Soeker uitdagend en meesleurende leesstof

  • 0


Titel: Soeker
Skrywer: Pieter Cilliers
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781869194352
Prys: R225.95

Klik hier om Soeker te koop by Kalahari.com.

Sekere boeke moet jy aandagtig lees. Ander gryp jou en los jou nie voordat jy by die laaste bladsy uitkom nie. Soeker is so ’n boek. Pieter Cilliers het my ingetrek in sy kinderjare in. Ek het saam met hom en sy denkbeeldige maatjie Loet aan die rooi koeldrank gedrink wat sy ouma vir hulle in aparte glase gegooi het. Ek was in die stoet en by die begrafnisdiens wat hy gelei het vir die voëltjie wat hy probeer red het, maar wat dié reddingspoging nie oorleef het nie.

Soeker bestaan uit twee dele. Die eerste deel is ’n heruitgawe van Cilliers se veelbesproke ’n Kas is vir klere,wat in 1997 sy eerste druk beleef het. Die skrywer se vermoë om jou in te trek in sy vel en vleis getuig van sterk literêre vaardigheid.

Die eerste deel van die boek is so ’n eerlike selfontboeseming dat ’n mens ’n renostervel moet hê om nie empaties meegesleur te word daardeur nie. Gedurende sy puberteitsjare ontwikkel ’n reeks ervarings by hom die gevoel dat hy “anders” is. Sy pogings om hierdie andersheid te verwerk deur maskering wek deernis. Dit was in ’n tyd toe daar nie openlik gepraat is oor seks nie – wat nog te sê oor gaywees.

Pieter se worsteling toe hy besef at hy “anders” is, sy versteekte verliefdheid op sy vriend Andries, en Romeine 1 wat by hom gespook het en tot intense selfhaat gelei het, het soms vir my so pynlik geraak dat ek die boek vir ’n paar oomblikke moes neersit en in die tuin moes gaan asem skep. Kán die lewe so wreed wees? Hoekom moet ’n tiener belas word met só ’n skuldgevoel en selfveragting? Kan die mensdom en die kerk so wreed wees?

En dan al die pogings om “gesond” te word. Toegewyde katkisasiestudies, die hoop dat die eerste Nagmaalsviering as lidmaat hom sou genees, of later sy teologiese studies. Sy erns om van die “siekte” van homoseksualiteit genees te word dryf hom daartoe om homself bloot te stel aan die veragtelike aversieterapie wat gedurende die 1980’s nog deur psigiaters toegepas is. Natuurlik het dit nie gewerk nie en het dit bloot bygedra tot Pieter se depressie en selfhaat.

Deur al hierdie storms vind jy die lawende mate van rustigheid wat Pieter in sy eerste gemeente in Bothaville beleef. Jy herken die karakters – veral as jy self aktief betrokke was in ’n gemeentelike verband. Sommige kry jy dadelik lief. Ander herinner jou aan die dae toe enkele beswaardes ’n kerkraadsvergadering tot uitmergelende ure kon laat voortsteier.

Die tweede deel is getiteld “Veertien jaar later”, waarin hy vertel watter impak die skryf van ’n Kas is vir klere op sy eie lewe en dié van honderde ander gehad het. Hier kom persoonlike briewe, briewe in koerante en ’n meer teologiese aanslag op gaywees en Christenskap na vore. Talle foto’s en verwysings na gesprekke met individue en die kerk verryk die teks. Jy lees verhale van skerp teenkanting, maar ook van bevrydende aanvaarding.

Was dit sinvol om ’n Kas is vir klere in Soeker op te neem? Kritici wat dié vraag stel, vergeet dat duisende Afrikaanse tieners en ’n uitgebreide leserskorps nie aan daardie titel blootgestel was nie. En dat daar in die breë gemeenskap steeds groot onkunde bestaan oor gaywees en die pyn van verwerping wat in veral Afrikaanse geledere voorttier.

Soeker is nie teologiese literatuur nie, maar stel wel uitdagende teologiese vrae. Net soos ’n Kas is vir klere is Soeker nie net leesstof vir gay mense nie. Dit is die verhaal van ’n gewone mens wat net sowel jy of enige van jou geliefdes kon gewees het. Soeker sleur jou mee. Dit daag jou uit om met ander oë te kyk na alle randfigure van die samelewing. Dit daag jou menswees uit.

Soeker is ’n skitterende bydrae tot die Afrikaanse literatuur wat ook eersdaags in Engels beskikbaar sal wees.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top