Francois Toerien is vryskut-akteur, regisseur, stelontwerper, vervaardiger, gehoorlid, skepper van die sketskomedie show Die Francois Toerien Show en stemkunstenaar. Van die produksies waarby hy betrokke was sluit in: Jan en Jorie (akteur en stelontwerper), wat oa genomineer is vir 'n KKNK Kanna-toekenning vir Beste Produksie asook Beste Stelontwerp; Weg (as regisseur), wat die Ashanti Gold Smeltkroes-prys ingepalm het vir Beste Nuwe Teks; en Roadkill/Padkos (as akteur, vervaardiger en stelontwerper), wat genomineer is vir die Aartvark-prys vir innoverende teater asook Beste Drama by die KKNK. Verder hou hy hom besig met sy tuin, sy bokser (Casper) en boerboel (Bertolt), asook hulle twee katte (Klara en Mieng). Die derde kat is nou die dag deur die bure se pitbull terriers opgevreet :-(((. By die KKNK 2007 sal Francois te sien wees in oa Die Francois Toerien Show 5 - Die Groot 5! en die Afrikaanse vertaling van Michael Frayn se klug Noises off. Hy is ook daar as regisseur van Weg. Hy is getroud met die aktrise Nicole Holm, wat sy eintlike "claim to fame" is.