
Hortjies dig, die drama, is uitgegee deur Jonathan Ball
Hortjies dig het vir my baie geleer oor Peter Blum, die mens.
Verskillende benaderings tot ’n digter se werk
Voor ek meer oor die stuk vertel, dalk net eers ’n opmerking oor digkuns in die teater.
Ek het vanjaar talle vertonings oor digters gaan kyk. Die voordeel is dat ek die verskillende benaderings kan vergelyk, en daarom dus die volgende opsomming:
- Tydens Ek is nie Danie (oor Danie Marais se werk) en Woordenaar (oor Churchil Naudé se werk) is gedigte uit die twee skrywers se oeuvre gebruik, omvorm en op maat van musiek in ’n vertoning verander. Die digkuns is vooropgestel en nie die mens nie.
- In Breyten Breytenbach se Verwelkingslied, deur Breytenbach self, is daar baie oor Breyten as digter gepraat, en talle van sy gedigte is aangehaal. Breyten is egter die meester van anders-maak, so g’n mens sou kon beweer dat hulle oneindig baie biografiese gegewens oor hom uitgevind het tydens die stuk nie.
- Breytenbach se Boklied handel ook oor die digter as objek, maar is sonder twyfel nie ’n biografiese werk nie – hoewel daar weer eens talle herkenbare elemente uit sy oeuvre ingesluit is.
- Hortjies dig was egter anders. Hier is Blum se gedigte gebruik, saam met aanhalings uit briewe, om deel te word van ’n biografiese reis deur die digter se lewe. Ek was glad nie onbewus van Blum se buitestanderskap nie. Ook het ek al tevore sommige sappige staaltjies oor hom raakgelees. Tog het hierdie stuk baie vir my beteken om die mens agter die gedigte beter te leer ken.
Enkele biografiese gewens oor Blum

Voor ons in die teater ingegaan het, is aan elke kaartjiehouer ’n klein boekie, ’n program, uitgedeel wat meer oor Hortjies dig vertel, maar ook oor Blum en sy gade. Dit was spesiaal, want ek, en talle ander, het begin lees en kon daarmee nog makliker die spel op die verhoog plaas.
Wat ek hier deel oor Blum se lewe, kom ook direk uit die program:
- Blum is op 4 Mei 1925 gebore.
- In 1936 kom hy as jong seun saam met sy gesin in Suid-Afrika aan – hulle het van Hitler gevlug. Op daardie stadium kon hy nie Afrikaans praat of verstaan nie, maar hy leer vinnig.
- In 1955 verskyn Steenbok tot poolsee en in 1958 sy tweede, en laaste, bundel, Enklaves van die lig.
- Blum is getroud met Hetta, ’n Afrikaanse meisie van die Weskus.
- Hulle is albei in Londen, in ballingskap, oorlede.
Uit die toneelstuk kon die kyker die volgende aflei:
- Blum was ’n moeilike mens.
- Hetta was ’n geduldige mens en ’n beeldende kunstenaar uit eie reg. Sy het egter by tye swaargekry.
- Blum se Joodse afkoms en sy ervaringe onder die Nazi’s het gemaak dat hy die Nasionale Party (NP) in Suid-Afrika se nasionaal-sosialistiese sienswyses verpes het. Die NP se skynheilige Christenskap (aldus Blum) het hom ook dwars in die krop gesteek.
- Die Blums het swaargekry in Londen, en Peter was baie verbitterd oor hy nie méér aandag gekry het van die Afrikaanse literati nie.
Die toneelstuk
Die stuk is geskryf deur Francois Toerien.
Die titel, Hortjies dig, kom uit hierdie strofe van Blum se gedig “Aftelrympie”:
My plaas se naam is Schoongesig
en saans maak ek die hortjies dig.
In twee ander gedigte van Blum kom hortjies wat snags toegemaak word, ook voor. Dit sou, volgens die programnotas, suggereer dat hier na privaatheid gestreef word, soos Blum self ’n baie privaat lewe gelei het.
Toerien verduidelik dat hy grepe (hy noem hulle “snapshots”) uit Blum se lewe probeer haal het om in 70 minute Blum se karakter aan die gehoor weer te gee.
Toerien het baie gesteun op briewe wat deur beide Peter en Hetta geskryf is. Daarmee saam is verskeie gedigte van Blum ingesluit, en voorgedra, tydens die vertoning.
Toerien se aha!-oomblik het gekom toe hy lees dat Hetta kort ná Peter se dood gedink het hy kruip gewoon vir haar weg.
Op dié manier het Toerien Hetta se soeke na Peter, en haar blydskap wanneer hy “verskyn”, gebruik om aan die drama struktuur te gee.
Hetta se karakter, gespeel Joanie Combrink, anker dus die stuk in ’n tyd kort ná Peter se dood. Sy verskaf agtergrondinligting, onder andere deur grepe uit briewe aan te haal. Wanneer sy met haar dooie man gesels oor hoogtepunte uit hul lewe, kry die kyker ook heelwat inligting.
Peter, gespeel deur Chris van Niekerk, verskyn voortdurend, en aangesien hy nie meer gekoppel is aan tyd en ruimte nie, kan hy verskeie gebeure en idees uit die verlede op die verhoog uitspeel.
Toneelspel

Joanie Combrink en Chris van Niekerk in Hortjies dig (Foto deur Gys Loubser, verskaf deur die KKNK.)
Joanie Combrink se spel skep baie simpatie met Hetta, ’n ou vrou wat duidelik swaargekry het en nou teen die einde van haar lewe sukkel om werklikheid en onthou uit mekaar te hou. Só kan Hetta se karakter heelwat stukkies inligting deel wat andersins lukraak sou voorgekom het.
Chris van Niekerk speel weer Blum op ’n redelik dramatiese wyse. Soms is Blum die opgepofte kapokhaantjie wat homself belangriker ag as ander Afrikaanse skrywers, en woedend is dat hy nie méér erkenning gekry het nie. Tydens ander episodes verval sy woede in ’n soort manie. Van Niekerk is so oortuigend dat ek op ’n gegewe oomblik gevrees het dat hy, Van Niekerk, besig was om ’n aanval te kry. Sy gesig was bloedrooi en sy nekare geswel. Dit was toe bloot die toneelspel van ’n meester. Ander kere is Blum se karakter teer met sy eggenoot. Ook dit kon Van Niekerk baie goed hanteer.
Wanneer Blum se gedigte voorgedra is, het Van Niekerk sy natuurlike flair vir die dramatiese gebruik om die gedigte met passie te deel.
Juanita Swanepoel het die regie behartig.
Die stel
Francois Toerien, die skrywer, het ook die stel ontwerp.

Hortjies dig se stel (Foto: Izak de Vries)
Dit was heerlik om ’n baie realistiese stel te sien. Die klein leefruimte van die Blums se laaste dae is met groot sorg aan detail vir die kykers gebied. Dit het geloofwaardigheid geskep aan Hetta se lewe en ’n ruimte vir Peter se verskynings geskep.
Genotvol en leersaam
Ek het Hortjies dig geniet en baie leersaam gevind. Dit is nie aldag dat “leersaam” ’n positiewe term is in ’n teaterresensie nie, maar in hierdie geval is dit.
Toerien het ’n slim voertuig geskep om inligting oor te dra sonder dat die kyker ooit voel dat hier nou bloot ’n lesing gegee word. Joanie Combrink en Chris van Niekerk, onder die spelleiding van Juanita Swanepoel, het die woorde laat lewe.
Die stuk is vervaardig deur Jean Meiring, wat self besig is met ’n boek oor Blum.
Lees ook:
Maak die hortjies wyd oop: Ons weet nou wat van Peter Blum geword het – ’n resensie van Hortjies dig
Suidoosterfees 2025: Hortjies dig – ’n onderhoud met Francois Toerien

