|

|
|
Sêgoed van Johann de Lange
“’n Jong digter skryf aanvanklik met sy verbeelding, met die genade van tegniek. Maar algaande begin hy meer uit ervaring skryf. Hy leer dat elke gedig eers geleef moet word en hy besef ook die prys wat hy moet betaal. Baie mag dit afmaak as ’n romantiese siening van die skrywersambag, maar daar is ’n prys: jou liefde vir die aarde en vir mense, jeug en skoonheid word sterker en meer genuanseerd soos jy onkeerbaar nader beweeg aan die dood. ’n Mens moet leer om afstand te doen, te kan laat gaan.”
Skryf is harde werk: “Jy moet jou ambag ken: taal, woorde, woordeboeke, simboolwoordeboeke, lees en nogmaals lees. Ek plaas ’n hoë premie op tegniek omdat dit jou help om jouself akkurater uit te druk. Dissipline is noodsaaklik wanneer ’n mens werk met iets so ongevormd soos ervarings, drome of die onderbewuste.”
“I don’t romanticise poetry. I’m a craftsman. Although poetry originates from the heart, your brain should take it further. Paradox fascinates me. There should always be tension in a poem ... between images and words.”
“I don’t think I have written anything while I was happy. If I did, it was inferior.”
“Ek glo ’n digter se taak is net om elke gedig wat hy skryf so deeglik as wat moontlik is op daardie stadium, te skryf. Die res is van die gode afhanklik.”
“’n Mens kan nie ’n gedig vertaal as jy dit nie baie goed verstaan nie. Die manier waarop ek vertaal, is ’n vorm van close reading. Ek haal die gedig uitmekaar en die vertaling word ’n herinterpretasie. Jy moet weer ’n lesing van die gedig laat realiseer.”
Oor Sheila Cussons: “Vir my eie vorming as digter was en bly haar gedigte kosbaar. Sy was vir my ’n leermeester sonder dat sy dit geweet het, ’n standvastige vriend in ’n wêreld waarin ek my dobberend gevoel het. En sy was van ons eerste kennismaking (op papier en in die vlees) sonder twyfel jonger van gees as ekself en die meeste van my tydgenote. Sy het ’n ewige jeugdigheid behou en ’n onblusbare nuuskierigheid na die lewe. Met die gerfie briewe aan my het sy my met padkos gelaat vir die jare wat voorlê.”
Oor skryfskole: “Ek weet nie of ’n skryfskool van iemand ’n skrywer kan maak nie. Ek glo wel dat mens enigiemand béter kan leer skryf. En dat jy diegene met ware talent kan help om hulle stem vinniger te vind. Al wat ’n skryfskool die jong digter uiteindelik kán bybring, is tegniek. [...] Een stukkie raad gee ek sélf nou aan beginners: lees, lees, lees.”
“My fokus met ’n skryfskool is dus eerder om voornemende skrywers beter lesers van hulle eie werk en van ander se werk te maak. Almal wat in ’n skryfskool sit, is daar omdat hulle ’n liefde vir letterkunde het. Maar nie almal gaan dit uiteindelik maak as skrywers nie. Nie eers dié met talent nie. Dit vat toewyding en determinasie en dikvelligheid om te slaag. Watter beter manier om jou liefde vir die vak te kan uitleef as om as ’n beter, ’n fyner leser van poësie daar uit te stap?”
“Kyk, digters, net soos vroue, kan nooit werklik vriende wees nie. Hulle is afgunstig op mekaar ... Die gedigte kan saamslaap, maar ek dink dit is beter dat die digters hul plek ken. In iedere geval: Die afwesigheid van afguns is die Kainsmerk van ’n mindere digter.”
“Soos predikante ’n gemeente gebruik om hul siele te red, word die poësie die medium vir die digter om neuroses te besweer. Die digter is ’n outo-psigiater ... En ons skryf natuurlik almal skaamteloos om roem te verwerf.”
“Dis nie aangenaam om agter te kom jy skok mense nie. Dit gebeur dat jy so in ’n enklave leef dat jy nie agterkom hoe gewone mense dink nie, dat jou private mitologie nie hulle s’n is nie. Die skrywerswêreld is eintlik ’n onnatuurlike een, waar niks taboe is nie. En dan vergeet jy die buitewêreld werk anders.”
“’n Mens moet voortdurend bewus bly dat die publiek jou werk anders gaan ervaar as jy self.”
“Ek soek nou iets anderster. Ja ... ek soek oorrompelende ervarings. Ek dink ’n mens moet verby die banaliteite kom van net gewone lewe. Ek is op soek na wat iemand genoem het ravishing experiences. I want to be ravished, jy wil nie net ... jy kry dit met seks en met dwelms.”
“Pryse het absoluut niks met die bedryf van skryf te doen nie, en kan trouens baie skadelik wees. Daar is skrywers wat stilgemaak is deur pryse, wat hulle mojo verloor het. Dis gesond om ’n prys net as ’n som geld te beskou, en nié as enige aanduiding van jou talent of die gehalte van jou skryfwerk nie. Dáárvan is jy sélf die enigste maatstaf.”
“Ek het ’n ideale leser in gedagte wanneer ek skryf, maar die éérste leser van my gedigte is ek self – dís wie ek in die eerste plek moet tevrede stel, en ek is baie hard op myself. Nie dat ek kla nie; ek geniet die sukkel met die skryf báie meer as die voltooide gedig. Betekenis in die natuur is áltyd funksioneel (al vind ons dit ‘mooi’), en ons is die enigste spesie wat betekenis genereer vir die blote plesier daarvan.”
Oor vertalings van gedigte: “Ek doen graag vertalings, omdat ek altyd as ek ’n mooi gedig in ’n ander taal teenkom, graag wil hoor hoe hy klink in my taal. En dan is vertaling ook baie goeie oefening. Dit dwing jou om na oplossings te soek, om nuwe woordeskatte te verwerf, nuwe digvorme. En dit leer jou ook – op wat seker as reverse engineering beskryf kan word – die fabrieksgeheime van ander digters. Ek doen vertaling in die droë tye wanneer ek sélf nie skryf nie. Dit hou jou hand in, by wyse van spreke. En dit hou my uit die kwaad, noudat ek te oud geword het daarvoor.”
Een les wat Johann by André P Brink geleer het en waarby ander jong digters kan baat: “Een van die belangrikste dinge wat hy my bygebring het (benewens lees, lees, lees!), is om telkens wanneer ek van ’n gedig hou, te probeer vasstel wáárom ek van die gedig hou, en hoe die digter sy of haar effekte bereik. Ek het amper groter plesier daaraan om gedigontledings te lees as die gedigte sélf. Ek wil weet hóé die digter doen wat hy doen. So brei jy jou tegniese register uit.”
“Skryf het my ’n wonderlike, verrykende lewe besorg, vol mense wat ek andersins nooit sou leer ken het nie. My beskeie talent het vir my deure oopgemaak na vriendskappe met werklik groot skrywers en digters in ons taal, en met visuele kunstenaars ook, en dít verruil ek vir niks nie. In daardie sin dan sal ek nie, wíl ek nie, van die poësie afstand doen nie. Selfs al hou ek op met skryf, sal ek nooit ophou lees nie.”
Wat was sy grootste prestasie? “Ek kan op geen prestasies aanspraak maak nie. Alle goeie dinge wat ooit met my in my lewe gebeur het, was sonder my toedoen, en dikwels ten spyte van myself. Ek het ’n báie toegewyde beskermengel.”
“Skryf is baie belangrik in my lewe, maar ek sal dit nie die groot liefde van my lewe noem nie.”
Oor watter gawe sou hy die graagste wou beskik? “Hieroor het ek baie gepeins: rykdom, roem, ewige jeug? Maar enige van daardie drie in mý hande sal nie ’n goeie idee wees nie. So eerder iets soos die vermoë om enige siekte onder die son te kan genees.”
|
Gebore en getoë
Daniël Johannes de Lange is op 22 Desember 1959 in Pretoria gebore – tussen die sterretekens van die boogskutter en die steenbok: “jagter én prooi, een aspek van die paradoks wat ek in my poësie ontgin”. Sy ouma, by wie hy die grootste deel van sy jeug deurgebring het, het hom Kas genoem en op hoërskool is hy Daniël genoem. Omdat hy saam met ’n neef wie se naam ook Daniël is, op universiteit was, het hy besluit om homself te hervernoem na Johann.
In ’n onderhoud in Die Burger van 27 Februarie 2009 vertel Johann dat hy, soos enige kunstenaar, “’n unhappy jeug gehad het”. “Ek het grotendeels by familie grootgeword. Ek en my ouma het dikwels saam van gesin na gesin verhuis, want sy het my basies grootgemaak. Ek het baie min kontak gehad met my ouers, en die paar keer wat ek wel met my pa kontak gehad het, was dit nie altyd gelukkige omstandighede nie.”
Hy bring sy skoolloopbaan hoofsaaklik op plase deur. Sy eerste skool was Wonderboom-Suid Laerskool en hy woon daarna nog ses ander laerskole by. Johann voltooi sy hoërskoolloopbaan in 1977 aan die Hoërskool Hans Strijdom op Naboomspruit. Hy bly in die Sekelbos-seunskoshuis en gaan naweke saam met twee neefs na hulle plaas naby Sterkrivier. “[My] vyf jaar in die Waterberge was rustig, vol gebeure, en redelik ongekompliseerd. Die enigste werklike bekommernis was om ’n ordentlike rapport plaas toe te bring. Die sambok is ’n harde leermeester.”
Hy begin in standerd vier onder aanmoediging van Frik Pieterse verse skryf, “erg onder die invloed van Jan FE Cilliers”. Sy eerste gedig handel oor die vier seisoene. Hy leef, eet, slaap en skryf gedigte deur sy skooljare. In standerd agt kry hy ’n tikmasjien present en publiseer gedigte in die hoërskool se koerant, Die Leeutjie. Hierdie gedigte was meestal satiries van aard en “met presieuse aandag bestee aan verbeeldinglose ryme”.
Verdere studie en werk
Na matriek is Johann na die Universiteit van Pretoria, waar hy in 1978 die eerste jaar van ’n BSc voltooi. Hy skakel egter die volgende jaar oor na BA en voltooi sy eerste jaar aan die einde van 1979. Gedurende sy tweede jaar ondervind hy egter persoonlike probleme en staak sy studies in 1980. Daarna gaan werk hy by Volkskas Bank as bankklerk. “[Ek] het geen besondere liefde vir bankwerk nie, benewens [my] liefde vir geld. Dit was bloot die eerste werk waarvoor [ek] aansoek gedoen het.” Hy vertel aan Alice Coetzee in Pretoria News dat hierdie 8-tot-4-werk hom stimuleer as kreatiewe skrywer: “Daar is ’n spanning tussen die twee. Die werk is vervelig en geroetineerd, nader aan die einde van die dag is ek so moeg dat ek nie lus is vir skryf nie. Dan raak ek depressief en die depressie stimuleer my om te skryf.”
Tydens sy studiejare aan die Universiteit van Pretoria is hy stigterslid van die literêre tydskrif Ensovoort. In die negentigerjare bied hy ook ’n kursus in kreatiewe skryfwerk aan by Unisa se Instituut vir Voortgesette Opleiding, en by geleentheid ’n poësiewerkswinkel by die Noordwes-Universiteit. Na sy verhuising na Kaapstad bied hy ook vir twee jaar ’n poësiewerkswinkel by die Universiteit van Kaapstad aan.
Johann gaan werk later by ’n boekhandelaar in Pretoria en is tans werksaam by Exclusive Books in Kaapstad.
In 1979, tydens sy tweede jaar op universiteit, sluit hy by die universiteit se letterkundekring aan en besef hy vir die eerste keer hoe swak sy gedigte werklik is. Hy publiseer in die groep se lyfblad vlieg, en die derde uitgawe van die blad word verbied as gevolg van Johann se verhaal “Die seduksie” en Koos Prinsloo se verhaal “Skrot”. Hulle twee, sowel as die redaksie, verskyn voor die tugkomitee en almal ontvang ’n opgeskorte vonnis. Johann is net kort voor hierdie insident tot die redaksie van die studentekoerant Die Perdeby toegelaat, maar word dadelik geskors en verbied om in die redaksie van enige universiteitspublikasie te dien.
Hy begin in 1980 gedigte aan André P Brink stuur vir kritiek en ontvang aanmoediging en waardevolle leiding. Hy publiseer vanaf 1980 in Standpunte en verse verskyn onder meer ook in spado, Ensovoort, The bloody horse en Graffier.
Johann debuteer in 1982 by Human & Rousseau met Akwarelle van die dors. Hierdie bundel word in 1982 bekroon met die Ingrid Jonker-prys. Daarna volg Waterwoestyn (1984), Snel grys fantoom (1986), Wordende naak (1988), waarvoor hy die Rapport-prys vir Poësie in 1990 ontvang, Nagsweet (1991), Vleiswond (1993) en Wat sag is vergaan (1995). Hy maak in 1996 sy kortverhaaldebuut met Vreemder as fiksie en in 2000 verskyn Tweede natuur. Laasgenoemde handel oor sy ervarings van die rave-toneel Ecstasy en wat daarmee gepaard gaan.
Johann is saam met Antjie Krog die samesteller van Die dye trek die dye aan: verse oor lyflike liefde en ook Soort soek soort: ’n versameling alternatiewe ervarings.
Johann verduidelik die ongewone titel van sy eerste bundel, Akwarelle van die dors, só: “’n Akwarel is ’n waterverfskildery. Dit is ’n paradoks dat ’n mens met water die dorse – tekorte – in die lewe skilder.” Oor die inhoud van die bundel brei hy as volg uit teenoor Mickie Pistorius in Die Transvaler van 23 Julie 1984: “[Ek] dig graag oor die wisselbaarheid van die mens en die natuur. Soms handel ’n gedig oppervlakkig oor die natuur en as ’n mens dieper lees, handel dit oor die mens. Elke klein prosessie wat in die mens plaasvind, vind op groter skaal in die natuur plaas. Dit teleskopeer wyer uit – van die besonderse na die universele.”
Sy tweede bundel, Waterwoestyn, se titel is net so ongewoon en Johann verduidelik dat water en woestyn op twee uiterstes dui, byvoorbeeld om eensaam te wees te midde van baie mense, tekort te midde van oorvloed. Hy gebruik baie waterbeelde in sy poësie.
In 1987 skryf hy ’n gedig “Skerpskutter” en stuur dit in vir die wedstryd Anastasia del Pino Memorial, wat vanaf die Karibiese Eilande georganiseer is, en hy is een van elf wenners van die Pankrátor Poeta Germán Pardo Garío-prys. Sy gedig is in ’n internasionale bundel opgeneem. Hy ontvang ook ’n Avanti-toekenning vir sy draaiboek oor die lewe van Ingrid Jonker, getiteld Verdrinkte hande.
Oor Snel grys fantoom (1986) skryf Joan Hambidge in Die Burger van 10 Desember 1986 dat dit ’n indrukwekkende en kragtige bundel is wat Johann as toonaangewende digter van die jare tagtig vestig. “Terwyl daar nog iets eteries, en selfs ‘esteties’, aanwesig is in sy eerste twee bundels, is hierdie ’n driftige bundel. Die digter het as ’t ware nou sy ‘eie stem’ gevind en die menslike paradokse (lewe/dood) word met dieselfde kompromislose aggressie ontgin as by Sylvia Plath.”
JC Kannemeyer laat hom as volg uit oor
Wordende naak (1990): “Alhoewel ’n mens voel dat De Lange nie altyd daarin geslaag het om alle literêre verwysings in
Wordende naak sinvol in sy eie verse te benut nie en ’n kragtiger stem dikwels sy eie woord verdof, toon die bundel in sy geheel met die sterk vormgewing en beeldende vermoë ’n vooruitgang op
Snel grys fantoom. Die eksplisiete beelding van sy eerste bundel en die estetisering wat
Waterwoestyn en sy digterskap as sodanig bedreig het, is hier heeltemal afwesig.”
TT Cloete beskou Wordende naak as Johann se beste bundel tot dan en ’n baie groot vooruitgang in sy werk. Dit is ’n besonderse bydrae tot die Afrikaanse poësie van ons tyd: “Dit is in een enkele sin ’n bundel van goedversorgde, delikate, diepsinnige en uiters mooi verse. Slegs enkele korter gedigte weeg nie op teen die meerderheid nie, maar die uitstekende bundel kan hulle verdra.”
Na die ontvangs van die Rapport-prys in 1990 vertel Johann aan Hans Pienaar in Rapport van 5 Mei 1991 dat hy verras was om die prys te kry, en dat dit vir hom baie bemoedigend is dat ’n establishment-koerant ’n digter soos hy bekroon. Sy digkuns dra wel die uniform van konvensie, omdat dit “konvensionele poësie met streng ryme en ritmes naboots”, maar dis tog in ’n mate subversief.
Nagsweet was voor publikasie al in omstredenheid gehul. Die titel is twee maal verander voordat daar op Nagsweet besluit is. Tafelberg Uitgewers het die bundel afgekeur nadat dit reeds vir publikasie aanvaar is, vanweë die Walter Battiss-waterverfskildery op die omslag wat ’n taamlik realistiese afbeelding van ’n penis toon. Johan vertel dat hy besluit het om die waterverf van Battiss as omslag te gebruik. “Dit bestaan uit twee panele wat elk die naakte onderlyf van ’n man uitbeeld – toevallig albei gekleurd. Ek het uit elkeen van die panele ’n man gekies vir die voor- en agterblad. Ek kan nie sien dat ’n kunswerk van Battiss, ongeag die erotiese inhoud daarvan, enigsins aanstootlik of obseen kan wees nie.” Johann was bereid om twee alternatiewe omslae voor te lê, maar Tafelberg het die voorstelle verwerp en daarop aangedring dat die boek gewoon ’n tipografiese omslag kry. Hy het toe besluit om sy bundel elders te laat uitgee en Taurus het dit in 1991 gepubliseer.
AP Grové skryf oor Vleiswond (1993): “Daar is gedigte in hierdie bundel wat beeldend nie oortuig nie, ander wat kru momente bevat, maar daar is ook genoeg mooi gedigte in die bundel, genoeg talent aanwesig om die digterskap te bevestig wat ons uit die vorige werk van De Lange leer ken het.”
De Lange put sy inspirasie nie uit boeke nie, maar uit musiek: “Musiek was nog altyd nader aan die polsslag van ’n beskawing en uiteraard eerste om die tekens en simbole van daardie beskawing te absorbeer en weer te gee.” Die digters wat hom in sy vroeë jare die meeste beïnvloed het, was Sylvia Plath, Ingrid Jonker, Arthur Rimbaud, Dylan Thomas en die sanger-digter Leonard Cohen. Hy sê dat hy feitlik alles lees wat voorkom. “Ek is verslaaf aan rillers, speurverhale en ‘legal thrillers’.”
In ’n onderhoud met Hennie Aucamp op LitNet vertel Johann dat hy betreklik laat in sy lewe begin het om die kortverhaal in alle erns te beoefen. “Dit was altyd die poësie wat ’n sentrale plek in my lewe ingeneem het. Ek herinner my egter dat ek op skool al prosa geskryf het, onder aanmoediging van my onderwysers. [...] Die boek wat my op hoërskool prosa wou laat skryf, was Die eerste lewe van Colet. Ek dink ek kon my seksuele verwardheid en frustrasie herken in die karakter van Colet. Ek het terstond ook ’n ‘psigologiese’ novelle geskryf, gelaai met simboliek en seksuele neurose, met ’n goeie klap weg van Die son struikel. As ek vandag na die manuskrip kyk, hervind ek weer daardie kind. Daarom kon ek dit nog nooit weggee nie. Wat ek wil sê, is dit: ek het dikwels my neuroses in prosa laat uitspeel, maar nooit in die poësie nie. Dit was vir my ’n verhewe medium.”
Hy vertel verder hoe hy, toe hy prosa begin skryf het, weer moes leer loop. Hy het prosahandleidings bestudeer, want hy het oorweldig gevoel deur die oormaat van woorde en die blote logistiek wat prosa vereis. “Ek dink my sin vir vorm en vir die gewig van die enkele woord wat ek van die poësie het, het wel gehelp dat ek die kortverhaal vinniger onder die knie kry. Maar ek moes steeds van voor begin.”
In sy vrye tyd vertaal Johann gedigte van onder meer Wilma Stockenström, Sheila Cussons, Antjie Krog, Lucas Malan en Ernst van Heerden. Van sy vertalings is in plaaslike en oorsese publikasies opgeneem. In 1988 ontvang hy eervolle vermelding vir sy vertalings van Stockenström se gedigte in ’n kompetisie wat deur die English Academy of South Africa uitgeskryf is. In 2007 publiseer Human & Rousseau The wisdom of water, ’n vertaling van Stockenström se gedigte deur Johann, en skryf Tim Huisamen in die voorwoord: “Johann de Lange is an excellent poet; here he reveals himself as an excellent translator, especially if the intrinsic complexity of the poetry is taken into account. His translations are not only very accurate, but keep what is most difficult to capture - a sense of the poetic in tone, in rhythm.”
Maar Johan sien homself nie as ’n vertaler nie – dit is slegs vingeroefeninge vir die tye wanneer hy nie self skryf nie. “Ek is ’n liefhebber van vertaling. ’n Lekkerbek-vertaler wat net my persoonlike gunsteling-digters se werk vertaal – dit sluit in Sheila Cussons, NP Van Wyk Louw en die Britse digter Philip Larkin. Daar is iets magies aan die transformasieproses van vertaling.”
Hy sê in Die Burger van 24 Julie 2007 dat hy die vertaling van gedigte gelykstel aan die werk van ‘n kunstenaar wat die meesters se werk kopieer. “André Brink het jare gelede gesê as ’n mens van ’n gedig hou, moet jy probeer vasstel waarom jy daarvan hou en hoe die digter dit geskep het. In die vertaalproses haal ek die gedig uitmekaar. Dié proses help my om dit beter te verstaan.”
Hy vertel aan Joan Hambidge in Insig van September 1990 dat dit ’n mite is dat skryf, en meer spesifiek die digproses, ’n mens gelukkig maak. Hy glo dat dit eerder ’n mens se lewe kompliseer. “Vir eers omdat die digter gekonfronteer word met onverwerkte konflikte en tweedens omdat mense aangetrokke raak tot die digter-persona – net om uit te vind dat die digter nie die mens is wat die leser hom voorgestel het nie.”
Johann erken teenoor Hennie Aucamp dat die genre wat hy graag sou wou probeer, die drama is. “Die paar kere wat ek rakelings daarmee te doen gehad het, was baie stimulerend. Dit is in ’n sin die antitese van gedigte skryf. Die drama is nie privaat nie, hy betrek ’n gehoor op ’n meer direkte wyse as die poësie. [...] Wat my tot dusver daarvan weerhou het, is die feit dat ’n mens nie die drama ‘on the side’ kan doen as jy ’n sukses daarvan wil maak nie; dit moet jou primêre medium wees. En ek is nie bereid om van die poësie afstand te doen nie.”
Johann vertel dat as hy oor iets wil skryf, hy hom gewoonlik daarin onderdompel en dan tot die uiterste gaan. “Byvoorbeeld in die tyd van Nagsweet het ek kompulsief ge-cruise – dag en nag, naweke, in die etensuur – net konstant ge-cruise. En toe die boek uitgekom het, het ek belangstelling daarin verloor. Toe’t ek ’n ander kompulsie gesoek. En ek het toe ingeval by die rave-kultuur so in 1998 se kant rond. En toe het ek begin om die hele alfabet (dwelms) te doen, want ek het eintlik, ek was aangedraai, nuuskierig, veral met psigedeliese goed, ek dink ’n mens kan geweldig baie léér as jy nie net hedonisties ingestel is nie. Toe het ek my daarin onderdompel, en Tweede natuur het daaruit gekom.
“Ek wou vreeslik graag ’n digbundel maak, maar ek kon nie ’n vorm kry om daaroor te skryf in gedigte nie; dit wou net nie wérk nie. Maar dit is seker nou vyf jaar wat ek nie meer indulge nie. Miskien is dit ook waarom ek gevoel het ek is nou klaar, want ek het nie meer ’n kompulsie wat my aandryf nie.”
’n Nuwe bundel poësie, Die algebra van nood, verskyn in Februarie 2009, en daarmee verbreek De Lange ’n digterlike stilte van dertien jaar. Oor die lang stilswye sê hy: “Ek het nooit ophou skryf nie, ek het net belangstelling verloor in publiseer. Dit klink vreemd, maar hoe langer jy uitgestel het, hoe moeiliker het dit geword om te begin dink aan sit en ’n boek bymekaarbring. Toe het ek vir Human & Rousseau gevra of hulle belang sou stel om ’n keuse uit my bestaande bundels uit te gee. Want ek het basies gevoel – wérklik gevoel – dis klaar, ek is uitgeskryf. En toe het hulle gesê hulle sal ’n keuse uitgee, maar dan wil hulle twintig nuwe gedigte hê – net om die bundel darem interessant te maak vir kopers.”
Johann het ’n “k-khuis” vol gedigte op sy rekenaar gehad en het van hulle aan Henning Snyman gestuur sodat hy Johann kon help om twintig uit te kies. Snyman se bevinding was egter dat daar genoeg is vir ’n hele bundel. “Ek het werklik nie gedink daar is nog ’n bundel in [nie] ... jy bereik ’n punt waar jy voel jy het eintlik alles gesê wat jy wou sê.”
Die omslag van Die algebra van nood is deur Christiaan Diedericks ontwerp. Daarop is ’n ets van Johann wat sy kop in sy sterk hande vashou. “Diedericks het vir my ’n ets gemaak van ’n foto af. Ek het die etsplaat gesien. Dit moes úre en dáé gevat het. Dis van ’n foto wat ek sommer self met my Mac geneem het met daai ingeboude kameralensie. Ek het baie keer net as ek so sit en bored is, sit en foto’tjies neem. Van my, of van my en die kat.
“Die titel kom van William Burroughs se The algebra of need wat gaan oor die verhouding tussen die junkie en die dealer en daai soort van ’n wiskunde van nood: Beyond a certain frequency need knows absolutely no limit or control,” vertel Johann. “En daarom het ek die spuitnaald ingewerk. Om net daai suggestie van need te ondervang, en natuurlik die hele kode van dwelmgebruik, waaroor daar ’n afdeling (‘Bedrieglike paradyse’) is. Hopelik is daar in hierdie foto iets van die aftakeling van die jare. Miskien.” Hy voel dat poësielesers ’n tough breed is en dat hulle nie deur die omslag afgeskrik sal word nie. “Ek sien dit nie as donker nie, ek sien dit meer as introspeksie.”
Ampie Coetzee meen dat Die algebra van nood nie veel noemenswaardige gedigte bevat nie en hoewel daar metafore is wat slaag en intuïtief beelde skep, daar ook beelde is wat te uitgedink is, “eerder kognitief as intuïtief”.
Marthinus Beukes skryf dat die digter die leser lei om die menslike toestand van pyn, verlies en nood te lees teen ’n estetiese geheel van die agt bundelafdelings. “In Die algebra van nood wil De Lange byna die gebrokenheid wat veroorsaak is deur pyn, herkonstrueer of herstel in ’n berekende en deurgekomponeerde bundel: ’n eienskap kenmerkend van hierdie bekroonde digter. [...] Met Die algebra van nood bevestig De Lange sy belangrike stem in die Afrikaanse poësie. Nie alleen is sy homo-erotiese verse ’n blywende bydrae tot queerverse nie, maar getuig sy fyn gestruktureerde gedigte en vormtug van ’n invloedryke stem in Afrikaans. Hy demonstreer dat sy digkuns ’n jukstaposisie van aarselende soeke en sekere vind is van die nuanses van bestaan. Die ritme van sy verse pols verder as die noodvrees van verlies en die dood se spore.”
Zandra Bezuidenhout meen dat Johann se trefseker aanwending van woord- en reëlbreuke sorg vir ’n elegante, ritmiese versbeweging en ’n verklanking van die spreker se gedagtegang. “In die geheel bied die onvoorspelbaarheid van die versbou, die inhoude wat wissel van minder tot meer eksplisiet en die rem wat op die emosie geplaas word, voldoende poëtiese pitkos. Die bundel se groter subtiliteit sal in die smaak val van lesers wat die vleesdis voorheen onverteerbaar gevind het.”
Vir Bernard Odendaal het Johann met Die algebra van nood indrukwekkend op sy vorige werk voortgebou.
Johann het, soos vroeër genoem, self gemeen dat hy uitgeskryf is en dat die hoop gedigte in sy spreekwoordelike laai almal duds was. Hy het hulle beskou as “floue skadu’s” van wat hy wóú sê. Maar tog het hy gereeld na hulle teruggegaan om “met ’n stok te por aan die karkas om te kyk of daar nie tóg lewe in is nie”. En het hy ook telkens ietsie verander, partykeer heelwat, soms net ’n leesteken.
Toe Henning Snyman deur die gedigte gaan en sê dat daar tog ’n bundel in is, en daarby ’n góéie bundel, “[t]oe moes ek die engel uit die klip verlos, wat geen ligte taak was nie, maar dit was heerlik om weer geïnspireerd te werk. Intense werk het gevolg,” vertel Johann.
Ten spyte van sommige negatiewe resensies het Die algebra van nood uiteindelik tot sy reg gekom op ’n manier wat Johann nie in sy wildste fantasieë sou kon voorsien het nie. “Ek dink trouens heelwat mense ly nóú (2012) nog aan skok dat ek die Hertzog-prys vir die bundel gekry het, een van hulle is ek. Benewens steun van Henning en Joan Hambidge was dit André Brink se reaksie op die bladproewe wat ek vir hom gestuur het in ’n e-pos wat my laat glo het ek is wél op die regte spoor. Dié bekroning is die eerste keer sedert 1937 met ID du Plessis se bekroning vir Vreemde liefde dat die Hertzog-prys aan ’n gay digter/bundel toegeken word. Ek neem die prys eweneens in ontvangs namens die generasie van Tagtig wat, met die uitsondering van Etienne van Heerden, tot dusver grootliks verwaarloos en oor die hoof gesien is.”
André Brink het geskryf: “Nie ’n ‘bespreking’ nie. Net ’n dankiesê. Vir wat, dink ek al meer, waarskynlik die beste is wat jy nog geskryf het. Jisses, dis mooi! Die soek na heiligheid en skoon-heid, die visenteer van skaduwees, die verkenningstogte deur die dood, die altyd bewus bly van verganklikheid, die deernis met menswees, die in-dig na die pit toe – tot in die kleinste verse, soos die groot ‘Rembrandt’, die odes en palinodes, die her-dink en óór-dink en deur-dink van vroeër digters ... Dit alles is ’n fees van herkenning, en tegelyk van nuwe kennismaking. (...)
“Nie vir ’n oomblik hoef jy bekommerd te wees oor trefsekerheid nie. Dis ’n glansende bundel dié. En daarom, regtig, net DANKIE. (My enigste werklike jammerte is dat ek dit nie vroeër kon gesien het om in te sluit in die nuwe Verseboek wat nou by die drukker is nie. Maar uiteindelik maak dit seker nie saak nie: hy kan rustig en gloeiend wag op die volgende.)
“Daarom hoop ek dat jy sal vergewe dat dit nie ’n deurdagte besinning is dié soos wat jy ongetwyfeld verdien nie. Maar die dankie kom uit die hart uit. Ek kan nie wag om dit in my hande te hou nie.”
Na Die algebra van nood word Judasoog: ’n keur uit die gedigte van Johann de Lange deur homself saamgestel. Naas gedigte uit sy agt digbundels sedert sy debuut met Akwarelle van die dors in 1982 is daar ook n tiental nuwe verse aan die einde.
Marius Crous skryf dat die titel van die versameling ter sprake kom in die kort gedig “Loergat” (65) wanneer na die loergat tussen twee toilette verwys word as ’n judasoog, maar dit roep ook onmiddellik die assosiasie op met Breyten Breytenbach se bundel Judas Eye (1988). Dit is ’n tegniek wat grotendeels by De Lange voorkom wanneer hy die titel vanuit Engels oorsit in Afrikaans en dus binne die nuwe literêre konteks met ander betekenisse laai.
Daar is ook in Johann se gedigte ’n deurlopende gesprekvoering met ander digters en kunstenaars. Die deurlopendste gesprek is beslis met digtersfigure soos Sheila Cussons, Van Wyk Louw en Joan Hambidge, wat op haar beurt weer terugskryf na die De Lange-teks en so ’n broer-suster-relasie (in Bloom se terminologie) aktiveer, volgens Crous.
Crous meen dat Johann bekend is as die openhartigste digter in Afrikaans wanneer dit kom by die skryf van verse oor gay-seksualiteit. “By hom is daar nie ’n versluiering van die fallus nie.” Daar bestaan egter nie eenstemmigheid oor hierdie aspek van sy poësie nie en sommige kritici maak dit af as gay-kitsch. Daar moet egter toegegee word dat De Lange oor die vermoë beskik om, naas hierdie oopgevlekte realisme, vorendag te kan kom met van die roerendste en mooiste natuurmetaforiek in Afrikaans. Vormvas en bedrewe is die beoefening van die poësie by hom.
Crous sluit sy bespreking af: “Die slotgedig is ‘Aandlied’, waarin die digter sy eie sterflikheid besing en in ’n memento mori besin oor sy dood. Laasgenoemde is myns insiens een van die sterkste temas in De Lange se werk; naamlik die besing van die aftakeling van die menslike liggaam in kontras met die volmaakte liggame van die jong seksgodjies in die klubs en op die internet.
“Ek is Human & Rousseau ewig dankbaar vir hierdie versamelde gedigte, want nou is van die klassieke De Lange-verse weer beskikbaar en ’n mens kan sy oeuvre met studente bespreek.”
Joan Hambidge tipeer Johann de Lange se ryk-geskakeerde digkuns as “akwarelle van die dors”. Dit is ’n digkuns van paradoks, van onvervulling, en juis hierom is daar ’n intense belewing van die oomblik en die skoonheid in verval.
Hambidge skryf: “’n Mens sou De Lange se poësie onder verskillende noemers kon plaas: die verhouding met die gestorwe vader wat soos ’n herhalingsdrang deur die hele oeuvre beweeg (die digkuns en prosa), die gesprek met Ingrid Jonker, Sheila Cussons en NP Van Wyk Louw. Die digter word (verkeerdelik) as gay-digter getipeer. Hy het van die sterkste verse oor die tema in Afrikaans gelewer (veral in Nagsweet), maar De Lange het ’n Januskant. Hy is sowel cruiser en gay-digter as besinger van die skoonheid. Hierom die gesprekke met en herdigtings van Dickinson, Baudelaire, Rilke, Auden, Edmund White; nader tuis Opperman, TT Cloete, Ina Rousseau en Wilma Stockenström, onder andere.
“Henning Snyman skryf op die agterblad tereg: ‘Binne die geestelike diepgang van sy verse kom die beeld ágter die beeld te voorskyn.’ Dit is ’n raak opsomming van die besondere beeldvermoë.
“Wat hierdie bundel vir die waarderende leser uiters waardevol maak, is die hand vol nuwe verse wat ook by die keur ingesluit is. Hier vind ons openlike gay-gedigte (die een is ’n versweë antwoord aan ’n ander digter) en ’n lieflike vers oor Marilyn Monroe. Daar is ’n vers oor Golgotha waarin die digter die moderne tegnologie aanwend soos Google, SMS, Twitter, blog, en so meer, om te probeer bepaal hoe die moderne mediabehepte mens op die fenomeen Jesus Christus sou reageer.
“Bekende digterlike temas tref ons hier aan: die liefde, dood, kortstondigheid van ons bestaan, die verhouding met die werklike en digterlike ouers, die ‘naakte algebra’ van die gay-bestaan, gedigte oor dwelms en vigs, verse oor ikone (soos Monroe, Kurt Cobain) en so meer. ’n Mens is opnuut onder die indruk van die digter se besonderse vermoë om die gedig op ’n sekure slot af te stuur:
Ek soek in die falende lig
na die slot van my gedig (126, Slot).”
Hambidge beskryf Johann ook as ’n begenadigde vertaler en ’n besónderse kortverhaalskrywer, maar dit is in sy digkuns waar die leser onder die indruk van ’n suiwerheid kom:
Die sagste wat ons het, die taal
bestaan solank ons asemhaal. (“Taal”, bl 123)
Snyman meen dat De Lange se oeuvre feitlik ’n register van emosies word, fel en diep. En dit is presies soos dit vir Hambidge ook is.
Terwyl Johann aan verse gewerk het wat uiteindelik sy volgende bundel, Vaarwel, my effens bevlekte held, sou word, het hy besluit om kwatryne te skryf, nie vir publikasie nie, maar “net om weer in shape te kom, te leer bondig dink en formuleer”. Uiteindelik was daar oor ’n honderd. Hy besluit om die bestes uit te soek en aan Protea Boekhuis te stuur, want Human & Rousseau het toe reeds Vaarwel geskeduleer gehad vir Februarie 2012 en het gevoel dat nog ’n bundel in 2011, ná Algebra in 2009 en Judasoog in 2010, sy mark sou ooreis. Dit is (tot Johann se verbasing én dankbaarheid, want daar kan soveel slaggate in ’n bundel net met kwatryne wees) baie goed ontvang.
Vir Bibi Slippers is die kwatryne vanweë hul lengte nooit intimiderend nie, maar tog verklap die bundel nie al sy geheime met die eerste lees nie. Mens kan terugkeer en weer wonder wat party van die gedigte werklik beteken, terwyl van die reëls jou bybly omdat hulle so presies beskryf en so raak tref.
Hier en daar is effens te veel klank in die reëls gepak, maar dit vergeef ek De Lange maklik. Die beperking wat hy homself in hierdie bundel gewillig oplê, dryf hom tot kreatiewe uiterstes, wat my as leser opnuut verras en vermaak het.
Johann erken self teenoor Slippers dat kwatrynbundels, of enige bundel waarin ál die gedigte dieselfde vorm het, maklik eentonig kan raak en hy het daarvoor probeer vergoed deur ’n groter verskeidenheid temas te dek, die rymskemas af te wissel en bietjie met die vorm te speel. Nie al die gedigte is kwatryne in die streng sin van die woord nie. Baie is iets tussen ’n epigram, ’n epifanie, en ’n haikoe.
Slippers wou by Johann weet of die proses van kwatryne skryf anders was as by dié van sy vorige bundels, waarin hy verskeie ander vorme beoefen het: “Daar is geen verskil tussen die skryf van ’n kwatryn, ’n sonnet en ’n vrye vers nie. Elke vorm het ánder eise, ja, maar jy skryf nie vinniger of makliker aan die een as aan die ander nie. Soms is jy gelukkig en kom ’n gedig byna voltooid op jou af, maar dis só selde, dat mens nie jou loopbaan daarop kan bou nie. Die langste wat ek nog aan ’n gedig gewerk het, is nege jaar, en dit was ’n kwatryn! Baie frustrerend, maar die vreugde toe dit uiteindelik regkom, was eufories. Ek gooi baie gedigte in my laai (of in rekenaarterme gooi ek hulle in ’n legger) as hulle nie wil lóóp nie; ek glo nie daaraan om ’n vers te forseer nie. Maar ek probeer een keer ’n jaar na sulke gedigte terug te keer om te kyk of hulle al ontwikkel het. Soms kan ek net ’n woord verander, of ’n leesteken, maar dit pla nie. Sommige gedigte kom egter nooit reg nie, en ek het vrede daarmee. Die beste reëls uit sulke gefaalde verse word hersirkuleer in nuwe verse. Niks gaan verlore nie.
“Wat Weerlig van die ongeloof aanbetref, het ek baie van die kwatryne in finale vorm gedroom. Ek ervaar dikwels ‘lucid dreaming’, waartydens ek bewus word daarvan dat ek droom en dan werk ek so vinnig as wat ek kan aan die kwatryn voordat ek wakker word. Sodra ek wakker word, tik ek dit vinnig op my selfoon in en slaap verder. Ek het ook die titelkwatryn van die bundel só gedroom, en dit het my ’n hele tyd geneem om volledig te verstaan wat dit beteken. Drome is ’n belangrike deel van die skeppingsproses vir my. Dit gee toegang tot inhoude wat andersins ontoeganklik bly.”
Die omslae van Johann se bundels is feitlik almal, van die vroegstes tot die heel nuutstes, besonders. Hy het met die uitsondering van sy debuutbundel, Akwarelle van die dors, en Judasoog, wat deel uitmaak van ’n reeks bundels deur Human & Rousseau wat almal dieselfde uitleg het, ál sy boeke se omslae sélf gekies en in sommige gevalle met die kunstenaars saamgewerk wanneer iets spesiaal vir die boek gemaak is. Op die voorblad van Die algebra van nood is ’n ets deur Chris Diedericks en op Weerlig van die ongeloof se omslag ’n baie mooi skets van Judith Mason.
“Ek is gelukkig daarin en baie dankbaar dat my uitgewers my só ter wille is en my toelaat om betrokke te raak. Vir my begin ’n boek by die omslag – dit is waar jy die eerste kodes aan die leser deurgee. Die oog op Weerlig is belangrik omdat die visuele belangrik is by die kwatrynvorm – dit onderstreep die fokus, die konsentrasie op besonderhede en die verheldering, die insig wat volg.
“Ek is van laerskooljare af al gek oor Judith Mason se werk en ek sou iets van haar op élke boek van my kon sit. Sy is vir my een van die grootste kunstenaars wat ons land nog opgelewer het. Die omslagkunswerk van Weerlig van die ongeloof is in die besit van haar dogter, Petra, en ek sou wát wou gee om dit te kon besit. Haar potloodwerk het vir my plaaslik geen gelyke nie. Die boek as estetiese objek is iets wat ek by Hennie Aucamp aangeleer het. Sy boeke en sy smaak in kuns is altyd onberispelik.”
Johann se mees onlangse bundel (Februarie 2012) is getiteld Vaarwel, my effens bevlekte held. Dit bevat 70 gedigte, onder andere sy vertaling van Auden se “The platonic blow”. Die omslag is weer eens ’n kunswerk van Chris Diedericks en hy self is baie gelukkig met die boek.
Die gedigte getuig van ’n gevoeligheid en ’n diepte soos nog nie vantevore by hierdie digter nie. Met sy fokus op die mens én die natuur, boei De Lange die leser opnuut in toeganklike verse wat wissel van die elegiese tot die sardoniese. Die erns van die menslike drama van leef en sterf word telkens verlig met heerlike humor. Maar alhoewel die ironie aan die een kant spreek van onthulling, spreek dit andersyds van deernis.
Temas sluit in vryheid, afstand, skoonheid, dood, pyn, verlies, religie, seks. Van die erotiese gedigte spreek besonder sterk van die intensiteit van menslike verlange en eensaamheid. En oor alles heers die woord, delikaat en kragtig gehanteer.
Henning Snyman skryf in sy keurverslag: “Niks staan verskuil vir die woord nie, geen ruimte kan onverken bly as die woord heers nie. So is dit in hierdie bundel met sy kaleidoskoop van woorde. Met gedigte so fyn verwerk soos hierdie, is dit telkens of die papier ruimte skep vir die woord en skugter terugstaan, wit agtergrond vir die woord. Elke woord dra betekenis en elke woord be-teken. Die woorde is nie indringerig nie, ook nie vertonerig en verwaand nie, dit is egter ook nie beskeie nie, maar versigtig selfversekerd.
“Tematies val die gedigte uiteen in sewe afdelings, maar in elke afdeling word die leser telkens daaraan herinner dat die woord, sover dit die mens betref, eindig is. Tog, die getal sewe dui op die oneindigheid van die woord. Hierdie kontras kan gelees word as ’n deurlopende leitmotif vir die bundel. In feitlik al die gedigte is daar patrone van kontras: soms skerp, soms so subtiel dat dit ’n fluistering in die gedig is, skaars hoorbaar.
Die erns, en die intense menslike drama van leef en sterf, word telkens afgewissel met heerlike humor, dikwels sardonies. ’n Groot wins in hierdie bundel is die sterk rol van die ironie. Soos die ironie, vanuit sy aard, enersyds spreek van onthulling, spreek dit andersyds met deernis. Nog nooit vantevore het De Lange se gedigte soveel deernis én soveel skerpheid openbaar soos in hierdie nuwe bundel nie. En dit is waaroor ironie gaan – ‘Der Geist der stets verneint’ in Goethe se woorde. (...)
“In De Lange se vroeëre werk was daar soms nog te veel selfbewustheid, maar hier is dit die digter wat vry is en wat in staat is om selfs die diepste betrokkenheid by ’n gedig aan te bied met die suiwerheid van die woord as die hoogste goed. (...) Juis hierdie aspek val so sterk op in hierdie bundel: vryheid en dus afstand. Ook die woord word hierdeur die kans gegee om homself te laat geld. Lewe, skoonheid, pyn, religie - alles kry ’n onderdak in hierdie verse. Nie in ’n gefragmenteerde sin nie, maar in ’n geheel wat getuig van kontras en eenheid, bowe-al van woord- en digterlike integriteit.
“Die natuurwaarneming in hierdie tekste is besonder fyn en noukeurig. Dit word verwerk binne die teks en die tematiek. Deur die afstand van die digter wat bevry word van ‘de gekrulde ik’ (Hugo Brems se uitdrukking), word die objek van buite soomloos verweef met die objek van binne. Op hierdie manier word ook die natuur draer van die menslike wêreld, en is dit openbarend vir die begrip van volle menswees.
“De Lange slaag in die kuns om die ontstellende so aan te bied dat dit deur die presisie van woordkeuse nog meer ontstellend word. Die banale word deur die woord ‘gereinig’, iets helaas waarvan ons jong digters nog geen begrip het nie.
“Die bundel bevat ’n hele aantal erotiese verse, maar nie oorheersend so nie. Die erotiese verse is deurgaans onder die mag van die integere woord en spreek dus verby die bloot erotiese konsepte waarbinne die gedig funksioneer. Van hierdie gedigte spreek besonder sterk oor die intensiteit van menslike verlange en eensaamheid. Hierdie verse staan geensins terug vir die res van die gedigte nie, en word trouens so geplaas in die bundeleenheid dat hulle in gesprek gaan met die ander tekste in dieselfde afdeling, en in die bundelgeheel.
“Die bundel getuig van ’n gevoeligheid en ’n diepte soos nog nie vantevore by hierdie digter nie. Die soort stillewe-gedigte en die feitlik miniatuuragtige verse is van die kragtigste omdat elke woord so veelseggend is. Vaarwel, my effens bevlekte held is ’n besondere bundel, meelewend én gedistansieerd, innig én kontrasterend, met humor én wrangheid, met beelding én ironie. En oor alles: die woord so delikaat en kragtig gehanteer dat dit feitlik spontaan oorneem by die digter. Ek meen dat Johann de Lange tans die beste digter in Afrikaans is.”
Volgens Francois Smith, wat ook ’n keurder van Vaarwel, my effens bevlekte held was, dra die bundel die skadu van die dood. Vyf van die sewe afdelings is in ’n mindere of meerdere mate elegies van aard, of die spreker in die gedigte is “denkend aan die dood”. Selfs in die sterk erotiese afdeling “Sleeping with the past” is die erotiek meestal gekoppel aan verlies. Die manuskrip was vir Smith ook ’n bevestiging van die opvatting dat daar min dinge is wat die verbeelding aktiveer soos die dood.
Wat wel vir Smith nuut is in die poësie van Johann, is die religieuse dimensie, al is dit soms net ’n perspektief op ’n Bybelse gegewe.
Oor sy gunstelingdigters sê Johann: “Ek sou bladsye kon volmaak met gunsteling-digters, maar ek kan ’n klompie identifiseer wat gedien het (en steeds dien) as voorbeelde vir my, as die soort perfeksie waarna ek streef. Digters soos Philip Larkin, Thom Gunn, Seamus Heaney, TS Eliot, Gerard Manley Hopkins, Ciaran Carson, Derek Mahon, Paul Muldoon, Don Paterson, Christoper Logue, Emily Dickinson, Ted Hughes, WH Auden, Adrienne Rich, Gregory Orr, Denise Levertov, Derek Walcott, Marianne Moore, Kay Ryan, Elizabeth Bishop, Michael Donaghy, Stanley Kunitz, Ted Kooser en Tony Hoagland, om maar net ’n paar te noem. Ek lees elke dag van my lewe poësie en het om en by 40 000 gedigte wat ek oor die jare afgelaai het.”
Johann vertel dat hy spyt is baie oor só baie dinge: “Mense wat ek te na gekom het, verál toe ek jonk was, geleenthede wat ek nie aangegryp het nie, projekte wat ek nie deurgevoer het nie. En verál dat ek nie hard genoeg gewerk het as skrywer nie. My gees was vir ’n té lang tyd die slaaf van my lyf. Ek het my aptyte soms onoordeelkundig nagejaag, maar ek wil glo dat ek met ’n ompad tóg uitgekom het waar ek wou wees, min of meer.”
Teenoor By, die Saterdag-bylae by Die Burger, Beeld en Volksblad, erken Johann dat hy op sy gelukkigste was die tyd toe hy met xtc en psigedeliese dwelms geëksperimenteer het. “Dit was ’n tydperk van geweldige groei. Ek het aspekte van myself ontdek wat andersins afgesluit sou gebly het en vir die eerste keer verstaan hoe kreatiwiteit werk, hoe táál werk.”
As dit by skryfwerk kom, is daar heelwat waarmee Johann hom oor die volgende jaar of wat gaan besig hou. Hy het nóg ’n manuskrip voltooi, een wat uitsluitlik bestaan uit optelgedigte, sogenaamde “found poetry”. Die titel daarvan is Op ’n bladsy geskeur uit ’n boek. “Of ek ’n uitgewer sal kry wat daarvoor kans sal sien in hierdie tye van ’n backlash teen die postmodernisme waarin bundels deesdae met voetnotas, verduidelikings en verontskuldigings verskyn, val te betwyfel.
“In Augustus volgende verjaar verskyn my dagboeke vir die jare 1993-1998, onder die titel Gulp. Dis ’n boek waaroor ek vir die eerste keer sedert Nagsweet weer twyfel. Ek weet nie of dit ’n geval is van die duiwel wat op sy oudag vroom raak nie, maar die hersien daarvan is nie vir my ’n aangename aktiwiteit nie. Al wat ek daaroor wil sê, is dat dit nie vir lesers met delikate gestelle is nie.”
Publikasies
|
Publikasie
|
Akwarelle van die dors
|
|
Publikasiedatum
|
1982
|
|
ISBN
|
0798114460 (hb)
|
|
Uitgewer
|
Kaapstad: Human & Rousseau
|
|
Literêre vorm
|
Poësie
|
|
Pryse toegeken
|
Ingrid Jonker-prys 1982
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
–
|
|
Publikasie
|
Waterwoestyn
|
|
Publikasiedatum
|
1984
|
|
ISBN
|
0798117478 (hb)
|
|
Uitgewer
|
Kaapstad: Human & Rousseau
|
|
Literêre vorm
|
Poësie
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
–
|
|
Publikasie
|
Snel grys fantoom
|
|
Publikasiedatum
|
1986
|
|
ISBN
|
0798119705 (hb)
|
|
Uitgewer
|
Kaapstad: Human & Rousseau
|
|
Literêre vorm
|
Poësie
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
|
|
Publikasie
|
Wordende naak
|
|
Publikasiedatum
|
1990
|
|
ISBN
|
0798629878 (sb)
|
|
Uitgewer
|
Pretoria: HAUM-Literêr
|
|
Literêre vorm
|
Poësie
|
|
Pryse toegeken
|
Rapport-prys 1990
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
|
|
Publikasie
|
Nagsweet
|
|
Publikasiedatum
|
1991
|
|
ISBN
|
0947046364 (sb)
|
|
Uitgewer
|
Kaapstad: Tafelberg
|
|
Literêre vorm
|
Poësie
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
|
|
Publikasie
|
Vleiswond
|
|
Publikasiedatum
|
1993
|
|
ISBN
|
0798131985 (sb)
|
|
Uitgewer
|
Kaapstad: Human & Rousseau
|
|
Literêre vorm
|
Poësie
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
|
|
Publikasie
|
Wat sag is vergaan
|
|
Publikasiedatum
|
1995
|
|
ISBN
|
0798134852 (sb)
|
|
Uitgewer
|
Kaapstad: Human & Rousseau
|
|
Literêre vorm
|
Poësie
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
|
|
Publikasie
|
Vreemder as fiksie en ander kontrafeitsels
|
|
Publikasiedatum
|
1996
|
|
ISBN
|
0798136138 (sb)
|
|
Uitgewer
|
Kaapstad: Human & Rousseau
|
|
Literêre vorm
|
Kortverhale
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
|
|
Publikasie
|
Tweede natuur
|
|
Publikasiedatum
|
2000
|
|
ISBN
|
0624039234 (sb)
|
|
Uitgewer
|
Kaapstad: Homeros
|
|
Literêre vorm
|
Kortverhale
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
|
|
Publikasie
|
Die algebra van nood
|
|
Publikasiedatum
|
2009
|
|
ISBN
|
9780798150484 (sb)
|
|
Uitgewer
|
Kaapstad: Human & Rousseau
|
|
Literêre vorm
|
Poësie
|
|
Pryse toegeken
|
Hertzogprys 2011
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
|
|
Publikasie
|
Judasoog: ’n keur uit die gedigte van Johann de Lange
|
|
Publikasiedatum
|
2010
|
|
ISBN
|
9780798151498 (sb)
|
|
Uitgewer
|
Kaapstad: Human & Rousseau
|
|
Literêre vorm
|
Poësie
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
|
|
Publikasie
|
Weerlig van die ongeloof
|
|
Publikasiedatum
|
2011
|
|
ISBN
|
9781869194512 (sb)
|
|
Uitgewer
|
Pretoria: Protea Boekhuis
|
|
Literêre vorm
|
Poësie
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
|
|
Publikasie
|
Vaarwel, my effens bevlekte held
|
|
Publikasiedatum
|
2012
|
|
ISBN
|
9780798156301 (sb)
|
|
Uitgewer
|
Kaapstad: Human Rousseau
|
|
Literêre vorm
|
Poësie
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
|
Johann de Lange as samesteller
Johann de Lange as vertaler
Artikels oor Johann de Lange op die internet
Artikels deur Johann de Lange op die internet