Die 5de Swart Afrikaanse Skrywersimposium: Die voortgesette tersaaklikheid van ’n intellektuele tradisie

  • 0

Na afloop van die 5de Swart Afrikaanse Skrywersimposium (SAS5) by die Universiteit van Wes-Kaapland in vroeg-Oktober het daar op LitNet, soos gebruiklik, ’n fotoblad daaroor verskyn. Dit, tesame met die publikasie van Hein Willemse (2025b) se hoofrede, is die eerste uitvloeisel van hierdie byeenkoms wat verder ’n beoogde spesiale uitgawe van Tydskrif vir Letterkunde insluit. In hierdie bydrae besin ek oor die waarde van die simposium – veral teen die agtergrond van negatiewe kommentaar oor die bymekaarkoms wat op LitNet se Facebook-blad na aanleiding van plasings oor SAS5 verskyn het. Eerder as om oor spesifieke referate, paneelgesprekke of sprekers te besin, benader ek SAS5 as ’n uitdrukking van ’n bepaalde intellektuele tradisie deur dit vergelykenderwys te beskou saam met twee ander belangrike kongresse oor, of ten minste in gesprek met, Afrikaans wat in die afgelope jaar en ’n half plaasgevind het: die Afrikaanse Letterkundevereniging (ALV) se tweejaarlikse kongres in Bloemfontein wat in September 2025 gehou is, en die 3de Kaaps-simposium wat in Augustus 2024 in Kaapstad aangebied is. Die opskrywing van die geskiedenis van SAS is reeds gedoen – en sluit daarby bepeinsings oor die beweegredes daaragter in (kyk Willemse 1997; Coetzee 2002; Willemse 2007b; Gerwel 2015; Willemse 2019, 2025a). Die doel hier is dus nie om weer met daardie geskiedenis as sodanig in gesprek te tree nie. Ek wil eerder die tersaaklikheid van hierdie tradisie uitsonder in ’n tyd waarin – soos vele van die Facebook-inskrywings weerspieël – daar veral bevraagteken word in welke mate ’n klem op “swart Afrikaanse skrywers” enigsins nodig en wenslik is. 

Die ALV het tydens vanjaar se kongres ’n nuwe gedaante aangeneem. Met die amptelike verandering van die Grondwet om taalkunde by die vereniging in te sluit, is die ALV tot die ATLV (Afrikaanse Taal- en Letterkundevereniging) omvorm. ’n Klein, maar nietemin beduidende klemverskuiwing. Want alhoewel taalwetenskaplike bydraes tot die kongres en die ALV-lyfblad, Stilet, geensins ongehoord is nie, was daardie veld nie tot op hede op ’n doelgerigte wyse by die vereniging se werksaamhede betrek nie. Daar is twee redes vir die verandering. Die een is uitdruklik bespreek, en die ander weerspieël ’n onderliggende spanning en bekommernis. Die eerste hou verband met die gevoel onder taalkundiges dat daar nie meer ’n ruimte bestaan vir akademici wat hulle navorsing op Afrikaans toespits om ín Afrikaans en ónder Afrikaanssprekendes hul werk te bespreek nie. Na die verengelsing van die Suider-Afrikaanse Taalkunde- en Toegepaste Taalkundevereniging oor die afgelope 30 jaar bestaan daar nie ’n eweknie vir die ALV se tweejaarlike kongresse vir taalwetenskaplikes nie. Vandaar die voorstel vir die omvorming van die ALV tot ATLV om taalkunde te akkommodeer.

Die tweede onderliggende rede spruit uit ’n onuitgesproke – alhoewel heelwat oor gefluisterde – behoefte om die meer omvattende vakgebied van Afrikaans te beskerm, indien nie te stabiliseer nie, teen verdere verskraling, en dit moontlik selfs uit te brei. Paneelgesprekke oor gedeelde doseerladings, die aanpas van leerplanne om taal- en letterkundige komponente saam te snoer, en die verhouding tussen standaard en variëteite staan almal in die teken van ’n bemoeienis met die vak Afrikaans in ’n tyd waarin dit onder ’n tipe beleg verkeer. Hierdie bekommernis is glad nie iets nuuts nie. Maar vanjaar se kongres, en in die besonder die nuutgestigte vakvereniging, verteenwoordig die erns waarmee hierdie vraagstuk benader word. In wese be-teken (bedoel as “be-teken” in die sin van “signify”) die ATLV ’n poging om die dissipline se toekoms te bestendig. ’n Behoefte wat die stigters van die ALV in 1984 hulle moontlik glad nie kon ingedink het nie.

Hierteenoor is die 3de Kaaps-simposium in Augustus 2024 gehou – soos SAS5 ook by die Universiteit van Wes-Kaapland; kyk Williams (2024). Willemse het in sy Netwerk24-rubriek na afloop van die simposium dié byeenkoms met ’n ander, onverwante geleentheid vergelyk: ’n gesprek wat op Vrydag 14 Augustus by die Taalmonument gehou is. Na my wete was ons die enigste twee bywoners van beide geleenthede, en ek is dit met hom eens dat daar ’n merkbare verskil in die atmosfeer was. Die Taalmonumentgesprek en -dinee was effens stroef en somber in nabetragting oor Afrikaans se verlede, hede en toekoms, terwyl ’n gevoel van opwinding onder die Kaaps-simposiumgangers opgeval het. Soos hy dit gestel het: “Die taal [Kaaps] word ook die draer van ’n ontluikende en toenemend gekoesterde identiteit” (ibid). Dit is juis dié (groeps)identiteitsvorming wat ek tydens die kongres aangeroer het (Staphorst 2024a) en tentatief as ’n vorm van rasnasionalisme bespreek het (kyk ook Staphorst 2022, Hangend). My argument het hewige reaksie ontlok. Oudergewoonte.

Die kern van daardie argument is die oppervlakkige en hoogs aanvegbare – en telkens bloot foutiewe – aannames van waaruit die argument vir Kaaps as onafhanklike taal bedink word, en daarbenewens die wyse waarop hierdie veronderstelde eie “taal” diskursief aan ’n rasidentiteit gekoppel word. Alhoewel ’n fyner ontleding nodig is as wat ek in hierdie skrywe kan weergee om die omvang van die Kaaps cum Kullit-nasionalisme uit die doeke te doen, wil ek wel die verband tussen ’n bepaalde navorsingskultuur en die bestaansmoontlikheid van so ’n diskoers uitsonder. Dit is alleenlik die verdringing van akademiese kennis (Staphorst 2024b, 2024c, 2024d, 2024e) – wat ’n onjuiste en ondeurdagte aanslag tot kenniswerk voorveronderstel – wat miteskepping ter ondersteuning van ’n nasionalistiese groepsidentiteitsvorming bemoontlik. Nes in die geval van Afrikanernasionalisme en Standaardafrikaans, waar die nasionaliste se diskursiewe afsny van Afrikaans van haar swart sprekers húl taalkaping moontlik gemaak het (vergelyk Webb en Kriel 2000). Alhoewel die Vereniging virrie Bevordering van Kaaps, wat later tot die Societie virrie Advancement van Kaaps herdoop is, by dié simposium tot stand gebring is, is daar hoofsaaklik ’n nie-akademiese dryfveer agter die simposium.

Wat die ALV betref, is daar dus ’n wroeging met die behoud van die toekoms van ’n vakgebied; in die geval van Kaaps-aktiviste ’n afskeep van die vakgebied ter bevordering van die toekoms van ’n identiteit. Die navorsingskultuur onderliggend aan die Swart Afrikaanse Skrywersimposium-tradisie bied ’n teenwig tot beide.

Hierdie opponerende moontlikheidskrag spruit uit die drie kernwoorde wat reeds met ingang van die simposium benadruk is: “swart”, “Afrikaans”, en “skrywers”. Elkeen van hierdie drie terme kan afsonderlik uitgelig word om die voortgesette waarde van hierdie simposiumreeks-as-intellektuele-tradisie te beklemtoon. Wat die eerste kernwoord – “swart” – betref: Dit is dié dimensie van die tradisie wat die meeste reaksie ontlok. Wanneer daar selfs vlugtig na die Facebook-kommentaar op LitNet gekyk word, is dit duidelik dat dit enersyds die klem op “swart” (teenoor wit of nierassig fokus) en andersyds die veronderstelde ontkenning van “bruin” is wat die meeste individue aanhits om tot die gesprek toe te tree. Dit is dan ook die aspek van die tradisie waaroor daar die meeste besin is – veral deur Willemse (1995, 1997, 2007a, 2007b, 2019).

Kortliks: In navolging van die intellektuele tradisie wat rondom Swart Afrikaanse literatuurkritiek by UWK in die 1980’s in die besonder vorm aangeneem het, argumenteer Willemse vir die gebruik van die term as positiewe, ondermynende en strategies-essensialistiese woord wat apartheidsidentiteite soos “Kleurling”/“Bruin”, “Indiër” en “Swart”/“Bantoe” kan uitdaag, dekonstrueer, en uiteindelik verplaas. Derhalwe sluit dit nóú aan by die Swartbewussynsbeweging van die 1970’s, Pan-Afrikanisme van die 1960’s, en vroeëre bevrydingsfilosofieë wat gemarginaliseerde en onderdrukte groeperings die wêreld oor wil saamsnoer in ’n kollektiewe stryd teen oorheersing. In sy bespreking van die term het Willemse al heelwat aandag op die problematiek rondom die gelykstelling tussen die terme “swart” en “bruin” in die Afrikaanse literatuurkritiek gevestig. In die besonder is hy krities oor die wyse waarop daar voorveronderstel word dat hierdie terme uitruilbaar is – en gevolglik die breër verbande tussen die woorde “swart” in “Swart Afrikaanse letterkunde” en “swart” in ander kritiese intellektuele tradisies aan bande lê.

Wat ek wil uitlig, is ’n minder beklemtoonde moontlikheidswaarde wat die gebruik van die woord “swart” as teenvoeter vir “Bruin” kan openbaar. In ’n opmerking in sy eerste uitgebreide besinning oor die geskiedkundige verloop van die simposium – ’n opmerking wat maklik oor die hoof gesien kan word – maak Willemse (2007b:210–2) die volgende stelling: “Terselfdertyd spreek die begrip, ‘bruin Afrikaanse sprekers’, vandag regstreeks en ondersteunend tot daardie stemme wat opgaan vir ’n ontluikende bruin nasionalisme”. Een van die sentrale dryfvere agter die simposium, soos Willemse al telkens uitgewys het, is om ’n platform te skep waarvanaf die hegemoniese Afrikanernasionalistiese wurggreep op die Afrikaanse taal in die breë en die letterkunde in die besonder uitgedaag kan word. Maar wat hy in hierdie opmerking verder uitlig, is die waarde wat dit in ’n “nuwe” stryd teen ’n “bruin nasionalisme” kan besit – mits die klem op “swart” voortbestaan. “Swart” kan in dié opsig ’n beweegruimte skep waarin die diskoers rondom Kaaps as “onafhanklike bruin taal” produktief teengewerk kan word. Dit was in hierdie opsig ook opvallend dat die kernvoorstanders van die Kaaps-as-onafhanklike-bruin/Kullit-taal-diskoers nié by SAS5 teenwoordig was nie, ten spyte daarvan dat vele van daardie individue op die een of ander wyse aan UWK verbonde is en aan vorige simposiums deelgeneem het.

Aangaande die tweede kernwoord – “Afrikaans” – is daar eweneens reeds veel oor besin, veral met betrekking tot die reeds genoemde uitdaging van die Afrikanernasionalistiese knelgreep op die taal en letterkunde (kyk veral Coetzee 2002 se bespreking van SAS in verhouding tot deterritorialisering). Waarop ek wil fokus, is die implisiete inhoud wat die SAS-tradisie aan die woord “Afrikaans” gee, en hoe daardie inhoud ’n mededingende begripsformulering van die vakgebied Afrikaans aanbied vergeleke met die ALV se diskoers daarrondom. Tydens die Taal en Stryd-kongres van 1989 – ’n byeenkoms wat nie as deel van die SAS-tradisie bestempel kan word nie, maar waaraan kernlede van die SAS-tradisie wel deelgeneem het – is daar deur akademici van UWK se Departement Afrikaans en Nederlands ’n gesamentlike referaat oor die term “stryd” gelewer (Willemse, Coetzee ea 1999). Eerder as om op die taal as sodanig, die vakgebied, of die groepsidentiteit van ’n deel van die Afrikaanse taalgemeenskap te fokus, is daar in daardie referaat oor ’n uitdrukking van “stryd” nagedink wat die gebruik van Afrikaans met ’n poging tot maatskaplike opheffing versoen. Eerder as “identiteit”, word die sosio-ekonomiese op die voorgrond geplaas. Weer: Dié referaat was nie by enige van die SAS’e voorgedra nie, maar dit strook nietemin met die onderliggende etos wat die SAS-tradisie kenmerk. Teenoor die ALV, wat in die konteks van ’n akademiese diskoers gebore is – en nog grootliks daaraan verknog is – was die SAS nog altyd verstrengel met vrae aangaande die breër gemeenskap, die maatskappy, en opheffing. Waar die ALV nóú met die vraag van afsterwing worstel, is die SAS in die konteks van sosiale sterfte gebore. Die ALV moet nou daarheen – en daarteen – dink, terwyl SAS van meet af aan daarvanaf moes dink en verbeel.

Die derde kernwoord, “skrywers”, het dusver die minste kritiese aandag geniet. Hiermee word nie bedoel dat dit nie implisiet, of selfs eksplisiet, deel van die gesprek aangaande die SAS-tradisie is nie; eerder dat die belangrikheid van die SAS-“definisie” van en omgang met die “skrywer” nog nie na behore benadruk is nie. Eerstens impliseer “skrywer” in die konteks van SAS ’n veel omvattender begrip as wat tradisioneel onder literatore by ’n tradisionele akademiese kongres, soos dié van die ALV, voorveronderstel word. Alhoewel beide hoofstroom- en randfigure by ’n tradisionele kongres ter sprake kan kom, is die klem nietemin oorwegend op hegemoniese, en veral literêr pryswennende, skrywers. Die posisie van swart Afrikaanse skrywers in die maatskappy noodsaak ’n ander tongval: soos “organiese intellektueel”, soos “mondelinge verteller”, soos “aspirantskrywer”. En in die tradisie van SAS neem skrywers gevolglik ’n baie belangrike plek in die wesentlike aard van die simposiums in. Skrywers word uitgenooi om deel te neem, maar nie net in ’n paneel of twee nie. By SAS5 byvoorbeeld is daar ewe veel tyd aan akademiese en skrywerlike inhoud bestee – met een volle dag wat aan die akademiese en een volle dag aan die skrywerlike afgestaan is.

Maar die figuur van die skrywer is ook ’n bemiddelaar vir nog ’n verdere dimensie van “swart”. En hier kyk ek na twee skrywersfigure – een wat aan die eerste SAS deelgeneem het, en een aan die mees onlangse: Elsa Joubert en Antjie Krog. Indien mens langs hierdie twee vrouens in die straat afstap, sou hulle allermins as “swart Afrikaanse skrywers” getakseer word. En tog het niemand, sover ek kon bepaal, byvoorbeeld tydens SAS5 bevraagteken waarom Krog teenwoordig was en daarby nog ook aan die slotpaneel deelgeneem het nie. Dis juis vanweë Krog en Joubert se oeuvres, en die bemiddeling wat hulle daardeur bewerkstellig (het) wat hulle as belangwekkende stemme posisioneer in ’n konteks waar die terme “swart”, “Afrikaans” en “skrywer” ter sprake kom. Weer: Die teenwoordigheid van skrywers en skrywerspanele by akademiese bymekaarkomste is nie vreemd nie. Maar by SAS is dit onlosmaakbaar van die simposium in sy geheel. Dit is intiem verweef met die wesentlike aard van die intellektuele tradisie, en soos Willemse (2007b) al uitgelig het, sou daar baie minder gepubliseerde swart Afrikaanse skrywers gewees het was daar in die verlede nie SAS’e gehou nie. Hierdie bepaalde klem op skrywerskap voer ek dan terug na wat die SAS-tradisie vir ander kan voorhou as navolgbaar.

’n Laaste opmerking: In een van sy meer onlangse besinnings belig Willemse (2019) die noodsaak van geletterdheid vir die totstandkoming van ’n literêre tradisie. Iets voor die hand liggends, sou mens seker kon sê, maar nietemin iets wat maklik oor die hoof gesien kan word. SAS het, veral deur aspirant- swart skrywers en hul werk, ’n ruimte vir ontkieming geskep, ’n deurslaggewende rol in die kweek van ’n geletterdheidskultuur onder swart Afrikaanssprekendes in die besonder gespeel. Om terug te keer na die ALV: Een van die uitlokkendste referate by die ALV-kongres vanjaar was Willie Burger (2025) se bespreking van die wyses waarop die letterkunde al hoe meer na die rande geskuif word in verhouding tot nuwer vorme van vermaaklikheid, soos sosiale media, stroomdienste en podsendings. Wanneer besin word oor die bekommernis met en oor die vak Afrikaans wat by die ALV onder die oppervlak geprut het, kan ons daardie bekommernis deur die lens van die SAS-tradisie lees en vra: Hoe betrokke is die ALV-kongres? In welke mate beywer hulle hulle vir ’n geletterdheidskultuur soos die SAS-tradisie al vir dekades moes doen om sodoende hul “vakgebied” te bestendig? Louise Viljoen het na aanleiding van Burger se referaat die latente krag van die “marge” beklemtoon – ’n posisie wat Burger beaam het en wat strook met ’n opmerking van Willemse by SAS5. En om dan na SAS terug te keer: Die vraag van die marge, ten minste soos deur SAS aangepak, verteenwoordig ’n geleentheid vir betrokkenheid – veral ten opsigte van die bevordering en koestering van ’n geletterdheidskultuur wat die waarde van die lees-skryf-verhouding, veral in veronderstelde moeilike, vervreemdende, en uitdagende vorme, benadruk.

Alhoewel ek vertroud is met die gedrukte kongrespublikasies van SAS1, SAS2 en SAS3 (kyk Smith, Van Gensen en Willemse 1986; Willemse, Hattingh, Van Wyk en Conradie 1997;  Willemse en Van Wyk 2015) asook met die opnames van SAS4 (vgl Willemse 2015), was SAS5 die eerste waaraan ek kon deelneem. Die feit dat dit juis in die jaar van Afrikaans Amptelik 100, die omvorming van die ALV tot die ATLV, en kort na die 3de Kaaps-simposium plaasgevind het, dwing my om dit binne ’n groter diskoers te lees. Dit is egter die verkeerde aanslag. Ons moet dáárdie gebeurtenisse déúr SAS lees.

Bibliografie

Burger, W. 2025. Literatuur op die marge van kultuur. Referaat gelewer by die tweejaarlikse kongres van die Afrikaanse Letterkundevereniging, September.

Coetzee, A. 2002. Swart Afrikaanse Skrywers: ’n diskursiewe praktyk van die verlede. Stilet, 14(1):149–66.

Du Plessis, T en A van Gensen (reds). 1999. Taal en stryd 1989–1999: Gedenkbundel. Pretoria: Van Schaik.

Gerwel, GJ. 2015. Openingstoespraak: Die krag en potensie van die niehegemoniese. In Willemse en Van Wyk (reds) 2015.

Smith, JF, A van Gensen en H Willemse. 1986. Swart Afrikaanse skrywers. Verslag van ’n simposium gehou by die Universiteit van Wes-Kaapland, Bellville. Bellville: Universiteit van Wes-Kaapland.

Staphorst, L. 2022. Ongehoord: Voices unaccented; voices unharmonized. Afrikaans and South Africa's First Peoples in discourses of higher education transformation. MA-verhandeling, Nelson Mandela Universiteit.

—. 2024a. “And, naturally, Kaaps is Afrikaans”. Emergent ethno-linguistic nationalism, Kaaps Afrikaans, and “colouredness” in South Africa. Referaat gelewer by die 3de Kaaps-simposium, Augustus.

—. 2024b. Oranjerivierafrikaans, ʼn argeologiese genealogie. Deel I. 1595–1916. Stellenbosch Papers in Linguistics Plus, 68:1–23.

—. 2024c. Oranjerivierafrikaans, ʼn argeologiese genealogie. Deel II. 1917–1979. Stellenbosch Papers in Linguistics Plus, 68:25–44.

—. 2024d. Oranjerivierafrikaans, ʼn argeologiese genealogie. Deel III. 1980–1998. Stellenbosch Papers in Linguistics Plus, 68:45–63.

—. 2024e. Oranjerivierafrikaans, ʼn argeologiese genealogie. Deel IV. 1999–2021. Stellenbosch Papers in Linguistics Plus, 68:65–86.

—. Hangend. On Stryd-perke (limited spatio-temporal struggles) vis-à-vis racialised nationalism and South African language political memory: an archaeological genealogy of Kaapse Afrikaans. Journal of Nationalism, Memory & Language Politics.

Webb, V en M Kriel. 2000. Afrikaans and Afrikaner nationalism. International Journal of the Sociology of Language, 144:19–50.

Willemse, H. 1995. Dialogie in die Afrikaanse letterkunde met toespitsing op geselekteerde Swart Afrikaanse skrywers. DLitt-proefskrif, Universiteit van Wes-Kaapland.

—. 1997. Die veelbewoë vaart na Paternoster of ’n eie perspektief op swart Afrikaanse skryfwerk. In Willemse, Hattingh, Van Wyk en Conradie (reds) 1997.

—. 2007a. Aan die ander kant. Swart Afrikaanse skrywers in die Afrikaanse letterkunde. Pretoria: Protea.

—. 2007b. Die Swart Afrikaanse skrywersimposium – oorspronge en konteks. Tydskrif vir Letterkunde, 44(2):204–14.

—. 2015. Hoofrede. Gelewer by die 4de Swart Afrikaanse Skrywersimposium, Oktober. https://www.youtube.com/watch?v=7wbRo2k0myg.

—. 2019. Black Afrikaans Writers: continuities and discontinuities into the early 21st century – a commentary. Stilet, 31(1 en 2):260–75.

—. 2024. Twee taalgesprekke wêrelde uitmekaar. Netwerk24, 21 Augustus. https://www.netwerk24.com/stemme/menings/hein-willemse-afrikaans-deur-stofpad-geskei-20240821.

—. 2025a. Veertig jaar later: die eerste Swart Afrikaanse skrywersimposium. LitNet, 11 Februarie. https://www.litnet.co.za/veertig-jaar-later-die-eerste-swart-afrikaanse-skrywersimposium.

—. 2025b. Vyfde SAS-simposium: Swart Afrikaanse letterkunde – ’n tradisie in wording. Hoofrede gelewer by die 5de Swart Afrikaanse Skrywersimposium. https://www.litnet.co.za/vyfde-sas-simposium-swart-afrikaanse-letterkunde-n-tradisie-in-wording.

Willemse, H, A Coetzee, L Pokpas, J Smith en I van de Rheede. 1999. Oor Bloekombos en (voor-)Uitkyk. In Du Plessis en Van Gensen (reds) 1999.

Willemse, H, M Hattingh, S van Wyk en P Conradie (reds). 1997. Die reis na Paternoster. ’n Verslag van die tweede swart Afrikaanse skrywersimposium gehou op Paternoster vanaf 29 September tot 1 Oktober 1995. Bellville: Universiteit van Wes-Kaapland.

Willemse, H en S van Wyk (reds). 2015. ’n Vlag aan die tong. Gedenkbundel van die derde Swart Afrikaanse Skrywerssimposium. Wildernis: abrile doman; Pretoria: Hond.

Williams, Q. 2024. The science of Kaaps: Reflections on the 3rd Kaaps Symposium. LitNet, 22 Augustus. https://www.litnet.co.za/the-science-of-kaaps-reflections-on-the-3rd-kaaps-symposium.

Lees en kyk ook:

Vyfde Sas-simposium: Swart Afrikaanse letterkunde – ’n tradisie in wording

Fotoblad: Vyfde Swart Afrikaanse skrywersimposium (Universiteit van Wes-Kaapland, Oktober 2025)

Veertig jaar later: die eerste Swart Afrikaanse skrywersimposium

Video: #SAS4_2015 – Adam Small

Verandering en toekoms: om 'n kreoolse Afrikaans te bedink

Oor sosiale betrokkenheid

The science of Kaaps: Reflections on the 3rd Kaaps Symposium

Kaaps in fokus! Verslag oor die simposium aan UWK, 19–20 Julie 2012

Kaaps is the future of Afrikaans

Press release: The first trilingual dictionary of Kaaps

Reflections oppie launch vannie Dictionary of loanwords in the Cape Muslim vernacular (Mogamat Alexander)

Een voet innie kabr: ’n onderhoud met Gaireyah Fredericks

“poetry oo die liewe annie anne kant” – Ronelda Kamfer gesels met Nathan Trantaal oor Chokers en Survivors

Hoekom skryf ek in Kaaps?

LitNet Akademies-resensie-essay: Kaaps in fokus

’n Strategie vir die insluiting van Kaapse Afrikaans by die formele skoolkurrikulum

Video: "Die toekoms van Kaaps"-webinaar

Cape Malay-uitdrukkings – ’n Jawaab-glossary

Kaaps in die klaskamer – ’n onderhoud met Earl Ray Basson

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top