
Die Suidoosterfees bied nie net ’n platform vir professionele kunstenaars nie. Met die ondersteuning van die ATKV kry amateur-, studente- en skoleteatergeselskappe ook ’n verhoog waar hulle hul beste voet vir die feespubliek voorsit.
Vanjaar bied die ATKV-Jeugteater-komponent van die feesprogram weer geleentheid vir ontwikkelende teatergeselskappe om ondervinding in die professionele fees- en teateromgewing op te doen. Op dié manier word kunstenaars van die toekoms gekweek, kennisoordrag vind plaas, en die volhoubaarheid van die bedryf word verseker.
Ricardo MacKenzie, die Wes-Kaap se minister van Kultuursake en Sport, sê: “Ons is trots om saam met die Suidoosterfees te belê in die volgende generasie teaterkunstenaars. Deur hierdie platform gee ons jong stemme die ruimte om hul stories te vertel en hul talent te slyp.”
Teaterproduksies van skole, universiteite en kolleges is op die ATKV-Jeugteaterprogram ingesluit, asook amateurproduksies wat in die Departement van Kultuursake en Sport (DKES) se provinsiale kompetisies presteer het.
Northlink Kollege is by Suidoosterfees met Marcheline Andrea se En Silencio: The Nun Who Vowed Silence asook Christo Davids en Lloyd Davids se Queenie-hulle.

En Silencio speel in die lente van 1972 af en gaan oor ’n mishandelde meisie wat haar toevlug neem tot ’n klooster in Avila, Spanje. Wat sy aanvanklik glo vir haar ’n veilige hawe sal wees, word dan ’n plek van versoeking en verraad, en sy besluit om ’n eed van stilswye af te lê.

Queenie-hulle vertel die verhaal van vyf bergies wat op die vooraand van die 2019-verkiesing van die Goeie Hoop-Sentrum se trappe – hul enigste tuiste vir ’n lang tyd – verwyder word. Dié stuk fokus op mense se behoefte aan erkenning, en word uitgebeeld sonder agting vir politieke korrektheid.

Studente van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) is op die planke met These are Heavy on Us deur N.T. Jikwa. Die hoofkarakter, wat sonder ’n pa grootword, Siphelele Mhlaba, moet van jongs af die skoene van ’n volwassene volstaan, en dit lei tot misdade teenoor sy gemeenskap.
In Beste van DKES word die wenner en naaswenner van die DKES se amateurteaterkompetisie opgevoer, naamlik Plettenbergbaai Sekondêre Skool se Pas en die Take a Bow-geselskap se Klip in my pad.
Carin Fourie en Bronlyn van Rhyner speel in Pas, wat handel oor ’n vrou wat landuit vlug nadat sy in die apartheidsjare deur haar werkgewer van diefstal beskuldig word. Klip in my pad deur Philip O.N. Botha gaan oor ’n groep jongmense wat teen misdaad en korrupsie veg en in ’n vervalle ou huis beland.

The Stage Performing Arts Studio voer Siobhan Taljaard se Weerskant op, met Stavros Moshonas, Marlon Britz, Ankia Erasmus, Cassidy Johnson, Deminique du Preez en Marli Smit in die rolverdeling. Dit handel oor ’n groep vriende wat herenig wanneer hulle op die rand van volwassenheid staan en lewensveranderende besluite moet neem.

Angelique Filter se The Old Man Who Thought He Had a Dog, wat by die Première-Teaterfees op Stellenbosch gedebuteer het, is ook op die ATKV Jeugteaterprogram. Die stuk speel op ’n trein af met eienaardige passasiers, onder meer ’n suurpruim-oukêrel, die geheimsinnige Franse kondukteur en ’n verleidelike prostituut.

Skoleproduksies wat verlede jaar presteer het maak ook ’n buiging. Fairdale nr. 2 Hoërskool se 12 Reasons, 4 Solutions, wat verlede jaar as die Suidoosterfees en Artscape se Hoërskool Dramakompetisiewenners aangewys is, en Hoërskool Durbanville se Weg, wat die Klein Libertas Toneelfees gewen het, word op die planke gebring.
Skoliere van oor die hele Suid-Afrika neem deel aan die Proscenium-jeugteaterprogram, die WKOD se ondersteuningsprojek vir leerders en opvoeders. Hulle tree op in 15 splinternuwe kort dialoë wat vir die WKOD geskep is om onderwysers en leerders in die klaskamer te ondersteun.
By die Suidoosterfees kan skoliere en onderwysers die opvoerings eerstehands op die verhoog ervaar. Dit word in vier sessies aangebied, en video-opnames van opvoerings asook hulpmateriaal vir onderwysers is op die departement se ePortal (https://wcedeportal.co.za/) beskikbaar vir gebruik deur skole.
Die Suidoosterfees word geborg deur die Departement van Sport, Kuns en Kultuur; die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport; Stad Kaapstad; Netwerk24; Die Burger; NATi; kykNET; die ATKV en Artscape.

