
Die Suidoosterfees het pas weer ’n Blou Fiësta van kykNET ontvang vir die innoverende manier waarop hulle die 21ste fees in 2024 gevier het met 21 produksies van 21 minute aangebied teen R21 elk. Izak de Vries het met Edmund Jeneker, die Suidoosterfees se direksievoorsitter, gesels.
Edmund, die Suidoosterfees het pas weer ’n Blou Fiësta van kykNET ontvang vir die slim manier waarmee julle die fees se 21ste program in 2024 aangebied het. Geluk daarmee. Dis seker lekker om te sien julle harde werk word raakgesien?
Izak, eerstens baie dankie aan jou en die LitNet-span wat die kunstefeeste met soveel oorgawe dek. En ja, baie dankie vir die mooi gelukwense aan die Suidoosterfees. Die toekenning dien as ’n goeie aansporing vir ons en die hele bedryf om heeltyds te innoveer en kreatief te dink met die skep van nuwe werke en ook die aspirasies van ons kunstenaars.
Die Suidoosterfees waardeer die Blou Fiësta-toekenning en terselfdertyd wil ons al die rolspelers en kykNET bedank wat die Fiëstas moontlik maak. Terloops, die Fiëstas sal voortaan deur die Tribuo-fonds bestuur word in samewerking met kykNET.
Behalwe vir innovasie, is die Suidoosterfees ook baie bekend daarvoor dat julle moeite doen om die onreg van die verlede uit te daag deur die keuse van julle aanbiedings, maar ook om teater toeganklik te maak. Die R21-produksies was seker ook daarop gemik om juis meer mense ’n kans te gun om die teater te besoek, is ek reg?
Ons tema verlede jaar was MONDIG en natuurlik ook die 30ste herdenking van ons land se demokratiese bestel. Na 30 jaar staar ons land nog baie uitdagings in die gesig en lewer die Suidoosterfees ook hul bydrae om ’n verskil te maak.
Die 21-projek was ’n wenner. Dit was soomloos, toeganklik, inklusief, divers en bekostigbaar. Inderdaad ’n fees vir almal, soos ons leuse sê.
Die terugvoering van ons feesgangers was fenomenaal en waarderend dat die Suidoosterfees dit moontlik gemaak het om ’n geleentheid te kon bied vir baie feesgangers vir wie dit andersins nie moontlik sou wees nie.
Die onlangse Blou Fiësta is maar die jongste in ’n reeks toekennings wat die Suidoosterfees ontvang het. Dit lyk asof innovering en die vermoë om buite die boks te dink een van die feesspan se sterkste eienskappe is?
Een van die uitdagings in enige organisasie, klein, middelslag, groot en met of sonder winsbejag, is om heeltyd te verander en aan te pas met nuwe denke, nuwe produksies en kreatiwiteit en sodoende relevant te bly. Dit is ’n lekker uitdaging en ons is dit verskuldig aan al ons feesgangers en belanghebbendes. Ons hou gereelde dinkskrums met navorsing plaaslik en oorsee om tred met verwikkelinge in die bedryf te hou.
Nouja Izak, bekwame bestuur, spanwerk en leierskap speel ’n kernrol. Ek wil ons dinamiese hoof- uitvoerende beampte en artistieke direkteur, Jana Hattingh, uitsonder vir die manier waarop sy die Suidoosterfees bestuur met haar besondere kreatiewe nis en kundigheid wat sy meesterlik toepas om van die Suidoosterfees ’n sukses te maak. Sy dink heeltyd buite die boks, kom met oplossings vorendag en word sy ook goed ondersteun deur ’n fees en projekspan wat daarop gefokus is om heeltyd te innoveer.
Jakes Gerwel is een van die prominente stigterslede wat die visie vir die fees as ’n kuierplek, waar almal in Afrikaans kan bymekaarkom, geformuleer het. Wat is jou indrukke van die fees as saamkomplek vir mense uit diverse agtergronde, en watter rol speel Jakes Gerwel se nalatenskap in julle beplanning en visie vir die fees?
Die rol van Jakes Gerwel se nalatenskap en visie vir die Suidoosterfees is wat ons help dryf om altyd nuut te skep en ons beste te lewer vir al ons belanghebbendes. Ons werk ook nou saam met die Jakes Gerwel Stigting, en sy weduwee, Phoebe Gerwel, dien as beskermlid van die Suidoosterfees, tesame met Anet en Ton Vosloo.
Die Suidoosterfees staan bekend as ’n fees vir almal. Nouja, 22 jaar later is dit steeds die geval: Die lekkerste lekker samekoms vir almal wat van heinde en ver kom, lekker kuieroomblikke en ’n feestelike atmosfeer waar almal saam gesels, lag, sing, dans en vermaak van vroeg in die oggend tot laataand.
Met die aanloop tot die hooffees elke jaar, is daar verskeie projekte wat daarop gemik is om ons kinders en jongmense en veral ook voorheen agtergeblewe gemeenskappe en skole meer toegang tot die kunste te bied. Dit sluit in projekte soos Talentsoektog, Nati Jong Sterre, Hoërskool Dramafees, Poppekas en New Voices. Ook het die Suidoosterfees, in samewerking met Proscenium en die WKOD, ’n dialoogprojek vir hoërskoolleerders geloods. Hierdie jaar bied ons ook die tweede weergawe van SOF Junior vir meer as 5 000 skoolkinders van oral in die Wes-Kaap. Vir die meeste van die kinders is dit hul eerste kennismaking en blootstelling aan die kunste en die teater.
Ons sal aanhou werk om ’n verskil te maak en sodoende die visie nastreef wat stigterslede soos Jakes Gerwel vir ons daargestel het.
Suidoosterfees doen ongelooflike werk om Afrikaans – ’n taal met baie omstrede politieke bagasie – as ’n instrument van versoening te gebruik. Wat is die direksie se siening van die rol van die taal in al haar verskeie variëteite?
Die aspek van taal vorm deel van ons visie om te versoen en erkenning te gee aan, eerstens, alle tale soos vervat in ons land se Grondwet, en tweedens, dat niemand uitgesluit word op grond van taal, ras of etnisiteit nie.
Afrikaans as debatonderwerp by feeste se gesprekke is van die intervensies wat wye belangstelling lok, met intense debatte en gesprekvoering. Daar is nog baie werk om te doen, maar ten minste is dit verblydend dat die feeste die geleentheid bied om te kan gesels hieroor. Ons moet hiermee voortgaan, want die feeste se bydrae tot gesonde debat en bydrae tot ’n inklusiewe kultuur en samelewing deur Afrikaans is beslis nodig.
Sonder borge is ’n fees natuurlik nie moontlik nie. Wat sou jy aan borge sê: Waarom is dit ’n goeie idee om hulle naam aan die Suidoosterfees te koppel?
Ek wil alle borge, vennote en rolspelers, klein of groot, hartlik bedank vir hul ondersteuning. Die feeste sal nie kan oorleef sonder hulle nie. Daar is ook borge wat ruim skenk en verkies om naamloos te bly. Daar is nie genoeg woorde om alle borge te bedank nie.
Die Suidoosterfees is ’n fees vir almal. ’n Unieke fees met ’n waardeproposisie en handelsmerk wat die verbeelding aangryp van al ons rolspelers – die kunstenaars, ons vennote, die feespersoneel en projekspanne. Almal is daartoe verbind om geleenthede aan alle gemeenskappe en ook die jeug te bied om hulle aan die kunste bloot te stel en hul aspirasies te volg. Met ons borge se ondersteuning kan ons die visie van toeganklikheid en bekostigbaarheid saam help realiseer.
Ek vermoed die fees is ’n uitstekende netwerkgeleentheid vir ondernemings wat op soek is na maniere om ’n sekere gehoor te bereik, hoe sien jy die saak?
Inderdaad so, Izak, en daarom onderneem ons ook ’n ekonomiese impakstudie by elke fees, deur onafhanklike marknavorsers en kundiges, om die profiel van ons feesgangers te bepaal, tesame met ’n steekproef van die beste produksies, hul feeservaringe en dan ook hul voorkeur-diensverskaffers, ensovoorts. Voornemende ondernemings kan ons gerus kontak vir verdere navrae.
Na watter produksies sien jy die meeste uit op vanjaar se feesprogram?
Ons het altesaam 162 vertonings hierdie jaar met verskillende genres, wat wissel van musiek en dans, verhoogproduksies, visuele kunste en die gewilde Jakes Gerwel-gesprekreeks. ’n Hoogtepunt waarna ek uitsien is wyle Breyten Breytenbach se laaste dramastuk Verwelkingslied, met Dawid Minnaar en Antoinette Kellermann. ’n Gunsteling by al ons feesgangers is Stormsterk wat deur die Suidooster-sepiesterre aangebied word. Daar is so baie waarna ek uitsien, ek sal lesers aanraai om ons feesprogram op ons webblad na te gaan.
Hoe sien die direksie die fees se toekoms oor die volgende vyf jaar?
Met ons mondigwordingsfees was die samewerking en ondersteuning van ons direksie, personeel, ons borge en vennote en kunstenaars indrukwekkend. Dit was ’n rekordjaar wat betref die aantal produksies, kaartjieverkope en feesgangers.
Die feeste en die kunstebedryf in die breë het verskeie uitdagings wat ons heeltyd die hoof moet bied en dit is nodig dat direksies goed saamgestel moet wees om te help werk aan enersyds om geleenthede en innovering na te streef en andersyds organisatoriese risiko’s te bepaal om sukses te kan behaal.
Vir 22 jaar al bied die Suidoosterfees ’n fees vir almal met ’n unieke handelsmerk wat ons lewend wil hou vir al ons rolspelers, vennote en feesgangers. Ons direksie is ten volle verbind tot die visie van ons stigterslede en ons is opgewonde oor die toekoms van die Suidoosterfees.

