Die ou-ou sprokie

  • 8

Die volgende oggend haal Aspoestertjie, wat nou nie meer Aspoestertjie is nie, maar Prinses, ’n stapel troukaartjies en rekeninge vir die kristalskoentjies, rok, koets met perde, en die fee met die towerstaffie uit die posbus. Sprokiesagtige dienste kos sprokiesagtige geld.

“Um ...” sê die Prins, terwyl hy met moeite die nuwe uitdrukking van ’n besorgde eggenoot soos ‘n nuwe hoed of masker op sy gesig aan probeer.

“Ek is so baie lief vir jou ...” fluister Prinses bedees. Sy kom staan styf teen hom sodat hy geen ander keuse het as om haar van dieselfde te verseker nie.

Na ’n ruk vra hy vriendelik: “Hoekom het jy so ’n petalje van die troue gemaak?”

“Hoe anders sou jy my raakgesien het?” antwoord die jong vrou met oortuiging.

“Hm-m ...” sê die Prins met ’n nadenkende glimlag, “jy’s seker reg ...”

Die basuine speel ’n fanfare. Die nuwe familie kom sit aan vir die seremoniële ontbyt. Die ou Koning sien die rekening en knor.

Very nice!” sê die Koningin. “We are not amused.

“Sssjt,” sis die Koning, “kan jy nie maar ...” Hy vryf oor sy voorkop en neem die beker.

“Basta met die drank,” beveel die Koningin. “Jy was gisteraand al naar. En praat maar met haar pa. Dis mos ook sý dogter se troue.”

“Wel, hoe op aarde gaan hy dit betaal?” sug die Koning saggies. “Jy weet net so goed soos ek hy’s g’n Croesus nie.”

“Nou ja, asof óns alles het. Ons is ook nie juis die koning van Spanje nie; ons besit g’n kolonies nie. En kyk bietjie na haar áfkoms. Sy’s nou nie juis die vangs van die jaar nie. Werk dit self uit.”

So gaan die Koning en Aspoestertjie (nou die Prinses) se pa, wat sweet van verleentheid, ná die ontbyt studeerkamer toe. Die Koning kyk agter hom, sluit die deur, haal ’n vaatjie en twee bekers uit die buffet, sak in ’n leunstoel neer, strek hom uit en sug diep.

“Wel, kom ons steek ’n dop,” nooi hy; “family-like, swaer.”

Ná ’n uurtjie se kuier sing hulle “Greensleeves” in gedempte stemme en begin die saak bespreek.

“Die koste is natuurlik verskriklik,” sê die swaer verleë.

“Ja – en wie het eintlik hierdie bohaai nodig?” bevestig die Koning.

“Kon mos alles maar stil-stil, sonder prag of praal gedoen word, maar die kind het so geneul ...”

“Ag,” sug die Koning begrypend. “In ons dae ...”

“Ja-nee ... onder Hendrik VIII was dit baie makliker. G’n niks groot vertoon nie, weet jy ...”

“Nou praat jy! Ek en my boet het saam net één toernooiharnas gehad, wat ons om die beurt gedra het. As die maliekolder geskeur het, het ons dit reg laat smee en verder sélf sien kom klaar. Vandag is daai klas van denke vergete – dis net: ‘Gee my liewer ’n nuwe een!’ Die dag toe ek getrou het, het ek nie eens ’n volstruisveer vir my baret gehad nie. En wie het in elk geval daai tyd een gehad? Ons het daarsonder reggekom, het in die harnas getrou. ’n Paar familielede het die troue bygewoon – sewe mense of so; ietsie gedrink, bietjie gekuier en dan was dit ook weer gedoen. Maar nou ... En die familie het so aangeteel! Waar hulle almal vandaan kom, sal ek nooit weet nie.”

“En hoe ek ... wel, ek hoef jou niks te vertel nie. Jy weet mos,” sê die pa van Aspoestertjie, nou die Prinses, en swaai gelate met sy hand.

“Mens sal jou naam krater maak as jy nie ’n fees gooi nie. Gerugte sal die ander koningshowe bereik.”

“Politiek,” knik die swaer sy kop.

“Presies. Of jy nou wil of nie, dis etiket. En jy weet mos, mens wil alles beter hê vir die kinders.”

“Einste! Wie gun sy kinders dan nie die beste nie? Die kind het so van ’n pragtige troufees gedroom. Is mos ’n meisiekind, wat anders kan jy van haar verwag? En toe het ek hierdie fee vir haar gaan huur ... Daar’s vir jou ’n storie. Dekselse feetjievakbonde ... Ja, jy sukkel jou lewe lank – orraait, sodat hulle hulle drome kan uitleef ...”

“Stem, ou swaer. Die oorloë is darem nou, God sy dank, verby. Laat die beker wat ons moes sluk, tog by hulle verbygaan,” sê die Koning en sluk uit sy beker. “Kom ons ... op hulle geluk.”

“Wat my betref, sal ek met my ou wederhelf ooreenkom,” dink die Koning. “Of nog beter: ek gaan haar niks sê nie. Sal sê ons het dit gelykop gedeel. Ek sal van die geld gebruik wat vir die plaveisel in die voorstad begroot is. Wanneer daardie voorstad dan klaar geplavei gaan word, sal ons maar later sien ...”

In die tuin buite die venster sien die twee pa’s hoe loop die Prins en Prinses met ’n laninkie af, hartroerend hand aan hand. Die Prins pluk die enkele roos van die Koning se geliefde bos af. Die Koning kreun onwillekeurig. Die Prins steek die roos in die Prinses se hare. Sy straal, en hulle soen mekaar ...

Die pa’s staan by die venster. Hulle vee ontroerd hulle oë af.

“Moet vir hulle ’n prinsdompie omhein,” redeneer die Koning hardop. “Selfstandige koningryke in betaamlike buurte is deesdae skaars. Met verloop van tyd, natuurlik, sal mens dit probeer opgradeer. Mens het mos darem ’n paar konneksies. Sal moet betaal, natuurlik. Intussen ... nou ja, laat hulle vir eers maar by ons bly. Ai, die kinders ...”

 

  • 8

Kommentaar

  • 'n Baie goeie storie, maar mens kan nie 'n storie begin met "Die volgende oggend" nie. "Die volgende oggend" word uitsluitlik op 'n latere stadium in 'n verhaal gebruik, wanneer dit reeds duidelik is wat die dag voor die volgende oggend gebeur het. Soos dit hier gepubliseer is, kry die leser die gevoel dat hy in die middel van die verhaal begin lees omdat die eerste deel as gevolg van 'n drukfout verlore geraak het, en verloor hy dadelik belangstelling.  Begin dit eerder:  Die oggend na haar troue...   'n Baie klein foutjie wat 'n baie groot verskil aan die storie sou maak. Behalwe daarvan, is dit 'n wonderlike storie. 

  • Avatar
    Fransi Phillips

    Mens kan nie so 'n pragtige storie begin met : "Die volgende oggend" nie.  'n Groot deel van die lesers gaan belangstelling verloor omdat hulle na die eerste drie woorde gaan dink die eerste helfte van die storie het in 'n drukfout verlore gegaan. 

  • Avatar
    Fransi Phillips

    Ek het vantevore al van hierdie skrywer se verhale in Afrikaans te lees gekry, en is van mening dat dit geskik is vir publikasie.  Dit sal goed wees as julle meer van sy werke hier kan publiseer, en ek is bereid om vooraf te help met redigering.

  • Avatar
    Helena Liebenberg

    Dit was nou waarlik ’n leesfees en ek het dit baie geniet.
    Die aanvangsfrase "Die volgende oggend" het my glad nie gepla nie, want dit wys terug op die voorafgaande huweliksonthaal waar al die probleme begin het. Daar word veronderstel dat die leser die gang van die eintlike Aspoestertjie-sprokie ken en hier nou met die res van die verhaal (wat nuut is) te doen kry.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top