Peter Blum (1925–1990)

  • 0

Sêgoed van Peter Blum

“’n Stad se vorm, helaas, verander vinniger dan ’n mens se hart wat ou posture vaslê.”

“Weet jy wat is verkeerd met die Afrikaanse digters? Hulle lewe nie.” (In ’n brief aan Ernst Lindenberg)

“Hý (die kunstenaar) moet ondervind en ervaar en reis en swalk en opneuk en andersdenkend wees.”

Gebore en getoë

Volgens Peter Blum se inskrywing as student aan die Universiteit Stellenbosch is hy op 4 Mei 1925 in Triëst, Italië gebore, maar volgens JC Kannemeyer is hy beslis in Wene, Oostenryk gebore. Sy volle naam was Peter Emil Julius Blum en hy het ook beweer dat hy in Berlyn gebore is. In sy aansoek by die Suid-Afrikaanse Departement van Binnelandse Sake om naturalisasie, het hy sy geboorteplek as Wene, Oostenryk aangedui. Daarvolgens was sy pa Joseph Blum en sy ma Paula Blum, gebore Levi.

Volgens ’n kort biografiese skets wat Blum in 1959 vir PJ Nienaber geskryf het, was sy ouers van Oostenrykse afkoms, maar JC Kannemeyer skryf in sy boek oor Blum dat sy een ouma waarskynlik van Kroasië was, want hy het die stad Split, wat op ’n eiland in die Adriatiese See lê, geken. (Dit het hy aan Ina Rousseau vertel.) Hierdie ouma se naam was Draga Tereza Rogošic. Hy het ook ’n oom Kajatan gehad oor wie hy baie gepraat het. Hy moes ook familiebande in Oostenryk gehad het, en spesifiek in die stad Graz, want as jong kind het hy daar gekuier of het hy selfs ’n tyd lank daar gewoon.

Blum het aan Nienaber geskryf dat hy skole in “verskeie Alpelande” besoek het, “eintlik sonder uitwerking”. Hy het in ’n skets aan Helmut Erbe vir sy bundel Afrikaanse Lyrik geskryf dat hy skole in “Württemberg und der Schweiz” besoek het. Kannemeyer meen dat dit waarskynlik Baden-Württemberg is waarvan hy gepraat het.

Volgens mense wat vir Peter Blum geken het, het hy altyd Duits met ’n duidelike Oostenrykse aksent gepraat, asook met ’n dialektiese woordgebruik. “Wat Switserland betref, is daar in die biografiese sketse geen nadere aanduiding nie, maar in ‘Die klok in die newel’ noem hy Locarno, ’n stad in die kanton Ticino op die noordelike oewer van die Lago Maggiore en geleë in die Italiaanssprekende deel van die land.” (Wat het geword van Peter Blum?) As kind het Peter Blum, behalwe Duits, ook dalk met ’n paar van die Oos-Europese Slawiese tale kennis gemaak, sowel as met Italiaans terwyl hy in Switserland was. Dit is duidelik uit sy briewe dat ’n redelike jong seun was toe hy lesse in Latyn ontvang het.

Die Blum-familie het Europa in 1936 verlaat en na Suid-Afrika getrek. Peter Blum het aan FEJ Malherbe vertel dat hulle heel moontlik van Hitler moes vlug. As hierdie feite reg is, beteken dit dat hulle van Joodse afkoms moes wees, al was Blum se ouers Rooms-Katoliek en nie ortodoks Joods nie. Blum was ook nie besny nie (volgens Kannemeyer). Die van Blum  was ook ’n redelik algemene van in die Europese lande waar Duits gepraat is. Volgens Blum (soos hy klaarblyklik aan ’n kennis vertel het) moes ’n Gauleiter omgekoop word sodat die gesin Duitsland kon verlaat. Hulle het by Triëst Europa verlaat en is deur die Suezkanaal na Durban.

Die Blums het hulle aanvanklik in Johannesburg gevestig, maar later na Durban verhuis, waar Peter in 1942 aan ’n Engelstalige hoërskool gematrikuleer het. Hy is op skool egter ook in Afrikaans onderrig. Sy Engels was onberispelik en hy het dit sonder ’n sweem van ’n aksent gepraat, maar hy het Afrikaans altyd met ’n ligte Duitse aksent gepraat.

Dit moes omtrent die tyd gewees het toe Blum in matriek was, dat sy vader aan ’n geestesiekte begin ly het. Dit was heel moontlik te wyte aan die probleme wat die gesin ondervind het met die verhuising na en die problematiese aanpassing in ’n vreemde land. Hy is opgeneem in ’n inrigting vir mense met psigiatriese probleme. Maar Blum het nie daarvan gehou om daaroor te praat nie en hy het die storie van sy vader se afsterwe in ’n motorongeluk in 1938 in Brakpan gefabriseer.

Verdere studie en werk

Na sy verblyf in Natal het Blum klaarblyklik geen aanvoeling vir die Engelse mentaliteit gehad nie en het hy besluit om vir sy verdere opleiding na ’n Afrikaanse naskoolse inrigting te gaan. Hy het hom in 1943 aan die Universiteit Stellenbosch ingeskryf.

Op Stellenbosch het hy latere medeskrywers soos Jan Rabie leer ken en ook Bun Booyens, HW Truter en Jac A Louw, wat later professor in Afrika-tale aan die Universiteit van Suid-Afrika was. Blum het ook ’n lewendige belangstelling in musiek gehad en het in aanraking gekom met Frits Stegmann en Jack Steyn wat albei groot versamelings grammofoonplate gehad het.

Blum het op daardie stadium in die volkekunde onder PJ Schoeman studeer, en ook in Afrika-tale onder BIC van Eeden. Sy punte was baie goed, maar omdat hy nie gereeld sy klasse in Afrika-tale bygewoon het nie, is ’n onvoltooide predikaat aan hom toegeken.

Volgens Kannemeyer (Wat het geword van Peter Blum?) het Van Eeden se siening nie gestrook met wat die norm was nie en is hy as hooghartig beskou. Hy het gevoel dat Blum dit nie werd was om ’n graad van die Universiteit van Stellenbosch te ontvang nie. Blum het, weens sy trots, geweier om toe te gee en teen die ende van 1945 het sy studies gestaak. Hy is na Johannesburg waar sy ma weer alleen gebly het omdat haar man in die inrigting was.

Ná Peter Blum se terugkeer na Johannesburg, is sy ma na ’n sitrusplaas naby Rustenburg. Hier het sy ’n verhouding aangeknoop met ’n boer. Sy was maar 44. Peter Blum was egter nie tevrede met die verhouding wat sy ma met die boer gehad het, veral omdat sy ma – dit was wat Blum aangevoer het – vroeër in Blum self belanggestel het en nie gedink het dit is verkeerd om ’n verhouding met hom te hê nie. Dit is nie maklik om die waarheid van hierdie bewering te bevestig nie, maar wat wel bevestig kon word, is dat Blum en sy ma se verhouding baie kompleks was. Hy het nie baie vleiend oor haar teenoor Ina Rousseau gepraat nie.

Middel-1947 was Blum se adres Kitchenerlaan 146, Kensington, Johannesburg en het hy dus nie meer by sy ma in Melrose gewoon nie, skryf Kannemeyer (Wat het geword van Peter Blum?). Hy het as sekretaris by ’n jeugklub gewerk wat in die Duitse konsulaatgebou bymekaargekom het. Dit was ’n bymekaarkomplek vir jongmense waar goedkoop etes verskaf is en sosiale byeenkomste gehou is. By die klub het hy onder andere vir Bartho Smit ontmoet en weer vir Jan Rabie raakgeloop. Gedurende hierdie jare was Blum se skryfwerk hoofsaaklik in Engels en ook soms in Duits.

Later, in 1947, het Blum na Prairiestraat 97 in Rosettenville in Johannesburg verhuis. Hy het aan Jan Rabie geskryf dat dit hom £3 gekos het om al sy besittings te vervoer. Vanaf hierdie blyplek was dit sleg tien minute se stap na ’n “wêreld van veeplase tussen die klipkoppies, wat nou na die reën verbasend groen lyk. Die plase het ordentlike woonhuise tussen boomlanings, en geteerde paaie kronkel teen die bulte op. Tog kan ek myle ver sien, tot by Jacksonsdrif en Kliprivier se kragstasie. ’n Landskap wat beskaaf en tog groots is. Ek voel dus uiters plattelands.” (Wat het geword van Peter Blum?)

Oor sy kamer en die huismense het hy aan Jan Rabie vertel: “My kamer hier is ’n bietjie goedkoper as dié in Kensington, en my huismense is meer proletaries. Dit is pateties hoe hulle probeer om vriendelik te wees – en laat my baie ongemaklik voel: ek is te klasbewus. Die venster van my kamer kyk noord-toe en is omring deur Ioniese pilare en wynstokke met groen trosse Griekse druiwe daaraan. Samies of Chiaans? Net ’n bosgod ontbreek.” (Wat het geword van Peter Blum?)

In 1948 het Blum teruggetrek Kaapstad toe en het hy tot 1950 aan die Universiteit van Kaapstad gestudeer, waar hy die Diploma in Biblioteekwese verwerf het met ’n verhandeling oor The Union native policy in government legislation and publications 1910–194”. In 1949 het hy as bibliotekaris by die destydse Suid-Afrikaanse Biblioteek (vandag die Nasionale Biblioteek) in Kaapstad begin werk. Hier was hy verantwoordelik vir die bestuur van die biblioteekdiens vir bruin mense en het hy ook ’n motor – ’n rooi Austin-paneelwaentjie – tot sy beskikking gehad.

In die vroeë 1950’s het Blum aan sy Engelse drama oor Diocletianus gewerk en dit ook voltooi; die meeste van sy gedigte was ook in Engels. Hy het egter in Desember 1950 in ’n brief aan Jac A Louw geskryf dat hierdie drama “wragtag hoogdrawend” is en het gewonder of dit nie “vreeslike belaglike pretensieuse snert” is nie.

Dit was gedurende hierdie tyd dat hy vir Ina Rousseau ontmoet het en in Afrikaans begin dig het. Kannemeyer (Wat het geword van Peter Blum?) meen dat dit as gevolg van die invloed van sy Afrikaanse vriendekring in Kaapstad, en veral sy vriendskap met Ina Rousseau, kon gewees het. Sy woonstel in Meyershof in Kampstraat, Kaapstad-Tuine is die ruimtelike agtergrond vir die siklus “oor en vir Elvira” – laasgenoemde die geliefde in die Don Juan-legende – wat as “Wat die hart van vol is” in Steenbok tot Poolsee opgeneem is.

Peter Blum en Ina Rousseau het nie ’n baie lang verhouding gehad nie – slegs van Februarie tot September 1950. Hulle het gereeld oor en weer gekuier en hy het heelwat briewe aan haar gepos. Die adres was gewoonlik in rymvorm op die koevert geskryf. Op 27 Februarie 1950 het dit so geklink:

O waarde meester van die pos,
Vlieg valkgeswind na STELLENBOSCH,
Loop dan so soetjies soos ’n muis
Na KERKSTRAAT se ou DEVONSHIRE-HUIS
En gee my brief (wees pligsgetrou!)
Aan ene INATJIE ROUSSEAU.

Daar was nie ’n seël op die koevert nie en hy het agterop geskryf:

Seëlkoopkans is al verby:
Posmeestertjie, vergewe my!
Op ’n brief van 25 April 1950 staan daar:
Briewebesteller, wend jou rasse skrede
Na STELLENBOSCH, die mooiste van ons stede:
DEVONSHIRE-HUIS moet jou bestemming wees – 
INA ROUSSEAU. (Sy sal dit gretig lees.)

En op een wat 24 Julie 1950 gedateer was:

Aan INA, Dirk ROUSSEAU se dogter
(My ryme word al vergesogter)
DEVONHIRE-HUIS se mooiste dame
(Dié plek se enigste reklame)
Op STELLENBOSCH, die Eikestad
(Mooier omdat dit haar bevat).

En agterop, twee reëls wat retrospektief gesien, gewys het na die nuwe neiging wat in sy digterskap te bespeur was.

Ek rym in julle taal, besiel maar nugter:
Beskou my as ’n Afrikaanse digter.

(Wat het geword van Peter Blum?)

Vir Kannemeyer sê dit baie dat Blum in hierdie rympie melding gemaak het van “julle taal”. Daarvolgens kan ’n mens aflei dat Blum homself nog altyd gesien het as ’n buitestander wat nie in die “binnekringe van die Afrikaners” welkom was nie. “Alle aanduidings is daar dat hy as ontheemde met ’n nomadiese Europese verlede en uit ’n onstabiele, verbrokkelde ouerhuis juis ’n sterk behoefte aan geborgenheid, sowel op ’n persoonlike as ’n nasionale en literêre vlak, gehad het. Hy wou graag iemand hê by wie hy hom kon koester en ’n sterk tradisie waarby hy kon aansluit en waarin hy ’n geestelike tuiste kon vind. In Ina Rousseau, so was sy oortuiging kort ná hulle ontmoeting, het hy die persoonlike aansluiting gevind, terwyl hy vir homself – na sy aarselende verkennings en meestal mislukte eksperimente in Engels – ’n digterskap in die Afrikaanse taal wou oopskryf. Daarom het Blum hom gou ná hulle eerste ontmoeting in Februarie 1950 aan Ina Rousseau vasgeklamp.” (Wat het geword van Peter Blum?)

Blum het Ina Rousseau geïmponeer met sy verstandelike vermoëns en kreatiewe kapasiteit, asook ander fasette van sy persoonlikheid. Maar dit het gou tot haar deurgedring dat hy nie aan haar die soort liefde wat sy van ’n man wou hê nie, kon bied nie. “Sy liefde het vir haar in diens gestaan van die een sterk en allesoorheersende drif by hom, naamlik om homself te laat geld.” (Wat het geword van Peter Blum?)

Peter Blum was, wat voorkoms betref, nie ’n baie aanvallige man nie, en het gereeld, om homself te vermaak, onwaarhede vertel en het nie baie detail oor sy vroeëre lewe kwytgeraak nie,“waarskynlik om homself in die oë van ander mense interessant en iets van ’n misterieuse verskynsel te maak”. (Wat het geword van Peter Blum?)

Aan die een kant was Blum ’n alleenmens en in homself gekeer, maar aan die ander kant was hy ook iemand wat ’n byna fanatieke nodigheid aan ander mense gehad het. Sy manuskripte was almal baie netjies gebind met ’n aantal leë blaaie aan die einde waarop mense kon kommentaar op sy gedigte lewer. Ina Rousseau het hom as “’intellektuele reus” gesien en as ’n digter met dieselfde vermoë as mense soos Van Wyk Louw en DJ Opperman. Maar hierdie vermoëns van Blum was onlosmaaklik verbonde aan sy minderwaardigheidskompleks wat hy nie kon afskud nie. Dit was ook ’n belangrike deel van sy psige.

Dit was dan ook die rede waarom Ina Rousseau nie lank nadat hulle verhouding begin het, tot die insig gekom het dat dit nie in ’n langdurige verhouding sou word nie. Sy wou egter nie vir Peter Blum, wat ’n baie gevoelige en “verwondbare” mens was, kwets nie, maar moes tog uiteindelik vir hom vertel. Blum was “hartstogtelik” lief vir Ina en hy was bitter kwaad toe Ina aan hom vertel het dat sy nie dieselfde voel nie. Hy was ook erg in die gesig gevat toe Ina Rousseau eendag iets oor hulle kortstondige verhouding in ’n gedig geskryf het. En al het hy haar feitlik gesmeek om hom nie te los nie, kon sy nie met die verhouding aangaan nie; daarvoor het Blum te veel negatiewe karaktertrekke gehad. Sy het ook besef hy sal nie verander nie en het dus die verhouding beëindig.

Daar was, volgens Ina Rousseau en Ernst Lindenberg met wie Blum redelik goed bevriend was, sekere beheptheid met sekere dinge in Blum se persoonlikheid aanwesig, maar of dit kon dui op ’n geskiedenis van ’n geestesafwyking in die Blum-familie, is onseker, al het sy pa aan geestelike versteurdheid gely. Blum het veral ’n obsessie gehad oor sy oë en ore. Ernst Lindenberg het eenkeer gesê dat die drieluik van gedigte “Man wat doof word”, “Man wat blind word” en “man wat mal word” in Enklaves van die lig belangrike aanduidings is van Blum se geestesgesteldheid.

Hy het in die 1950’s by die Lindenbergs in Johannesburg gekuier en dit het hulle opgeval hoe hy altyd saans voor hy gaan slaap het, pluisies in sy ore gesit het en soggens druppels in sy oë gegooi het. Ook het sy bril nogal dik lense gehad en Ina Rousseau het vertel dat sy oë baie maal rooi was. Hy kon dus nie die skerp son van Suid-Afrika geniet het nie.

Blum het ook ’n gevoeligheid vir geraas openbaar. Hy het op ’n stadium in ’n woonstel in Meyershof in die Tuine in Kaapstad gewoon en ’n vrou, wat bokant hom gebly het, het met haar hoëhakskoene geloop en hierdie geluid het hom amper van sy kop af gedryf. Hy het aan Ina Rousseau vertel dat hy “die vrou se enkels graag tot ’n bloederige bredie sou wou breek”. Phil du Plessis, die digter en medikus, het gemeen dat Blum dalk aan skisofrenie kon gely het.

Blum het waarskynlik vroeg in 1955 vir Henrietta Cecilia Smit, sy aanstaande vrou, ontmoet. Sy is op 3 November 1914 in die distrik Hopefield gebore en het aan die Hoërskool JJ du Preez in Parow gematrikuleer. Die Smit-gesin het later na die Paarl getrek. Henrietta, of Hetta, was ’n aantreklike meisie met ’n baie aangename en lewenslustige persoonlikheid. Sy was ook baie lief vir die natuur. Na matriek is sy na die Paarlse Opleidingskollege, waar sy haar as onderwyseres bekwaam het. Sy het op Aliwal-Noord, Kirkwood en Kareedouw onderwys gegee. Sy het daarna kuns in Kaapstad studeer en in Stellenbosch as kunsonderwyseres gewerk. Sy en Blum is op 29 Maart 1956 in die landdroskantoor in die Strand getroud.

Reeds voor die verskyning van Blum se eerste gepubliseerde bundel het daar van sy verse in Standpunte verskyn. In die vroeë 1950’s het hy verse aan DJ Opperman gestuur. (Opperman was vanaf 1950 tot 1955 die redaksie-sekretariaat.) Van hierdie verse was “Natural selection” – blykbaar geskryf na aanleiding van ’n groep Vlaamse toneelspelers – en “Ancien regime”, “Seemis”, “Serenade for Rapunzel”, “Graaf Arnoldus (uit die Spaans)” en “Agterdog”. Die eerste twee is in November 1950 aan Opperman gestuur en die ander in Mei 1952. Alhoewel die verse se gehalte nie altyd ewe goed was nie en Opperman hulle nie in Standpunte gepubliseer het nie, gee dit tog ’n meer volledige beeld van Blum as digter. (Wat het geword van Peter Blum?)

In 1954 en 1955, nadat hy sy studies aan die Universiteit van Stellenbosch hervat het, het sy gedigte op ’n gereelde basis in Standpunte verskyn. Hy het aan Opperman vertel dat Willem Kempen, hoogleraar in taalkunde, hom gelukgewens het met sy gedigte en by die derdejaarstudente aangeprys het. Hy het sy BA in 1955 cum laude verwerf. (Wat het geword van Peter Blum?)

In 1955 het Blum se eerste digbundel, Steenbok tot Poolsee, by Nasionale Boekhandel verskyn. Dit word in 1956 met die Reina Prinsen Geerling-Prijs voor Zuid-Afrika bekroon. Die titel was aanvanklik Tussen Steenbok en Poolsee, maar DJ Opperman het in sy verslag aanbeveel dat “Tussen” weggelaat behoort te word, want “dit werk verswakkend”, terwyl “die blote” Steenbok tot Poolsee “klinkerder” is en “alles suggereer van die vorige titel”. Opperman het oor die algemeen hoë lof vir die manuskrip gehad. Hy het gewys op die twee pole van die digterskap: “steenbok enpoolsee, warmte en koue, die menslike en die kille, die meegevoel en die satiriese, die dartele, geile, wellustige teenoor die gestolde, asketiese en afgekoelde. (...) Oor die algemeen is die verse ’n boeiende, keurige spel van die twee magte, vry van cliché-taal, vol prikkelende sienings en beeldspraak.” Opperman se verslag is anoniem aan Blum voorgelê. Volgens Kannemeyer (Wat het geword van Peter Blum?) het Blum nie altyd akkoord gegaan met al die veranderinge wat Opperman voorgestel het nie.

Na die verskyning van die bundel het NP Van Wyk Louw in ’n praatjie oor Radio Nederland gesê: “Die moeilikheid in die literatuur kom wanneer mense oor jong, onbekende skrywers en nuwe werke moet oordeel. Hier is geen trapleuning om by die trapklim te help nie. Die gewone mens veroordeel dan dikwels die nuwe met ’n beroep op die grootheid van die oue. Net soos Celliers en Leipoldt uitgespeel is teenoor ons toe ons jonk was, so moet ons vandag verwag dat ons uitgespeel word teenoor die nuwe jongeres deur dié mense wat nie self oordeel nie, maar vasklou aan die strooihalms wat hulle nou al twintig jaar lank sien ronddrywe in die literêre water, waarin hulle self dreig om te verdrink.” (Wat het geword van Peter Blum?)

Vir NP van Wyk Louw was Steenbok tot Poolsee “een van die mooiste gebeurtenisse in die Afrikaanse letterkunde van daardie jare. Ek weet nie of daar al by ons in Afrikaans ’n eerste bundel met meer moontlikhede en meer voltooidheid verskyn het as hierdie een nie. Dit is ’n bundel met tegniese vaardighede, met ’n vát aan Afrikaans wat verbaas, met ’n register van motiewe en met ’n onafhanklikheid van Afrikaanse voorlopers, soos selde in die Afrikaanse letterkunde.” (Wat het geword van Peter Blum?)

Van Wyk Louw het Blum se reeks Kaapse sonnette verdedig teenoor ’n artikelskrywer wat dit afgekraak het. “Dit is maklik om dialek-poësie vir grappige doeleindes te gebruik – dit word vir die kleine, die intieme, die oorbodige gebruik. Om in dialek-literatuur iets universeels te sê – dit het ’n digter nodig.”

TT Cloete se resensie (Huisgenoot, 2 Januarie 1956) oor hierdie debuutbundel van Blum was die negatiefste van almal. In sy bespreking het hy na aanleiding van verse soos “Rooinekke op Hermanus” en nommer 8 van “Waar die hart van vol is” gepraat van “’n lomp, gekunstelde Van Deyselliaanse woordbou ..., gesogte  rymwoorde, rymdwang, growwe retoriek, of ’n ingewikkelde sinsbou”. Baie van die verse het vir hom doelloos verloop en “al die gewigtige opdragte, aanhalings en erudisie is in hierdie gevalle des te hinderliker”. Die grootste gedeelte van sy bespreking handel oor die vertalings van Baudelaire. Ná waarderende opmerkings lewer hy ook kritiek op Blum se “verwater(ing) van Baudelaire (se) beste wyn”. Kannemeyer (Wat het geword van Peter Blum?)skryf dat Cloete se resensie as een van die ernstigste mistastings deur ’n vooraanstaande letterkundige oor ’n nuwe publikasie beskou kon word.

Blum was glad nie baie beïndruk met TT Cloete se mening nie. Hy het aan Ernst Lindenberg die volgende rympie geskryf:

Muse, maak jou uit die voete –
hier kom Theopompus Cloete
met sy verbysterende knewel
van ’n blink swart dopperstewel.

In Helikon van Maart 1956 het ’n resensent (vermoedelik S Ignatius Mocke) sy resensie as volg begin: “As ’n mens hierdie nuwe bundel ter hand neem, dan besef jy dat ’n sekere stroming in ons poësie voor ’n dooie punt te staan gekom het: enersyds die hipersensitiwistiese en intellektualistiese poësie en andersyds die doelbewuste poging om Kleurlinggrappies in poëtiese rymvorm as poësie aan te bied. Soos dit met alle stromings in die letterkunde gaan, het hierdie bundel sy voorgangers gehad en almal het gewag om te sien wat gebeur, want in die verlede het hierdie soort poësie ook al sy verskyning gemaak in letterkundes wat aan die einde van ’n beskawing uitgeblom het. En soos ’n mens verwag het, het die voortsetting van ’n sekere dekadente lewensrigting wat vandag getuig daarvan dat die beskawing in Wes-Europa nuwe krag nodig het, daarvan getuig dat dit nie hier oorgeplant kan word nie. Die teelaarde is vreemd en wil dit nie ontvang nie.

“Kyk ’n mens deur Blum se digbundel, dan sien jy orals tekens van hierdie uitgeblomde digkuns. Laat ons dit erken: die digter het ongetwyfeld aanleg wat blyk uit die oorspronklike en verrassende siening en beeld in ’n reël. Dit val jou op as jy jou pad moet vind deur die massa geforseerde intellektualistiese en hipersensitiwistiese strofes.”

“Die gebrek in opset en in konsepsie is die tekortkoming in Blum se poësie. So alleen kan ’n mens sy poging om te skok vertolk, en ook die feit dat die eenheid in ’n beeld so dikwels gesteur word deur ’n onvermoë om dit tot voldraenheid uit te bou. Waar daar werklik egte ontroering is, het ons reëls wat vanuit ’n estetiese oogpunt bevredig, maar hulle is ongelukkig maar seldsaam in die bundel. Meer dikwels maak hy gebruik van intellektuele spel en die gevolg is dat die gedigte die leser maar min ontroer, en nie veel emosionele drakrag het nie. Daarbenewens is daar die poging tot hipersensitiwisme wat steurend werk en ’n mens onder die ondruk laat dat die digter haarfyn en verstandelik bereken het wat die leser se reaksie behoort te wees. Die spontanëiteit van die poësie is daarmee heen.” (Wat het geword van Peter Blum?)

In Tydskrif vir Letterkunde van Maart 1956 het CW Hudson geskryf: “Daar is ’n bewuste oorspronklikheid van beide siening en beelding wat in Blum se verse voorkom. Hierdie bundel wek die indruk van variëteit, want nie alleen is daar uiteenlopende temas in die bundel vervat nie, maar ook die vorme van baie gedigte verskil onderling van mekaar.”

Ernst Lindenberg het gemeen dat daar baie positiewe dinge in Steenbook tot Poolsee is en het gevoel dat “ons hier met ’n besonder ryk verskeidenheid te make het, ’n bundel wat blyke gee van ’n digterlike talent wat potensieel tot veel in staat is en waarvan ons in die toekoms groot ontwikkelings kan verwag.”

Die bundel het ook teenstand gekry. CM van den Heever en S Ignatius Mocke se Afrikaanse Skrywerskring het morele griewe teen die bundel gehad en wou dê dat Nasionale Boekhandel die hele oplaag van Steenbok tot Poolsee aan verspreiding onttrek. Dit was veral oor die gedig “Oor monnemente gepraat” wat hulle dit gehad het. Volgens hulle is die “Afrikaners se groot geestesbesit, die Voortrekkermonument”, deur ’n vreemdeling van die buiteland beledig is. Ook het hy neerhalend geskryf oor dit wat vir die Afrikaner heilig is en dat hy die Afrikaner se herkoms en geskiedenis geminag het. Ook gebruik hy minder mooi woorde soos “bakgat”. Retrospektief gesien, was dit nogal heel ironies, aangesien die Kaapse Onderwysdepartement hierdie gedig, dertig jaar later in 1986, vir die matrieks voorgeskryf het. (Wat het geword van Peter Blum?)

Anna Neethling-Pohl het ook haar ontevredenheid oor die bundel in geen geringe mate laat hoor nie en het aan die begin verseg om van die gedigte oor haar radioprogram Verse op versoek voor te lees.

Kannemeyer (Wat het geword van Peter Blum?)  skryf dat J Nel van der Merwe, onderwyser aan die Helpmekaar Hoër Seunskool in Johannesburg en ’n mislukte skrywer, die voorbok was in die saak teen Blum: “Van der Merwe het aan George Minnaar, destyds hoof van algemene publikasies van Nasionale Pers, geskryf dat hy op dieselfde dag, as bibliotekaris van die Hoërskool Helpmekaar in Johannesburg, die finale tiende deel van Die Afrikaanse Kinderensiklopedie saam met Steenbok tot Poolsee ontvang het. Hy kon nie glo dat sy geliefde Nasionale Pers op een en dieselfde dag die monumentale Kinderensiklopedie kon afsluit en so 'n skokkende onafrikaanse boek kon publiseer nie. Veral ‘Oor monnemente gepraat’ het sy verontwaardiging ontketen. Hy vra Minnaar of die Pers ’n gedig sal uitgee met ’n beskrywing van die kloktoring bo-op die destydse Keeromstraatse Burger-gebou as ‘’n meid se pram’? Of die Vrouemonument as ’n ‘regop peester’?”

Dirk Opperman, wat die manuskrip aanbeveel het, het toevallig by Nasionale Pers aangekom en Minnaar het hom die brief gewys. Hy het, skryf Kannemeyer (Wat het geword van Peter Blum?), so skewerig geglimlag oor die Vrouemonument en opgemerk: “Nogal nie ’n slegte beeld nie.”

Oor monnemente gepraat

Wat spog jul so met julle monnement? 
Hy’s groot ma’lielak, en hy staan so kaal 
da’ op sy koppie. Wie’t vir hom betaal -
al daai graniet en marmer en sement?
O ja, hy's groter as 'n sirkustent -
Ma’ waa's die pêd, die mooi nooi innie saal? 
die lekka clowns, die leeus in hul kraal? 
Nei, daa's g’n spôts nie vir jou Kaapse kjend!
Hier het ons stetjoes, elkeen soos ’n mens: 
ou Afduim-Murray, Hofmeyr met sy spens; 
hier's Jan van Riebeeck, bakgat aangetrek
in sy plus-fours; Cecil Rhodes wat jou wys 
wa’ die reisiesbaan lê; en vorie Paalmint-hys 
ou Mies Victoria met ha’ klein spanspek.

Die bundel is toe nie aan die mark onttrek nie, maar dit kan stellig wees hoekom Nasionale Boekhandel lugtig was om die WA Hofmeyr-prys aan Steenbok tot Poolsee toe te ken, al was dit algemeen aanvaar dat die bundel hierdie prys in 1955 sou kry. Ook DJ Opperman het dit sterk aanbeveel. J Nel van der Merwe het aan Opperman ’n brief geskryf waarin hy ’n kapsie maak teen die bundel. Hy het geskryf: “Blum se gebeeld is vir my onwaar en dat überhaupt niks met die skoonheid te make het nie.”

Van der Merwe het voortgegaan: “Hierdie BA-student, wat vir my ’n wild-vreemdeling is en wie miskien ’n dood interessante mens is, het hom nie verantwoord wat hy alles daar sê nie. Hoekom? Wel, dis sý drif, sy raptus ... As u my geken het, sou u weet dat om hierdie skryf só te skryf aan u, ’n uiterste seldsaamheid is. Maar, hoe outyds dit ook mag klink: dis ’n gewetensaak. ’n Nie-Christen kan diep religieuse verse skryf. Blum besit, volgens my, nie ’n greintjie religie nie, nie ’n gryntjie ‘Beauty’ nie. Inteendeel, die boekie vul my met weersin. Ek is bibliotekaris van Helpmekaar: dis die eerste boek deur die Nasionale Pers uitgegee wat ek op die verbode lys gaan plaas. Nou gaan dit te ver.” In ’n brief aan die “Van alle kante”-rubriek in Die Burger verwys Van der Merwe na Steenbok tot Poolsee as “daardie boekie, daardie perversiteit, daardie pornografie, daardie smeerigheid, daardie skandvlek op die Nasionale Pers”. (Wat het geword van Peter Blum?)

In 1956 het Blum sy honneursgraad in Engels aan die Universiteit van Kaapstad behaal, waarna hy in 1957 vir ongeveer drie jaar as bibliotekaris in Kroonstad in die Vrystaat gewerk het. Hy is hier aangestel as streeksbibliotekaris. Hy het steeds gedigte aan Standpunte gestuur, maar met WEG Louw as redaksie-sekretariaat was die tydskrif soms maande laat, sodat Blum dit herdoop het tot Sloerpunte.  

In Kroonstad het Blum en Hetta in Allan Petriehof 24 gewoon. Blum het in ’n brief aan Opperman laat weet dat die werk op Kroonstad as streeksbibliotekaris “interessant” is. Die woonstel was “gangbaar”. Hetta het ontpop as ’n uitmuntende kok wat veroorsaak het dat Blum swaarder begin weeg het. Die klimaat was lekker: “interessante klip, mooi rivierpark, in die somer voëllewe en erdmannetjies”. Die kultuur op Kroonstad was egter “natuurlik NON EST. Drie mense hier weet dat ek STEENBOK geskryf het, maar is taktvol, en sal nie die feit in my teenwoordigheid noem nie. Dis asof ek ’n onegte kind gehad het. Miskien het ek.” (Wat het geword van Peter Blum?)

In ’n brief van 1 November 1938 aan Uys Krige kom Blum se eintlike mening oor Kroonstad en sy behoudende gemeenskap sterk na vore: “Anekdote oor my: nou die dag het die vet onnosel NG pastoriemoeder by ons ingelol en ons ‘vriendelik’ (kruiperig) uitgenooi om haar huisband se kerk by te woon – so nie vir preek nie, dan tog vir die orgelmuziek van die Hollandse virtuoos Van Huissteen Van Hoogenpoephol. Arme Henriet moes die Schwall verduur terwyl ek in die slaapkamer gelê en luister het. Eindelik het ek besluit om Vroutjie te red. Ek trek toe my klere [uit], maak of ek deur die wind van die slaap is, en kom kaalgat in die sitkamer ingeloop, al krappende my pubes, al gapende, al seggende, ‘Hullous, Henriet, hoe lyk dit met koffie vir ’n man?’ Jy moes die ou koei se uier sien waai het soos sy daar uitstorm met verskonings dat sy ewe skielik ’n bestuursvergadering van die Vrouesendingbond moet bywoon. Nou is ons naam modder in kerkse kringe, maar so what, hey-ho the wind & the rain!” (Wat het geword van Peter Blum?)

In die tweede helfte van 1959 is Blum terug Kaapstad toe, waar hy vryskutwerk gedoen het en onder andere artikels vir Die Burger se kunsblad geskryf het. Tussen 21 Augustus 1959 en 27 Januarie 1961 het altesaam 21 stukke deur hom verskyn. Hy en Hetta het hulle in Wynberg in die suidelike voorstede van Kaapstad gevestig met ’n uitsig op die agterkant van Duiwelspiek en Tafelberg. Hy het ook aan notas vir ses kortverhale begin werk.

Blum het in 1957 sy tweede bundel, Enklaves van die lig, weer aan Nasionale Boekhandel aangebied om gepubliseer te word. J du P Scholtz was die keurder en hy was nie gelukkig met Blum se gebruik van “neologismes en vermeende Germanismes” in die verse nie. Opperman was dieselfde mening aangedaan. Albei van hulle was van mening dat Enklaves van die lig nie op dieselfde peil as Steenbok tot Poolsee was nie en dat party van die verse selfs “gevaarlike” materiaal bevat. Dit was veral Blum se “opsetlike gebruik wan woorde wat geen Afrikaans is nie of nie die betekenis of funksie het wat hy in ’n bepaalde verband klaarblyklik daaraan gee nie” wat hulle nie aangestaan het nie. Blum se taalgebruik, soos sy kwistige gebruik van vreemde en basterwoorde, bereik nie die kosbare uitwerking wat hulle moes.  

Die keuring van Enklaves het gedraal en daaroor was Blum nie baie gelukkig nie. Hy het die manuskrip op 1 Junie 1957 na Koos Human gestuur. Nadat Blum ’n paar keer wou weet wat die probleem is, het Koos Human op 16 Julie vir Blum ingelig dat Scholtz nie seker is oor “Die klok in die newel” nie en dat hy eers oorleg wou pleeg met Opperman daaroor. Ná amper drie maande, in Augustus, het Human vir Blum laat weet dat daar besware is.

Opperman het later aan Blum voorgestel dat hy nog aan die gedigte moet werk en ook nuwes moet insit, omdat hy seker is die bundel kan beter. Koos Human wou ook hê dat Blum die bundel vir Van Wyk Louw gee om deur te gaan, maar Blum het die manuskrip aan AA Balkema voorgelê.

Maar by Balkema het dit nie veel beter gegaan nie. Blum het aan Ernst Lindenberg geskryf dat ná sewe weke die manuskrip nog altyd by Balkema is en dat dit ook lyk asof dit nie goedgekeur gaan word nie: “Die kêreltjie met sy groot gesin en klein firma is natuurlik skytbang om iets uit te gee wat sekerlik ’n bombarie sal uitlok. Wat ’n land en tydperk om in te ‘lewe’! Die volksheld-vark Opperman moes natuurlik geweet het.” (Wat het geword van Peter Blum?)

In twee briewe aan Balkema het Blum in geen onduidelike taal aan hulle gesê dat as hulle nie van plan is om die manuskrip te publiseer nie, hulle dit aan hom moet terugstuur. Balkema het gesê hy sou dit druk, maar het nie gehou van al die “snaakse woorde” daarin nie. Blum het toe twintig van die woorde met ander vervang, “mits u ophou om teen die res te vit”. Daarna het Balkema voortgegaan met die publikasieproses en op 16 Maart 1958 is die proewe aan Blum besorg.

In die Cape Times van 13 Augustus 1958 het Jan Rabie geskryf dat Enklaves van die lig ’n groter uitroepteken moet kry as Blum se eerste bundel. “A poet with Mr Blum’s intellectual scope and sensual curiosity is rare in any literature, especially in such a young one as Afrikaans. The maturity of his achievement is as remarkable as the fresh individuality of his statement. The title shows his purpose: for the serene, free mind to state itself clearly out of surrounding darkness – each poem a conquered island of light. (...) I also want to mention his fine control of Afrikaans, his adaptation or creation of words to convey the exact vibration of his mind; the curious absence of similes, as if he needs only to express directly; and the way he never stops to polish a line into a corset of thyme – if it results in less élan to the flow of his wit, less freedom to his rhetoric-abhorring spirit. On the negative side one notices a certain over-dry curtness of statement; the danger of self-centred virtuosity in the too-conscious control of the mind avoiding passion, and perhaps ultimately the impatient and fruitless recoil from the imperfect, the every day. But that is of minor importance. For Enklaves van die lig contains this rare and vast meaning: a spirit realizing that its growth is all.”

Vir WEG Louw (Standpunte, datum onbekend)was daar van die begin tot die einde van hierdie bundel ’n vonkelende en sjarmante spel met die woord is, “’n dans so buitengewoon en boeiend as ons taal maar selde uitgevoer het. Al lesende, soms stil, soms hardop, deurgaans geïnteresseerd, selfs wanneer ’n besondere vers my min of meer ‘koud’ gelaat het, het ek tot die gevolgtrekking gekom dat Blum, so nie reeds by sy bestemming aangeland het nie – wanneer gebeur dit selfs met die begenadigdes? – ten minste op die regte spoor is. En meer: dat hy besig is om aan die Afrikaanse poësie ’n geheel en al nuwe aksent toe te voeg. (...) As ’n mens die versekering soek dat die Afrikaanse vers nie besig is om hom vas te loop en te versand nie, dan lees jy met plesier dié gedigte van Blum, met hul merkwaardige sintese van ’n Europese geestelike agterland en die Afrikaanse boerewêreld.”

Die hele affêre rondom die uitgee van Enklaves van die lig, het Blum baie teleurgesteld en onvergenoeg oor die, soos hy dit gesien het, bekrompenheid van ’n gedeelte van die Afrikaanse letterkundige “establishment”, laat voel. Ook het die feit dat die Fakulteitsraad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in 1959 besluit het om nie die Hertzogprys aan Enklaves toe te ken, en dit nadat die letterkundige kommissie dit aanbeveel het, hierdie gevoel versterk.

Korrespondensie wat Blum in die laat 1950’s met etlike mense gehad het, het gewys dat hy wel in sy binneste die hoop gehad het dat die Hertzogprys aan hom toegeken sou word. In ’n brief aan Ernst Lindenberg het hy geskryf dat hy “hoogstens halfgretig (is) om met die Hertzogprys vereer te word” omdat hy kan dink “watse drekgooiery in Transvaal dit sal afgee”. Hy kon egter nie sien watter ander jonger digter dit juis verdien het nie. “Wil hulle wag tot daar weer ’n Ortodokser opstaan wat ook vakman en oorspronklik is? Ek dink hulle sal verniet wag. (Ek kan my DF (Malherbe) se reaksie verbeel: ‘Moet die miskruier nou in die Tempel ingesleep word?’).” (Wat het geword van Peter Blum?)

Blum en Hetta is op 18 Mei 1960 uit Suid-Afrika na Londen waar hulle gaan woon het. Nie een van hulle vriende of kennisse het van hierdie besluit geweet nie. Hulle het darem die dag voor hulle vertrek Hetta se familie in die Paarl gaan groet. Jare daarna het Ernst Lindenberg nog vertel hoe hy ’n paar keer by die Blums se woonstel opgedaag het om te gaan kuier, maar telkens voor dooiemansdeur te staan gekom het, totdat een van die bure hom vertel het dat Peter en Hetta sak en pak daar weg is.

Niemand kon met sekerheid sê hoekom die Blums so skielik na Engeland toe is nie. Dit is heel moontlik dat die Departement van Binnelandse Sake se weiering om Blum te naturaliseer, die een enkele grootste rede was. Die eerste aansoek is op 7 Junie 1948 ontvang en is op 9 Augustus 1948 geweier, “aangesien hy na aanleiding van Goewermentskennisgewing 1900 wat op 12 September 1942 in die Staatskoerant 3096 gepubliseer is, nie op daardie stadium vir naturalisasie gekwalifiseer het nie”. (Die Burger, 24 April 1992)

Willem Pretorius (Die Burger, 24 April 1992)het verder ondersoek ingestel en gevind dat daardie betrokke kennisgewing onder die hofie Vyandsonderdane as volg gelees het: “Aansoeke deur vyandsonderdane en persone wat by die uitbreek van die oorlog (6 September 1939) onderdane van Vyandelike State was, word nie oorweeg nie, behalwe in die geval van diegene wat voltyds militêre diens met die Unie-strydmagte verrig of wat uit die leër ontslaan is as medies ongeskik vir verdere diens.”

Die Departement het ook verder gesê “ten tyde van sy aansoek was Blum ook onder Goewermentskennisgewing 637 skuldig bevind omdat hy Swaziland sonder die nodige permit binnegegaan het. Hy het ook van ’n vals naam gebruik gemaak. Hy het egter in antwoord op vraag 17 van die aansoek om naturalisasie wat lees ‘was u ooit veroordeel weens enige misdaad of oortreding in die Unie of enige ander land’, No, geantwoord.

Op 28 Oktober 1959 het die prokureursfirma JS de Villiers en Seun die Departement genader om te verneem of hul kliënt weer om naturalisasie mag aansoek doen. Die nodige aansoekvorm is op 6 November 1959 aan die firma gestuur, waarvan die firma op 16 November 1959 ontvangs erken het.

“Geen formele aansoek om naturalisasie is egter weer terugontvang nie. Op 29 Maart 1961 is van die Kantoor van die Hoë Kommissaris in Londen verneem dat mnr Blum hom aldaar bevind. Hy het die Unie met ’n sertifikaat van identiteit verlaat wat op 7 April 1960 aan hom uitgereik is.” (Die Burger, 24 April 1992)

Kannemeyer (Wat het geword van Peter Blum?)het later geskryf dat Blum se vertrek na Londen die grootste enkele verlies was wat die Afrikaanse letterkunde tot op daardie stadium gely het.

Die Blums het nadat hulle in Londen aangekom het, niks van hulle laat hoor nie. Aan sy uitgewers is gesê dat hulle alle korrespondensie rakende sy publikasies aan hom per adres Standard Bank West in Londen versend moes word. Daar was ’n briefwisseling met Nasionale Boekhandel en later Tafelberg Uitgewers wat hoofsaaklik oor die inbetaling van outeursgelde gehandel het. Blum het egter briewe geskryf waarin dit duidelik geblyk het dat Blum baie besitlik was oor sy regte as outeur en dat hy nie sy gedigte beskikbaar wou stel om opgeneem te word in bloemlesings nie.

Hy was dus baie kwaad toe daar vyf gedigte van hom in Oxford University Press se Afrikaans poems with English translations (1962) opgeneem is sonder dat hy verlof gegee het. Waaroor hy veral ontsteld was, was die feit dat die “samestellers” van ’n bloemlesing die grootste tantième kry terwyl die skrywers wie se bydraes opgeneem is, nie veel vergoeding ontvang nie. Hy het ’n brief geskryf waarin sy griewe duidelik blyk, en in hierdie brief is dit ook kllarblyklik dat hy nie meer so lekker voel oor Suid-Afrika en Afrikaans nie: “I was not born in South Africa nor do I propose to die there or return to it. It follows that I am not a suitable representative of ‘SA verse’. Nor will I lend myself to the spreading of frauds and illusions, one of them being that SA verse flourishes ...”

Peter Blum het ’n brief aan Uys Krige geskryf wat baie aspris en beledigend in Engels was, het dit duidelik na vore gekom dat hy as ’n inkomeling van oorsee, nooit baie welkom in Suid-Afrika gevoel het nie. Dit was dalk die oorsaak waarom hy vir Human & Rousseau laat weet het dat hy nie ’n begeerte het om “saam met ander aan die wêreld te illustreer dat daar so iets soos ’n Afrikaanse letterkunde bestaan nie”. (Wat het geword van Peter Blum?)

In ’n brief gedateer 13 Augustus 1963 aan Barend Toerien het hy iets laat deurskemer oor wat die oorsaak van sy gevoel was: “‘Die Afrikaner’ (fantastiese uitdrukking! 1% van Afrika se bevolking!) deel elke vierkantmyl met ander bevolkingselemente, wat toenemend verdring voel deur ‘die’ Afrikaner. ‘Ons land’ – dit was nie altyd ons s’n nie en sal nie altyd ons s’n bly nie; hy het reeds opgehou om myne te wees – eintlik reeds in 1948.” (Wat het geword van Peter Blum?)

Vanaf 1964 tot 1966 het daar ’n reeks sketse in die Vlaamse tydskrif Ons Erfdeel verskyn waarin Blum sy indrukke van België en Nederland weergee. Hierdie sketse was Blum se laaste skrywes in Afrikaans en ook hierin was sy bytende spot en sy gevatte persepsies sigbaar. Sy entoesiasme vir die Engelse letterkunde kon ’n mens duidelik sien in ’n brief wat hy aan Jac A Louw geskryf het. Die laaste dertig jaar van Blum se lewe was “leeg en sinloos” as daar na sy kreatiewe werk gekyk word.

Blum se laaste gedig wat in Ons Erfdeel van Maart 1966 verskyn het, was ’n briljante Engelse vertaling van ’n gedig van die Nederlandse digter JJ Slauerhoff, “Ziekentroost”. Blum was ’n groot bewonderaar van Slauerhoff en het hom as ’n soort geesgenoot beskou. Hierdie gedig is gegrond op die geskiedenis van Francisco Pizarro, ’n Spaanse avonturier en wat ook bekendgestaan het as “die waaghalsigste conquistador van sy tyd”. Blum se gedig was nie ’n direkte vertaling van Slauerhoff s’n nie, maar eerder ’n interpretasie waarin hy die streng sonnetvorm behou het en só by die aard van die oorspronklike gedig aansluiting gevind het. Kannemeyer (Wat het geword van Peter Blum?)  skryf dat Blum, ten spyte van hierdie geslaagde vers in Engels, niks verder gelewer het wat sy naam as digter in die Engelse taalgebied gevestig het nie.

Blum het ook nie weer in Afrikaans geskryf nie. In ’n brief van 13 Augustus 1963 aan Barend Toerien het hy geskryf dat hy nie meer dig nie: “[N]iemand is ’n digter na 35 nie, en ek is al 38. En al sou ek dig, sou ek dit nie in Afrikaans doen nie: ek glo nie meer aan die onsterflikheid van die taaltjie nie. Ek het buitendien nie veel van ’n publiek nie: wie het dit eintlik nog? Daar was wel ’n tydperk toe ‘die volk’ ’n behoefte aan nasionaalpateties-bybelistiese rympies gehad het, maar dit was die tyd toe hy ’n sekere minderwaardigheidskompleks gehad het en dus ’n behoefte aan ‘kultuur’ om vir homself (en ander) te bewys dat hy ’n gelykwaardige Europese volk is, maar die tyd is verby. Nou is ‘die volk’ egter reeds jare aan bewind, maak geld, bak wette soos broodjies, gee nuwe seëls en muntstukke uit, en het dus geen behoefte aan ‘kultuur’ nie.”

Op daardie stadium het Blum baie meer aanklank by Europa as by Afrika gevind en het hy baie besoek gebring aan Brittanje, Ierland, Nederland, Duitsland en Portugal. Aangesien Blum ook ’n bibliotekaris was, het hy vir Toerien sterkte toegewens vir sý werk as bibliotekaris: “Vir my het bib-werk hoofsaaklik kaartjies-tik en kiste rondry beteken en ek is bly dat ek daardie beroep nou agter my rug het. Wat ek egter in Engeland doen en wat my planne is, is ek nie op die oomblik so gewillig om te verstrek nie: iets wonderliks sal dit seker nie wees nie.” (Wat het geword van Peter Blum?)

Blum het gedurende die 1960’s ’n erfporsie van ’n tante ontvang, met die gevolg dat hy en Hetta redelik goed kon lewe en baie kon reis (in sporadiese briewe van Hetta Blum aan haar suster Magdalene van Rooyen in Suid-Afrika). Later het Hetta aan haar suster erken dat die geld besig was om minder te raak, maar dat hulle genoeg gespaar het en met die staat se bydrae, hoef die familie nie bekommerd te wees nie. Hetta het egter, deels as gevolg van die geldelike probleme, aan haar “senuwees” begin ly. Ook was sy ’n onderwysers aan een van die skole in die East End in Londen waar sy probleme met die “ongedissiplineerde” kinders ervaar het. Dit het haar senuweeprobleem vererger. Blum het aan haar sy gestaan en in ’n brief gedateer 11 Februarie 1967 het Hetta weer aan haar suster geskryf: “Van een ding is ek oortuig en dis dat ek Peter nie altyd na waarde waardeer het nie. Hy is sterker onder moeilikhede as ek en was dit dwarsdeur terwyl ek elke slag ingekonk het.”

Sy moes egter weer begin werk het om geld in te bring en Blum self het by die Commonwealth Mycological Institute, ’n instituut waar swamnavorsing gedoen is, gewerk. In ’n artikel op LitNet deur Johan C Coetzee lees ons dat Blum vanaf 1961 tot 1967 hier gewerk het. “Die abstrahering van die mikologieliteratuur was een van die primêre funksies van die CMI en dit is wat Blum se werk daar behels het. Hy was gemoeid met die skandering van die wêreldliteratuur vir artikels oor swamme en veral swamsiektes, asook die opsomming daarvan vir publikasie in die CMI se abstrakjoernale.”

Oor hierdie werk, en wat presies hy in Engeland gedoen het, skryf Blum op 6 Desember 1963 aan Barend Toerien: “... is ek op die oomblik nie gewillig om te verstrek nie: iets wonderliks sal dit sekerlik nie wees”. Hieruit kan ’n mens dus aflei dat Blum nie baie opgewonde oor hierdie werk was nie. Volgens Coetzee blyk dit uit sekere inskrywings in abstrakjoernale dat Blum die CMI reeds vroeg in 1967 moes verlaat het. Hetta het genoem dat dit as gevolg van rasionalisering en personeelbesnoeiings was, maar Coetzee kon geen aanduiding daarvan kry nie.

Peter Blum se sin vir humor was heel dikwels totaal omgekeerd van die normale. ’n Voorbeeld van sy onhebbelikheid het duidelik geblyk toe hy in 1968 reageer op ’n brief van ’n Pietermaritzburgse standerd 8-skooldogter. Sy moes onder die indruk verkeer het dat hy ’n “Kleurling” was – waarskynlik na aanleiding van sy reeks “Kaapse sonnette”. En aangesien sy ’n taak oor “Kleurlingdigters” moes uitwerk, het sy navraag by hom gedoen oor “enige hoogtepunt” uit sy lewe en het sy ook ’n foto gevra.

Sy reaksie: by ’n brief wat hy toe sogenaamd uit die “Lokasie” in Londen geskryf het, het hy ’n poskaart ingesluit van vier Zoeloes in etniese drag en homself aangedui as derde van links. “Ek is nie soseer ’n Kleurling nie as ’n NEGER,” het hy geskryf. “Jy sien my dik swart bakkies op die ingeslotene fotokopie (ekskuus tog as my Afrikaans ’n bietjie geroes het). Jy sien daar ook drie van my kollegiales – ammel so swart as ek, net so wellustig, en almal EET-MENSERS. (Jy verstaan? Ons eet mens!) Ons begelei ons gediggies op die slaat-hom-slaat-hom.” Hy het voortgegaan: “Die hoë punte van my lewe; hulle is ammel SEKSUEEL van aard. Partye is die meisies wat ek eers vry en daarna eet, ander weer vry ek nadat hulle so half geëet is. Op altwee maniere is meisies vreeslik lekker! En nou – mag ek vir ’n verandering iets van JOU vra? Jy kan my ’n FOTO VAN JOUSELF stuur: natuurlik KAALSTERT en, indien moontlik, DANSENDE.Swaai daardie tette, blanke niggie! Wanneer kan ons ontmoet? en waar? As jy nog ’n maatjie of twee uit Standaard VIIIB kan saambring sal ons ’n propper ou PAARTIE daarvan maak! Met musiekbasuin en paring!” En hy het afgesluit met “Donker groete”. (Wat het geword van Peter Blum?)

Blum en Hetta het uiteindelik in Brentford in die London Borough of Hounslow gaan bly. Alhoewel die buurt nie een van die bestes in die “groter Londen” was nie, was dit heel gangbaar. Regoor die huis is die Parish Church of St Faith en omtrent tien minute se loop verder is die Brentford Library. Blum het dié biblioteek gereeld besoek, waar hy baie boeke van elders aangevra het. Hy het ook ’n tyd lank as ’n klerk by die Hounslowse munisipaliteit gewerk om geld in te bring.

Dat Blum nie kon vergeet dat sy aansoek om naturalisasie afgekeur is nie, kan afgelei word uit die briewe wat hy tot in die 1970’s geskryf het. Hy het op ’n keer ’n knipsel uit Time van 31 Januarie 1969 aan WEG Louw gepos. Daarin is vermeld van Slawomir Mrozek, “a Polish writer whose passport was cancelled when he condemned Poland’s role in the Soviet invasion of Czechoslovakia (and who) ... now lives in Paris as a stateless person”. Blum het hierby gevoeg: “[M]oral of the story: Nasty little nations lose their writers.”

WEG Louw het ’n kaartjie gedateer 21 Mei 1970 ontvang waarin Blum skryf dat hy in daardie jaar se verkiesing op 18 Junie vir die Britse Arbeidersparty gaan stem. Daaruit kan afgelei word dat hy ’n Britse burger was. Hy het verkies om vir die Arbeiders te stem “because that party is slightly more anti-Boer-regime than the Tories. Peter Blum will always vote and write against the Boer regime that denied him the chance to vote”, wat ’n aanduiding is van hoe bitter hy nog ná al die jare was.

Op 28 Februarie 1974 het hy laat weet dat hy in die Britse algemene verkiesing gestem het: “NOBODY will nowadays do without the vote. Not even darkies and other ‘weird races’.” En uit Parys het hy in 1976 laat weet: “You won ten ‘Kaffir’ wars, you shall lose the eleventh. And it’s started already. Halleluja!” (Wat het geword van Peter Blum?)

Dit het al slegter met Hetta begin gaan en sy het as gevolg van stres aan angina begin ly. Peter is ook in 1976 hospitaal toe vir ’n galblaasoperasie. Hulle het finansieel al meer gesukkel, maar steeds wou Hetta nie gehad het dat haar familie moes help nie.

Op 20 Julie 1977 het die Britse “Treasury Solicitor” aan die Suid-Afrikaanse Departement van Binnelandse Sake geskryf dat Paula Blum, voorheen David, op 5 Februarie 1975 intestaat oorlede is en dat hy bewus is dat mev David ’n seun uit haar eerste huwelik met die naam Peter Emil Julius Blum gehad het. Hierdie seun is op 4 Mei 1925 in Wene, Oostenryk gebore en was tot ten minste 1954 werksaam in ’n biblioteek in Kaapstad. Briewe aan sy bekende adres het egter niks opgelewer nie en die Treasury Solicitor het die Departement om hulp gevra om Peter Blum op te spoor sodat die “very large estate” aan mev David se nasate oorgedra kon word.

Hierdie erfporsie van £7 000 (in 1992 was dit ongeveer R36 000) het Peter Blum nooit bereik nie. En dit was in 1993 nog steeds onaangeraak in Londen. Daardie geld kon dalk verhoed het dat Hetta as huishulp moes gaan werk om die wolf van die deur weg te hou. Blum het self in sy vyftigerjare opgehou met sy werk as klerk. Behalwe dat hy nog steeds so baie gelees het, het hy ook in die 1980’s begin skilder, maar Jones, sy buurman, het dit beskryf as “aaklige goed” wat teen die mure gehang het, maar nooit verkoop is nie.

Hetta en Peter Blum was nooit baie gesellige mense met ’n groot vriendekring nie. Hulle het alleenlik hulle woonplek verlaat as hulle moes gaan inkopies doen of as hulle park toe gegaan het om die duiwe te gaan kos gee. Kannemeyer (Wat het geword van Peter Blum?) skryf dat “die elektriese draad was van hulle deurklokkie buite afgesny, die naambordjie is verwyder, die deur is nooit vir enige gaste oopgemaak nie en hulle het nie ’n telefoon gehad nie. Vanweë sy voorkoms en onbeskofte geaardheid was Blum vir sy bure nie ’n baie aangename mens nie.”

Alhoewel Blum alle bande met Suid-Afrika verbreek het, en blykbaar ook vir Hetta wou verhinder om met haar familie kontak te hê, het die egpaar steeds Afrikaans met mekaar gepraat.

In Desember 1990 het Blum ’n beroerte gekry. Hy is in die West Middlesex-hospitaal opgeneem, waar hy ’n paar dae later, op 5 Desember 1990, oorlede is. Op die doodsertifikaat word sy beroep aangedui as “Clerk (Retired)” en die oorsaak van sy dood as “(a) Bronchopneumonia; (b) Dense cerebrovascular accident”. Dit is onderteken deur dr L Beveridge MB en gesertifiseer deur Bloem se weduwee, mev HC Blum. Volgens die bure was Hetta reeds voor haar man se dood verstandelik aangetas en “sometimes very awkward” in haar optrede. Ná sy dood, skryf Kannemeyer (Wat het geword van Peter Blum?), het sy by tye nog geglo dat hy steeds lewe en iewers vir haar wegkruip. Blum het self nooit in ’n gestig behandeling ontvang nie, maar dit is ironies dat sy vrou wel van tyd tot tyd probleme ondervind het en teen 1993 heeltemal seniel was.

Hoe ’n mens dit ook beskou, het Peter Blum gedurende die laaste dertig jaar van sy lewe nie ’n baie sinvolle bestaan gevoer nie. “Die skeppende impuls wat juis in die ‘klein taal’ van die suiderland ten volle kon ontplooi het, het opgehou bestaan, of was nie sterk genoeg om in Engels vir hom ’n pad oop te skryf nie,” volgens Kannemeyer (Wat het geword van Peter Blum?).

Enklaves van die lig is in 1995 deur Human & Rousseau heruitgegee. Dit was te danke aan Koos Human wat deurgedruk het, wat gemaak het dat hierdie bundel weer uitgegee is, het Kerneels Breytenbach in Boekewêreld van 13 September 1995 geskryf. “Enklaves van die lig is in 1958 deur AA Balkema gepubliseer. Die bundel was vol setfoute en toe Human & Rousseau dit in 1963 oorneem en herdruk, het daar weer ’n klompie ingesluip. Dit, asook die feit dat Blum agterdogtig was oor wat geword het van ’n laaste klomp ongebonde eksemplare van Enklaves, wat in ’n brand in ’n pakhuis van ’n Nederlandse drukker vernietig is, het Blum daarop laat aandring dat hy self die kontrak met Human & Rousseau wou opstel.

“In sy korrespondensie lys hy talle ander kwellings, soos onder meer dat die titel van die bundel nie met die herdruk op die boek se rug verskyn het nie. Maar lees ’n mens al sy besware, ontstaan die vermoede dat daar ’n groot element van moedswilligheid aan Blum se kant was. Om ’n verskeidenheid van redes was daar in daardie stadium nog geen kontrak met Blum gesluit nie. Ondanks talle ongewone klousules het Human & Rousseau dit aanvaar en sodoende ook die reg verbeur om te besluit wanneer die bundel herdruk kon word. Die eerste klousule van die kontrak ken aan Blum alleen die reg toe om daaroor te besluit. Ná jarelange korrespondensie tussen Blum en die uitgewer het Blum uiteindelik op 24 April 1967 die herdruk van Enklaves verbied. Human & Rousseau het hulle in dié besluit berus, maar nogtans probeer om bande met Blum te behou.

“Feitlik elke poging tot toenadering het Blum beantwoord met poskaarte en kort boodskappe. ’n Formele kennisgewing oor die oorname van Human & Rousseau deur die Nasionale Pers is beantwoord met ‘No, I don’t do business with robbers. But I will watch your Last Kaffir War with some pleasure, as it will end with your being eaten!’ In een stadium laat weet Human aan Blum: ‘Jou brief was inderdaad nie verheugend nie, maar as jy gedink het dat jy ons nou finaal verpletter het, moet jy weer probeer.’ ’n Ruk later: ‘Ná jou “hoflike” brief sal dit nogal interessant wees om ’n “onhoflike” brief te ontvang.’ Een van Blum se kenmerkende poskaarte aan Human lui: ‘As things are going in Africa, I shall see you swinging from the yard-arm yet, you rotten Dutch pirate!’

“Blum het geen woonadres aan Human & Rousseau verskaf nie, en alle korrespondensie met hom word via sy bank gedoen. Deur dié bank ontvang Blum alle outeursaandeel-betalings, maar in Oktober 1980 ontvang Human & Rousseau die laaste aangetekende brief van Blum. Hy weier steeds om sake te doen met ‘uitlander-verneukers’ en voeg dan ’n paar sinne by wat ’n aanduiding gee van sy gevoelens oor ‘Brighton Brightonbeach’, wat in daardie stadium in die tronk was, asook ‘that NP van Wyk Louw has cacked in the heck’.

“Soos dit enige goeie uitgewer betaam, probeer Koos Human ná hy in Januarie 1992 amptelik bevestiging kon kry dat Blum op 5 Desember 1990 dood is, vasstel by wie die kopiereg nou berus. Op ’n verskeidenheid maniere probeer hy lig op die saak werp. Uiteindelik, teen September 1993 en ná ’n lang soektog, bekom hy ’n adres vir mev Hetta Blum in Brentford, naby Londen. Onderweg na die Frankfurtse Boekefees begeef hy hom na daardie adres. Deur ’n sameloop van omstandighede loop hy haar op die sypaadjie voor haar huis raak. Mev Blum is verras om hom te sien, maar vermoed dat hy ’n Belgiese swendelaar is wat hom as Koos Human voordoen. Sy vra dat hy bewys hy is Koos Human deur vir haar 'n eksemplaar van Kook en geniet te stuur. By sy terugkeer in Suid-Afrika pos hy dan ook 'n eksemplaar van die nuwe uitgawe van Kook en geniet aan haar.

“Mettertyd raak mev Blum oortuig van sy identiteit, en ná verskeie briewe oor geldsake verleen mev Blum in Mei vanjaar (1995) toestemming aan Human & Rousseau om Enklaves van die lig te herdruk. Sy vra ook dat ’n eksemplaar van die herdruk aan haar gepos word, want ‘myne is gesteel’. Die jammerte is dat die herdruk van hierdie indrukwekkende digbundel eers kan geskied sowat nege maande nadat die man wat so hard daarvoor gewerk het, afgetree het as besturende direkteur van Human & Rousseau. Wat sou Peter Blum hieroor te sê gehad het?”

Oor hierdie tweede uitgawe van Enklaves van die lig het AP Grové (Beeld, 8 Januarie 1996) hom as volg uitgelaat: “Vir die Afrikaanse literatuur is die herverskyning van die bundel ’n groot wins; vir baie lesers wat Blum slegs uit sy eerste bundel, Steenbok tot poolsee, leer ken het, is dit ’n vreugde. Hoe geniaal die eerste bundel ook al is, sonder Enklaves van die lig bly die beeld van Blum as digter onvolledig. (...)

“Dis nie hier die plek om die bundels uitvoerig met mekaar te vergelyk nie. Wat my betref, is dit twee bundels wat elk sy eie waarde en bestaansreg het. Enklaves bevat pragtige gedigte, maar so kort ná die verskyning van Steenbok (1955) kon hy nouliks dieselfde oorrompelende effek gehad het. Gedigte soos ‘Speler op toer’, ‘Woordafleiding’, groot reekse soos die ‘Kaapse sonnette’ en veral ‘Wat die hart van vol is’ het nuut in die Afrikaanse ore geklink. En dan, die kreatiewe hantering van Afrikaans deur iemand wat van huis uit Europeër is! Ná dié verrassing móés die volgende bundel by vergelyking ietwat dowwer voorgekom het.

“Tog bevat Enklaves van die lig gedigte wat mens nie in Afrikaans sou wil mis nie: ‘Die vuurhoutjie’, ‘Voltaire op Ferney’, gedigte van ondergang soos ‘Sloping’ en ‘Op hoë see’. Veral ook die drie ‘uiterstes’: ‘Man wat doof word’, ‘Man wat blind word’ en ‘Man wat mal word’ - drie uitstekende gedigte waarvan veral die derde een op wonderbaarlike wyse die taal met neologismes en vreemde woordkontaminasies op die grens van die waansin laat beweeg. Drie ‘Kaapse sonnette’ keer ook in die bundel terug, gedigte waarvan veral ‘Planne in die maanskyn’ as satire geniaal te noem is.

“En dan is daar ‘Die klok in die newel’, ’n outobiografiese gedig wat feitlik die helfte van die bundel beslaan en waaruit veel van die digter se agtergrond, strewe en werkwyse te leer is. ‘’n Narrasie in twee episodes’ noem hy dit. In die eerste episode gaan dit veral oor sy reis as jong seun deur Italië, terwyl die tweede handel oor sy inpas en aanpas in Suid-Afrika - twee episodes wat gesien kan word as twee parallelle bewegings wat mekaar aanvul en op mekaar inspeel terwyl hulle albei te make het met die mens se geestelike groei en soeke na klaarheid.

“Blum se voorliefde vir neologismes, vreemde woordkombinasies en afwykende taalvorme kom nêrens duideliker uit as in hierdie gedig nie. Daar is mooi vindinge onder hulle, maar ander se betekenis is moeilik agterhaalbaar of verdedigbaar.

“Tog kan mens in sommige van hierdie vorme iets aflees van die digter se geleidelike ingroei in ’n nuwe wêreld terwyl ander kombinasies weer ’n poging verteenwoordig om iets van ’n spanning tussen verskillende wêrelde so beknop moontlik na vore te bring. Afgesien van sy intrinsieke waarde bied die bundel dus ruim geleentheid vir verskil van mening en ernstige kritiese besinning.”

In 1993 is ’n toneelstuk oor Peter Blum getiteld Woknakwyf! in die Witsteater in Johannesburg opgevoer. Dit is geskryf deur Francois Venter, ’n student in die dramadepartement van die Universiteit van die Witwatersrand. Die toneelstuk was nie ’n biografie nie, maar het Blum se blik op die wêreld deur middel van sy gedigte ondersoek. Die titel is die slotwoord in sy gedig “Man wat mal word”. ’n Hipotetiese konfrontasie tussen die digter en die Afrikaner akademiese en literêre bestel is in dié tweemanstuk uitgebeeld. Die regisseur was Quida Smit.

Waarderings

  •  P du P Grobler (bron en datum van knipsel onbekend; waarskynlik teen die middel-1960’s): “It is now nearly eleven years since Peter Blum exploded on the Afrikaans literary scene. Exploded? Yes, and with a violence never seen or heard before and since. Not even the most fantastic experiments by Van Wyk Louw or Opperman up to 1954 foreshadowed the eruption or rather the series of eruptions, which Blum caused in Afrikaans poetry from 1955 to 1958. Like a meteor he rose, shed a thousand sparks, and disappeared again. I find it extremely difficult to speak of Blum except in superlatives. Because Blum tempts one to write in nothing but superlatives. He is a word virtuoso; no, more: he is a violator of words. He rides Pegasus without snaffle or curb. Sometimes he seems to be on the point of falling off and yet, how magnificently and proudly he rides. (...) To some extent Blum can be compared to Joseph Conrad: both foreigners who learnt to write the languages of their adoption with true mastery. But then, we must remember (with all due respect to Conrad) that it is easier to write first-rate narrative prose than first-rate poetry in the adopted language.One of Blum’s most significant contributions to Afrikaans poetry is to be found in his ‘Kaapse sonnette’ – six in Steenbok tot Poolsee and three in Enklaves van die lig – written in the lively spicy dialect of the Cape Coloureds and all – and herein lies the miracle – in the strict form of the Petrarchan sonnet. These sonnets show a refreshing wit and an irreverence which are so often necessary after too much seriousness.”
  •  Jan Rabie: “Afgesien van my vrou Marjorie was Peter Blum die slimste mens wat ek nog ontmoet het. (...) Maar in een opsig het hy ’n mens nog meer verras. Dit was vir ons Afrikaans skrywers ’n riem om die hart dat so ’n begaafde Europeër met kennis van Duits, Italiaans en Engels, as jongeling ’n Engelse opvoeding in Natal geweier het en Kaap toe verhuis het waar hy ’n Afrikaanse milieu verkies en ’n Afrikaanse digter geword het. En wat ’n wonderlike bydrae met intellektuele gedigte was dit nie! Met mening het Peter in die literêre wêreld ingeklim: en met ambisie. Waar hy begin het met ontsettend geleerde klassieke verse in Engels, en as ’t ware die grandiose Griekse kosmogonie grondig herskryf het, het hy gevorder in eenvoud en primêre taalspel soos geen ander nie. In Afrikaans.”
  •  IL de Villiers, een van Blum se klasmaats: “Ons het gedink hy is ’n bietjie eksentriek, maar toe ek op ’n dag vir hom sê dat ek van sy gedigte hou, het hy die middag by my kamer met ’n bundel as geskenk opgedaag. Dit was Steenbok tot Poolsee, behoorlik onderteken. Ek het die indruk gehad dat hy eensaam was en elke blykie van waardering aangegryp het. Ek dink hy het verstote gevoel tussen die studente. Hy was ook ouer as ons. Een aand het hy en sy meisie voor my in die fliek gesit. Hy was so ouwêrelds galant dat ons soos takhare gevoel het. Hy het ’n ontstellende gedig, ‘Man wat mal word’, geskryf, waaroor ek hom uitgevra het. Sy antwoord: ‘Dis die verwarring van die ek.’ Dalk het die verwarring van die ‘ek’ wat hy gevrees het, hom ingehaal.”
  • Leon Rousseau: Hy het twee wonderbaarlike digbundels geskryf. In sy poësie en elders het hy nie geskroom om nuwe woorde soos ‘brewwe’ (kortstondige), ‘mang; (tussen) en ‘wanmin’ (dislike) te gebruik nie. Toe die keurder hom daarop wys dat sekere van sy woorde nie in Afrikaans bestaan nie, was sy memorale (gedenkwaardige) antwoord: ‘Gister was daardie woorde nie Afrikaans nie. Vandag het Peter Blum hulle gebruik, nou is hulle.’ Hoor, hoor! Na kritiek op die neologismes antwoord Blum reeds in 1957 in ’n brief: ‘Dit was juis my doel om my woordeskat, en dié van jul taal, te verfyn en uit te brei.’ (...) Saluut, Peter, jou gelyke sien ons nie weer nie.”
  •  Hennie Aucamp: “Peter Blum is die eintlike boegbeeld van die Sestigers. Hy is die enigste skrywer hier te lande wat die ambivalente ‘eretitel’ van enfant terrible verdien. Soos Picasso en Cocteau is hy ’n baanbreker, maar ook ’n beeldebestormer; moedswillig, gedurig, geniepsig. Peter Blum het hom as oer-Europeër ’n vreemdeling in ’n vreemde land gevoel. Wat sake verder gekompliseer het, is dat hy volkome bewus was van die omvang en diepgang van sy talent, en hom presies kon inskat by die digterlike hiërargie van toe; sy plek was nie benede Van Wyk Louw en DJ Opperman, maar langs dié figure. (...) Peter Blum is in hierdie resensie met ’n wolf én met ’n kind vergelyk, maar nog ’n beeld, dié keer uit die balletwêreld, dring hom aan my op, naamlik dié van die Gees van die roos. ’n Balletdanser kom met ’n gedurfde sprong deur ’n oopstaande venster ’n vertrek binne, dans virtuoos, maar kortstondiglik, en verdwyn dan weer. Die Afrikaanse letterkunde is ontsaglik verryk deur Peter Blum se koninklike deurtog. Sy invloed werk deur tot vandag toe.”
  • Heilna du Plooy: “Peter Blum is ’n belangrike en andersoortige  figuur in die Afrikaanse literatuur. Dit is reeds merkwaardig dat hy in Afrikaans dig terwyl Afrikaans nie sy moedertaal is nie, maar nog merkwaardiger is die feit dat hierdie poësie wat reeds by publikasie in die algemeen hoog aangeskryf was, met verloop van tyd steeds as van die belangrikste en beste werk van die vyftigerjare beskou word. Blum is die sterkste vernuwende stem van die vyftigerjare, en die vernuwing raak sowel taalontginning as verstegniek as tematiek. Hy publiseer twee digbundels in Afrikaans, Steenbok tot Poolsee (1955) en Enklaves van die lig (1958), bundels wat hy met groot energie skryf en voorlê, waarvoor hy heftig voorspraak maak by die uitgewers, bundels wat hy heftig verdedig teen kritiek in briewe en hekelverse.”
  •  JC Kannemeyer: “Uiteindelik is en bly Blum se grootste verdienste dus sy twee bundels poësie in ’n letterkunde waarin hy – vir homself en ook vir ander – nie gou genoeg en behoorlik erken is nie en in ’n land wat hom nie waardig genoeg vir burgerskap beskou het nie. Tog kon hy, veel meer as van die ander lande waarin hy as kind en sedert 1960 gereis het, iets van die essensie van die later deur hom so gehate Suid-Afrika in hom opneem en in sy poësie tot gestalte bring. As hy in die negende vers van die ‘Wat die hart van vol is’-siklus in Steenbok tot Poolsee iemand aanspreek, kan die ‘u’-figuur ’n geliefde wees, maar terselfdertyd ook die mag van die kunstenaar waardeur iets tot stand kom:

    So lê u spore diep in my. U het my bitter
    denke bekeer, my bitsig-bose tong
    geleer om soet te buig, eers tot u eer, 
    toe ook met ander lof. ’n Duister, jong,
    verstokte vasteland het u laat skitter
    met kenbaarhede; heidense kontrei
    het u welluidender vernoem – gedoop
    in ’n nuwe taal wat oor die landkaart sprei
    (waardeur ek groei, maar wat ook deur my groei)
    pleknaam tot pleknaam Kaap die Goeie Hoop.

    “Dit is juis in hierdie suiderland van die ‘Goeie Hoop’ waar Blum in die ervaring van sy steeds bestendige lesers voortleef, ’n erfenis wat selfs hý nie kan ontken of ongedaan maak kon maak nie.”

Publikasies:

Publikasie

Steenbok tot Poolsee: verse

Publikasiedatum

  • 1955
  • 1963
  • 1967
  • 1971
  • 1975
  • 1978
  • 1981

ISBN

  • 0624004953 (hb)
  • 0624012220 (hb)
  • 0624015815 (hb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Reina Prinsen Geerling-Prijs voor Zuid-Afrika 1956

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Enklaves van die lig

Publikasiedatum

  • 1958
  • 1963
  • 1995

ISBN

079813478X (hb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Balkema
  • Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Briewe van Peter Blum. Redakteur: JC Kannemeyer

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780620426954 (hb)

Uitgewers

Hermanus: Hemel & See Boeke

Literêre vorm

Briewe

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 Peter Blum as vertaler

  • Anouilh, Jean: Romeo + Jeannette. Johannesburg: Dalro, 1969 
  • Dürrenmatt, Friedrich: Die belofte: requiem vir die speurverhaal. Kaapstad: Human & Rousseau, 1960 

Biografie oor Peter Blum

’n Keur uit artikels oor Peter Blum op die internet

Bronne

  • Kannemeyer, JC. 1993. Wat het geword van Peter Blum? Die speurtog na die Steppewolf: ’n narrasie in veertien episodes en ’n naspel. Kaapstad: Tafelberg 
  • Kannemeyer, JC (red). 2008. Briewe van Peter Blum. Hermanus: Hemel & See Boeke 
  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum


• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Bygewerk: 2014-06-08
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top