Toyota US Woordfees 2020: 'n onderhoud oor Die dinge van 'n kind

  • 0

“Stick with me, baby. Ek kan nie belowe dat ek jou famous sal maak nie. Maar jy sal fun hê langs die pad”. Met hierdie woorde van haar rebelse kamermaat begin Mart se opwindende én ontnugterende inisiasieproses. Dis die traumas van grootword, swangerskap en selfmoord teen die agtergrond van die 70’s se politieke leuens en die verminking van jong mans in die Grensoorlog. ’n Produksie vir elke ma, elke dogter, en die mans in hul lewe. Aardklop 2019 Toekenning: Beste vertolking in 'n solo-produksie.

Remona Voges het met Francois Toerien oor die toneelstuk Die dinge van ’n kind wat vanjaar by die Toyota US Woordfees op die planke is, gesels. Francois het die teks vir die verhoog verwerk.

Cintaine Schutte in Die dinge van ’n kind (foto verskaf deur Toyota US Woordfees) 

Die dinge van ’n kind is gebaseer op die gelyknamige roman deur Marita van der Vyver. Kan jy dalk kortliks vertel waaroor die verhaal gaan?

Daar is twee storielyne wat parallel met mekaar verloop. Die een vertel  van die jong Mart se seniorskooljare as koshuiskind in die Laeveld met die Grensoorlog en die onderdrukkende konserwatisme van die ‘70's as agtergrond. Die ander storielyn volg die ouer Mart as ekspat in die ‘90's in die VK deur haar briewe aan ’n sekere kind.

Wat was vir jou van die grootste uitdagings tov die verwerking van hierdie teks vir die verhoog?

Die dinge van ’n kind deur Marita van der Vyver is in 1994 uitgegee.

Wat moet bly en wat moet ek sny! Twee dinge het my koers laat hou. Die eerste was die skrywersmantras "Words don't bleed, cut them" en "The art of writing is the art of editing". Die tweede was die regisseur, Nicole Holm, wat my telkens herinner het dat ons net grepe van ’n lewe soek, suggesties, met die gehoor wat self die kolletjies verbind na gelang van eie (gedeelde) ervarings.

Hoe kry ’n mens dit reg om ’n boek met ’n verskeidenheid karakters te omskep in ’n  eenmanvertoning? Moet mens sekere dele van die storie weglaat? Hoe besluit ’n mens waar om te sny?

Die roman vertel die verhaal in 250+ bladsye, waar die verhoogweergawe dit in min of meer 25 moet doen. So, ja, daar het een beduidende storielyn gesneuwel en ander is bloot as grepe/suggesties verteenwoordig. Gelukkig is die verhoog ook ’n visuele medium, so nieverbale vertelling speel ’n groot rol. Die ruimte tussen woorde is waar die regisseur/akteur telkens die meeste vertel.

Wat is die hooftemas van hierdie drama? Wie sal daarby aanklank vind?

Daar is al na die roman verwys as ’n "chick fliek", natuurlik omrede dit die "coming of age"-verhaal van ’n meisie/vrou vertel. Ons persverklaring lees dit is vir elke dogter, ma en die mans in hulle lewens. Ek hou van dié opsomming! Marita se vertelstyl (waaraan ek getrou gebly het in my verwerking) is spitsvondig en uiters onderhoudend, daarom dat so ’n wye verskeidenheid gehoorlede ook die verhoogweergawe sal geniet.

Moes jy weer navorsing doen oor die sewentigerjare, waartydens die verhaal afspeel? Of het die teks self genoeg insig in dié tydperk gebied?

Die navorsingslas het meer by die regisseur/akteur berus wat natuurlik met visuele elemente ook moes werk, maar die roman se beskrywings van veral die modegiere van die era was omvattend en gereeld ook baie vermaaklik.

 

Kom kyk Die dinge van ’n kind by die Toyota US Woordfees: 11–15 Maart by die HS Stellenbosch. 

 

 

Vervaardiger: Arena Produksiehuis
Teks: Francois Toerien (na die roman deur Marita van der Vyver)
Regisseur: Nicole Holm
Klankbaan: Schalk Joubert
Verhoogbestuurder: Jeanne Steenkamp
Ondersteun deur NATi, Aardklop, LW Hiemstra Trust
Met: Cintaine Schutte

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top