Kaaps in die klaskamer – ’n onderhoud met Earl Ray Basson

  • 1

Earl Ray Basson is ’n navorser verbonde aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie, waar hy Afrikaans Eerste Addisionele Taal doseer. Sy navorsingsbelangstellings is onder meer sosiolinguistiek, taalbeplanning en -beleidstudie, kurrikulumstudie en letterkunde.

Hy gesels met Cliffordene Norton oor sy tesis, ’n Kritiese ondersoek na die plek van Kaapse Afrikaanse taalkunde en kallitidentiteit in die Afrikaans Huistaalklaskamer aan die hand van Kaapse Afrikaanse idiomatiese uitdrukkings.

............

Lees meer oor Kaaps in die volgende LitNet Akademies-artikels:

............

Earl Ray Basson (Foto: verskaf)

Wat het jou navorsingsonderwerp geïnspireer?

Weet jy, ek dink dit is seker net jare se frustrasie met die Afrikaanse spraakgemeenskap en die skoolsisteem wat tot my studie gelei het. As kind het ek baie gelees, maar die Keurboslaan-reeks (deur Theunis Krogh) is byvoorbeeld nie juis ’n teks waarmee ek kon identifiseer nie.

Ek het later Diekie vannie Bo-Kaap (deur Zulfah Otto-Sallies) gelees en ek was so opgewonde, want dit is die eerste teks wat my taalgebruik en sosiale konteks reflekteer het.

Jare later gaan studeer ek op Stellenbosch en ek bevind myself hierdie keer binne die Keurboslaan-reeks. Ek kon die taalgebruik in lesings en op kampus as Afrikaans herken, maar ek het nie deel van die taal- en kultuurgemeenskap gevoel nie. Ek kon die ongemak en later skaamte in my mond en aan my vel voel. Veral na ’n student in ’n tutoriaal na Kaapse Afrikaans as “verkeerd praat” verwys het (en ek die enigste kallit in daai tutoriaal was).

Na ’n BA Hons Afrikaans en Nederlands het ek die Nagraadse Onderwyssertifikaat (NOS) voltooi. In hierdie kursus het ons die werk van Pierre Bourdieu behandel. Uiteindelik het ek die woordeskat gehad om my ongemak en skaamte te verwoord: Kaapse Afrikaans het nie simboliese mag nie as gevolg van die omstandighede waaronder Afrikaans gestandaardiseer is.

Tydens my proeftydperk kon ek dieselfde tipe ongemak en skaamte oor hul taalgebruik by my leerders oplet. Dit het eintlik net my bôs warm gemaak! Want hoe is dit reg dat dié kinders Afrikaans (Huistaal) as ’n ander taal ervaar? En ná Paddy Atwell (woordvoerder van die WKOD) Michael le Cordeur se pleidooi vir ’n inklusiewe Afrikaansklaskamer as onprakties afgemaak het, besluit ek toe dat ek iets prakties gaan doen. Dit was ook ’n manier om daai skaamte oor my taalgebruik af te skud en weer my liefde vir Kaaps te vind.

Hoe het jy te werk gegaan om jou navorsing te doen?

Ek het eers vir Prof Michael le Cordeur genader om as my studieleier op te tree. My studie het gefokus op identiteit en taalkunde in die klaskamer, daarom moes ek ’n afdeling van taalkunde kies waarop ek kon fokus. Ons het op idiomatiese uitdrukkings besluit, omdat dit meer as net ’n string woorde met ’n vaste betekenis is.

............

“Ek kon die taalgebruik in lesings en op kampus as Afrikaans herken, maar ek het nie deel van die taal- en kultuurgemeenskap gevoel nie. Ek kon die ongemak en later skaamte in my mond en aan my vel voel.” 

............

Idiome is ’n kulturele konstruk wat die geleefde ervaringe en kulturele praktyke van die bepaalde taalgroep verteenwoordig. Dit was belangrik dat ek al die rolspelers by die implementering van Afrikaans Huistaal as ’n skoolvak betrek. Ek het in-diepte en fokusgroeponderhoude met vakadviseurs en onderwysers gevoer om hul persepsies rondom die plek van Kaapse Afrikaans in die klaskamer vas te stel.

Na die onderhoude het ek ’n kontaksessie met 35 leerders gehad. Ek moes leermateriaal rondom idiome ontwerp wat ek met die leerders kon behandel. Ronelda Kamfer en Nathan Trantraal was so gaaf om vir my eksemplare van die strokiesprentboek Coloureds te gee wat ek kon gebruik om leermateriaal te skep.

Die leerders moes voor die kontaksessie ’n vraelys invul oor hulle persepsies van Kaapse Afrikaanse taalkunde en die plek van hul identiteit in die Afrikaansklaskamer. Na die blootstelling aan Kaapse Afrikaanse leermateriaal tydens die kontaksessie het hulle dieselfde vraelys ingevul.

Na aanleiding van jou navorsing: Hoe presteer leerders as hulle in hul huistaal (Kaapse Afrikaans) onderrig word in plaas van Standaardafrikaans?

Kyk, in my navorsing het ek eksplisiet gesê dat ek nie wil vasstel of leerders beter sal presteer as hulle onderrig in Kaaps ontvang nie. Navorsing het reeds getoon dat onderrig in die moedertaal belangrik is vir die ontwikkeling van ’n leerder se kognitiewe, sosiale, affektiewe en psigomotoriese vaardighede.

............

“Moenie Kaapssprekende leerders by ’n debat oor ’n taalvariëteit by ’n universiteit betrek terwyl dit juis nie vir hulle ’n verwelkomende ruimte is nie.”

............

Kaapse Afrikaans is dié groep leerders se moedertaal, so natuurlik sal hulle akademies beter presteer. Onderwysers noem wel dat leerders konsepte baie makliker verstaan as dit in Kaapse Afrikaans verduidelik word. Die vakadviseurs meen ook Kaapssprekende matrikulante vaar aansienlik beter in die voorgeskrewe drama Krismis van Map Jacobs in vergelyking met Mis, omdat die sosiale konteks en taalgebruik vir dié leerders meer bekend is.

Op 10 Oktober 2019 het die Konstitusionele Hof ’n uitspraak gelewer ten gunste van die Universiteit Stellenbosch se taalbeleid. Het hierdie siening enigsins jou mening oor die belangrikheid van Kaapse Afrikaans in die Afrikaans Huistaalklaskamer beïnvloed?

Nee, glad nie. Inteendeel, ek voel nou selfs sterker. Leerders staan ’n groter kans om suksesvol in hul tweede taal te leer indien die fondasie van lees, skryf en konseptualisering in hul moedertaal gelê is. Daarom is dit belangrik om Kaapse Afrikaans in te sluit.

Hierdie beslissing het geweldige debat oor die toekoms van Afrikaans ontlok. Voel jy hierdie debat sluit Afrikaaps in?

Ek verstaan die term Afrikaaps as ’n taalbeweging en nie soseer ’n taalvariëteit nie. Hiermee sluit ek by die rapper Jitsvinger aan wanneer hy Afrikaaps as ’n tipe sosiale beweging beskryf wat daarop gemik is om die geskiedenis rondom die “kaping” van Afrikaans (en selfs Afrika) by die inheemse volk en die slawegemeenskap aan te spreek. So, om jou vraag te beantwoord, nee. Hierdie debat sluit glad nie Kaapse Afrikaans (die taalvariëteit) of Afrikaaps (die taalbeweging) in nie.

Hoe sal hierdie beslissing die huidige en toekomstige generasie van Afrikaapse leerders beïnvloed?

Mense is geneig om te vra “Nou wat van Kaapse Afrikaanse leerders? Wat gaan van hulle word?” My gevoel is dit: Moenie Kaapssprekende leerders by ’n debat oor ’n taalvariëteit by ’n universiteit betrek terwyl dit juis nie vir hulle ’n verwelkomende ruimte is nie.

............

“Tydens my proeftydperk kon ek dieselfde tipe ongemak en skaamte oor hul taalgebruik by my leerders oplet. Dit het eintlik net my bôs warm gemaak! Want hoe is dit reg dat dié kinders Afrikaans (Huistaal) as ’n ander taal ervaar?” 

............

Ek is dalk dramaties, maar dit voel asof bruin werkersklasleerders as ’n tool in ’n debat van die wit gemeenskap en/of middelklas gebruik word. Die beslissing sal dit natuurlik moeilik maak vir Kaapssprekende leerders om onderrig in Afrikaans te ontvang, maar is dit regtig so ’n groot kwessie vir hulle as die einste Afrikaans nie eers dié leerders se taalkundige repertoire weerspieël nie?

Hoe sal jy jou navorsing prakties wil implementeer?

Ek is ’n absolute groot voorstander vir die herstandaardisering van Afrikaans. So, ek wil hê my navorsing moet in daai lig gesien word. Kaapse Afrikaans moet deel vorm van die standaard. Dit is meer as net ’n voetnota of ’n voorgeskrewe teks (met kontekstuele vrae wat dan in Standaardafrikaans beantwoord moet word).

Ek wil graag saam met onderwysers en taalliggame werk om dalk na inklusiewe leermateriaal te kyk, of selfs met leksikograwe aan ’n boek oor Kaapse Afrikaanse idiomatiese uitdrukkings. Daar is natuurlik ook die gesprek van ’n moontlik Kaapse Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (KAWS).

Lees ook 

Afrikaans in 'n meertalige Suid-Afrika

US-taalbeleid en die Konstitusionele Hof se beslissing: Afrikaans? Afrikatale? Stellenbosch?

Konstitusionele Hof dien Afrikaans ’n gevoelige slag toe: Danie van Wyk reageer op US taalbeleid-hofbeslissing

Kaaps in fokus-referaat: Verrekening van Kaaps en ander taalvariëteite in die onderwys

Bekendstellingstoespraak: Kaaps in fokus deur Frank Hendricks en Charlyn Dyers (redakteurs)

Kaaps: deel van die standaard?

Kaaps en (her)standaardisering

Herstandaardisering van Afrikaans: die tameletjie en uitdaging van opsies en besluite

LitNet Akademies-resensie-essay: Kaaps in fokus

Vannie Kaap memes: an interview with Samantha Roman

Die Bo-Kaap: Arabiese Afrikaans en die Kaapse Moslemgemeenskap

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Uit die onderhoud blyk dat Basson Standaardafrikaans magtig is. Die onderrigtaal aan die Universiteit Stellenbosch kon dus vir hom nie so vreemd gewees het soos wat hy te kenne gee nie. Dit is veral nie afdoende rede om in die verengelsing van die US te berus nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top