Politieke weerstand en wit verset in Suid-Afrika – die Senekal-episode en die pad vorentoe

  • 12

……

“Senekal verteenwoordig ’n belangrike baken in die herontdekking van identiteit en die bereidwilligheid tot daadwerklike optrede.”

……

16 Oktober 2020 gaan waarskynlik vorentoe as ’n belangrike draaipunt in veral wit politiek, of meer spesifiek witversetpolitiek, beskou word. ’n Nuwe era met andersoortige spelreëls (wat weerstand en verset insluit) gaan in die toekoms sterker na vore tree. Die makrosituasie (scenario) is besig om die spelreëls van politiek in Suid-Afrika dramaties te verander en kan beskou word as een uitkoms van wat as postkantelpuntpolitiek beskryf kan word. (Vergelyk my bydrae “Suid-Afrika by ’n kantelpunt: ’n slegte-saak –scenario”, wat onlangs op LitNet Akademies verskyn het.)

Postkantelpuntpolitiek moet beskou word as die einde van ’n bepaalde era in Suid-Afrikaanse politiek, waarin die de facto-staat (die harde werklikhede van armoede, misdaad, werkloosheid, wetteloosheid, verval, ens) sake dikteer, in teenstelling met die ideale verbonde aan die normatiewe staat oftewel die nuwe Suid-Afrika (menseregte, demokrasie, transformasie, ens). Laasgenoemde word ideaal-tipies voorgestel ingevolge ’n “beter lewe vir almal”. Landsburgers raak toenemend op hulself aangewese en vorme van selfhulp en selfbestuur, maar soms ook vorme van vigilante-optrede (positief en negatief) tree na vore as reaksie op politieke, ekonomiese en maatskaplike toestande binne die groter staat en samelewing. Sommige burgers, veral aan die radikale kant van die politieke spektrum, wend hulle tot vorme van geweld soos diensleweringsproteste, arbeidsonrus en taxigeweld. Sedert 1994 was vorme van politieke geweld bykans uitsluitlik ’n swart verskynsel en was wit politiek op enkele uitsonderings na stelselgeoriënteerd.

Regse politieke mobilisasie, verset en weerstand hang egter ook saam met soortgelyke tendense in die wêreldpolitiek, byvoorbeeld die opkoms of herlewing van regse politieke denke in Europa, Skandinawië en selfs die VSA. In die geval van Suid-Afrika moet sodanige optrede veral teen die eiesoortige agtergrond en omstandighede wat tans hier aan die orde is, beoordeel word. Dit waarna vroeër as die Empiriese Staat verwys is, is hier van toepassing.

Anders as die opkoms van weerstandspolitiek in sommige ander dele van die wêreld, is die tendens hier veral toe te skryf aan omstandighede wat verband hou met ’n falende staat (die onvermoë om wet en orde asook behoorlike dienslewering te waarborg); endemiese en toenemende korrupsie en staatskaping; openlike en onbeskaamde diskriminasie wat wetlik onder die vaandel van transformasie teen wit en ander Suid-Afrikaners, in besonder Afrikaners, toegepas word (byvoorbeeld omgekeerde apartheid); ’n onvermoë van die ANC om die land na behore te regeer (die regeerkundige funksie) en ook te bestuur (die uitvoering van owerheidsfunksies); toenemende misdadigheid, waaronder transitorooftogte wat getuig van die gewapende en militêre aard wat met die beplanning van sodanige optrede gepaard gaan; en die agteruitgang, en soms ineenstorting, van politieke, ekonomiese en maatskaplike strukture binne die groter samelewing en staat. Anders gestel, die “beste grondwet in die wêreld” is betekenisloos as dit nie behoorlik toegepas word nie en raak dan ’n resep vir chaos, anargie en vigilante-optredes.

Bogenoemde omstandighede het ’n kruitvat geskep wat net gewag het op ’n vonk om aan die brand te raak. Die een gewelddadige plaasmoord na die ander was uiteindelik die laaste strooi wat die kameel se rug gebreek het; die vonk wat die kruitvat laat ontvlam het. Gebeure in Hartswater, Normandien en Bronkhorstspruit was in hierdie opsig net die punt van die ysberg. Daar moet beklemtoon word dat groot frustrasie en ontevredenheid ook aan die linkerkant van die politieke spektrum bestaan, wat populisties gemobiliseer word (deur byvoorbeeld die EFF), maar dit is nie die fokus van hierdie aanbieding nie. Na 26 jaar het ’n wal van die nuwe bedeling begin wegkalwe – vir wit, bruin en swart burgers. Die verbrokkeling is versnel deur die onbeholpe hantering van die COVID-19-dinamika deur die regering.

……

“Die uitdaging vir die Afrikaner is of die geskiedkundige teenstelling van ’n erg traumatiese geskiedenis enersyds, en andersyds ’n heroïese verlede ’n grondslag kan bewerkstellig vir die formulering van ’n nuwe toekomsvisie vir die Afrikaner. Die Senekal-episode is ’n baken op hierdie weg.”

……

Diegene, veral wit mense, wat nie die land kon of wil verlaat nie, het vasgeskop: tot hiertoe en nie verder nie; ’n nuwe weg moes gedefinieer word en nuwe antwoorde gevind word. In sekere kringe word daar reeds gepraat oor ’n nuwe toekoms en ’n nuwe bedeling om die vraagstukke van die huidige bedeling te ondervang. Sulke gesprekke, waarby onder meer Afrikaners en byvoorbeeld die Mbeki-stigting betrokke is, is ’n reaksie op verslegtende politieke, ekonomiese en maatskaplike toestande binne Suid-Afrika.

In ander omgewings is toenemende patrone van geweld, byvoorbeeld diensleweringopstande en misdaad, aan die orde van die dag. Wit weerstand en verset begin toenemend deel van hierdie patroon raak, hoewel fisiese geweld nog nie baie sterk na vore getree het nie – ten minste nie op ’n organisatoriese politieke vlak nie.

Die status quo is onder huidige omstandighede nie meer volhoubaar in sy huidige formaat nie (dit geld vir beide die linkerkant en regterkant van die politieke spektrum), en gesprekke met owerheidstrukture (in ’n poging om antwoorde te vind) was onsuksesvol of is baie onsimpatiek hanteer, soos die Cele-voorbeelde ten opsigte van plaasmoorde onlangs bevestig het. Hoe gemaak as die Suid-Afrikaanse Polisiediens, wat na jou veiligheid en belange moet omsien, self by misdadige bedrywighede betrokke is en/of nie aan sake aandag gee wat die veiligheid van die burgery of dele daarvan direk raak nie? Die Suid-Afrikaanse Polisiediens word tans beskou as een van die mees korrupte owerheidsinstellings in Suid-Afrika, met verskeie senior leiers wat ’n misdaadrekord het of met misdade verbind kan word. Bheki Cele en Jackie Selebi is bloot twee voorbeelde in hierdie verband en kan nie as uitsonderings beskou word nie.

Verset en weerstand aan die regterkant van die politieke spektrum loop reeds ’n lang pad saam met die Afrikaner. Geskiedkundige voorbeelde hiervan sluit in die Slagtersnekopstand; die stigting van soveel as 17 onafhanklike Boererepublieke; die Anglo-Boereoorlog; die Rebellie van 1914; die Ossewabrandwag; die stigting van die Afrikanerweerstandsbeweging; genl Constand Viljoen se mobilisering voor die 1994-verkiesing; asook verskeie en uiteenlopende weerstandsgroepe wat na 1994 ontwikkel het, waarvan die Suidlanders, Boere Legioen en letterlik tientalle andere genoem kan word.

Die Senekal-episode het hierdie dikwels versteekte en meer koverte rigting van ons politiek na die oppervlak gebring – ’n lang en gevestigde tradisie wat sedert 1994 meer takties as strategies gefunksioneer het en waarvan die Boeremag se optrede waarskynlik die bekendste politieke weerstand was. (Die beskuldigdes, onder wie Lets Pretorius en sy seuns, moes lang vonnisse uitdien vir aanklagte van optredes wat met hoogverraad verband gehou het en waaraan hulle skuldig bevind is!) In sommige opsigte (vergelykbaar met die dood van Mohamed Bouazizi tydens 17 Desember 2010, toe ’n vonk ontspring het wat later tot die Arabiese Lente gelei het) het die dood van Brendin Horner die sneller verskaf vir gebeure op Senekal waar boere (lees veral Afrikaners) gewelddadig gehandel het tydens hofverrigtinge in Senekal op 3 Oktober 2020. Daarop het waarskynlik die grootste mobilisasie van wit verset sedert 1994, op 16 Oktober 2020 gevolg, gemik teen die regering se hantering van plaasmoorde en ander sake wat met breë landspolitiek verband hou, soos hier bo vermeld. Volgens inligting is ’n sterk veiligheidsmag van die “Boere” by Biddulphsberg geplaas, wat tot aksie sou oorgaan indien die EFF en ander radikale groepe hulle tot wanoptredes sou wend. Die verklaring van hierdie “abnormale optredes” en handelinge is onder meer ook psigologies-histories van aard en verdien om nader ontleed te word.

……

“Soos vir alle Suid-Afrikaners is die toekoms tans ook vir baie Afrikaners in groot onsekerheid gehul. Senekal dui ’n nuwe weg aan – een met verreikende implikasies vir Afrikaners indien dit verkeerd hanteer sou word.”

……

Die Turkse sielkundige Vamik Volkan het by geleentheid soos volg geargumenteer: “[When] large groups regress, which happens when they go through periods of crises or ’new danger or threat of disintegration’ the group goes back and inflames certain shared images of its history.” Die neuropsigologiese patroon van krisis en trauma is een van vernedering, sosiale pyn, verminderde selfbewussyn, verminderende selfregulering – vernietigende gedragswyses, met uitkomste soos ontkenning, onttrekking, woede, geweld, arrogansie en ekshibisionisme. Wat by Senekal gebeur het, moet teen die agtergrond van bogenoemde beoordeel word – ’n psigopolitiese proses met ’n andersoortige beskouing van sake en andersoortige spelreëls as uitkoms.

’n Psigopolitiese denkpatroon, wat binne bogenoemde konteks vorm kan aanneem (en na my oordeel reeds aan die gang is), is ’n geskiedkundige teenstelling, naamlik die plasing van chosen trauma” (fokus op die gevare en risiko’s, beide geskiedkundig en eietyds) teenoor “chosen glory” (die positiewe suksesse of die dinge waaruit hoop geskep kan word). Die psigologies-historiese vertrekpunt is in hierdie geval dat die effek van dekades, en selfs eeue, se vernedering van ’n groep soos die Afrikaners (vgl die Britse besetting van die Kaap en die Groot Trek; die Anglo-Boereoorlog; verengelsing; die armblankevraagstuk en so meer) die “chosen trauma” verskaf waarna vroeër verwys is. Dit word soos volg saamgevat deur die Duitse filosoof Georg Gadamer: “The humiliation Afrikaners experieced, starting with the arrival of the British in 1795, was compounded by unprocessed grief for the losses suffered in the Great Trek (1834–1840s), the two Anglo-Boer wars (1881 and 1899–1902), and the excruciating poverty that followed for decades after the war, leaving them fearing for their survival.”

Selfs meer betekenisvol binne die konteks van “gekose trauma” is die perspektief van Jan Christiaan Smuts ten opsigte van die Afrikaner toe hy die Tweede Wêreldoorlog en die gevolge daarvan vergelyk met dit wat die Boere tydens die Anglo-Boereoorlog getref het: “No part of Europe was so devastated, root and branch, as the Transvaal and the Orange Free State in the South African War. From the battlefield our people returned to a country in ruins – devastated and burned until only nature remained.”

Die huidige politieke omgewing soos hier bo verduidelik heraktiveer hierdie trauma en aktiveer psigopolitiese prosesse soos wat hier uiteengesit is, met weerstand en verset as ’n bepaalde uitkoms. In die woorde van Helene Opperman Lewis (Apartheid: Britain’s bastard child, 2017): “Healing from the wounds of such experience requires restitution of order and meaning in one’s life.”

Senekal en die aanloop tot die Senekal-episode het die weg hiervoor gebaan. Volgens die oordeel van baie is die skeidslyn oorgesteek en staan die Afrikaner en boeregemeenskap nou aan die ander kant van die spreekwoordelike Rubicon – met ’n “restitution of order and meaning” as mikpunt.

……

“Kan hierdie patrone van sikliese geweld, soos veral aangeblaas deur die Malemas van die wêreld, gebreek word en kan ons uit bostaande leer, in die soeke na ’n beter en meer volhoubare toekoms?”

……

Met politieke trauma gereaktiveer, moet antwoorde nou gesoek word en verskuif die fokus na ’n heroïese verlede, met heldefigure soos De Wet en De la Rey, president Paul Kruger, en militêre suksesse soos Bloedrivier, Paardeberg en selfs die Angolese Bosoorlog in meer onlangse tye. Bou die toekoms op die fondasies van ’n heroïese verlede en gebruik dit as grondslag vir die toekoms, word die uitgangspunt. (“Ons is al hier deur”, ooreenkomstig die denkpatroon, “en sal soos in die verlede met leierskap en beplanning die toekoms betree. Hef aan lê voor ...”) Die kontras tussen “gekose trauma” en gekose glorie” bring die behoefte aan leierskap na vore om die weg aan te dui vir die gekose glorie” waarna vroeër verwys is. Laasgenoemde vereis sterk leierskap en strategiese visie – ’n oproep wat die laaste tyd baie sterk op onder andere sosiale media en ander platforms geëggo word.

Die uitsprake van die radikale swart leierskap, met Julius Malema aan die voorpunt (met slagspreuke soos “Kill the boer, kill the farmer” en “one settler one bullet”), asook talle handelinge soos onwettige grondbesettings, plaasmoorde, ander misdade en ’n beoogde wysiging aan die Grondwet (artikel 25), het die kwessie van herstel van orde en betekenisvolheid vir talle Afrikaners en andere tot ’n nuwe historiese breekpunt gedryf. (Vergelyk byvoorbeeld die simboliese laertrek wat op 16 Oktober 2020 met voertuie gedoen is, met 16 Desember as jaarlikse herinneringsdag aan die geskiedkundige Slag van Bloedrivier in 1838 en die oorwinning wat daarmee geassosieer word.)

Die openlike rassistiese optrede en mobilisasie van die EFF en andere het die situasie na ’n breekpunt gedryf. Vandaar ook die oproepe soos “De la Rey moet kom lei”
en die soeke na die spreekwoordelike man met die “bruin broek” (’n profesie van Siener van Rensburg) wat moet kom red wat daar te redde is. Die herstel van die dinge wat met ’n heroïese verlede geassosieer word, is nou prioriteit en dit is, ooreenkomstig die denkpatroon, ’n “kairos-oomblik”.

Volgens my oordeel het die Senekal-episode gedien as die spreekwoordelike Rubicon wat oorgesteek is en die soeke na die “gekose glorie” het daar sterk na vore gekom. Daarop volg derhalwe ’n verskuiwing in denke van gekose trauma na gekose glorie, met die implikasie dat, soos waarvan gebeure uit die Afrikaner-verlede getuig, verset en weerstand as ’n uitweg beskou word aangesien alle ander moontlikhede tot bemiddeling deur gesprek misluk het, nie ernstig opgeneem word nie, of op niks daadwerkliks uitgeloop het nie.

Polities-psigologies het die wit bevolkingsgroep ’n waterskeidingsoomblik bereik, die spelreëls het verander en hul visie op die hede en die toekoms word herdefinieer. Heel waarskynlik sal Senekal ’n belangrike baken wees onderweg na die herdefiniëring en die soeke na ’n nuwe toekoms met gekose glorie as uitgangspunt.

……

“Die ‘beste grondwet in die wêreld’ is betekenisloos as dit nie behoorlik toegepas word nie en raak dan ’n resep vir chaos, anargie en vigilante-optredes.”

……

Hierdie psigohistoriese en -politieke toekomsperspektief moet beskou word met inagneming van my vroeëre verwysing na die makrokonteks, waarin geargumenteer word dat die einde van ’n bepaalde politieke bedeling nou bereik is en dat ’n nuwe era in ons politiek betree word, soos bepaal deur veranderende sosiale, politieke en ekonomiese omstandighede. Oproepe ten opsigte van selfbestuur en selfbeskikking, en selfs vorme van sesessie (afskeiding) duik deesdae al hoe sterker op en kan as vorme van verset of lydelike verset teen die bestaande orde beskou word.

Wit verset en weerstand is simptomaties van politieke, ekonomiese en maatskaplike omstandighede in Suid-Afrika. Sedert 1994 was verhoudinge met die moontlike uitkoms van konflik en geweld selde so op ’n mespunt gebalanseer soos juis op 16 Oktober 2020.

Hierdie patroon van sikliese geweld (so kenmerkend van ons geskiedenis) word soos volg deur Helene Opperman Lewis in perspektief gestel: “Cycles of violence (avenging/revenge) tend to follow when groups/nations have been humiliated, creating new cycles of trauma and humiliation which then need to be avenged again.” Kan hierdie patrone van sikliese geweld, soos veral aangeblaas deur die Malemas van die wêreld, gebreek word en kan ons uit bostaande leer, in die soeke na ’n beter en meer volhoubare toekoms?

Soos vir alle Suid-Afrikaners is die toekoms tans ook vir baie Afrikaners in groot onsekerheid gehul. Senekal dui ’n nuwe weg aan – een met verreikende implikasies vir Afrikaners indien dit verkeerd hanteer sou word. Daar word so dikwels gepraat van die soeke na ’n leier om die groep vorentoe te neem. Wat egter eerder nodig is, is ’n meesternarratief vir die toekoms op grond waarvan daar gelei kan word. Hierdie narratief ontbreek, en dit maak daarom leierskap en konsensus onder verskillende en uiteenlopende groepe baie moeilik. Anders gestel, die weerstand is van ’n taktiese aard en nog nie strategies bevestig nie. Met betrekking tot ’n strategiese konsolidasie sal intellektuele kapitaal en leierskap van kernbelang wees rakende hierdie denkpatroon en strategiese visie.

Wat duidelik is, is dat konflik en polarisasie gaan toeneem. Die huidige veldbrande in die Vrystaat (bykans 100 000 hektaar is reeds vernietig) word tans deur sommige beskou as ’n politieke reaksie teen die boere se optrede by Senekal en klagtes teen die EFF is reeds by die polisie aanhangig gemaak. Die groter grondwetlike bedeling bevind hom toenemend (van links en regs van die politieke spektrum) in krisis, en meer konflik en geweld te midde van moeilike ekonomiese omstandighede is ’n groot waarskynlikheid. Die reënboognasie is besig om uitmekaar te val en min word deur die huidige leierskap gedoen om nasionale eenheid te bevorder. Hierdie politieke omstandighede en gepaardgaande krisisse, asook uitdagings, skep nietemin ook geleenthede waarop die Afrikaner as groep ’n invloed kan uitoefen. Senekal verteenwoordig ’n belangrike baken in die herontdekking van identiteit en die bereidwilligheid tot daadwerklike optrede. Die perspektief van NP Van Wyk Louw (in sy Lojale verset, 1939) is betekenisvol as hy argumenteer: “Opstand is net so noodsaaklik in ’n volk as getrouheid. Dit is nie eens gevaarlik dat ’n rebellie misluk nie; wat gevaarlik is, is dat ’n hele geslag sonder protes sal verbygaan.”

Die uitdaging vir die Afrikaner is of die geskiedkundige teenstelling van ’n erg traumatiese geskiedenis enersyds, en andersyds ’n heroïese verlede ’n grondslag kan bewerkstellig vir die formulering van ’n nuwe toekomsvisie vir die Afrikaner. Die Senekal-episode is ’n baken op hierdie weg. Die feit dat dit merendeels vreedsaam verloop het, hou belangrike waarde vir die pad vorentoe in. Gesprek en versoening is altyd van groter waarde as oorlog en geweld – indien nog haalbaar binne die snel veranderende en verslegtende scenario. Dit is nie net ’n tyd vir indringende gesprek nie, maar ook en veral ’n tyd vir doen, uitvoer en handel. In dié verband is die woorde van een van die grondleggers van die Joodse staat, Theodor Herzl, belangrik: “If you will it, it is no dream.” Verteenwoordig Senekal dalk so ’n baken? En watter pad word deur hierdie baken aangedui?

Lees meer oor die Senekal-protes:

Senekal: Soms is ’n protes net ’n protes

Reguit met Robinson: ’n Zoom-gesprek met Theo de Jager

Senekal: Vigilantes, speurders en die stadige aksie van regsake

Lees ook op LitNet Akademies:

Suid-Afrika by ’n kantelpunt – ’n slegte-saak-scenario? 

Korrupsie in die Suid-Afrikaanse staatsdiens: Is die Teenkorrupsietaakspan se multidissiplinêre benadering in die ondersoek na beweerde korrupsie onder staatsamptenare doeltreffend?

Polisiëringsbestuurstrategieë in intelligensiegedrewe ingrypings: vragmotorkapings as gevallestudie

Assemblage-teorie, affek en witwees. ’n Alternatiewe blik op die werking van witwees

De la Rey, De la Rey, sal jy die Boere kom lei?

Lees ook:

André Duvenhage: Dís die ergste wat met SA kan gebeur

Stakings en protesaksie in die Suid-Afrikaanse demokrasie

Staatskaping maak korrupsiemodder nóg taaier

Wit, witter, wittes

In gesprek oor witwees in Suid-Afrika met Melissa Steyn en Christi van der Westhuizen / In conversation about whiteness in South Africa with Melissa Steyn and Christi van der Westhuizen

  • 12

Kommentaar

  • Gustaf Claassens

    'n Akademikus met sy vinger op die pols. Iemand wat die geskiedenis op 'n feitelike basis belig asook die versugting van die Afrikaner verstaan en in perspektief plaas. Die bydra is uiters gepas vir die tyd waarin ons leef. Anders as ivoortoringakademici, politieke joernaliste agter kantoorlessenare en individue van verskillende belangegroepe wat reeds die ideale van hul mense versaak het, herinner Prof. Duvenhage ons opnuut aan 'n groep mense se vryheidsdrang wat na drie eeue steeds sterk brand. Mense wat bloot hulleself wil wees en hulle kultuur in vrede naas en saam met ander wil uitleef. Mense wat soveel kan bied indien hulle net die kans gegun word.

    Ongeag die kritiek vanuit sekere mediageledere en diegene wat dit oor jare hulle taak maak om volksgenote in die visier te kry vir die geringste misstap, wys Prof. Duvenhage op die belangrikheid van vreedsame versetpolitiek ten tye van krisisoomlike in 'n volk se geskiedenis en waar die gebeure in Senekal weer so 'n oomlik kan wees.

    Prof. Duvenhage is in die kol wanneer hy sê: "Die reënboognasie is besig om uitmekaar te val en min word deur die huidige leierskap gedoen om nasionale eenheid te bevorder. Hierdie politieke omstandighede en gepaardgaande krisisse, asook uitdagings, skep nietemin ook geleenthede waarop die Afrikaner as groep ’n invloed kan uitoefen. Senekal verteenwoordig ’n belangrike baken in die herontdekking van identiteit en die bereidwilligheid tot daadwerklike optrede."

    Treffend verwys Prof. Duvenhage na 'n aanhaling van een van SA se grootste digters ooit, naamlik NP Van Wyk Louw waar hy (in sy Lojale verset, 1939) betekenisvol soos volg argumenteer: “Opstand is net so noodsaaklik in ’n volk as getrouheid. Dit is nie eens gevaarlik dat ’n rebellie misluk nie; wat gevaarlik is, is dat ’n hele geslag sonder protes sal verbygaan.”

    Die groot uitdaging tans is vir die Afrikaner om nie in strikke te trap of die 'bal te laat val' nie. Dis tyd vir koel koppe en helder denke. Doen ons dit nie sal die 'vyand,' ook in eie geledere, nie skroom om toe te slaan nie. Húlle wat om een of ander onverklaarbare rede genot put uit enige iets wat die Afrikaner in 'n swak lig kan stel.

    Ek stem ook heelhartig saam met Prof Duvenhage wanneer hy sê: " Met betrekking tot ’n strategiese konsolidasie sal intellektuele kapitaal en leierskap van kernbelang wees rakende hierdie denkpatroon en strategiese visie." Hopelik het die Afrikaner lesse uit sy verlede geleer. Verdeeldheid is iets wat nie bekostig kan word nie. Leierskap, al is dit vir eers ook 'n gedeelde soort leierskap, is nodig en noodsaaklik. Dalk kan dit gefasiliteer word. Hoe gouer hoe beter.

  • Henning Janse van Vuuren

    "... na die spreekwoordelike man met die “bruin broek” (’n profesie van Siener van Rensburg) wat moet kom red wat daar te redde is."

    Ek is innig dankbaar die profesie vermeld nie 'n kortbroek nie.

  • Die jong man wat naby Senekal vermoor is, is soos elke plaasmoord onnodig en laat 'n wrang smaak in die mond. Ek is persoonlik al deur die barbaarse lafhartige optredes van plaasmoorde geraak. Dit laat 'n letsel in die geheue en het sielkundig 'n effek op 'n mens. My mening is dat elke dag 'n dag nader is wanneer iemand geen sê, tot hier en nie verder nie. Daar is een boer te veel vermoor. Ek dink die aanhitsers (provokateurs) is tans verbaas dat daar nie vergeldend opgetree word nie. Ons moet die morele hoë grond behou. Deur emosionele besluite te neem en onverantwoordelik op te tree gaan nie die oplossing wees nie. Wees bedag op wat aangaan. Wees voorbereid vir die onvoorsiene. Wees paraat. Die tyd is nog nie daar nie. Dit is hoekom aan ons gekarring word. Hier kom iets en die opstokers weet nie wanneer, hoe en waar nie, dit is hoekom hulle al hoe meer onrustig en uittartend raak. Iemand se moeilikheid is geboek.

  • Hans Richardt

    Ek stem nie met links en regs verdeling saam nie. Die professor kyk nie na die ontwikkeling van swart en burgerlike militia in SA nie, wat nie links of regs van wetgewing verbod oor privaat burgelike militia is in Aa nie. Die EFF as politieke party, wat optree soos privaat militia, waar Malema en trawante openlik opdragte vir aanvalle gee, kan nie meer as blote politiek beskryf word nie. Die VF het nie bv Suidlanders of Boerelegioen ens, as burgerlike militia-arm nie. Die idee dat EFF 'n "bevrydingstryd" as politieke party dryf, het groot vraagtekens, want SA het nou ’n swart meerderheidsregering en die EFF sluit minderhede uit. Ek dink daar moet na militantes en behoudendes verwys word en nie op geykte akademiese narsistiese wyse na links of regs nie, in politiek in Afrika-konteks nie.

  • Johann Basson

    Elke Suid-Afrikaner moet spoedig besef dat die grootse gemeenskaplike vyand van die hele Suid-Afrikaanse nasie is die feit dat Suid-Afrika nie volhoubaar voldoende buitelandse valuta verdien vir voorspoed vir sy ongebreidelde groeiende bevolking nie OMREDE die nasie kollektief NIE EKONOMIES WÊRELDKOMPETEERBAAR IS NIE.

    Die Suid-Afrikaanse nasie benodig ‘n NASIE-VISIE en agiele strategie wat al sy burgers gefokus sal dryf om deel te wil wees van ‘n sukses-verhaal waarop die nageslagte trots kan wees, ongeag sy identiteit. Ons durf nie denkslawe van die verlede of andere wees nie.

    Persepsiologiese oorlogvoering gaan om die mens se denke te wen. Om die hart en siel van die nasie vir die nasie-visie te wen, sal die minderheidsgroepe gesien moet word die morele seegolf van geregtigheid en vrede te ry.

  • Hans Richardt

    Johann Basson, jy beskryf Dakar-albatrosidee, van een nasie visie. Daar is min "reënboog" oor in die morele droogte van SA se oglokrasie. As jy ’n militante regering het, wat "wit welvaart" as ’n vyand van die nasie voorstel, terwyl hyself biljoenêr is, hoe nog ’n sosialistiese "nasievisie" wil voorhou as oplossing?
    Tyd om die waarheid in oë te kyk. Minderhede, behoudende visie het GEEN bestaansreg in ANC /EFF militante visie van geforseerde etniese amalgamasiebeleid nie.
    So, jou hele skryfsel is BELAGLIK.

  • Johann Basson

    Waar in my skrywe het ek na 'n sosialistiese nasie-visie verwys?

    Wat is u voorstel vir 'n nuwe bedeling? Deel asseblief met die lesers wat sal moet gebeur alvorens Suid-Afrikaners uit die moddder kan kom. Welke staatkundige bestel(le) visualiseer u?

    My standpunt is dat ons die harte en denke van die gematigde stemvee moet wen.

    Ons moet as Suid-Afrikaners konsensus verkry wat presies alle Suid-Afrikaners se grootste gemeenskaplike vyand is en dan met die hulp van 'n Gantt-kaart terug werk om te bepaal welke boublokke wanneer in posisie moet kom om die einddoel van ekonomiese wêreldkompeteerbaarheid te bereik, hetsy in 'n enkele of meervoudige staatsbedeling(s).

  • Hans Richardt

    Johann Basson, wel 'n meervoudige staatsbestel sal beter werk, maar militante politieke partye wil dit as net eensydige ekonomiese bevoordeling hê. Luister na militante politieke retoriek oor wit monopolitiese kapitaal.
    Ek weet nie hoe jy jou ideaal sou kon bou nie, want hoe sal jy militantes oortuig om meer behoudende visie te deel?
    Die "reënboog nasie" idee het in langdurige droogtes en grendelstaat verdwyn en dis era van anargie en chaos, met kleptokrate wat korrupsie as regstel aksie gebruik.
    Hoe sou jy bv Pan-Afrikanistiese ideologie verwerk om in te koop? In buurland, het ekonomie vinniger gegroei en nou is daar bv islamitiese oorlog, teen behoudende Islam en ook staat, met wye polities ekonomiese negatiewe gevolge.

  • Johann Basson

    Geagte mnr Richardt,

    Ek deel die sieninge van dr. Frans Cronje in "Reguit met Robinson: 'n Zoom-gesprek met Frans Cronje" van 2020-10-25, pas gelaai op Litnet.

    Gun my om voor te stel dat u die besondere werk bestudeer van Helene Opperman Lewis getiteld "APARTHEID: Britain's Bastard Child". Hierdie werk het vir my nuwe insigte gegee oor die psigologiese faset van ons land se geskiedenis en die impak van vernederings op mense en volke en hul nageslagte in Suid-Afrika, probleme waarmee ons huidiglik worstel.

    Ons is almal Suid-Afrikaners of Suider-Afrika en het dieselfde gemeenskaplike vyand: Ekonomiese nie-kompeteerbaarheid.

    Die groot vraag is: welke bedeling sal groter geregtigheid, vrede en voorspoed vir alle Suid-Afrikaners meebring?

    Die geskiedenis het bewys dat werklose, verarmde en oningeligde mense met min hoop maklik ten proei val van opportunistiese politici, ideologiese fanatici en gierige mense. ONS moet verseker dat die gematigde stemvee ontslaaf raak van die ANC, EFF en die tradisionele leiers. Die vraag is: "HOE?". Ek glo dat die Draak van Ekonomiese Wêreldkompeteerbaarheid gaan die ANC en EFF tot 'n val bring.

    Eers daarna sal Suid-Afrikaners uit die as kan opstaan om deur leierskap, doeltreffendheid, effektiwiteit, kreatiwiteit, werkstrots, spaarsaamheid, selfaktualisering, omgee vir die omgewing en natuurlewe asook omgee-vir-mekaar die toekoms van groter regverdigheid, vrede en voorspoed tegemoet kan gaan.

    Sterkte met die stryd vir groter geregtigheid. Mag ons almal SAAMSTAAN vir die opbou van 'n mooi toekoms en legaat vir ons nageslagte.

  • Hans Richardt

    Johann Basson, ek is bly jy maak jouself beskikbaar vir groter goed van SA.
    Ek huldig egter die beskeie opinie, dat u nie veel sukses sal behaal nie, indien u nie gemeenskappe gaan leer dat voorspoed net deur selfbestuur, eie kapitaal en selfwerksaamheid sal kom, want tans is die benadering dat kleptokrate in "regering vir ons moet doen"! As gemeenskappe nie eie verantwoordelikheid besef en aanvaar nie, selfbestuur, sal jy baie moeilik slaag in doelwitte.
    Sterkte egter met u visie.

  • Hans Richardt

    My beskeie standpunt bly, daar is nie links of regs, as dit by burgerregte kom nie. Hierdie KLASSIFIKASIE is uitgedien, want hoe is jy regs as jy vir wet en orde betoog? Militante is nie links nie, wat opruiende liedjies sing en aanhitsing toesprake maak teen goeie orde in samelewing nie, wat wetteloosheid bepleit in hul militante stryd teen mede landburgers nie.
    Wanorde en geweld is misdaad, nie links of regs nie!
    So Prof Duvenhage oorweeg in toekoms om nuutskeppings te kry vir "links en regs", wat meer vanpas is?

  • Jammer om te sê, lykskouings los nie probleme op nie, dit identifiseer gewoonlik oorsake. As ’n mens ’n regering wil verander in ’n demokrasie, moet dit by die stembus gebeur en daar is dit die aantal voete wat die stemlokaal binne gaan wat tel en nie ellelange bespiegelinge nie.

    Om die rede moet daar 'n werkende ooreenkoms wees tussen partye wat die belange van Suid-Afrika bo partybelange stel. Gebeur dit nie, sal die ANC voortgaan op die pad van partyeenheid eerste ten koste van Suid-Afrika en alles net praatjies bly waarin meer as 17 mijoen mense afhanklik gemaak word dmv sosiale toelaes en die enorme staats-, provinsialeen munisipale werkerskorps tesame met hul al hoe meer militante vakbonde tevrede gehou word met salarisverhogings ver bokant die inflasiekoers.

    Ek gaan nie eers bespiegel oor hoe ons in die gemors beland het, want dit bied ook nie ’n oplossing nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top