Sy wou trou

  • 0

Min mense weet wat agter die sewe of agtvoet hoë mure gebeur, en selfs diegene wat al toegelaat is om in te kom wonder self dikwels. Annerdag moes ek verveeld sit en koordinate opsoek vir ons nuwe besigheid en ek kyk en moes weer kyk, want sowaar: Daardie visdam is werklikwaar te siene van baie hoog af. Geen vreemdeling wat Oesterland toevallig met Google Earth bekyk sal ooit nodig hê om te wonner waar hierdie manne se sentimente le nie. Ek weet vannie visdam want ek moes die fondasie gooi en moes loop beduie oor die grond se struktuur en nog wat. Dit was ’n bleddie bitch ding om te bou noudat ek weer terugdink. Maar mens vra mossie iemand se politiek of godsdiens as jy ’n transaksie beklink nie, jy maak wel seker hy kan betaal en dis al.

Die huis is self (so vermoed ek) bomvas, koeëlvas en beslis bestand teen vloede. Die baas vannie huis is ’n hardebaard, langbaard bliksem. Kyk jou vas in die oë en as jy durf af of wegkyk sal hy jou nooit weer groet nie. Outydse waardes. Praat elke dag oor die tyd wat min is vir "hulle" en lag in sy mou en hardop vir elke stukkie slegte nuus wat oor hierdie bose regime berig word. "Want ons het hulle mos gesê!"

Pragtige dogter met sulke lang blonde hare wat oor die skouers val. Met so ’n windgattrap as sy stap. Van die nek af onnertoe kan jy basies slegs reken: Sy het beslis nie haar groentetjies opsygeskuif toe sy klein was nie. En dis waar die moeilikheid inkom. Jy kan jou klogoete mos net tot op ’n punt oppas en in toom hou, en as daai dogter van jou ’n wilde merrie is dan gaan jy moet mooi kyk en lank moet wakkkerbly as jy wil byhou. Want so gebeur dit mos dat die nuutste begin vlerke kry en wil eie ding begin doen. Kwalifiseer op ’n manier in ’n rigting en maak eie salon oop tot pa beginne agterkom die klante is meestal manne en meestal manne wat nie net wil kap nie maar wat wil bly en koffie drink ook. En jy weet mos maar hoe dit gaan met haarsny: daar moet, veral as die kuif gesny word, mos hier voorlangs naby gebuk word. Vra my, ek moes self uitsondering maak en nie self my kapsel kap nie en verskoning bedink dat my knipper in sy glorie is. En haar oornooi om hier te kom sny want ek sal dit nooit waag in ’n properse salon nie.

Pa maak sommer salon toe en breek wasbakke uit en ruk al wat ’n kraan is uit, want dinge is nie volgens plan nie. En laatnag gebeur daar dinge wat hyself (en meeste van ons wat self noudie dag nog jonk was) maar net te goed kan onthou. Karre stop waarvan hy nie nommerplate en pedigree ken nie en jongste strompel ligdag leepoog in. Ek beduie vir hom annerdag van jonge meisies en jonge manne asof ons ou mense is en hy sug dat dit ’n fokop is, dat ons minder moes kak aangejaag het destyds dan sou ons eintlik ook soort van blissfully ons dogters die nag en dag in kan stuur sonder om te worry. Ek lag en kyk annerpad.

So kom sy in en sy het so ’n kort mannetjie aan die arm. Handdruk soos ’n G-klamp en hardegat uitdrukking innie gesig. Ek beduie vraend wie die hardegat donner is en agterna beduie die moeder vir my, nee, sy het hom gefacebook. Die twee het soort van met profiele gehaak en die twee is bestem om tot innie hiernamaals bymekaar te wees, of, wel, tot die dood die proses onderbreek. Ek beduie dat die klong heel gemaklik onder haar arm inpas en moeder beduie: "Ja, maar hy is ook ’n Vaderskind en sy politiek is reg" en ek "o.... ok" maar. Sy beduie dat die twee nou plaas toe gaan en die skuur en houte en bees gaan regkry want die troue is sommer oor ’n week of twee. Twee weke om spesifiek te wees. So is die twee fort en ek het gesit en bedink hoe die planne en klerasies en slaggoed reggekry word. Ek dink my in hoe die "plaasvolk" rondgejaag word want hiers ’n nuwe mies binnekort oppie werf....en ek wil sommer self inskryf vir boer soek ’n hoer want dis nie aldag dat mens so diep in die botter val en met die erfgenaam van verskeie Wes Transvaalse plase kan trou so blindelings nie.

Dit was nie ’n week nie toe stap einste dametjie wat al haar groentetjies kleintyd opgeeet het en wat moes loop staan en erf het hier in. Ek vra uit oor die heuningmaand wat op een of ander eksotiese eiland sou wees en sy kyk my aan asof ek haar biltong afgevat het. Stap vies uit asof ek die biltong voor haar geëet het.

Moeder beduie later vir my dat dit die plaasmoorde is, sien. Doer in daardie geweste is daar een of ander tyd ’n boer vermoor op sy plaas. "My kind is bang, en ek gaan nie lat my kind alleen op ’n plaas sit ’n duisend kilometers van my af nie." Ek sien mooi dogter min deesdae. Ek hoor sy vry na ’n welaf boer net hier oor die bult van waar ek nou sit. Hulle werk blykbaar nog aan sy politiek.

oester

 

 


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top