantwoord.
Ek het met ’n halwe oor geluister en gewonder wanneer ons sou stop om brandstof in te gooi – mens noem dit ’n smoke break.
“Wel,” het die feminis vervolg. “Die gebruik dat die pa die bruid in die kerk inbring, dateer uit die patriargale tradisie. Wat nog springlewendig en gesond is. In antieke tye het ’n vrou nie ’n identiteit van haar eie gehad nie; sy het eers aan haar pa behoort, wat dan simbolies sy dogter aan die bruidegom afgee. Of oorgee. Sy word dus nou die eiendom van haar man. Die wit rok dui op maagdelikheid. Of reinheid, nes jy wil. En die sny van die koek – op die breek van haar maagdelikheid, ook simbolies, sien. Baie simboliek, soos die sluier, handel óók oor maagdelikheid. Waarom is patriargale ou mans so gepreokkupeer met ’n vrou se maagdelikheid? O, en dan die huweliksformulier … Vandag is ’n vrou nie meer onderdanig aan haar man nie – nee, die egpaar is onderdanig aan mekaar. Wat ’n kontradiksie … dit maak glad nie sin nie.”
Ek het gewonder of die blomme en kerse oorblyfsels van vrugbaarheidsrites sou wees. Om van die toe-oog bruidegom, wat die kousband met sy tande onder die bruid se rok moet uitgrawe, nie te praat nie. En die bruidsboeket wat die paartjie teen die Bose Oog moet beskerm. Soveel bygelowe, volksoorlewerings en kultuurgebruike in die huwelikseremonie.
Die kar se termometer het intussen gevaarlik hoog begin klim – 38° – en ek het onthou dat die volgende dag se weervoorspelling die kwikmeter op 40° sou laat steier. Ons was besig om die siedende hittegolf binne te ry. Wel, warm kry is een ding, maar ’n hittegolf én beurtkrag saam is ’n heel ander storie. Wat net Suid-Afrikaners sal verstaan. Ons het letterlik van beurtkrag tot beurtkrag gery, Eskom se rooster en noodlot klokslag téén ons. Ek kon nie my trou-outfit gestryk kry nie en het sommer my Russell Hobbs-strykyster in my tas ingeprop. Met die hoop om in my historiese suite my broekpak kraakvars en met skerp nate gestryk te kry, sommer op die mat as dit moes.
Moses het hom nie gesteur aan die Israeliete se gemurmureer in die woestyn nie en ek het toondoof geraak vir die weduwee, die feminis en die divorcée se bitter kwinkslae oor die liefde en die huwelik.
Uiteindelik het ons by die trou-venue gearriveer – katjiepieringwit geboue met rietdakke: die kapel en die onthaal- en verblyfarea. Tipiese Wes-Kaapse argitektuur, so anders as die boere-Tuscan of staandakklinkermentaliteit van Gauteng.
Die Range Rover het oor die grondpad geskud. “Mens het ’n sportbra nodig vir hierdie plaaspaaie,” het die weduwee gebrom, haar arms styf oor haar borste geslaan.
Dit was agtuur en stikdonker, maar iewers het ’n kragopwekker en ’n paar lampe in die verte geflikker. Braaivleis!
Selfoonflitse en ligte het nader beweeg en ons is hartlik verwelkom en geklapsoen; ons bagasie onmiddellik en flink deur twee jong latte uit die kattebak gehaal.
“Bestaan Covid dan nie in dié geweste nie?” het die divorcée skerp gevra, maar ook haar masker laat sak.
Liewe familie. Verlore bloed. Hoeveel jaar is dit sedert ...?
Ons is omtrent met ’n erewag vergesel na die hotelgedeelte, vier ruim slaapkamers met en suite-badkamers.
Daar is egter net een probleempie, het die hoofspreker (die strooijonker?) ons dringend onderbreek. Die pastoor wat die diens gaan lei, het in die tweede honeymoon suite ingeboek. Ongenooid, hy en sy vrou. Of dalk het hy gedink hulle is ook gaste, niemand weet nie. Máár, het die jongman verleë bygevoeg, daar is reeds ’n sleeper couch vir een van die tantes in ’n kamer ingedra. Daar is mos vier tantes, en met een kamer minder ...
Ek kon nie anders as om hom jammer te kry nie. Sy skouers het gekrink met die mededeling en sy oë was pierings. Met die selfoonflitse se ligvierkante het ons 100 meter verder ons beurtkragbestemmings bereik. Die sleeper couch was nie baie lank nie, waarskynlik vir ’n kind bedoel, en omdat ek die kortste van die vier tantes was, het die loot op my geval – ék moes daar nesskop. So gesê, so gedaan. En ja, die prediker was reeds in die kooi. Mag hy môre wingerdgriep hê, het ek hom in my gedagtes verwens. Die fees van die ongenooides, hmmm.
Die boeregasvryheid in die braaiarea was egter aansteeklik. Almal het gebry – selfs die African Grey in die hok op die dranktafel het gebry. Iemand se oom het ’n skaap geslag, het die jongklomp opgewonde vertel, en nóg iemand het ’n glas wyn in my hand gedruk. “Gedress to kill, nè?” het ’n goedige vrouestem my swart armour gekritiseer, maar ek het ’n smaail met my nuwe opaaltand geflits en gesigte en name uit die verre verlede ontmoet en herontmoet.
Gelukkig was die sleeper couch in die suite van die weduwee, ’n saggeaarde dame – én ’n roker. Die dag het silwerblou en dynserig gebreek en ek het instinktief geweet: Die hittegolf is hier. Die gietysterstoele buite in die tuin was teen elfuur al vuurwarm, maar ’n boer maak ’n plan. As ons op die bad se rand sit en die badkamer se skuifdeur oopmaak, is ons mos ámper buite, het ek geredeneer. Die herinnering van skelmrook as skooldogter het volledig ingeskop. Ek het ongemaklik en hangboud op die badrand gesit en peins oor alles wat verkeerd kan loop by ’n troue – al daai dinge wat bruide slapelose nagte besorg. Die bruidegom kry koue voete. Of die bruid sélf. Of die troufotograaf daag nie op nie. Trouens, dit het gebeur met ’n strandtroue in Danabaai. Volgens ’n berig in Mossel Bay Advertiser het ’n paartjie die skokkende ontdekking gemaak: Hulle fotograaf is skoonveld. Katastrofies. ’n Vreemde man wat besig was om foto’s van die strand te neem, het egter bewus geraak van die predikament en ingespring, die troufoto’s geneem en twee uur later heel netjies die geredigeerde weergawes aan die paartjie besorg, kosteloos. ’n Mooi verhaal, inderdaad.
Maar dán weer, aan die ander kant: Die internet wemel van afgryslike bakleiery wat tussen gaste uitbreek – faits wat eindig in vuisgevegte en polisie, slapstick humor waar skoon-/familie mekaar met koek toetakel of besmeer. Ag néé.
Ons het ons dooie selfone gelaai en met voorbereidings begin: gesig- en haarmaskers en naelverf en al daardie geheime doepas wat beloof om ’n towerstaf oor ’n ouer vrou se voorkoms te swaai. Ek het my later tuisgemaak in die koel, leë bad waar ek kon dampieslaan en op my selfoon ’n MA-verhandeling wat handel oor die verband tussen sprokies en die huwelik begin lees.
.............
Ek het my later tuisgemaak in die koel, leë bad waar ek kon dampieslaan en op my selfoon ’n MA-verhandeling wat handel oor die verband tussen sprokies en die huwelik begin lees.
............
Volgens SLJ Niehaus is die belangrikste gebeurtenis in feitlik elke sprokie die feit dat die huwelik as beloning aan ’n meisie voorgehou word. Sy word ook as passiewe prys in kompetisies aangebied; ’n hedendaagse voorbeeld is waarskynlik ’n TV-program soos Boer soek ’n vrou. As integrale beloningspakket in sprokies word die huwelik met rykdom en die skoonheid van die bruid/prinses geassosieer. Nou ja, ’n vrou se kans om ’n regte prins (uit ’n monargie) te vang, is skraal, tog beloof die huwelik in analoog tot sprokies, dat die betowering van huishoudelike geluk en ’n ridderlike man op haar wag. Die teenstrydigheid tussen hierdie romantiese verwagtinge en werklike verhoudings kan dikwels tot wrede ontnugterings lei.
Die trouprogram, ’n verglanste pamflet, is by die gaste afgelewer. Dit sou ’n lang gedoente wees – afgesien van die seremonie, al die rites rondom die brand van sterretjies, die uitruil van briewe, uitgerekte fotosessies, die onthaal, toesprake, heildronke, en so voort. ’n Interessante ding van ’n sosiale geleentheid is dat al is die toesprake ook hóé vervelig, is dit in die haak met die gehoor. Want die gaste onthou die flops en die mense wat afwyk van die voorgeskrewe gedragskodes. En die geswiesj-swiesj van skinder agter bakhande: “Het julle gehoor die bruid se pa het sy skoene vergeet? Ja, hy het met plakkies gekom. En nee, hy kan nêrens skoene geleen kry nie, met sulke groot trappers … Wat gaan die man doen? Hy moet dan met sy dogter dans.”
Die seremonie het vieruur begin en die kwikmeter het, soos voorspel, 40° geslaan. Ek het gewonder of my Estée Lauder make-up bestand sou wees teen die Afrika-hitte en of my eyeliner nie op my tweede ooglid gaan land, soos dit met tantes die geval is nie.
Ons het plegtig stelling ingeneem in die kerk.
Na ’n paar asemlose minute (waar wás hulle?) het vader en bruid versigtig en pynlik stadig die gang afgestap gekom. Gelukkig het die bruid se gesnik die aandag weggelei van haar pa se skoene wat duidelik voorlangs oopgesny was. Sy gesig was die ene erns, en het absoluut niks verklap nie. Die gemodifiseerde nommer 13-flippers was definitief beter as … nou ja, flip-flops.
Die pastoor wat my suite geskaai het, het vurig begin preek.
“Wat God saamgevoeg het, word elke dag in die skeihof ontbind. Mens noem dit die Huwelikswet,” het die feminis se rasperstem langs my gefluister. Gesigte het geskok in ons rigting gedraai. Ek het vroom voor my uitgestaar; my hart aan’t vermurwe vir die bloedjong paartjie by die altaar. Sal die huwelik hou? Sal dit? Hoe dúrf ons tantes ons eie ontnugtering op hierdie jong verliefdes projekteer.
Na die fotosessies (en die baie servette wat uit die onthaalarea geneem is om die pêrels sweet van gesigte af te vee), het die fees ’n aanvang geneem. Pa en dogter se dans, “Butterfly kisses”, in slow motion – ek moet byvoeg dis nogal ’n kunsvorm, want nie enige danser kan elegant met oopgesnyde skoene dans nie. Die vertraagde tempo het ’n vorm van intimiteit aan die dans verleen en dit het wraggies gewerk – wel, as tranetrekker. Geen getoontrappery nie en die bruid se rok wat wonderbaarlik Pa se flenterskoene plek-plek bedek. Nóg ’n item op die huweliksprogram is afgetik en uiteindelik het die kroeg oopgegaan soos Moses se Skelfsee. Musieknommertjies het uit die sprekers gebons: “Visgat”, “Boerepompie” en “Daar’s ’n bosluis in my hol.” Nie juis die tantes se smaak nie, maar die gaste het hulle gate uit geniet op dié gatswaaitreffers. Ek het gesmaail en gesmaail met my flitsende opaaltand en vir die eerste keer verstaan wat Breyten bedoel met ’n “tandstywe glimlag”.
Terug in die Range Rover Evoque, die feminis se luukse kar, was die tantes steeds in vervoering.
“Omtrent almal het gehuiyyyl toe hulle die kerk afstap,” het die weduwee verwonderd gesê. “Og, dit was só mooi.”
“Nou vir ’n mondjievol skinder,” het die divorcée haar kans afgewag. “Was dit nou nodig vir die strooijonker om daar by ’n tafel te gaan sit met die koeverte vol kontantgeskenke – dis mos waarvoor hulle gevra het – en met sy foon se calculator die boerpot te bereken?”
Die feminis het die koers van die gesprek verander en gekoer: “Dit was die viering van hulle liefde, en dit voor God en die hele wêreld.”
‘n Bietjie van ’n hiperbool, het ek gedink, maar geswyg.
Die tantes het getierelier oor die fyn borduurwerk op die trourok; die groot verskeidenheid eksotiese lekkernye; die treffende en sagte pastelkombinasies van die tafeldoek, blomme en kerse; die hartroerende toesprake.
Die weduwee het haar bril afgehaal en met haar wysvinger ’n traan weggevee soos ’n gas by ’n Oprah Winfrey-show. “Alles het wonderlik verloop. Presies net soos in ’n …”
Ek het die woord ingewag.
...........
Tot my stomme verbasing – ék wat te vrot was om die skool se vyfde netbalspan te haal, het wraggies die bruidsboeket gevang.
............
“… sprokiestroue,” het die feminis haar sin voltooi. Sy het haar voorruit afgedraai sodat niemand die stoffie op haar onderste ooglid gewaar nie. Ek het die bruid se gesig in herinnering geroep, haar oë nog onaangeraak deur die lewe. Op my skoot het die bruidsruiker gelê. Tot my stomme verbasing – ék wat te vrot was om die skool se vyfde netbalspan te haal, het wraggies die bruidsboeket gevang.
Ja, ons tantes kon weer in die sprokie van die huwelik glo, al was dit net vir ’n paar uur.


Kommentaar
KOSTELIK! Ek sien dit in my geestesoog ...
Heerlik lekker geskrywe! Dankie Nini, jy kan maar.