Afrikaans in 'n meertalige Suid-Afrika

  • 0
.............
"Die uitspraak in die Gelyke Kanse-saak is ’n gevoelige slag, maar as ons mense kan oortuig dat ons tale moet gebruik om in te sluit sal Afrikaans en al die ander amptelike tale (ja, ook Engels) bly voortleef." 

.............

Menán van Heerden gesels met Karien Brits oor meertaligheid en Afrikaans.

Afrikaans is een van die elf amptelike tale in Suid-Afrika. Word Afrikaans oor die algemeen as ’n inheemse taal beskou? 

Indien wel, deur wie? (bv die media; taalbeplanners; akademici; Afrikaanssprekers; sprekers van ander moedertale; ens?) 

Indien nie, hoe kan hierdie persepsie verander word?

Ons het hier met terminologie te doen wat belangrik is in die voortbestaan van tale soos Afrikaans. Ek sien amptelik taal en inheemse taal in jou vraag. Ek sal ook Afrikataal wil byvoeg. Dit is alles terminologie wat ons gebruik as ons oor die voortbestaan van Afrikaans in die onderwys en spesifiek in die hoër onderwys praat.

Amptelik beteken dat ons nie net mag nie, maar ook moet.

Dit is net onrusbarend dat ons regters nie noodwendig weet wat amptelik regtig beteken nie. (Jy kan dalk ook met Cerneels Lourens oor hierdie aspek gesels.) Daar is nie ’n definisie vir amptelik in die Grondwet nie.

Ek is glad nie ’n regsgeleerde nie, maar ek sien net in praktyk dat al die amptelike tale nie altyd ewe amptelik hanteer word nie. As ons die Grondwet mooi lees, sal ons sien dat dit amper vanselfsprekend is dat Afrikaans ’n belangrike status het (of eerder gehad het).

.............

"Hoekom is ons dan so besorg daaroor dat Afrikaans ’n inheemse taal is? Dit is ’n manier waarop ons Afrikaans se bestaan kan regverdig. Daardie stempel wat sê ons mag hier wees en ons mag dit gebruik ... Afrikaanse mense wil ook behoort."

.............

Afrikaans en Engels word amper teen die inheemse tale opgestel in die Grondwet (hoofstuk 1): “Gesien die historiese inkorting van die gebruik en status van die inheemse tale van ons mense, moet die staat praktiese en daadwerklike maatreëls tref om die status van dié tale te verhoog en hul gebruik te bevorder.”

Hoekom is ons dan so besorg daaroor dat Afrikaans ’n inheemse taal is? Dit is ’n manier waarop ons Afrikaans se bestaan kan regverdig. Daardie stempel wat sê ons mag hier wees en ons mag dit gebruik. Ek dink nou veral ook aan die positiewe konnotasie met inheemse plante, diere, voëls en insekte. As iets nie inheems is nie, hoort dit nie. Afrikaanse mense wil ook behoort.

Dit is nie net ons (taalbewuste) Afrikaanssprekendes wat so dink nie, UNESCO het 2019 tot die internasionale jaar van inheemse tale verklaar.

Daar is natuurlik ook die debat oor of Afrikaans ’n Afrikataal is – en lesers kan gerus hier na Ernst Kotzé se mening loer: https://www.litnet.co.za/die-klassifikasie-van-afrikaans/.

My uitgangspunt is: Afrikaans is ’n amptelike inheemse Afrikataal.

Nou ja, om by jou vraag uit te kom:

Ek dink dit hang af van die politieke en ideologiese uitgangspunte, maar ook kundigheid van die media, taalbeplanners, akademici, Afrikaanssprekendes, sprekers van ander moedertale. Net ’n kantlynopmerking oor kundigheid – ek bedoel hier kennis. As ons meer oor ’n onderwerp weet, hoe minder is daar geleentheid vir wanpersepsies.

Ek wil graag glo dat daar konsensus is dat Afrikaans ’n inheemse taal is – wat die taalbeplanners, akademici, die Afrikaanse media en taalbewuste Afrikaanssprekendes betref.

Ek dink dit is op hierdie punt die moeite werd om na die definisies in die Revised Language Policy Framework in Higher Education (Revised Language Policy) van 2017 te kyk; Afrikaans word as ’n inheemse Suid-Afrikaanse taal asook ’n amptelike Afrikataal beskou.

Geen taal (ook nie Engels nie!) is neutraal nie en dra ook maar bagasie uit die verlede. Afrikaans word ongelukkig daarom ook die speelbal van opportunistiese politici. Ek dink die moedswillige wanpersepsie is by ’n klein minderheid – die politici. 

Hoe kan ons die wanpersepsie uit die weg ruim dat Afrikaans nie ’n inheemse taal is nie? Sit die feite op die tafel. Daar kan ’n mens na navorsing deur wyle Christo van Rensburg kyk. Dan is daar ook die werk van Wannie Carstens, Hans du Plessis en nog vele meer. 

Ek dink egter ons moet nog ’n stap terug gee. Alle Suid-Afrikaners moet bewus wees van die waarde van ons inheemse tale om mee te begin! Solank as wat Suid-Afrikaners gaan bly glo dat onderrig deur middel van Engels as onderrigmedium gelyk staan aan gehalteonderrig, gaan dit nie eers help om mense te oortuig dat Afrikaans ’n inheemse taal is nie.

Ons moet dus die wanpersepsie afbreek dat inheemse tale ’n laer status het as wêreldtale en nie in die hoër onderwys gebruik kan word nie. 

Daar is baie mense wat drie tale magtig is, wat byvoorbeeld vlot Engels, Xhosa en Afrikaans kan praat.  

Word hierdie sprekers ingesluit in die debatte oor meertaligheid?

Of, betrek die debatte oor die algemeen mense wat slegs byvoorbeeld Engels en Xhosa OF Engels en Afrikaans kan praat en verstaan?

Hoe kan Suid-Afrikaners wat drie tale magtig is (spesifiek Engels, Afrikaans en een van die ander 9 amptelike tale) by die debatte oor meertaligheid betrek word?

Ek dink die debat word soms deur mense oorheers wat die hardste kan praat. Miskien moet ons nie aandag skenk aan mense wat die hardste kan praat nie, maar wat die sinvolste kan praat.

Ons almal is skuldig daaraan – ons gee lugtyd aan mense wat omstrede goed kwytraak.

Dit is dalk wys om na mense te luister wat wel meertalig is en te hoor hoe dit hulle baat. Want meertaligheid is ’n bate! Dit is wat op die agenda moet kom. Veral meertalige taalkundiges moet meer lugtyd kry.


Wat kan gedoen word om drietaligheid te bevorder? (bv Engels, Afrikaans en Xhosa in die Wes-Kaap)? 

Bewusmaking van die waarde van moedertaalonderrig (dit klink amper ironies, nè?).

Voer moedertaalonderrig in, met die ander twee tale as eerste en tweede addisionele taal. Dit kan in al die provinsies gedoen word.

Moedertaalonderrig is die basis van gesonde meertaligheid. Daar moet wel meer moeite gedoen word met kinders wat ’n dominante taal praat, om die ekonomiese noodsaaklikheid van die ander twee tale.

Oortuig mense daarvan dat dit nie te duur is om dit te doen nie. Ongelukkig oorheers die kostekomponent van meertaligheid die debat. Weereens onkunde.

Het die mense wat die kostekomponent voorhou as ’n verskoning vir eentaligheid al die sommetjies gemaak? Dit hoef ons nie eers 5% van ons begroting te kos nie.

Het ons wel al die koste van eentaligheid bereken? Hoeveel kinders val uit die onderwysstelsel omdat hulle nie die taalmas kan opkom nie? Watter groot invloed het dit nie op ons ekonomie nie?

Hoe sal jy ’n ideale, meertalige Suid-Afrika definieer / voorstel?

Dit is ’n land waar ons nie meer oor ander mense praat nie, maar met mekaar praat in die tale wat ons na aan die hart is. Dit is ’n land waar ons die etikette van onderdrukkertaal en Bantoe-onderwys afgeskud het. Dit is ’n land waarin ons ons tale as bates beskou!

Afrikaans is die derde mees gesproke taal na Zulu en Xhosa (Engels is vierde). Sal Afrikaans kan "oorleef" met kwynende amptelike status?

Ek is baie hartseer oor al die verlore kanse vir al ons tale in Suid-Afrika. Ek is veral hartseer oor die mense wat nie toegang tot basiese dienste, onderrig en geleenthede kry nie omdat hulle uitgesluit word deur eentaligheid en omdat ons tale in praktyk nie amptelike status het nie.

Ek dink nogtans dat Afrikaans kan oorleef, want daar is nog die kritieke massa wat dit belangrik ag.

Die uitspraak in die Gelyke Kanse-saak is ’n gevoelige slag, maar as ons mense kan oortuig dat ons tale moet gebruik om in te sluit sal Afrikaans en al die ander amptelike tale (ja, ook Engels) bly voortleef.

Ons sal wel ALMAL ons moue moet oprol!

  • Grafika bronne: Wikimedia Commons 
.............

.............
Lees meer oor die wyse waarop studente aan ’n veeltalige Suid-Afrikaanse universiteit hulle identiteite met behulp van narratiewe onderhandel en navigeer in die LitNet Akademies-artikel, "Veeltaligheid op universiteit: ’n uitdaging én ’n geleentheid vir identiteitsvorming" (Emma Groenewald en Adré le Roux, 2019)
.............

 

Lees ook

Konstitusionele Hof dien Afrikaans ’n gevoelige slag toe: Danie van Wyk reageer op US taalbeleid-hofbeslissing

Stellenbosse taalbeleid: woed die Anglo-Boereoorlog dan nog steeds?

US-taalbeleid en die Konstitusionele Hof se beslissing: Afrikaans? Afrikatale? Stellenbosch?

US-taalbeleid en Gelyke Kanse: Konstitusionele Hof se volledige uitspraak

Veeltalige universiteite: ’n onderhoud met Emma Groenewald

Multilingual schools, multilingual universities: an interview with Russell Kaschula and Michael Kretzer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top