Bela, stiefmoeder van noodgedwonge vernuwing

  • 6
........
Gegewe die dringendheid van die taak op hande, die aansienlike koste verbonde aan die bou en onderhoud van skole (om nie van personeel te praat nie), asook die wydverspreidheid van Afrikaanse kinders regoor die land, sal dit dalk nie die slimste ding wees om (net) te begin bou aan fisiese skole nie. Gelukkig is daar ’n alternatief.
........

Feite om in die gesig te staar of te ignoreer

Dit is nie wysheid nie, maar Outoriteit wat ’n wet maak. – Thomas Hobbes

Realiteit laat baie aan die verbeelding oor. – John  Lennon

Suid-Afrika vaar 2025 binne in ’n waas van onopgeloste kontroversie rondom die nuwe Wysigingswet op Basiese Onderwyswette (Bela). Bela verander verskeie aspekte van hoe skole bestuur word, met die doel om ongelykhede in die skoolstelsel aan te spreek deur sekere aspekte van beheer, soos taalbeleid van plaaslike skoolbeheerliggame, na provinsiale onderwysdepartemente oor te plaas, reëls te verander oor onderrigtaal asook oor hoe skole studentetoelatings bestuur, en nuwe riglyne oor dissipline en tuisonderrig daar te stel.

Bela maak ook sekere vlakke van onderwys verpligtend. Voorheen was dit slegs graad 1 tot 9, maar nou is ook graad R (vroeë kinderontwikkeling) en graad 10 tot 12 verpligtend. Hierdie verandering is veronderstel om vroeë kinderonderwys te verbeter en te verseker dat leerlinge hul skoolopleiding voltooi.

Op papier lyk hierdie oogmerke prysenswaardig; van nader beskou lyk Bela egter na ’n skip met baie seil, maar met ’n baie vlak kiel. Die kwaaiste wind wat aan die seile sal pluk sodra implementering plaasvind, is natuurlik die feit dat daar geen verhoogde befondsing is vir die groter aantal leerlinge nie. Daar word gewoon van openbare skole verwag om hierdie veranderinge binne hul bestaande begrotings, verbrokkelende infrastruktuur en oorvol klaskamers te absorbeer.

Befondsing is egter nie die werklike probleem nie. Die verrassende feit is dat die persentasie van staatsbesteding vir 2022/23 hoër was vir onderwys as vir enige ander portefeulje – ’n yslike 19,9%, altesaam R429,7 miljard. Suid-Afrika bestee proporsioneel meer van sy begroting aan onderwys as ontwikkelde lande soos Frankryk, die VK en Australië, en byna dubbel dié van Spanje.

Die navorsers Lynn en Becker van die Ulster Institute het tabelle saamgestel gebaseer op ’n 2019-studie wat die gemiddelde IK per land van die beste na die swakste lys, gekoppel aan elk se opvoedkundige uitgawe per inwoner. Daarvolgens spandeer lande soos China (5de op die ranglys), Belarus (23ste) en Rusland (34ste) veel minder as Suid-Afrika aan onderwys, maar met veel, veel beter resultate. Die skokkende feit is dat Suid-Afrika hom 110de op die lys van 125 lande bevind met ’n gemiddelde IK-telling van net 69, laer as mede-Afrikalande soos Botswana, Malawi, Rwanda, Mosambiek, Zimbabwe, Senegal, Angola en Kenia met hul veel kleiner onderwysbegrotings.

Die verband tussen IK en moedertaalonderrig

Taal is die primêre instrument van kognitiewe ontwikkeling. Onderrig in jou moedertaal, die taal van jou denke en sosiale interaksie, bevorder dieper kognitiewe funksies, wat weer hoër intelligensie en akademiese prestasie ondersteun. — Lev Vygotsky

Die volgende sleutelaspekte illustreer hoe moedertaalonderrig kognitiewe ontwikkeling kan beïnvloed, insluitend IK-tellings.

1. Kognitiewe ontwikkeling en taalvaardigheid

Kognitiewe ontwikkeling: Vroeë onderwys in ’n kind se moedertaal ondersteun kognitiewe ontwikkeling beter as tweedetaalonderrig. Kinders wat onderrig in hul eerste taal ontvang, is geneig om ’n beter begrip van komplekse konsepte te hê, aangesien hulle nie belas word met die bykomende uitdaging om in ’n tweede taal te leer nie.

Taalvaardigheid: IK-toetse vereis dikwels vaardigheid in verbale en wiskundige redenasie wat albei deur taal beïnvloed word. Wanneer kinders in hul moedertaal onderrig word, is hulle meer geneig om uit te blink in take wat verbale vlotheid en begrip vereis. Dit geld veral vir take wat abstrakte denke, probleemoplossing en geheue behels.

2. Kulturele en sosiale konteks

Kulturele relevansie: Die konsepte, waardes en sosiale norme wat in ’n kind se moedertaal ingebed is, kan ’n dieper begrip van die materiaal wat onderrig word, fasiliteer. Wanneer die kurrikulum belyn is met die kind se kulturele konteks, bevorder dit betrokkenheid en ’n gevoel van behoort, wat kognitiewe en emosionele ontwikkeling kan bevorder. Aan die ander kant kan onderrig in ’n vreemde taal kinders van die inhoud vervreem, wat moontlik hul intellektuele groei beperk.

Taal en identiteit: Taal is intiem verweef met identiteit. ’n Sterk verbintenis met ’n mens se moedertaal kan selfbeeld en motivering positief beïnvloed, wat indirek IK-verwante take soos probleemoplossing, fokus en leervolharding ondersteun.

3. Kognitiewe lading

Verminderde kognitiewe lading: Wanneer kinders in hul eerste taal onderrig word, kan hulle op die inhoud fokus eerder as op die proses van taalverwerwing. Dit verminder kognitiewe lading en stel kinders in staat om inligting doeltreffender te verwerk. Daarteenoor kan leer in ’n tweede taal die werkende geheue oorlaai, veral as die kind nog nie die tweede taal ten volle magtig is nie. Dit kan prestasie belemmer in take wat hoër kognitiewe funksies vereis, soos abstrakte redenering en kritiese denke.

Metalinguistiese vaardighede: Moedertaalonderrig verhoog dikwels metalinguistiese bewustheid – die vermoë om oor taal self na te dink en dit te ontleed. Dit kan ’n kind se vermoë verbeter om vaardighede na ander kognitiewe take oor te dra, wat moontlik IK kan beïnvloed op gebiede soos verbale redenasie en patroonherkenning.

4. Vroeë taalontwikkeling

Grondslag vir kognitiewe vaardighede: Vroeë blootstelling aan ryk taalomgewings (bv kommunikasie, storievertelling en woordeskatontwikkeling) in die moedertaal bevorder kritiese kognitiewe vaardighede. Sterk vroeë taalvaardighede vorm die basis vir latere akademiese sukses. Omgekeerd kan kinders wat sukkel met taalontwikkeling in die vroeë jare weens ’n gebrek aan blootstelling aan ’n tweede taal, uitdagings op verskeie gebiede in die gesig staar.

........
Sterk vroeë taalvaardighede vorm die basis vir latere akademiese sukses. Omgekeerd kan kinders wat sukkel met taalontwikkeling in die vroeë jare weens ’n gebrek aan blootstelling aan ’n tweede taal, uitdagings op verskeie gebiede in die gesig staar.
........

Breinontwikkeling: Studies toon dat tweetaligheid of veeltaligheid kognitiewe buigsaamheid en probleemoplossing kan verbeter. As kinders in hul moedertaal onderrig word en later addisionele tale aanleer, kan hulle kognitiewe vaardighede ontwikkel wat tot hoër IK-tellings bydra. Dit is egter van kardinale belang dat kinders eers ’n sterk basis in hul moedertaal het om optimale kognitiewe ontwikkeling te verseker.

5. Ander suksesvoorspellers as IK

IK as ’n beperkte voorspeller: Alhoewel IK dikwels gebruik word om akademiese sukses te voorspel, is dit nie die enigste maatstaf van intelligensie nie. IK-toetse fokus tipies op sekere kognitiewe vermoëns (bv logiese redenasie, patroonherkenning en verbale begrip), wat dalk nie die omvang van ’n persoon se vermoëns ten volle omsluit nie, veral as die toets nie in die eerste taal gedoen word nie.

Emosionele intelligensie: Kinders se vermoë om effektief in hul eerste taal te kommunikeer, ondersteun ook emosionele intelligensie (EI), wat nie tipies deur tradisionele IK-toetse gemeet word nie. EI kan egter kognitiewe prestasie beïnvloed in werklike scenario’s, terwyl IK-toetse dalk nie altyd ’n volledige prentjie van intellektuele potensiaal verskaf nie.

In ’n neutedop is die gevolgtrekking dus dat moedertaalonderrig ’n meer effektiewe grondslag bied vir kognitiewe ontwikkeling, wat tot beter IK-toetsprestasie kan lei.

Bela en moedertaalonderrig

Kompromie is gewoonlik ’n teken van swakheid, of ’n erkenning van nederlaag. – Andrew Carnegie

Volgens een telling het die Engelse taal 112 woorde vir “misleiding”, elk met ’n ander skakering van betekenis: samespanning, valsheid, skyn, selfbedrog, konfabulasie, verwarring, oordrywing, ontkenning. – Robin Marantz Henig

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) waarsku dat die Bela-wetgewing in sy huidige formaat ’n wesenlike bedreiging vir moedertaalonderrig op basiese-onderwys-vlak inhou. Dit raak elk van die land se 11 taalgemeenskappe.

Artikel 29(2) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika bepaal dat elkeen die reg het om onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van hul keuse in openbare onderwysinstellings waar daardie onderwys redelikerwys uitvoerbaar is. ’n Mens het byna simpatie met die regering as jy aan die praktiese implikasies hiervan dink. Dit is nie net dat daar verwag word om goeie onderwys te verskaf nie, maar om dit vir elk van die 12 landstale te doen.

Dit is gewoon ’n onbegonne taak – nie “redelikerwys uitvoerbaar” nie – om vir elk van die landstale in talle streke onderwysers op te lei, handboeke beskikbaar te stel, terminologie te ontwikkel, nasionale eksamens op te stel en na te sien, en dies meer. Sonder beskikbaarheid van die nodige hulpbronne moes so ’n verwagting nooit geskep gewees het nie.

Kolonialisasie het ’n skolestelsel na Suid-Afrika ingevoer wat kontekstueel ontoereikend is omdat dit elders ontwikkel is vir ander omstandighede wat totaal van ons s’n verskil. Ons het nie ’n homogene samelewing soos dié van Engeland, Nederland, Portugal of Frankryk nie. Ons is saamgelap uit verskillende tale, kulture, oortuigings, waardes, gebruike en gedragskodes. Maar eerder as om hierdie diversiteit in ag te neem, probeer die pragmatiese regering om alles behalwe ronde penne in ronde gate in te dwing in die naam van eenvormigheid. Dis die maklikste uitweg, behalwe dat dit hopeloos misluk, omdat Engels die moedertaal van minder as 1 in 10 mense in Suid-Afrika is.

Vergelyk ’n mens die aantal enkelmedium skole van 2012 met dié van 2022 is dit duidelik dat enkelmedium skole, en daarmee saam moedertaalonderrig, stelselmatig uitgefaseer word.

Jaar

Engels

Afrikaans

Xhosa

Zoeloe

2012

8 721

1 489

   317

   85

2022

5 875

1 004

   121

   33

Afname

2 846 (33%)

 485 (33%)

 196 (62%)

 52 (62%)

 

(Die leerlinge van enkelmedium skole het uiteraard na dubbelmedium skole gemigreer. “Dubbel” en “parallel” sluit Engels altyd as een van die twee tale in.)    

Kinders wat die reg ontneem word om in hul moedertaal onderrig te word, van wie die hoeksteen van hul potensiaal onder hulle gesteel is, sal hul skoolervaring in ’n vreemde taal uiteraard uitdagend vind. Dit word bevestig deur MastersDegree.net wat ’n lys van die top 10 moeilikste onderwysstelsels ter wêreld saamgestel het. Wat hulle in ag geneem het, was faktore soos die onderwysstelsel se struktuur, die land se mees uitdagende eksamen, en gemiddelde IK-tellings. Die lande is Suid-Korea, Finland, Singapoer, China, Hongkong, Taiwan, Amerika, Rusland en, bisar genoeg, Suid-Afrika. Die lande op die lys verskyn in geen spesifieke volgorde nie, maar uit die 10 lande wat gelys is, het Suid-Afrika die laagste nasionale gemiddelde IK-tellings, naamlik 69, met beide Taiwan en Japan op 106,5 en die res ook veel hoër as Suid-Afrika.

.......
Hoe is dit vir Suid-Afrika moontlik om die ambisieuse onderwysstelsel en lae IK-telling te versoen?
.......

Hoe is dit vir Suid-Afrika moontlik om die  ambisieuse onderwysstelsel en lae IK-telling te versoen?

Die antwoord is lae slaagsyfer-drempels. Vanaf die era van Bantoe-onderwys, soos dit bekend was (apartheidsonderwys), in 1954 tot die bekendstelling van die Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (KABV) in 2012, het slaagvereistestandaarde progressief tot ’n kommerwekkende vlak gedaal. Hierdie afname het ’n punt bereik waar ’n slaagsyfer van so laag as 30% vir sekere vakke erken word.

Die ander nege lande in die top 10 het almal ’n slaagsyfers bo 50%, met die meeste s’n 60%. Ander lande, soos Australië, Kanada en baie Europese lande, het die slaagpuntvereiste vir hul basiese onderwys op 50% gestel. By sekere instellings in die Filippyne sal leerlinge wat minder as 72%, of selfs 75%, behaal, druip. Om dit so beleefd te stel as wat woorde toelaat: Slaagvereistestandaarde in Suid-Afrika is vrot.

Met die huidige slaagdrempel van 30% het die 2017-matrikulasieklas ’n slaagsyfer van 75,1% behaal. As die slaagdrempel egter tot 40% verhoog sou word, sou hierdie koers tot ongeveer 54% daal. As Suid-Afrika ’n 50%-slaagdrempel vereis het, sou slegs sowat 33% van matriekleerders geslaag het, en as dit die 60%-drempel aanvaar, sou slegs 16% van matrikulante aan die kriteria voldoen het. ’n Verhoging van die slaagdrempel tot 70% sou daartoe lei dat slegs 7% van Suid-Afrikaanse matrikulante sou slaag.

........
Die lae IK-tellings dui weer daarop dat die stelsel nie daarin slaag om die individuele onderwysbehoeftes van elke leerder aan te spreek nie, wat ons terugbring by moedertaalonderrig.
........

Wat Suid-Afrika se basiese-onderwys-stelsel dus moeilik maak, spruit nie, soos vir die ander nege lande, uit die uitnemendheid daarvan nie; dit is eerder dat dit nie geskik is vir ons leerders se lae gemiddelde IK-tellings nie. Die lae IK-tellings dui weer daarop dat die stelsel nie daarin slaag om die individuele onderwysbehoeftes van elke leerder aan te spreek nie, wat ons terugbring by moedertaalonderrig.

Slaagpuntvereistes dien as ’n motiverende faktor vir leerlinge om hul akademiese prestasie op ’n aanvaarbare vlak te handhaaf. Dit is noodsaaklik dat hierdie slaagvereistes beide realisties en uitdagend is, sodat leerders aangemoedig voel om heeltyd beter te presteer. Standaarde moet gestel word in ooreenstemming met die tipe leerders wat die stelsel beoog om te vorm. Dit wil egter voorkom of die regering slaag as die doelwit sien, nie as ’n springplank om hoogtes te bereik nie. Solank mislukking wit gepleister kan word met die skyn van sukses, is hul werk afgehandel. Bela se gelykheid kom dus daarop neer dat almal ewe sleg sal vaar, nie ewe goed nie.

’n Matriekslaagsyfer van 82,9%, soos dié van 2023, en dit vir leerders met ’n gemiddelde IK van 69, spreek van roekelose selfbedrog. Dit sou ondenkbaar wees om jou kind in ’n openbare skool te sit as jy enigsins ’n keuse het. Dit is dan ook belangrik om ’n alternatief te kies wat moedertaalonderrig aanbied, selfs al laat die toekoms van die taal self jou koud. Moedertaalonderrig is gewoon in jou kind se beste belang.

Die belangrikheid van Engels (en veeltaligheid)

In ’n wêreld waar almal toenemend met mekaar verbind word deur tegnologie, besigheid en reis, het Engels na vore getree as die sleutel wat internasionale diskoers ontsluit. Die globale omvang daarvan maak dit ’n noodsaaklike hulpmiddel vir kruiskulturele begrip en samewerking. – Robert Philip Kolb

Hoewel moedertaalonderrig ’n gegewe behoort te wees, sal dit ’n fout wees om die belangrikheid van Engels te onderspeel. Engels dien as ’n globale lingua franca wat gewoon die mees praktiese manier is vir mense om te kommunikeer. Dat Engels die mees gesproke taal ter die wêreld is en deur een uit vier mense verstaan word, is ’n goeie rede vir Suid-Afrikaners om die taal te bemeester, selfs al beskou jy die gebruik daarvan as die voertuig van imperialisme of keur jy globalisering af. As dit nie Engels was nie, sou dit ’n ander taal moes wees, want sonder ’n lingua franca vir die sprekers van 7 164 gesproke tale sou daar ’n Babelse verwarring wees as almal met mekaar probeer kommunikeer.

Ter wille van die bevordering van globale relevansie het China byvoorbeeld aansienlike beleggings gemaak in die bevordering van die aanleer van Engels as ’n tweede taal, uit erkenning van die belangrikheid daarvan in globale handel, diplomasie en tegnologiese vernuwing. Dit word gewoon deur praktiese oorwegings gedryf. Om dieselfde redes toon Duitsland ’n oplewing in die aanleer van Mandaryns.

Ten spyte daarvan dat Engels die huistaal van net 7% van ons skoolkinders is, verkies 64% van hulle om daarin onderrig te word. (Interessant genoeg verkies 11% om in Afrikaans onderrig te word, al praat net 9% van hulle dit tuis.) Wanneer dit op ’n keuse tussen Engels en die moedertaal neerkom, verkies die sprekers van swart tale Engels (om moontlik aan hul eie marginalisering te ontkom?).

Die punt is dit: Nie net is moedertaalonderrig belangrik nie, dit is ook belangrik dat kinders Engels (of ander wêreldtale) vlot sal leer praat. Toe Sibusiso Bengu, destyds die minister van onderwys, Suid-Afrika se nuwe taalbeleid in onderwys in 1997 aangekondig het, het hy verklaar dat dit onder meer daarop gemik is om “’n omgewing te skep waarin respek vir ander tale as jou eie aangemoedig sal word”. Die aanleer van twee of meer tale behoort algemene praktyk te wees, het hy gesê, om “enige partikularistiese etniese chauvinisme teë te werk”. Hy het die eindresultaat as beide belangrik en eenvoudig beskou: “Om veeltalig te wees behoort ’n bepalende kenmerk daarvan te wees om Suid-Afrikaans te wees.”

Om van Engels die dominante taal van onderrig te maak, gekoppel met enige ander taal, is dus nie sonder meriete nie. Die probleem is dat Engels ’n stille dief is en dat minderheidstale meermale kwyn in ’n taalruimte wat met Engels gedeel word.

Die beste helpende hand 

Onthou, as jy ooit ’n helpende hand nodig het, is dit aan die punt van jou arm. Soos jy volwasse word, onthou dat jy ook ’n ander hand het – die eerste is om jouself te help, die tweede is om ander te help. – Audrey Hepburn

Vir diegene binne taalgemeenskappe vir wie dit nie net oor die gehalte van onderwys gaan nie, maar ook oor die welsyn van hul taal, is die vraag of die verantwoordelikheid om ’n moedertaal in stand te hou nie by die taalgemeenskap self berus nie. Dit mag wel onregverdig voel – betaal ons nie reeds belasting nie? – maar wat is die alternatief? Taalaktiviste sal self iets in die plek moet sit van wat gekritiseer word – dit kan ons ná die ondertekening van die Bela-wet as ’n gegewe beskou – maar in die smeltkroes van nood word die beste planne gesmee.

Net soos wat daar nie gewag kan word op “’n ander”, soos die regering, om die ideale van die taalburgery te verwerklik nie, sal daar ook min nut wees in nóg hoogdrawende akademiese referate, nóg taalverenigings, nóg taalrade, nóg taalbewegings, nóg gesprekke. Dis tyd om idees in die werklikheid te anker.

Terwyl Solidariteit en AfriForum met elke beskikbare politieke en wetlike middel tot hul beskikking vir moedertaalonderrig in Afrikaans veg, word daar ook, volgens Philip Buys, aan ’n Plan B in die vorm van ’n netwerk van skole gewerk.

So ’n Plan B bied dalk die beste geleentheid om met ’n splinternuwe inisiatief na vore te kom – een wat nie alleen aan Afrikaans sy regmatige plek terug sal gee nie, maar wat dit vir al die landstale sal doen terwyl vaardighede in Engels ook verbeter sal word. Een met die belofte om die probleem van “wie se taal?” nie net op te los nie, maar te transendeer.

Klink dit vergesog? Hallo. Dis die jaar 2025.

Dink buite die boks

Hoe absurd is dit dat ons studente hul selfone, BlackBerry’s, iPads en iPods in hul rugsakke steek wanneer hulle ’n klaskamer binnegaan en ’n verflenterde handboek uithaal. – Eli Broad

Ons behoefte sal die ware skepper wees. – Plato

Gegewe die dringendheid van die taak op hande, die aansienlike koste verbonde aan die bou en onderhoud van skole (om nie van personeel te praat nie), asook die wydverspreidheid van Afrikaanse kinders regoor die land, sal dit dalk nie die slimste ding wees om (net) te begin bou aan fisiese skole nie. Gelukkig is daar ’n alternatief.

Hoewel tradisionele skole om baie redes bo tuisonderrig verkies kan word, moet daar nuut, en op ’n nuwe manier, na tuisonderwys gekyk word as ’n alternatiewe model. In ons tegnologiese eeu kan digitale onderrig die kwantumsprong wees wat ons nodig het indien toepaslike KI-gereedskap geïntegreer kan word met digitale lesmateriaal – iets wat die reëls van die spel heeltemal kan verander. So ’n digitale-KI-kombinasie – kom ons noem dit digitelligensie – maak die volgende moontlik.

Moedertaalonderrig met die opsie van meertaligheid

........
KI maak moedertaalvertalings van byna enige leermateriaal moontlik.
........

KI maak moedertaalvertalings van byna enige leermateriaal moontlik. ’n Digitale les se teks kan vir die taal van keuse in spraak omgesit word, of omgekeerd, sodat ’n leerling kan kies om die lesmateriaal in sy/haar eie taal te lees of net daarna te luister, of albei. Die les, aangebied as ’n video, kan onderskrifte vertoon wat die dialoog of narratief in enige gekose taal vertaal. Dit sou selfs moontlik wees om die dialoog oor te klank. Daar is dus geen verstektaal nie; die leerder selekteer eenvoudig die taal van sy/haar keuse vanaf ’n spyskaart. Moedertaalonderrig word dus nie net ’n moontlikheid vir elke leerder nie; ’n leerder kan dieselfde leermateriaal ook in ander tale volg en in die proses spontaan meertaligheid ontwikkel.

Sou ’n les oorspronklik byvoorbeeld in Afrikaans ontwikkel word, sal dit daarna met die hulp van KI (en die noodwendige afronding van taalspesialiste) betreklik maklik wees om ander tale by te voeg.

Individualisering van inhoud

KI se groot prestasie is die individualisering van inhoud. Hier kan ons dink aan pasgemaakte ondersteuning en leiding, leerlingspesifieke toetse en uitdagings, sowel as deurlopend geoutomatiseerde assessering en evaluering met intydse terugvoer. In effek sal elke leerling een-tot-een-onderrig ontvang (sien die video hier bo).

Verdere maniere waarop digitelligensie die gehalte van aanlyn lesse kan verhoog, sluit in multimedia-integrasie, virtuele assistente, kletsbotte, virtuele gesprekke en interaktiewe lesse wat meer aandag en betrokkenheid van die leerling verg. Lesse kan ook herhaal word indien nodig.

Spraakherkenningshulpmiddels kan studente help om uitspraak en begrip in verskeie tale te oefen.

Sukkelende leerders kan vroeg deur KI-gedrewe assesserings geïdentifiseer word en geteikende ingrepe kan aanbeveel word.

Interaksie

Hier kan ons byvoorbeeld dink aan virtuele gassprekersessies wat studente blootstel aan kundiges op verskillende gebielde, of aan groepbesprekings en -projekte tussen leerders met die klem op samewerking, kreatiwiteit en die deel van inligting.

Die oorbrugging van beperkings

E-onderwys oorbrug beperkings soos geografiese ligging asook fisieke gestremdheid, gesiggestremdheid en selfs leergestremdhede soos outisme.

Ondersteuning aan ouers

Tuisonderrig behoort veel meer bekostigbaar te wees as privaatskole.

Omdat vakkundiges van die hoogste gehalte die videolesse sal saamstel, hoef ouers net die rol van toesighouer/fasiliteerder te speel.

Die verkryging van lesmateriaal word vergemaklik – handboeke hoef nie aangekoop te word nie, want lesmateriaal is aanlyn beskikbaar, kan afgelaai word en kan letterlik oornag deur die kurrikulumverskaffers bygewerk word. Net so sal leerlinge toegang tot ’n reuse e-biblioteek verkry.

Dit verskaf toegang tot interaktiewe eksperimente in vakke soos wetenskap, selfs sonder die beskikbaarheid van fisiese laboratoriumfasiliteite.

Outomatiese gradering en rubriekgebaseerde evaluering neem hierdie taak by die ouer oor.

Die uitrol van so ’n projek

Die grootste hindernis in die weg van die benutting van digitelligensie is moontlik dat besluitnemers wat nie self weet hoe om die oënskynlike troebel waters van KI te navigeer nie, sal verkies om na oplossings binne hul eie gemaksones te soek. In die chaos waarin onderwys in Suid-Afrika hom bevind, is KI dalk die reddingsboot wat ons na ’n veilige hawe kan neem, en tog sal dit in die nag by ons verbyseil as ons dit nie kan sien vir wat dit is nie.

Die ontwikkeling van digitelligente lesmateriaal sal betreklik duur wees, maar daar hoef nie meer met groot moeite, koste en tyd gekodeer te word vir die soort toepassings wat genoem is nie. Hierdie gereedskap kan van die rak gekoop word. Die insig, kennis en kreatiwiteit van sagteware-ontwerpers, vakkundiges en ander belanghebbendes kan ingespan word om die leerplanne wat reeds ontwikkel is, handboeke en al, in videomateriaal om te sit. KI kan dan die donkiewerk doen terwyl die redigering, verbeterings en afronding aan menslike insig en kreatiwiteit toevertrou word.

Hierdie aanvanklike kostes sal verdwerg word deur besparings op deurlopende uitgawes soos salarisse, handboeke en die bou van meer en meer skole. En as die lesmateriaal eers ontwikkel is, sal dit onmiddellik beskikbaar wees vir enige leerling met internetverbinding, selfs in die verste uithoeke van die land.

Klein privaatskole

Digitale interaksie kan die leerervaring moontlik koud en onpersoonlik laat voel, terwyl ’n kind wat tuisonderrig ontvang, fisies boonop geïsoleer kan voel. Alle gesinne leen hulle ook nie tot tuisonderrig nie, moontlik omdat albei ouers weg van die huis af werk.

’n Oplossing kan dalk wees as leerlinge binne ’n gebied saam studeer. Sodra ’n geregistreerde tuisleerling egter elders as by sy/haar eie huis onderrig word, kwalifiseer daardie kind nie langer as ’n tuisleerling nie. ’n Wettige alternatief is om ’n privaatskool te registreer, sou die getal leerlinge meer as 20 wees.

Dieselfde aanslag as wat vir tuisleerlinge hier bo uiteengesit is, kan dan gevolg word met bekwame persone as fasiliteerders. Ek glo daar is genoeg mense in die meeste gemeenskappe wat graag betrokke sou wou raak. Om kostes laag te hou, kan daar selfs gebruik gemaak word van byvoorbeeld kerkgeboue wat in elk geval nie gedurende die week benut word nie.

Die toekoms van Afrikaans

Ons moet leer om as broers saam te leef of saam as dwase om te kom. Rykes en armes kan nie in vrede saambestaan ​​tensy die armes tot ’n posisie van waardigheid verhef word nie. – Dr Martin Luther King jr

........
Dit sou kortsigtig wees om ons net vir die welsyn van Afrikaners te beywer en die gaping tussen ons en ander toe te laat om al hoe groter te word.
........

Natuurlik gaan dit vir ons oor Afrikaans, maar ons moet onthou dat ons nie alleen is in die storm nie. Dit sou kortsigtig wees om ons net vir die welsyn van Afrikaners te beywer en die gaping tussen ons en ander toe te laat om al hoe groter te word. Ons welsyn kan nie ontkoppel word van die welsyn van die res van die bevolking as ons in vrede wil floreer nie. En eerder as om tyd te verspeel deur te kibbel oor waarmee ons onvergenoegd is, moet ons dalk maniere vind om nie net buite die boks te dink nie, maar die boks plat te slaan en hoog daarbo uit te styg.

(Gedurende die middel-2000’s was ek hoof van ’n Cambridge-geakkrediteerde privaatskool wat tradisionele sowel as afstandsonderrig aangebied het. Vir laasgenoemde het ons lesse wat die handboeke moes aanvul, self geskep. Die potensiaal wat digitale toepassings inhou, het my toe reeds laat droom van ’n nuwe soort onderwys. Ek is tans ’n rekenmeester, en is ingeskryf vir ’n kursus  wat studente toerus met die praktiese vaardighede om KI naatloos te integreer in elke stadium van die ontwerp en ontplooiing van leermateriaal. Met dank aan my dogter Erika wat hierdie opwindende reis met my meemaak.)

Bronne

South Africa Gateway: The languages of South-Africa. https://southafrica-info.com/arts-culture/11-languages-south-africa

Simnandi Solutions: NSC Pass mark requirements amongst the lowest in the world. https://simnandisolutions.co.za/2023/10/01/nsc-pass-mark-requirements-amongst-the-lowest-in-the-world

Mastersdegree: Top 10 toughest education systems in the world. https://www.mastersdegree.net/toughest-education-systems

Maroela Media: Bela-wet: “ANC wolf in RNE-skaapsklere”. https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/bela-wet-anc-wolf-in-rne-skaapsklere-flip-buys

Lees en kyk ook:

Bela is nou wet

Bela onderteken: Wat gebeur volgende?

Bela-wet: ’n onderhoud met Jaco Deacon

Bela: Belegging of beleg?

"Onderwys in syfers"-verslag: ’n onderhoud met Riaan van der Bergh

Reguit met Robinson: Onderwyssektor onder beleg

BELA-wetgewing: ’n onderhoud met ’n tuisskool-ouer

Waarom ouers nou wérklik aan die BELA-wetsontwerp aandag moet gee: ’n onderhoud met Jaco Deacon

Is verengelsing die Bela-wet se skuld?

Bela-wet: Op ’n heuwel daar ver

Elders gesien: Oranje het hierdie week ’n slegte naam gekry

LitNet Akademies Weerdink-onderhoud: onderrig in die tale wat kinders en studente tuis praat

Kunsmatige intelligensie en die dekolonialisering van onderwys in Suid-Afrika

Die Konsepwysigingswetsontwerp op Onderwyswette (BELAB): Afrikaans oorleef op skool solank "redelikerwys doenlik"

Miljoene rand in pyplyn vir privaat Afrikaanse skole

  • 6

Kommentaar

  • Die statistieke is skokkend. Kan iemand die regereing asseblief by die Internasionale Strafhof aankla vir die opvoedkundige volksmoord wat hulle pleeg?

  • Dankie vir 'n artikel wat ons herinner dat onderwys die grootste impak het wanneer dit die taalkundige wortels van leerders respekteer.

  • Laat weet as julle 'n kerk nodig het in Kuilsrivier. Ons maak sommer sop en broodjies vir die kinders ook.

  • Liezel Basson

    Die skrywe sou kon doen met 'n bespreking van die praktiese elemente wat betrokke is. Dis makliker gesê as gedaan. Wie gaan al die goed bou vir al die vakke en skooljare?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top