KKNK 2026: Die gebed van ’n halfmens – ’n onderhoud

  • 0

https://kknk2026.kknk.co.za/toneel/die-gebed-van-n-halfmens/

Die plekspesifieke drama Die gebed van 'n halfmens is nog een van die debuutwerke by vanjaar se 30ste KKNK. Dis ’n produksie van Haas & Kaas en die KKNK, moontlik gemaak deur NATi.

Dit het Tobie Cronjé, Annelisa Weiland, Marlo Minnaar, Brendon Daniels, Alyssa Dionne en Gretha Brazelle in die rolverdeling. Nicola Hanekom behartig die regie en teks en Braam du Toit die musiek. Fiona du Plooy is die choreograaf.

Op 'n stortingsterrein buite Oudtshoorn wag 'n voorspelling van waarheen die mensdom dalk op pad is. Dié drama ondersoek die impak van tegnologie: Skouspel of gruwel?

Die Brits-Oostenrykse filosoof Ludwig Wittgenstein het gesê dat die menslike liggaam die akkuraatste skets van ’n mens se siel is. So wat gebeur as tegnologie binne-in ons biologie geïntegreer word? Hoe beïnvloed dit ons evolusie? Hoe beïnvloed dit ons intelligensie en wat word van ons siel? Die karakters se enigste toevlug is ’n ashoop. Wat is die menslike liggaam en ’n lewe werd?

Die teks is oorspronklik as deel van die KKNK se 10de Teksmark by die Baxter-teater voorgelê.

Maryke Roberts praat met Annelisa Weiland oor haar rol.

Die gebed van ’n halfmens speel op ’n stortingsterrein af. Hoe het hierdie plekspesifieke ruimte jou benadering tot jou rol en spel beïnvloed?

Ek is gelei deur Nicola se regie wat díé faktore in ag geneem het. Dis meer gestileerd en fisiek uitdagend.

Jy het ’n lang en gerespekteerde loopbaan in Suid-Afrikaanse teater en televisie. Hoe verskil hierdie produksie van ander projekte waaraan jy oor die jare gewerk het?

Dit verskil hemelsbreed van die sepiewêreld waarin ek my al 26 jaar bevind. Dis ’n ontdekkingsreis wat lei na ’n wêreld van opwinding en onsekerheid. 

Waar repeteer julle vir hierdie stuk en watter uitdagings bring ’n ashoop as stel?

Ons het in ’n saal repeteer, en die ashoop waarop ek en Tobie môre vir die eerste keer gaan repeteer, gaan seer sekerlik ’n aanpassing wees. 

Die stuk ondersoek die verhouding tussen tegnologie en menslikheid. Hoe het hierdie tema jou persoonlik laat dink oor wat dit beteken om mens te wees?

Ek was te besig om te repeteer om daaroor te besin. 

Die regie en teks is deur Nicola Hanekom. Hoe was dit om saam met haar te werk aan ’n projek wat so filosofies en visueel gedrewe is?

Fenomenaal. Haar passie en visie is aansteeklik, en haar genialiteit bewonderenswaardig.

Die drama verwys na idees van die filosoof Ludwig Wittgenstein oor die liggaam as ’n skets van die siel. Hoe het hierdie konsep jou interpretasie van jou karakter beïnvloed?

Ek het nie so ver gegaan nie!

Hierdie produksie het ’n sterk kreatiewe span met onder meer Braam du Toit vir musiek en Fiona du Plooy vir choreografie. Hoe dra musiek en beweging by tot die storievertelling in die stuk?

Die musiek en beweging is intrinsiek ingeweef en ondersteun die teks.

Jy speel saam met ’n diverse rolverdeling, insluitend Tobie Cronjé, Marlo Minnaar en Brendon Daniels. Hoe was die dinamika binne die ensemble?

Ek het die grootste respek vir my medespelers. Ons vul mekaar goed aan.

Die karakters se enigste toevlug in die verhaal is ’n ashoop. Wat simboliseer hierdie ruimte vir jou binne die groter temas van die stuk?

Dat die mens – ná KI oorgeneem het – “useless" is en op ’n ashoop hoort.

Plekspesifieke teater plaas die gehoor dikwels nader aan die aksie as tradisionele verhoogproduksies. Hoe beïnvloed dit jou interaksie met die gehoor?

Dis my eerste plekspesifieke teater, so ek gaan nog uitvind! 

Die teks is oorspronklik by die Baxter Theatre Centre se Teksmark ontwikkel. Hoe belangrik is sulke platforms vir die ontwikkeling van nuwe Afrikaanse teater?

Dis van kernbelang vir die ontwikkeling van nuwe tekste.

Die stuk vra vrae oor evolusie, tegnologie en die menslike siel. Watter vraag uit die drama dink jy sal gehore die meeste bybly nadat hulle dit gesien het?

Ek dink dit sal wees oor hoe gevaarlik die tegnologie wat die mens self ontwikkel het, geword het.

Wat hoop jy neem gehore saam met hulle huis toe ná hulle Die gebed van ’n halfmens ervaar het?

Hoe die mens vir sy eie ondergang verantwoordelik is.

  • Vertonings by die Ashoop (Victoriastraat, in die rigting van Oudtshoorn-gevangenis) vind elke aand van 30 Maart tot 4 April om 18:30 plaas. Dit duur 70 minute en geen onder 16 (taal en geweld). Kaartjies kos R200 vooraf: R190 vir Vriende van die KKNK en R220 by die deur.

Lees ook:

Ek is nie Danie by die KKNK

Persverklaring: Stories onnerie DAK by KKNK 2026

Hortjies dig by die KKNK

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top