
Stad Kaapstad is een van Suidoosterfees se hoofborge, en ons is trots om die Moederstad – ons stad van hoop – ons tuiste te noem.

Vandag fokus ons op die groot verskeidenheid opwindende teaterproduksies wat van 30 April tot 4 Mei by die Suidoosterfees aangebied word, en ons stel ons burgermeester, Geordin Hill-Lewis, aan die woord oor die verhoogdrama waarna hy die meeste uitsien:
As mens na vanjaar se Suidoosterfeesprogram kyk, lyk dit asof ons een van die beste feeste ooit gaan hê. Ek is in die besonder baie opgewonde oor Verwelkingslied, Breyten Breytenbach se drama met Antoinette Kellermann en Dawid Minnaar. Stad Kaapstad het wyle Breytenbach in Desember 2023 vereer vir sy enorme bydrae tot poësie, drama en letterkunde, en ons was geweldig hartseer toe hy verlede jaar oorlede is. Sy laaste verhoogdrama, wat hier in ons Artscape-teater deur ’n uitstekende geselskap opgevoer word, is ’n gepaste huldeblyk aan 'n grootse kunstenaar en sy werk.
Verwelkingslied is maar een van vele aangrypende teaterproduksies wat by Suidoosterfees op jou wag. Kaartjies verkoop soos soetkoek en jy sal moet spring om jou plek by een van dié drie vertonings te verseker.

Breytenbach, wat beskou word as een van die invloedrykste Afrikaanse skrywers, dra sy swanesang op aan Antoinette Kellermann en Marthinus Basson, teaterveterane met wie hy in die verlede nou saamgewerk het. Marí Borstlap doen die regie vir die produksie. Kaartjies verkoop reeds soos soetkoek.
Die NATi Teaterfeesprogram bied uitsoekproduksies wat Suid-Afrika se grootste talent weerspieël. Gehore kry ook kans om te sien waarmee die opwindendste nuwe stemme in die bedryf vorendag kom.

Nog ’n vlagskipproduksie, wat by die fees debuteer is Kompoun, gebaseer op Ronelda Kamfer se veelbekroonde roman. Jolyn Phillips het die verhoogverwerking van die roman gedoen, en die jong akteurs Melissa de Vries en Angelo Bergh is op die verhoog as Nadia en Xavie wat geheime van die McKinney-familie uitlap. Lee-Ann van Rooi is die regisseur.
’n Veteraan van die teater- en rolprentwêreld, Simon Bruinders, is terug op die verhoog met Die sideboard en die vuur, wat uit sy pen verskyn het. Dié stuk volg op Bruinders se Die sideboard van ’n dekade gelede, en vertel die verhaal van Abraham en Stella, wie se lewens deur gedwonge verskuiwings omvergegooi word. Zane Meas is die regisseur en Vanessa Swartz speel saam met Bruinders in die stuk.

Annie+Helen met Cintaine Schutte en Judi Hattingh, ’n leerder van Curro Durbanville, handel oor die legendariese Helen Keller as ’n 12-jarige dogter, en haar stormagtige verhouding met die 25-jarige Annie Sullivan. Keller se lewensverhaal van iemand wat blind, doof en stom gebore is, en die inspirerende manier waarop sy dié uitdagings oorkom het, is wêreldwyd bekend. Die produksie word aangebied in samewerking met Curro Create.
Franz Kafka, een van die bekendste skrywers in die wêreldletterkunde, kry 'n eg Klaapse stem in Die uitweg. Carlo Daniels speel in die interessante eenmanstuk, gegrond op Kafka se kortverhaal “Blumfeld, an elderly bachelor”. Hy vertolk ’n pedantiese kêrel wat ná ’n moeilike dag by die huis kom en twee bonsende balletjies in sy sitkamer vind.
Chris van Niekerk en Joanie Combrink is op die verhoog in Hortjies dig – die storie van digter Peter Blum, wat vanjaar ’n eeu gelede gebore is. Dié huldigingstuk neem dié omstrede skrywer, bekend vir sy literêre skandale, se nalatenskap in oënskou. Van Niekerk is as Blum te sien en Combrink speel die rol van sy vrou Hetta. Juanita Swanepoel behartig die regie en Jean Meiring is die uitvoerende vervaardiger.
Dramas wat in vennootskap met Suidoosterfees vervaardig is en reeds by ander kunstefeeste gedebuteer het, kan nou ook deur Kapenaars geniet word.
Philip Rademeyer se trefferstuk Stinkhout is by die fees met Frank Opperman en Wilhelm van der Walt. Die produksie het reeds verskeie toekennings verower, en Frank Opperman is pas met ’n Fiësta bekroon vir sy bydrae tot teater in Suid-Afrika.
Christo Davids se gewilde Laaitie mettie die biscuits, met Wayne van Rooyen, Stephanie Baartman, Carla Classen en Joshwin Dyson, kom maak ook ’n Kaapse draai. Hierdie meesleurende verhaal vertel die storie van Noah, ’n gestremde seun wat daarvan droom om eendag ’n polisieman te word en na sy ma en sy gemeenskap om te sien. Maar wanneer hy op 'n dag uitgaan om oudergewoonte ’n pakkie Lemon Creams te gaan koop, slaan die noodlot toe.

Arnold Vosloo en Elzabé Zietsman is saam op die feesverhoog in Liefdesbriewe. Zietsman het dié gewilde Amerikaanse opvoering deur AR Gurney in Afrikaans vertaal. Hulle speel Melissa en André, wat vroeër jare in ’n verhouding was en sedertdien kontak behou het deur korrespondensie wat oor die tydperk van 50 jaar gevoer is.
Bo Petersen is te sien in Pieces of Me, ’n stuk waarvoor sy verlede jaar ’n Standard Bank Ovation-prys by die Nasionale Kunstefees ontvang het. Sy skitter in hierdie hartroerende, persoonlike verhaal oor ’n geskiedenis wat baie mense saam met hulle dra en waaroor daar nie dikwels gepraat word nie.
Wendy Anthonie se Anderkant die treinspoor kombineer teater, woordkuns, musiek en dans om ’n liefdesverhaal te vertel waarby twee bendes op die dorpie Spoorvallei betrokke is. Lede van die strydende bendes, die Hellas en die Pretty Boys, is in konflik met mekaar, maar die behoefte aan erkenning, respek en eiewaarde is iets wat die optrede van al die jongmense in Spoorvallei rig.

Daneel van der Walt, Grant van Ster en Shaun Oelf is te sien in Die een wat bly. Wessel Pretorius behartig die regie van dié stuk wat handel oor die verhouding tussen kinders en ouers, en die ervaring van verlies wat daarmee gepaard gaan. Ook in dié produksie speel dans ’n sentrale rol in die dramatiese struktuur van die verhaal. Oelf en Van Ster is lede van die Figure of 8-dansgeselskap.
Rudie van Rensburg se gewilde Hans-karakter kom maak ook ’n draai. Feesbesoekers gaan skaterlag oor dié rebelse tehuisinwoner in Hans bars die bioborrel. In dié komedie maak Hans al wat plan is om sy nemesis in die ouetehuis, Altoon Ahlers, befaamde akteur van weleer, te onttroon nadat hy die leisels van die interne bevelsraad oorneem. Tiaan Slabbert is op die verhoog.
In Rafiek Mammon se Rondomtalie/Marry-go-round is Margit Meyer-Rödenbeck, Deon Lotz en Gary Naidoo op die verhoog. Naidoo vertolk die rol van ’n verhoudingsterapeut wat 'n egpaar se kole vir hulle uit die vuur probeer krap nadat Olivia (Rödenbeck) vir Alan (Lotz) op die kombuistafel in ’n ongemaklike posisie met iemand anders betrap het.
Die gewilde Namakwalanders Danneline Ramsden en Miché van Wyk bring Skatkis vol stories na die verhoog, propvol staaltjies uit Kommagas se wêreld. Met hierdie Xhoulag-storievertelproduksie vier Ramsden haar eerste dekade in die vermaaklikheidsbedryf.
Sonde met die spoke, Marianne Thamm se eerste verhoogstuk in Afrikaans, speel in Oudtshoorn by die Langenhoven-museum af. Veronique Jephtas, Tinarie van Wyk Loots en Michele Burgers speel in dié stuk oor spoke van die verlede wat begin loop om die ware geskiedenis van Langenhoven se wêreld te vertel.
The Good White is Mike van Graan se nuwe toneelstuk wat afspeel teen die agtergrond van studenteopstande in 2016 en die situasie uitbeeld van vier karakters wat by ’n universiteit betrokke is. Dié karakters, prof Simon Whitehead, sy ‘coloured’ minnares dr Angela Witten, hul Zimbabwiese kollega prof Emmanuel Kabwato, en die studenteleier Noluthando Kakaza bots met mekaar wanneer dinge by die universiteit op die spits gedryf word.
Zubayr Charles se Please, don't call me moffie speel in die Bo-Kaap af en handel oor homofobie binne ’n Moslem-konteks. Nadat beeldmateriaal van ’n wrede homofobiese aanval in 'n onbekende Arabiese land op sosiale media versprei word, deel vyf jong Kaapse Moslem-mans hul ervarings oor hul stryd met gaywees en hul geloof. Anzio September beeld al vyf personasies uit.

René Cloete en Stephanie Hough is in die drama Wag!, waarin ’n meesteres en haar assistent voorberei vir ’n besoek van iemand. Terwyl Augustine met oorgawe deur Gabrielle gepoets word, word dit algaande duidelik dat die komende besoek soos ’n swaard bo hulle koppe hang.
Die volledige NATi Teaterfeesprogram is hier beskikbaar:
Kry jou volledige Suidoosterfeesprogram hier:
Die feesprogram is ook in PDF-formaat beskikbaar:
Die NATi Teaterfees word moontlik gemaak deur die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief, die Festival Enterprise Catalyst (FEC), die Jobs Fund, Het Jan Marais Nationale Fonds, Stad Kaapstad, die Spier Kunstetrust, die Johann Brink Trust en AK21.
Feesgroete
Die Suidoosterfees-span





