
...
Ek begryp dat dit nie dieselfde situasie is as apartheid of Nazi-Duitsland nie, maar die ooreenkomste is te groot en te veel om af te maak as toeval.
...
Die deelstaat Kansas het briewe gestuur aan transgender mense in die deelstaat en vereis dat hulle rybewyse hul geslag by geboorte toon. Volgens nuwe wetgewing moet die geslag by geboorte op almal in Kansas se rybewyse wees. Daar is ook geen grasieperiode waar jy hierdie veranderinge kan aanbring nie en die strafmaatreëls (soos ek later sal bespreek) is besonder streng vir hierdie tipe oortreding.
Dieselfde wetgewing vereis dat mense in Kansas die badkamer gebruik wat ooreenkom met hul geslag by geboorte. Mense kan mekaar ook hof toe sleep indien iemand beweer dat jy nie gehoor gee aan hierdie wet nie.
Dit is wyd en syd bestempel as ’n vae en onregverdige wet. The Independent berig dat beide Kelley Robinson, president van die Human Rights Campaign, en Laura Kelly, goewerneur van Kansas, dié wet skerp gekritiseer het. Nou wat presies het dit te doen met mense in Suid-Afrika?
Die kort antwoord, skynbaar, is niks. Wetgewing in die deelstaat Kansas het min tot geen invloed op wat in Suid-Afrika gebeur nie. Maar dis veel dieper as bloot wetgewing. Dit gaan oor die politiek en die ideologie agter die wetgewing. Dit kom neer op vooroordeel en ’n smag na beheer; ’n perverse vreugde uit onderdrukking van minderhede.
Om te sê dat hierdie wet gespruit het uit vooroordeel is waar. Dink bietjie aan die skeiding tussen wit en swart tydens apartheid. Die “no trans women”-teken op die badkamerdeur herinner my baie aan die foto’s van die tekens wat sê “whites only”. Daar is geen ander rede om sulke wette te maak anders as vooroordeel nie.
Die “facts over feelings”-kontingent sal nou seker vir my kom probeer vertel dis om vroue veilig te hou, asof ’n teken teen ’n deur een of ander magiese krag het wat misdaad voorkom. Die meerderheid van sulke misdade word gepleeg deur cisgender mans en baie keer kom hulle skotvry af.
Mens moet wonder oor die toekoms van die slagoffer wat verinneweer is.
Die waarheid is dat die wêreld seksuele misdadigers beter behandel as vroue, of sy trans is of nie. Ghislaine Maxwell is tans in ’n tronk wat meer klink na ’n vakansieoord, as ek die beriggewing glo. Trump is skuldig bevind aan seksuele mishandeling van E Jean Carroll en hy’s steeds president van die VSA. Die slagoffers van Epstein het nog geen geregtigheid sien afspeel nie (ongeag van hoe goed die Dow Jones se syfers was). Dit klink dalk na ekstreme voorbeelde, maar seksuele mishandeling en verkragting is besonders alledaags. Elke vrou ken ten minste een ander vrou wat seksueel mishandel of verkrag is, maar dis snaaks hoe die manne nooit iemand ken wat iemand verkrag het nie.
Terug by Kansas se onregverdige wet. Teoreties kan ’n transgender persoon gearresteer word indien die rybewys nie die wet gehoorsaam nie. Erin in the Morning berig dat dit kan lei tot ses maande tronkstraf en ’n $1000 boete. Tronkstraf word uitgedien volgens jou geslag by geboorte, wat kan lei tot transgender vroue in selle met manne en transgender manne in selle met vroue. Dit klink nie vir my na ’n goeie situasie vir enigiemand nie.
Dan boonop die badkamerstorie. Enigiemand kan teoreties aangekla word dat hulle trans is en die “verkeerde” badkamer gebruik. Dit beteken dat ’n cisgender vrou aangekla kan word, omdat sy nie “vrou genoeg” lyk nie. Die vraag is hoe lyk jy vrou genoeg? Moet jy perfek gegrimeer wees, rokkie dra wat blaas in die wind? Lang blonde hare? Daar is bittermin, indien enige, vrou (cis of trans) wat elke dag so lyk.
Hierdie wet, en soortgelykes regoor die wêreld, poog om LGBT+ mense te beheer en ons bestaansreg te ontneem. Of dit nou die “LGBT Exclusion Zones” in Pole is, die anti-homoseksualiteitswette in Uganda, of ’n ander onregverdige wet, die idee bly dieselfde: uitwissing.
Daar’s ’n ou internetsêding wat lui: “The road to fascism is paved with people telling you you’re overreacting.” Ek oorreageer nie wanneer ek sê uitwissing is die punt nie. Vandag is dit transgender mense. Dit raak jou dalk nie, maar môre is dit gay mans of NGK-lidmate of mense met BA-grade of Sharks-ondersteuners. Dit begin altyd klein: Trans mense moet die badkamer gebruik wat ooreenstem met hul geslag by geboorte. Dan trans mense mag nie meer publieke toilette gebruik nie. Langsaam bou dit tot jy en ander wat nie pas in die verbeelde ideaal nie, wat regte, eiendom en jou lewe verloor.
Ek begryp dat dit nie dieselfde situasie is as apartheid of Nazi-Duitsland nie, maar die ooreenkomste is te groot en te veel om af te maak as toeval. Ek glo nie ek oorreageer nie. Daar is organisasies wat baie graag in Suid-Afrika sulke wette sou wou implementeer. Dit sal klein begin met wetgewing soortgelyk aan dit wat nou in Kansas van krag is. Dan brei dit uit en voor jy jou oë uitvee, leef jy in Gilead.
Under his eye.
Lees ook:
PATHSA se verklaring oor transgender jongmense: Wat beteken dit vir die gewone mens?


Kommentaar
Jy oorreageer nie. Trouens, dis nog 'n manier om iemand te probeer stilmaak, deur vir hulle te sê “jy oorreageer” of die klassieke “jy is histeries”, wanneer jy eintlik 'n heel rasionele reaksie toon. Hierdie anti-LGBTQI+-sentiment is beslis aanwesig in Suid-Afrika en in die Afrikaanse taalgemeenskap. Kyk byvoorbeeld na die kommentaar onderaan nou die dag se storie op Netwerk24 oor die pride-vlag wat geskend is met "heil Hitler" by NWU. Sommige kommentare lees: “Gee die man 'n Bells” (hierdie een is ʼn gunsteling, dit word ad nauseam herhaal), “Waarom word daardie vlag in die eerste plek daar toegelaat?”, “Gaan julle ook satanistiese beelde/vlae toelaat? Presies dieselfde is hier ter sprake” ens. Dis die kommentaar wat oorbly nadat dit gemodereer is, watter haat word nie alles daar gepos waarvan ons nie eers weet nie? Dis skrikwekkend. Bly veilig, suster.