Haram

  • 0

Vir Stemme, LitNet se dialoogprojek saam met die Suidoosterfees, NATi en die ATKV, is tien dramaturge genader om kort dialoë te skryf. Twintig akteurs is gevra om daarin te speel en tien regisseurs het elkeen ’n stuk afgerond.

In Zubayr Charles se dialoog Haram vertolk Bianca Flanders en Marunzo Thomas die rolle. Quanita Adams was in die regisseurstoel.

Haram

Haram beteken dis verbode

RUIMTE:

 

Hierdie dialoog vind plaas in die kantoor van die skoolberader, mej Fredericks. Mej Aaliyah Fredericks is 27, onvolwasse en onervare. Muhammad, die leerder wat raad soek, is ’n angstige 17-jarige matriekstudent. Hy klop aan die deur van mej Fredericks se kantoor, en sien sy sit met haar voete gekruis op haar tafel. Sy dra ’n pienk nagrok oor haar hemp en broek, en Muhammad is nie beïndruk met haar nie. Die tafel is gevul met boeke, koffiekoppies en breekware, en op die hoek van die tafel is ’n groot materiaal-Pick n Pay-sak. Mej Fredericks sit ook met haar arms gevou en haar selfoon is in haar regterhand. Sy is besig om video's op die app TikTok te kyk. Oorhoofs speel die liedjie “Saggies” deur die Temple Boys. Mej Fredericks beweeg haar bolyf en probeer die TikTok-danspassies naboots. Muhammad staan in die deur en wag vir mej Fredericks om hom in die kantoor in te roep.

 

AALIYAH:

Salaam,1 Muhammad! Kom sit!

 

Muhammad sit ongemaklik by Aaliyah se tafel.

AALIYAH:

Jy weet mos enige iets wat jy hier sê, is veilig, nè?

MUHAMMAD:

Wel … dis moeilik om te verduidelik, mejuffrou Fredericks …

AALIYAH:

Mejuffrou? Moenie so formal wees’ie. Noem my Aaliyah.

MUHAMMAD:

O, oukei … Aaliyah. Ek dink ek is … uhm … hoe kan ek nou sê? Ek dink ek vind mans ook … attractive.

AALIYAH:

Is jy seker?

 

Muhammad is stil en na ’n tydjie knik hy sy kop.

AALIYAH:

Maar is dit nie seer nie?

MUHAMMAD:

Hoe bedoel Mejuffrou … Aaliyah?

AALIYAH:

Jy weet, man ... anal ...

MUHAMMAD:

Is Aaliyah ernstig?! (Lag histeries.). Al wat ek gesê’et, is dat ek dink dat ’n deel van my is miskien ... jy weet ... gay (fluister) … of bisexual, so, waar val anal seks in?

AALIYAH:

Jy bedoel sit dit in ...

MUHAMMAD:

Nee! Nee! Luister, kanallah!2 Ek weet Aaliyah wou snaaks wees en probeer die rol van die cool en easy-going grootmens te speel by ons skool, maar ek het dit nodig dat Aaliya na my luister.

 

Aaliyah sit penorent. Sy sit haar bril op, en uit haar groot materiaal- Pick n Pay-sak gryp sy opgevoude bladsye en ’n pen.

MUHAMMAD:

Ons is ernstig nou, nè? Geen grappe nie?

 

Aaliyah knik heftig haar kop.

MUHAMMAD:

’n Paar maande gelede het ek iemand ontmoet. In die begin was dit niks ernstig’ie, maar die anner dag het hy vir my ’n boodskap gestuur. “Ons is nou bymekaar,” het hy soema net so gesê. Daar was’ie eens ’n bespreking’ie. Hy’t my lat voel soos ’n … soos ’n … soos ’n unwanted sale item wat uiteindelik verkoop word ... (Haal diep asem.) Aaliyah moet verstaan … Ek weet’ie of ek van hom in daai manier hou nie ... Wel … ek het altyd geweet dat ek saam ’n anner bra3 ... uhm ... Hoe kan ek nou verduidelik …? Ek wou net ’n bietjie … experiment. Maar nou voel ek vuil. Ek … ek … ek is ’n Muslim ...

AALIYAH:

Vuil? Dis ’n snaakse ding om te sê. Is jou familie saaliegh?4

MUHAMMAD:

My pa is die heilige ene. Hy sal my dood maak as hy uitvind.

AALIYAH:

Muhammad, luister. Jy’t jou hele lewe voor jou. Moenie dinge so naby jou hart hou nie.

 

AALIYAH:

Muhammad sê niks nie. Hy kyk af na sy hande.

Jy’s nog baie jonk, so geniet jouself en ... o ja ... gebruik condoms. Jy kan van hulle in die boys se toilet kry.

Muhammad lag en skud sy kop.

 

So, sê vir my … Nou dat jy en die bra bymekaar is, wie is wie in hierdie relationship?

MUHAMMAD:

Hoe bedoel Aaliyah dan nou?

AALIYAH:

Wie is die bra en wie die meisie?

MUHAMMAD:

Daar is geen meisie in hierdie scenario nie! Daai is mos die punt, isit’ie?

AALIYAH:

Ai jinne, ek maak maar net ’n joke.

MUHAMMAD:

No offence, maar ek wil in elk geval’ie met Aaliyah oor seks praat’ie.

AALIYAH:

Moenie worry nie. Ek is seker dat ek ’n homoseksualiteit-brochure het wat iewers hier in my kantoor rondlê.

MUHAMMAD:

Ek is’ie geworry nie. Eendag … Eendag gaan ek nog met ’n meisie trou en kinders het. Dis maar net ’n … phase wat ek deurgaan. Binnekort sal alles weer veran’er.

AALIYAH:

Hai, shame. Is jy dan bang om uit die closet te klim?

MUHAMMAD:

Maar Aaliyah wiet ’n mens kan’ie gay en Muslim wees’ie!

AALIYAH:

Relax, boeta. Wie gee dan nou nog om?

MUHAMMAD:

Om gay te wees is haram en Aaliyah weet haram beteken dis verbode!

AALIYAH:

En?

MUHAMMAD:

Ai ja! Aaliyah verstaan’ie … Niémand verstaan my nie!

 

Muhammad begin om te huil.

 

1 Kaapse afkorting van die Arabiese woord Asalaamualaykum.

2 Asseblief.

3 Seun/man.

4 Heilig.

***

Stemme is supported by the National Arts Council.

Stemme is ’n Nuwe Skryfwerk-projek van LitNet en word ondersteun deur die LW Hiemstra Trust.

Al die monoloë is op hierdie blad beskikbaar:

Stemme in 2023 | Tien dialoë

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top