
Boekomslag: https://www.amazon.co.za/Hortjies-Dig-Francois-Toerien/dp/0798186291; plakkaat: https://kknk2026.kknk.co.za/en/toneel/hortjies-dig-die-storie-van-digter-peter-blum/
Die 2026-KKNK (https://kknk2026.kknk.co.za/en/toneel/hortjies-dig-die-storie-van-digter-peter-blum; 15 Maart 2026 geraadpleeg) sal waarskynlik een van die laaste kunstefeeste wees waar toneelgangers Hortjies dig, die roerende drama oor Peter Blum, met veteraanakteurs Chris van Niekerk en Joanie Combrink sal kan sien.
Vir my was dit ’n besonderse toneelervaring, en ek deel graag my indrukke van die produksie en die teks. Die manuskrip van die teks is deur die dramaturg Francois Toerien aan my beskikbaar gestel; die gedrukte weergawe sal eersdaags op die rakke wees.
Dramas word minder dikwels as romans en digbundels gepubliseer. Wanneer ’n uitgewer (in hierdie geval Human & Rousseau; die redakteur was Frederick Botha) die visie het om ’n buitengewone teks beskikbaar te stel vir dramaleerlinge en -studente, en natuurlik vir die breë leserspubliek, is dit iets om te vier. Die buiteblad huldig verder die twee akteurs wat vir Peter en Hetta Blum teruggebring het na Suid-Afrikaanse verhoë: Chris van Niekerk en Joanie Combrink:

https://www.amazon.co.za/Hortjies-Dig-Francois-Toerien/dp/0798186291 (15 Maart 2026 geraadpleeg)
Om verskeie redes, waarop hier onder uitgebrei sal word, is ek van mening dat elke liefhebber van Afrikaanse poësie, almal wat belangstel in die kanon, in die volledigheid van die literatuurgeskiedenis, hierdie produksie moet sien, en hierdie drama moet lees. Die spel van beide Chris van Niekerk en Joanie Combrink is ’n loopbaanhoogtepunt, terwyl Juanita Swanepoel se regie, die realistiese detail daarvan, op sigself ’n antwoord is op JC Kannemeyer se vraag wat van Peter Blum geword het. Die beperkte ruimte van die verhoog, die naturalistiese dekor, is ’n tydkapsule waarin Blum en sy getroue lewensmaat vasgevang was tot sy dood. Hetta het in daardie Londense woonstel aangebly en kon later as gevolg van demensie nie meer onderskei tussen die hede en die verlede nie.
Die dramaturg, akteurs en regisseuse kry veral twee dinge reg in hierdie onvergeetlike produksie: Hulle neem ons na Peter en Hetta se Londense woonstel, en hulle laat ons vergeet dat die gesprekke tussen die twee ouer wordende mense net in die verbeelding plaasvind van ’n vrou wat alles vir haar man verlaat het: haar werk, taal en familie, en wat selfs na sy dood nie teruggekom het Suid-Afrika toe nie. Sy glo nie dat Peter dood is nie, maar dat hy vir haar wegkruip. Hoeveel woorde het Banquo se spook in Hamlet? Peter Blum, of dan Chris van Niekerk, is nie werklik op die verhoog nie. Hy, sy dialoog, leef net in Hetta se herinneringe. So presies onthou sy haar gesprekke met haar man (of sy monoloë, dikwels) dat hierdie akteursrol ’n meesterklas is in die interpretasie van ’n verskeidenheid rolle (onder andere die Afrikaanse digters wat Blum / Van Niekerk namaak). Danksy die publikasie van die teks sal die leser die dialoog kan terugvind en self kan oordeel of Blum se kritiek geregverdig was. Wanneer die produksie eendag aan die einde van sy speelvak kom (die ideaal is natuurlik dat die drama voorgeskryf word en dat die produksie by skole opgevoer word), sal die teks bly voortbestaan, en ’n tweede lewe kry as onderwerp van verhandelings en proefskrifte. Dit sal deel word van die kanon en van die repertoire. Omdat die produksie nog te siene is, en die boek binnekort beskikbaar sal wees, fokus ek op die wisselwerking tussen die lees- en speelteks.
Juanita Swanepoel: Hoe regisseer ’n mens afwesigheid?
Juanita Swanepoel se sensitiewe, intelligente regie ondersteun die teks en illustreer dit op ’n wyse wat nie net kreatief teatermatig is nie, maar ook die betekenis van die teks uitbrei. Een goeie voorbeeld is die feit dat die gehoor twee karakters, man en vrou, Peter en Hetta, saam op die verhoog sien, maar dat hul dialoog nie in werklike tyd plaasvind nie. Hetta is werklik daar, maar Peter is ’n herinnering. Wanneer die stuk begin, is die digter reeds ’n jaar oorlede. Daar is een toneel waarin Peter kortstondig ’n besoeker uit die doderyk word, wanneer hy na sy doodsertifikaat kom soek, ’n handeling en dialoog wat nie deel kan uitmaak van Hetta se herinneringe nie. Toerien voeg hierdie treffende toneel by sodat Blum kan verifieer waaraan hy dood is, maar veral ook watter professie daarop staan, die woord wat hom tot in ewigheid sal definieer: clerk, nie poet nie.
Die dialoog skep die indruk van twee totaal uiteenlopende mense: die heethoofdige, vurige Peter, wat veral liefdesverse uit sy bundels aanhaal, en sy gelykmatige vrou, wat dikwels met ’n prosaïese antwoord op sy lyflike uitnodiging reageer (soos haar konstante aanbod van ’n koppie tee, wat ook die laaste woord van die teks is). Die einde van die drama bly die leser-teaterganger lank by: Op daardie stadium van sy lewe dig Peter nie meer nie, maar vind tog ’n metafoor vir die verhouding tussen man en vrou in sy ontleding van ’n komposisie van sy medelandsburger, Mozart, waarop Hetta antwoord: “Tee?”
In die produksie voeg Peter daad by die woord, en inisieer ’n streelbeweging van sy vrou wat in die lug bly hang, enersyds omdat al haar aandag gevestig is op die tee wat sy besig is om te maak, en andersyds omdat hy nie regtig daar is nie. Hetta roep hom op uit verlange, omdat sy dink hy kruip vir haar weg. Hierdie halfvoltooide handbewegings, wat veel sê oor die aard van hul verhouding, is nie in die didaskalia ingeskryf nie, maar is die vonds van ’n tekssensitiewe regisseuse.
Die soektog na Peter Blum eindig op die verhoog
Peter Blum het vir dekades van die Afrikaanse literêre toneel af verdwyn. Daar is baie moeite gedoen om sy spoor te volg nadat hy Suid-Afrika verlaat het. Kosbare navorsing is gedoen (en daar is ’n biografie in wording), maar hierdie drama is die genre wat hom uit die dood opwek. Belangriker nog, dit is ’n variasie op die Ars poetica, ’n drama wat deur middel van aanhalings uit Blum se digbundels kommentaar lewer op poësie en die digterlike lewe. Dit is ’n metateks wat illustreer hoe stories vertel word deur middel van aanhalings wat kreatief en sielkundig gepas tot ’n drama verweef word. Vorm- en inhoudgewys is Hortjies dig een van die oorspronklikste en tegelyk roerendste dramas wat onlangs in Afrikaans geskep is.
Hoewel Blum as ’n moeilike man beskryf is en gedeeltelik ook so uitgebeeld word hier, maak dit sy kritiek op sy tydgenote nie minder geldig of ten minste bestuderenswaardig nie. Klein letterkundes soos Afrikaans is dikwels selfversekerd en selfs selftevrede, omdat die klein getal sprekers (in vergelyking met dié wat deel in groot letterkundes soos Engels of Frans) dit beskerm teen kritiek uit ander oorde. Blum het ’n duur prys betaal vir sy eerlike (en dikwels beledigende) sienings van sommige van die mees gevierde digters in Afrikaans. Dit het hom, het hy vas geglo, die Hertzogprys gekos, publikasie bemoeilik, en sy lewe in Suid-Afrika later so ondraaglik gemaak dat emigrasie die enigste opsie was. Hy beweer (MS, bl 26) dat hy met opset sy bundels só geskryf het dat hy nie by die kanon ingesluit of vir kultuurpropaganda gebruik sou kon word nie.
Sy kritiek op die kanon is egter nuttig en moet gehoor word, of die leser of teaterganger daarmee saamstem of nie – hy was ’n tydgenoot en vriend van sommige van die bekendste digters in Afrikaans. Hoewel daar ook ’n fassinerende brieweversameling van Blum gepubliseer is, gebruik Toerien in sy verwerking van die beskikbare bronne die digter se talent om te parodieer, sodat digters wat skoliere, studente, lesers en teatergangers net as swart-en-wit foto’s in literatuurgeskiedenisse ken, skielik mense van vlees en bloed word, met hul swakhede en venyn:
(PETER blaai deur Totius se Passieblomme)
“O die pyn gedagte” … Liederlike vers. Ou kermkous Totius. Behalwe die Here is ook elke poësieleser terdeë bewus van Totie se lyding – dit word so by hom ingevryf. Gooi die sjieling in die gleuf, dan kom die hot dog uit. Totius se roem heilig een van die swakste karaktertrekke van die Afrikaner – die neiging tot selfbejammering.
HETTA:
Moenie weer alles kom omkrap nie.
PETER:
En dié rympies van Small. Nouliks goed genoeg vir ’n studenteblad. O U van voor en O U van agter. Ek pes hierdie adolessente godsdienstigheid. Die Louws het hier heelwat op die kerfstok.
(PETER blaai deur WEG Louw se Die ryke dwaas)
Kleinboet Louw se geroemde bundel – wemelend van vodde en vuil, van wrok en waansin, skriklikheid en groot winde. Destyds op menige jeugdige boekrak – Die Ryke Dwaas – ingedruk tussen Mein Kampf en die Bybel. Kon hy nie kies tussen die rol van intellektueel en kerkman nie, want hulle is wragtig onversoenbaar. “Broers en susters, welkom by my literêre biduur.”
HETTA:
Jou tee word koud. (MS, 7)
Bostaande passasie word ook baie vermaaklik op die verhoog aangebied en kan nuwe lewe blaas in ons siening en herwaardering van gevestigde digters. Dit kan ook dien as vergelykingsbasis met wat vandag, in die 21ste eeu, in die poësie gebeur (’n mens dink aan Klara du Plessis se “intertaal”-gedigte, of die gebruik van Kaaps). ’n Interessante besprekingpunt is of Peter Blum, met sy gewraakte neologismes, nie sy tyd vooruit was en nou in hierdie eeu sy regmatige plek tussen die groot Afrikaanse digters moet inneem nie.
Die dramateks gebruik as goue draad ’n tema wat seker as die klankbaan van ons tyd beskou kan word: die soeke na identiteit, na aanvaarding, na ’n uiteindelike tuiskoms. Ná sy emigrasie dring Peter daarop aan dat hy nie ’n Suid-Afrikaner is nie; sy identiteitskrisis gaan egter baie verder terug, na die 1930’s, toe hy en sy familie die bekende moes verlaat om te oorleef. Dit is interessant dat Blum se traumatiese vroeë geskiedenis nie méér simpatie by Afrikaners ontlok het nie, veral as hy met die ander Joods-Afrikaanse digter (Olga Kirsch) vergelyk word. Blum se Joodse familie (sy ma was ’n nooi Levi, al was die familie Rooms-Katoliek) vlug naamlik uit Oostenryk na Suid-Afrika, en Peter bring daardie wonderlike Europese veeltaligheid met hom saam, ’n rykdom van woordeskat en kultuurverwysings wat deel word van sy Afrikaanse skryfwyse op ’n manier wat vandag as vernuwend beskou sou word. Soos wat ’n aksent of aksente die klankbaan van ’n lewensgeskiedenis is, so vertel Blum se leenwoorde en verbuigings daarvan in Afrikaans uit die ander tale wat hy bemeester die verhaal van ’n bestaan wat, hoewel ontwortel en getraumatiseerd, ryk was aan ervarings en insigte in ander letterkundes.
Toerien se teks illustreer Blum se werkswyse (en sy vrou se moedige pogings om met ’n aanvaarbare, konvensionele Afrikaanse woord vorendag te kom, ’n poging tot samewerking waaraan hy geen erkenning gee nie, asof dit nooit gesê is nie). Hierdie vervreemding word ook sensitief in die produksie geïllustreer: Hetta se bydraes as selfaangestelde medewerker maak geen indruk nie, terwyl Peter se pogings tot fisieke toenadering nie opgemerk word nie. Die teks en die produksie lewer ’n wonderlike bydrae tot die uitbeelding van die verhouding tussen ’n fynbesnaarde, talentvolle kunstenaar en ’n lewensmaat wat geleidelik gereduseer word tot versorger, luisteraar, teemaker. Dit is dus ook ’n belangrike bydrae tot die ontleding van die wese van kunstenaarskap en die ironie dat liefdesverse dikwels net op papier uitspeel en nie in die werklike lewe nie.
Hortjies dig is nie net ’n biografiese drama oor ’n byna vergete Afrikaanse digter (of digter in Afrikaans, wat miskien selfs ’n beter benaming is – hy behoort tot die klein groepie uitgesoekte buitelanders, soos Jerzy Koch, wat nie net Afrikaans aangeleer het nie, maar daarin gedig het) nie. Dit is ook ’n menslike, sielkundig wáár drama wat in die eerste plek gaan oor twee mense wat byna uitsluitlik op mekaar aangewese is in die vreemde. Peter het sy Oostenrykse burgerskap verloor en is Suid-Afrikaanse burgerskap geweier; uiteindelik is dit die Britte, ’n nasie met wie hy nie identifiseer nie, in wie se taal sy enigste twee bundels nie verskyn het nie, wat hom ’n nasionaliteit gee wat hom nog verder vervreem en hom ook ’n betrekking aanbied wat kos op die tafel sit, maar ’n bespotting maak van wat hy as digter bereik het – die woord clerk op sy doodsertifikaat is ’n onbedoelde verkleinering wat hom as mislukking brandmerk.
Hetta het wel baie herkenbare wortels (sy praat tot aan die einde van haar lewe met ’n Swartlandse bry-aksent, iets wat Joanie Combrink buitengewoon goed bemeester, met die regte toon en register). Dit verhoed Peter nie om soms met haar aksent te spot nie (So wrgintie, ja!, MS, 20), terwyl Hetta as weerligafleier dien wanneer sy op Peter se verkleinering van die Afrikaner reageer. Daar is subtiele aanduidings dat Hetta besig is om effens seniel te raak: Peter praat in metafore, sy fikseer op enkele woorde wat haar duidelik nostalgies maak, soos waatlemoene en soustannies (MS, 20). Dis amper asof sy die Afrikaanse woorde weer ontdek, soos kuriositeite, terwyl Peter se vreemde taalkennis meer natuurlik klink.
Hetta het ’n sinvolle lewe as kunsonderwyseres en kunstenares gelei, en haar suksesvolle selfportret is ’n interessante toevoegsel tot die produksie. Dit is net nog ’n teatervoorwerp op die verhoog – daar word nooit enigiets daaroor gesê nie; dit is maar net daar vir die geïnisieerdes om te herken, byna as ’n gevriesde spieëlbeeld van die persoon wat Hetta eens was voordat sy haar aan Peter gewy het en uit solidariteit met hom besluit het om nooit weer na Suid-Afrika terug te keer nie. Binne die konteks van die realistiese enscenering kan dit ook gesien word as ’n illustrasie van die volgende strofe (MS, 7):
In enkelkamer, krot, en oes hotel
is elke een besig om 'n skamel tent
vol gate op te slaan vir haar gesél;
en met 'n blom, ’n stofie en 'n prent,
'n laken en haar eie naakte vel,
skep sy vir hom die hele Oriënt.
Tog blyk haar verlange na dit wat sy agtergelaat het uit briewe aan haar suster Mên wat deel uitmaak van die dialoog (daardie jukstaposisie ontgaan die leser en teaterganger ook nie – Hetta skryf briewe, Peter skryf gedigte; in die meeste dinge is hulle op ongelyke voet).
’n Ragfyn sintese van beskikbare bronne oor Peter Blum
Met die beskikbare bronne (Peter Blum se briewe, die verslag van Kannemeyer se soektog na die verdwene digter) het Toerien ’n intieme, intense drama geskep wat as’t ware agter toe deure afspeel (’n ruimte waartoe die lesers en toneelgangers toegang het, laasgenoemde danksy die afwesigheid van die vierde muur).
Om agter digte hortjies te leef, stem egter nie ooreen met Blum se aanvanklike geaardheid nie. Uittreksels uit gedigte (opgedra aan Ina Rousseau) en die vertelling van die ontmoeting met die jong Italiaanse meisie skep eerder die indruk van ’n hartstogtelike minnaar vir wie vroue ’n konstante bron van inspirasie was. Op ’n ander kontinent, en in ’n ander taal was Blum waarskynlik ’n totaal ander mens.
Die gebruik van Europese klassieke musiek deur die loop van die produksie (wat deel uitmaak van die dialoog en die didaskalia) is ’n verdere illustrasie hiervan: Hy luister uitsluitlik Mozart, ook ’n Oostenryker, ’n komponis wat die standaard stel waaraan Blum homself probeer meet (eerder as die Afrikaanse kunstenaarsgemeenskap, wat hy uiteindelik minag). Vir Blum is emigrasie eerstens die geleidelike verdwyning van die Afrikaanse taal. Met sy slim keuse van aanhalings uit beskikbare bronne en die herrangskik daarvan as dialoog tussen Blum en sy laaste gespreksgenoot skets Toerien die tragiese beeld van iemand wat van alles gestroop word en wat verbasend genoeg die geleidelike verlies deur ’n reeks treffende plaasname illustreer (“Aftelrympie”). Die Oostenrykse Jood wat in Afrikaans gedig het, het sodoende een van die mees outentieke, roerende “plaasgedigte” (na aanleiding van die woord “plaasroman”) in die hele Afrikaanse kanon geskryf:
My plaas se naam is Kleinbegin:
met God se hulp sal ek oorwin.
My plaas se naam is L’Avenir:
ek swaai my sweep met krag en swier.
My plaas se naam is Skoongesig:
en saans maak ek die hortjies dig.
My plaas se naam is Rusmysiel:
maar voor my draadhek rol ’n wiel.
My plaas se naam is Nooitgedag:
dit lyk my ek oorskat my krag.
My plaas se naam is Droëbult –
die oes word minder, meer die skuld.
My plaas se naam is Moedverloor:
op 'n diep kliplaag breek my boor.
Allesverloren is my plaas:
Leë murasies noem my baas. (MS, 28)
Toerien jukstaponeer soortgelyke herinneringe by die twee karakters, wat hulle byna op ’n bonatuurlike manier op mekaar aangewese maak. Een so ’n voorbeeld is die gewig wat waarsêers se voorspellings by beide Peter en Hetta dra. By laasgenoemde word haar ontmoeting met die besnorde buitelander deur ’n waarsêer in die vooruitsig gestel, terwyl Peter se voorspelling ’n invloed het op die gang van sy lewe: Sy liefde vir ’n klein taal sou ’n ewige swerftog tot gevolg hê:
Eenkeer het een vir my waargesê – 'n vonnis vir my uitgespreek. Sy het my palm beskou, voorspel dat ek nog faam sal verwerf … “In ’n klein taal met ’n klein talent sal jy klein roem buit, maar jy sal lewenslank aanhou swerf.” (MS, 28)
Selfs in hul vertroue in waarsêers is hul behoeftes uiteenlopend: hare, om ’n lewensmaat te vind; syne, om beroemd te word.
Na hul emigrasie uit Suid-Afrika reis hulle aanvanklik deur Europa. Uit die briewe aan haar suster is dit duidelik dat Hetta kinderlik opgewonde is om die wêreld te sien, maar dat Peter, meer blasé (hy het as jong man reeds baie gereis), min vind om oor opgewonde te raak. Toerien gebruik Hetta se verwysing na Keulen as ’n plek waar sy gelukkig was (’n leitmotief wat hier byna dieselfde simboliese betekenis het as die Joodse versugting “volgende jaar in Jerusalem”), enersyds as iets positiefs wat sy vir haar suster kan skryf (alles is nie sleg oorsee nie; Keulen was goed vir haar), andersyds as ’n illustrasie van haar diep verlange na dit wat sy in Suid-Afrika geken het. Mettertyd onthul Toerien wat die aantrekkingskrag van Keulen was: moderne kerke (wat meer in haar smaak val) en veral die effek van lig in een van die kerke, wat haar laat dink het aan ’n Suid-Afrikaanse plaashuisvuurherd (MS, 25). Ek is veral getref deur die betekenisvolle manier waarop Toerien sinne opbreek of onderbreek – die waarheid word geleidelik ontbloot. Peter, daarenteen, vind net vreugde in die besoek aan Beethoven se huis – as eksponent van die mees liriese van die drie genres is sy belangstelling in Europese klassieke musiek ’n belangrike deel van sy persoonlikheid.
Een van Hetta se ander vreugdes is die teater in Engeland. Daar is ’n soort dissonansie aan hul gesprekke wat Toerien oortuigend weergee deur haar positiewe indrukke van die Engelse verhoog te jukstaponeer met Peter se swak opinie van Afrikaners se speelvermoëns. Die wyse waarop die dramaturg hierdie tweerigtinggesprek struktureer, beklemtoon Blum se verwerping van enige ander mening as sy eie (MS, 24) deur die wyse waarop hy vir Hetta onderbreek en haar sinne klaarmaak: Haar rol is dié van leerling, syne dié van leermeester. Hoe Hetta vir Peter onthou, nie as gespreksgenoot nie, maar as die Europeër wat altyd beter weet, verskillende tale ken en hom daarin verstaanbaar kan maak, is dus ’n uitbreiding van die manier waarop die gebeure op die verhoog aangebied word, as ’n tweespraak tussen mense wat ten spyte van hul opregte gevoelens vir mekaar, in twee verskillende wêrelde leef, die ou en die nuwe. Blum se ekstreme uitsprake is egter ook tekenend van die sin van onregverdigheid wat hy steeds beleef omdat hy nie na waarde geskat is nie, nie die Hertzogprys gekry het nie, en Suid-Afrikaanse burgerskap geweier is. Die gedigte oor Hetta (anders as dié oor Ina Rousseau) is lyflik, of dit handel oor sy “tuiskoms” by haar of haar vermoëns as kunsonderwyseres (’n ongepubliseerde gedig, wat voortleef in hierdie drama, nog ’n rede waarom die publikasie daarvan so belangrik is: Blum loof die skeppingsvermoëns van haar hande, terwyl sy hande net in die liefdespel nuttig is):
mý hande staan verkeerd vir alle werk
kannie jou lig herstel, jou kaggel stook,
kan skaars 'n das mooi vasknoop aan my keel,
is tot die neerkrap van 'n vers beperk,
kan net sigaret opsteek as ek wil rook,
en – tot jou lus ontvlam – jou liggaam streel. (MS, 15)
Toerien se insluiting van Blum se erotiese ervarings met ’n jong (12-jarige) Italiaanse meisie verklaar ook miskien gedeeltelik Hetta se aantrekkingskrag (sy lyk Mediterreens). Die gepubliseerde teks stel die leser in staat om te sien dat hy na hierdie twee vroue verwys met voornaamwoorde in hoofletters, byna soos na die Madonna (Sy, Haar). Hy gebruik ook dieselfde Italiaanse frase vir beide vroue (qualcosa piu molle) om intimiteit te suggereer.
Nog ’n voorbeeld van Toerien se slim, subtiele gebruik van die beskikbare bronne is dat Blum en Hetta nie met mekaar praat oor hul verlange na Suid-Afrika nie, maar eerder met hul korrespondente: Albei skryf briewe waaruit hul ware gevoelens blyk, maar binne hul verhouding geld ander reëls. Hier is byvoorbeeld ’n aanhaling uit ’n brief van Peter aan Jan Rabie:
Liewe Jantjie Rabie, Herr Oberpenis.
Ek wil weer entoesiasme en gesondheid om my voel. Wil weer bedônerd wees en lag en sing. Wil weer in die koel donkerte ry om druiwe te koop, opgewonde raak oor ’n kunswerk. Ek wil weer hoor “OK jou bliksem”. Ek het ’n bepaalde behoefte aan jou “nuttelose” geesdrif. (MS, 16)
Hetta stort weer haar hart uit teenoor haar suster, Mên:
Slaap sag en wel en moet jou verder nie oor my bekommer nie. Ek wens myself goeie nag en hoop vir die beste. (MS, 16)
Hetta stort ineen en beland uiteindelik in ’n gestig, terwyl Peter gedigte skryf oor ’n man wat mal word (taalkundig seker een van die oorspronklikstes uit sy pen).
Bron
MS (Francois Toerien, Hortjies dig, manuskrip)
- Naòmi Morgan, Navorsingsgenoot, Universiteit van die Vrystaat
Lees ook:
Suidoosterfees 2025: Hortjies dig – ’n onderhoud met Francois Toerien

