
Dit is verstommend – en werklik hartseer – dat ’n drama uit 1969, wat deur Athol Fugard in Engels geskryf is, voel asof dit nou die dag geskryf is.
Iets oor die storie
Boesman en Lena handel oor twee hawelose mense wat van een township na die ander trek. Ons ontmoet hulle die aand wanneer hulle hul karige skuilinkie opslaan in die moddervlaktes van ’n vleiland.
Stukkie vir stukkie herbou hulle, en stukkie vir stukkie kom die storie agter die storie uit.
Hulle is daardie oggend weggejaag deur die owerhede wat hulle onwettige plakkershutte kom vernietig het.
Boesman het, in ’n poging om van hul karige besittings te red, ’n sak leë glasbottels laat val en drie gebreek. Hy het sy woede op Lena uitgehaal en haar pimpel en pers geslaan.
Soos die storie vorder, besef die kyker dat dié twee mense voortdurend hul besittings verloor en weggejaag word. Dis ’n kringloop. Die slae wat Lena verduur, is ook ’n herhalende probleem.
Lena begin moeg word vir loop. Sy beskuldig Boesman dat hy geen planne het om hul lewens te verbeter nie. Sy het egter ook nie enige idees wat sal help nie.
Dan kom daar uit die donker ’n baie ou swart man aan. Lena neem hom in, soos ’n mens ’n hond sal inneem. Boesman is kwaad, want hulle het reeds nie genoeg nie, en nou deel Lena ook nog ...
Rassisme
Boesman en Lena is bruin mense. Hulle word gereeld deur wit mense verjaag, maar wanneer die swart man, wat ook haweloos is, opdaag, tree hulle albei erg rassisties teenoor hom op.
In Afrikaans, in 2026, is dit nogal erg om hulle kru raspejoratiewe te hoor.
Vinette Ebrahim se Afrikaanse vertaling is besonder goed.
Bruin en swart spelers
Destyds, toe die stuk die eerste keer in Grahamstad (nou Makhanda) opgevoer is, het Fugard self Boesman gespeel en Yvonne Bryceland het Lena gespeel. Glynn Day het glo die ou, swart oom gespeel.
Al drie was wit. Day se gesig is swart gesmeer vir die rol.
Kort ná die Suid-Afrikaanse debuut het James Earl Jones en Ruby Dee die hoofrolle vertolk vir die off-Broadway-speelvak.
Hoe anders was hierdie rolverdeling nie. Veronique Jephtas het geskitter as Lena, Brendon Daniels het die broeiende Boesman absoluut tot sy reg laat kom, en Tshamano Sebe het die dolende ou oom vertolk. En daar praat Boesman en Lena beide Afrikaans!
Christo Davids het die regie behartig.
Relevansie
Die saal was stampvol vir die eerste vertoning by die KKNK, soos dit hoort.
Ek het hier bo genoem dat die stuk ongelukkig relevant is. Hawelose mense word steeds verjaag as hulle onwettig plak, gendergeweld is steeds met ons, en rassisme het ook nie verdwyn nie.
Boesman en Lena was nog nooit ’n maklike stuk om te kyk nie, maar om dit in 2026 in Afrikaans te sien, tref interessante hartsnare.
Gaan kyk dit, as julle die kans kry.

