
...
Die belangrikste gegewe van Haram is die wyse waarop mans (en vroue) selfs in die een-en-twintigste eeu moet worstel (en in sommige gevalle moet kies) tussen geloof en hul ware (seksuele) identiteit.
...
Haram
Zubayr Charles
Uitgewer: Kwela
ISBN: 978-0-7957-1124-4
Vir die meeste skrywers is dit ’n gewaagde onderneming om kontroversiële onderwerpe soos politiek, seksualiteit of geloof in fiktiewe werke te ondersoek. In ’n era waartydens kanselleerkultuur ’n skrywer of kunstenaar se loopbaan kan kelder, verg dit ’n dapper houding om sensitiewe temas aan te pak. Enkele resente voorbeelde is Louis Pretorius se jeugroman ’n Jaar in my lewe, asook Wesley Roodt se bildungsroman All the saints wat einde 2025 verskyn het. In beide tekste word seksualiteit ongesensureerd en op eerlike wyse verken.
Die publikasie van Zubayr Charles se debuutroman Haram is eweneens ’n besondere gebeurtenis synde die sensitiewe en kontroversiële temas wat in die roman aan bod kom. Die verhaal word vanuit die eerstepersoonsperspektief weergegee wat ’n diep, persoonlike verkenning van die hoofkarakter, Muhammad Gilbert, se innerlike stryd tot gevolg het. Die agtienjarige Muhammad woon saam met sy ma, Zaynab, in Woodstock. Hy en sy ma beoefen die Islam-geloof. Muhammad neem sy geloofslewe ernstig op en het reeds op ’n jong ouderdom die Koran begin lees. Hy is deeglik bewus van alles wat volgens die Koran as haram, die Arabiese woord vir “verbode”, beskou word. Laasgenoemde word deurgaans beklemtoon wanneer hy na “the fires of Jahannam” (die vure van die hel) verwys. Muhammad is boonop na die heilige profeet in die Islam-geloof, Muhammad, vernoem. In sy matriekjaar ontmoet Muhammad vir Riyaaz Salloway tydens sy neef se agtiende verjaarsdagpartytjie. Muhammad word dadelik smoorverlief op Riyaaz. Hierdie gebeurtenis dien as impetus wat Muhammad se lewe onherroeplik verander. In dié konteks moet Muhammad se karakter sy seksuele identiteit en geloof met mekaar versoen.
Reeds vroeg in die roman word dit duidelik dat Muhammad met sy seksuele identiteit worstel: “And although I found girls attractive, sometimes, in the corner of my eye, I would stop to stare at other guys.” Hy is egter deurentyd bewus van die feit dat homoseksualiteit haram is. Hy word oorval met skuldgevoel en poog verskeie kere om sy romantiese en seksuele gevoelens teenoor persone van dieselfde geslag te onderdruk ter wille van sy geloofsbeginsels. Hierdie stryd ontrafel in ’n reeks gebeure wat Muhammad by wyse van spreke tot in die sirkels van Dante Alighieri se Inferno dryf.
Tydens Muhammad se ontdekking en verkenning van sy seksuele identiteit, kruis sy paaie met verskeie karakters wat as gay (of queer) identifiseer. Muhammad se grootste vrees is dat sy familie en vriende van sy homoseksuele oriëntasie sal uitvind. Hy doen alles in sy vermoë om sy seksuele identiteit geheim te hou: “Don’t act gay! Don’t act gay! I chanted in my head.” Sy innerlike stryd word al hoe feller namate hy van die een gay verhouding na die ander beweeg. Muhammad kom tot die gevolgtrekking dat liefdesverhoudings (en veral selfdegeslagverhoudings) ingewikkeld is, des te meer nog wanneer ’n individu sy of haar seksuele oriëntasie vir familie en vriende moet verdoesel.
Muhammad se reis tot selfaanvaarding ontaard in ’n tuimeltreinrit. Hy word depressief, misbruik alkohol en word teen sy sin in ’n psigiatriese hospitaalsaal opgeneem. Daar skuil egter ’n veel donkerder geheim in Muhammad se onderbewussyn: Wat het met hom gebeur toe sy tante se stiefseun, Waseem, hom en sy neef, Kaashief, as jong kinders opgepas het? Hierdie raaisel dring stelselmatig tot die leser deur en verleen dieper konteks ten opsigte van Muhammad se wispelturige grootwordjare.
Die roman raak verskeie kontroversiële temas aan, soos selfdood, alkoholverslawing en homoseksualiteit in die konteks van die Islam-geloof. In dié opsig is Haram ’n belangrike (en selfs gewaagde) roman wat hedendaagse kwessies aanpak waarmee talle jongmense, ongeag van geloof of kultuur, worstel.
Ongelukkig is daar verskeie aspekte van die roman wat teleurstel. Aanvanklik begin die roman op boeiende wyse deur die leser in te katrol met die verwysing na ’n troue in die proloog. Soos die leser Muhammad se karakter leer ken, word sommige gebeure egter tot so ’n mate uitgerek dat dit tot verveling lei. Muhammad se karakter verander oornag tot so ’n mate dat die tydsverloop ongeloofwaardig word. Binne die bestek van ongeveer ’n maand raak Muhammad telkens smoorverlief op die een man na die ander – Riyaaz, Irshaad, Taufeeq en Aadam. Keer op keer duur die “verhouding” enkele dae en is Muhammad telkens oortuig dat dit dié keer sy droomman is. Soetsappige verwysings soos: “I couldn’t stop staring at his soft pink lips” raak afgesaag, aangesien sy obsessie met die mans slegs op uiterlike gegewens gegrond word. Sodra Muhammad hom in ’n posisie bevind waarin die verhouding seksueel raak, onttrek hy hom en word daarna weer verlief op ’n ander man. Dit laat die leser mettertyd twyfel of Muhammad werklik op seksuele vlak tot mans aangetrokke is al dan nie.
Myns insiens word te veel verteltyd aan die verskeie mislukte liefdesverhoudings afgestaan, terwyl ander gebeure bloot onopgelos en soms ongeloofwaardig daarna uitsien. Tydens ’n selfdoodpoging besluit Muhammad binne etlike minute dat hy nie meer selfdood gaan pleeg nie: “As I cleaned up the blood and water from the floor, I decided that it was time to start living again.” Vir iemand wat aan erge depressie ly, is dié skielike oplewing van positivisme dik vir ’n daalder. Die tref-en-trap-insident word net terloops genoem en daarna verswyg. Muhammad se blitsvinnige herstel van alkoholverslawing nadat hy hom in talle hoofstukke keer op keer stormdronk gedrink het, laat die leser met meer vrae as antwoorde. Ten spyte van die belangrike rol wat sy ma regdeur die roman vertolk, word sy in die laaste hoofstukke verswyg asof sy nooit bestaan het nie.
Die tydspronge is met tye onrealisties en Charles kon in dié opsig meer genuanseerd te werk gegaan het. Die slot skakel met die proloog en laat die leser wonder of Muhammad se huwelik met ’n vrou doelbewus geskied. Wil die skrywer hiermee aandui dat Muhammad weens sy geloofsoortuigings kies om ’n lewe gehul in leuens en geheimhouding te leef, of was sy wroeging ten opsigte van sy seksuele identiteit bloot ’n “fase”? Die leser sal self moet besluit.
Alhoewel die roman sekere gebreke toon, is die verhaal ’n belangrike bydrae tot die groter gesprek rondom seksuele identiteit en die stereotipes, geweld en verwerping wat op gereelde basis daarmee gepaard gaan. Charles moet geloof word vir die dapper wyse waarop hy homoseksualiteit en geloof op eerlike en openhartige wyse saamsnoer. Die gebruik van verskeie tale soos Afrikaans en Arabies naas Engels bied ’n interessante, eg Suid-Afrikaanse blik op die ryk kulturele lewe van die Islam-geloof in die Kaapse milieu.
Lesers wat soortgelyke ervarings beleef het, sal met Muhammad se karakter kan identifiseer. Die belangrikste gegewe van Haram is die wyse waarop mans (en vroue) selfs in die een-en-twintigste eeu moet worstel (en in sommige gevalle moet kies) tussen geloof en hul ware (seksuele) identiteit. Haram is ’n belangrike roman wat ’n waardevolle bydrae tot queerliteratuur in die Suid-Afrikaanse konteks lewer.

