Suidoosterfees 2025: Hortjies dig – ’n onderhoud met Francois Toerien

  • 1

Die toneelstuk Hortjies dig: Die storie van digter Peter Blum is by vanjaar se Suidoosterfees.

  • In hierdie teks kom pejoratiewe terme voor wat deur lesers as aanstootlik en beledigend ervaar mag word. Hierdie terme word in hul oorspronklike historiese konteks aangehaal.

Francois Toerien praat met Naomi Meyer oor Hortjies dig, wat vanjaar by die Suidoosterfees op die planke is.

Francois, jy is die skrywer van die teks Hortjies dig wat binnekort by die Suidoosterfees op die planke is. Die stuk handel oor Peter Blum, en voordat ek na Peter Blum se LitNet ATKV-Skrywersalbum gekyk het, het ek baie min van hom af geweet. Wat van jou: Het jy veel van hom as digter en as mens geweet voordat jy aan die teks begin werk het?

Nee, ek het nie veel van Blum geweet nie, behalwe iets van sy korrespondensie met Jan Rabie, omdat ons in 2004 ’n teaterproduksie, Jan en Jorie, oor Rabie en Marjorie Wallace op die planke gebring het. Ek was ook bekend met van sy verse, soos “Man wat mal word”, “Aftelrympie” en “Oor monnemente gepraat”, waarmee ek vermoed vele van ons in die 1980’s op skool (of op dramaskool) kennis gemaak het. Ten koste van myself moet ek ook erken dat ek gedink het hy is ’n bruin digter, maar dit is blykbaar ’n algemene mistasting – nie minder nie as drie van my vriende met wie ek oor die program gesels het, het ook so gedink! Ek dink dit het te doen met sy Kaapse sonnette wat natuurlik in Kaapse Afrikaans uitgedruk is (sal dit vandag as kulturele toe-eiening geklassifiseer word?). ’n Brief aan hom gestuur in Londen in die 1970’s, geskryf deur ’n Afrikaanse st 7-leerder (wat saam met sy donker-satiriese antwoord ook in die verhoogproduksie neerslag vind), vertel byvoorbeeld ook dat die st 7B-klas besig is “met ’n projek in kleurling digters”! Van Blum as mens het ek dus weinig geweet.

Wat het jy deur jou navorsing omtrent hom ontdek toe jy aan die stuk begin skryf het?

........
Hy is onder andere beskryf as “een omgevallen boekenkast” weens sy belesenheid. JC Kannemeyer praat van Blum se erudisie. Sy kennis van tale, en des te meer van die wêreldletterkunde op ’n jeugdige ouderdom is onthutsend.
........

Sjoe, waar begin ek? Hy is onder andere beskryf as “een omgevallen boekenkast” weens sy belesenheid. JC Kannemeyer praat van Blum se erudisie. Sy kennis van tale, en des te meer van die wêreldletterkunde op ’n jeugdige ouderdom is onthutsend. Dan nie net kennis van nie, maar kritiese opinies oor die werk van Camus, Sartre, Voltaire, Baudelaire tot Dante en Gorki, om maar ’n paar te noem. Hy het musiek met ’n fyn oor beluister, en sy opinies oor veral Mozart vind dan ook neerslag in die verhoogteks (vir Bach se fugas het hy nie juis ooghare gehad nie!). Hy het sy mond gereeld uitgespoel oor die Afrikaanse literati – sonder skroom in briewe aan die betrokke persoon gerig – en gereeld was sy ontsteltenis groot as hy nie spoedig ’n wederkerende brief ontvang het nie. Sy kritiese beskouing van die Afrikaanse letterkundige landskap (“Afrikaans het nie ’n letterkunde nie, net ’n handvol mo-je rympies”) is ook goed gedokumenteer. Hy het grootgepraat en oa die intiemste besonderhede van sy kortstondige verhouding met Ina Rousseau in ’n brief aan Jan Rabie uitgeflap. ’n Maklike man was hy nie, maar seker die grootste ontdekking vir my was sy digkuns. Hy het slegs twee bundels – Steenbok tot poolsee en Enklaves van die lig  gepubliseer. Beide is fassinerend en soveel te meer as ’n mens dit lees met Blum se stelling aan Barend J Toerien: “My twee digbundels was eintlik ’n langgerekte vaarwel aan Suid-Afrika” as sleutel. Die grootste tragiek is dan dat die Suid-Afrikaanse regering nooit sy burgerskapaansoek goedgekeur het nie. In sy eie woorde: “Nasty little nations lose their writers.”

Dit moet seker ’n uitdaging wees om ’n skrywer se lewe in ’n toneelstuk te omskep. Waar begin mens – op watter punt van die skrywer se lewe? Hoe kies mens die beginpunt – en hoe hou mens dit lewend en lewendig voor die oë van die gehoor?

Die grootste uitdaging was sy relatief beperkte oeuvre. Benewens ’n paar koerantartikels, en later ook reisartikels vir ’n Vlaamse tydskrif, is daar net sy twee digbundels, wat beide in die 1950’s gepubliseer is. Om ’n kronologiese prentjie te skets van Blum met sy digkuns as wegspringplek was dus nie moontlik nie. Gelukkig was hy ’n korrespondent van grootse omvang, so uit sy briewe (en ook dié van sy vrou Hetta aan haar een suster) kon ek die legkaart uitbou. Ons het besluit om die stuk te plaas die jaar na sy dood in Londen. Volgens ’n buurman het Hetta haar glo na Blum se dood verbeel hy kruip nog vir haar weg, en hierdie gegewe stel ons in staat om Hetta in gesprek met Blum te laat tree. Om dit effens te vereenvoudig: Die stuk berus dan op terugblikke, maar wat in die hede geanker is. Sy verse praat in op hulle lewens en word dan herkontekstualiseer om ander betekenisskakerings te suggereer. Die struktuur van die stuk dikteer dus die beginpunt. Dit was vir ons ook belangrik om ’n realistiese aanslag te volg, sodat die gehoor nie vervreemd voel nie, aangesien Blum se uitlatings en ook sy digkuns gereeld serebraal kan oorkom indien dit nie deeglik vir ’n gehoor ontsluit word nie.

Wat was jou opdrag toe jy hierdie toneelstuk geskep het? Het jy vrye teuels gehad, en was daar iets spesifieks waarop jy die gehoor se aandag sal wou vestig?

Ek vermoed die uitvoerende vervaardiger, Jean Meiring, wat die opdraggewer is, het aanvanklik ’n versprogram in gedagte gehad, maar dit was vir my gou duidelik dat Blum as persoon se kompleksiteit en sy progressiewe opinies ook aan bod moes kom. Hierdie aanslag is gou deur al die betrokke partye omarm, so ja, ek het vrye teuels gehad.

........
Sommige sou Blum en Hetta se verhouding in vandag se ekstreme terminologie sekerlik kon afmaak as toksies, maar dit is nie my as teksskepper se plek om daardie oordeel te vel nie.
........

Deur ervaring het ek ook al besef dat as jy ’n intieme paartjie se storie op die verhoog vertel, dit altyd gedistilleer kan word na ’n liefdesverhaal in wese. Sommige sou Blum en Hetta se verhouding in vandag se ekstreme terminologie sekerlik kon afmaak as toksies, maar dit is nie my as teksskepper se plek om daardie oordeel te vel nie. Ek probeer ’n kreatiewe, gefundeerde teks daarstel, en ’n gehoor moet vanuit hulle perspektief die stuk “ervoel” (om ’n Blum-neologisme te gebruik).

Ek het jou gevra wat jy alles van Peter Blum ontdek het toe jy die stuk geskryf het. Wat het jy in die proses ook van jouself ontdek tydens die skeppingsproses?

Dat ek baie hou van navorsing! Om ’n onderwerp na te vors, en al die gepaardgaande ontdekkings, en dan om die kolletjies te verbind om ’n logiese teks te vorm maak my bitter opgewonde. Dan ook weer hoe jy altyd, in enige persoon se lewe (en ek praat van enige persoon) iets van jouself herken. Dit maak die proses van skryf so lonend en insiggewend.

Is daar ’n spesifieke teikengehoor wat jy in gedagte gehad het toe jy die stuk geskryf het – of skryf jy nie op daardie manier nie?

Ek dink die materiaal waarmee ons gewerk het – Blum se verse – voorveronderstel ’n gehoor met ’n belangstelling in poësie. So nee, ek skryf nie met ’n teikengehoor in gedagte nie, maar wil tog so groot ’n gemene deler van ’n gehoor betrek as moontlik. Daarom is daar ook sekere keuses uitgeoefen om hier en daar van die meer obskure letterkundige verwysings uit te sluit om nie onnodige verwarring of vervreemding teweeg te bring nie. Daar is hoegenaamd nie sprake van “dumbing down” nie, bloot ’n sensitiwiteit vir ’n gehoor se luisterkapasiteit (daar moet ’n onmiddellike reaksie wees, in die oomblik).

........
Daar is hoegenaamd nie sprake van “dumbing down” nie, bloot ’n sensitiwiteit vir ’n gehoor se luisterkapasiteit (daar moet ’n onmiddellike reaksie wees, in die oomblik).
........

Waarom sou jy mense aanraai om die toneelstuk vanjaar by die Suidoosterfees te kom kyk?

Soos reeds genoem, is dit in wese ’n liefdesverhaal, of dan nou ’n verhaal van twee mense wat aangewese is op mekaar. Een van die partye was ’n korrelkop, bitsig, begaafd, venynig, staatloos, te na gekom; die ander een was ondersteunend, alleen, sensitief, ’n klankbord, ’n kunstenaar, sy vrou. Beide vertel ons van onsself en van ’n lewe wat geleef is – hoe suksesvol, is vir die gehoor om te besluit. En dan is daar die ongelooflike poësie van Blum wat die produksie deurspek. Om bogenoemde redes moet mense kom kyk.

Lees ook:

Peter Blum (1925–1990)

Suidoosterfees se direksievoorsitter, Edmund Jeneker, gesels met LitNet

Suidoosterfees 2025: ’n onderhoud met Theo Kemp oor die Jakes Gerwel-gesprekke

Annie+Helen: Hennie en Pedro bring nuwe drama op die planke

Blou Fiësta-toekenning vir die Suidoosterfees se 21-projek: ’n onderhoud

Persverklaring: Suidoosterfees bied ’n groot verskeidenheid opwindende teaterproduksies

Persverklaring: Kort verhoogstukke beloof hoë-oktaan ervarings by Suidoosterfees

Persverklaring: Jong teatermakers skitter in Suidoosterfees se ATKV-Jeugteaterprogram

  • 1

Kommentaar

  • Albertyn van Rooyen

    Ek het Francois Toerien se onderhoud met Naomi Meyer oor Hortjiesdig baie interessant en insiggewend gevind.
    Ek het 'n spesiale belangstelling in die produksie, aangesien "Oom" Peter getroud was met Tannie Hetta, my ma se jonger suster.
    Ek het as jong seun vir Peter geken en ons het vir 'n wyle gekorrespondeer nadat hulle Engeland toe verhuis het. Ek het hom as kind geensinds ervaar soos die grootmense/familie/media ens hom voorgestel en veroordeel het nie.
    Jean Meiring het vir my Hortjiesdig se teks laat bekom en ek het dit as moeilik en swaar (as leek) ervaar.
    Na die onderhoud het ek beslis meer insig en waardering en sien baie uit om die produksie in lewende lywe te kan ervaar.
    Francois Toerien kom voor as 'n baie begaafde persoon en ek glo sy teks gaan volpunte verdien by die meer literêr-ingeligdes!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top