Staatskaping maak korrupsiemodder nóg taaier

  • 1

Navorsingsartikels wat onlangs in LitNet Akademies verskyn het, ondersoek die verwoestende effek van korrupsie in verskeie sektore in Suid-Afrika. André Duvenhage waarsku dat dié euwel tot ’n ineenstorting van die land se ekonomie kan lei en die politieke klimaat nog verder langs raslyne kan polariseer. In sy LitNet Akademies-gevallestudie oor vragmotorkapings wys Rudolph Zinn op die rol wat korrupsie in polisiegeledere speel in die belemmering van die stryd teen geweldsmisdaad. Die belang van samewerking tussen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die sakesektor word deur Peter Goss en Johan van Graan belig in hul artikel “Die strategiese rol van die sakesektor in die bekamping van korrupsie”.

Johann van Loggerenberg se Cop under cover het verlede week by Jonathan Ball verskyn (Foto's: Jonathan Ball Publishers)

Die onderwerp van korrupsie is iets wat die skrywer Johann van Loggerenberg sy lewe lank besig hou. Sy jongste boek, Cop under cover. My life in the shadows with drug lords, robbers and smugglers, het pas by Jonathan Ball verskyn. In dié aangrypende boek lewer Van Loggerenberg verslag oor die jare waartydens hy as geheime polisieagent korrupsie aan die kaak gestel het. As “agent RS536” het hy skouers geskuur met onder meer dwelmhandelaars, transitorowers, korrupte polisielede en wapensmokkelaars wat Derde Mag-bedrywighede aangevuur het.

Met die staatskapingprojek het Van Loggerenberg self in die visier van korrupte amptenare op die hoogste regeringsvlak beland. Toe hy in 2014 by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) gewerk het, is hy valslik daarvan beskuldig dat hy ’n “apartheidspioen” was. Dié beweringe wat deur die Sunday Times gepubliseer is, is later deur die koerant, wie se integriteit en reputasie in die proses enorme skade opgedoen het, teruggetrek. Vir Van Loggerenberg het geregtigheid egter nog nie geskied nie. In Cop under cover word dié onverkwiklike sage omvattend aangespreek.

Vorige boeke waarin Van Loggerenberg korrupsie takel – Rogue (2016), Death and taxes (2017) en Tobacco wars (2019) – het op topverkoperlyste geboer.

Melt Myburgh het met die skrywer oor sy nuwe boek gesels na aanleiding van bevindinge wat in LitNet Akademies-navorsing na vore gekom het.

..............

In Cop under cover. My life in the shadows with drug lords, robbers and smugglers gaan jy op jou eie spore terug na jou ervaring as geheime polisieagent RS536 wat hom in die skaduwêreld van georganiseerde misdaad ingegrawe het om ’n kriminele netwerk bloot te stel. Vertel asseblief hoe dit gebeur het dat jou avonture in boekvorm beslag gekry het.

In kort het die verhaal van RS536 grondgevat tydens die staatskaping van die SAID in 2014. Gedurende daardie jaar het staatsintelligensieagente in die Sunday Times valslik beweer dat ek voor 1994 kamstig ’n “apartheidspioen” was. Dit het my en my familie ontsettend skade aangedoen en die beweringe het later deel gevorm van die sogenaamde rogue unit-propaganda.

Die vals brandmerk word steeds, meer as ’n halwe dekade later, deur mense op sosiale media herhaal. Die SAPD en Staatsveiligheidsagentskap was wetlik en eties verplig om my en my familie te beskerm, maar het in daardie jare en sedertdien niks daaromtrent gedoen nie.

Dieselfde geld vir die SAID, vir wie ek op daardie stadium gewerk het. Dit het natuurlik die staatskapers en allerlei skelms wat op daardie stadium deur die SAID ondersoek is, goed gepas om my en ander so te diskrediteer. Om daardie rede, ná my eerste drie boeke, het ek besluit dat genoeg tyd verloop het vir my om die waarheid oor my rol as geheime agent vir die demokratiese regering as RS536 te vertel.

Die boek begin by my kinderjare, en verduidelik my paadjie wat gelei het tot die omstandighede waar ek RS536 geword het, en wat ek as agent gedoen het totdat ek aan die einde van 1998 by die SAID begin werk het. Die boek is die voorloper van die drie ander boeke wat oor my tyd by die SAID gaan, en vertel van die avonture en trane van RS536 en ’n reeks kleurvolle karakters oor daardie jare.

In die algemene publiek se oë is die reputasie van die SAPD bedenklik, om die minste te sê. Maar ’n mens mag uiteraard nie alle polisielede onder dieselfde kam skeer nie. In hoe ’n mate dink jy is die publiek se siening van ons polisiediens as ’n korrupte, onbevoegde instelling geregverdig?

Korrupsie is nie ’n nuwe verskynsel in die samelewing nie. Die apartheidsera, en selfs tye voor dit, is gevallestudies van hoe sistemies korrupsie in die samelewing is. Tot ’n dekade terug was korrupte transaksies aftrekbaar vir belastingdoeleindes in Europese lande. Om die polisiediens spesifiek uit te lig as voorbeeld sou onregverdig wees.

Wat wel ’n realiteit is, is dat polisiebeamptes in ’n spesifieke omgewing en situasie is, net soos doeaneamptenare as ander voorbeeld van waar korrupsie broei. Dit is nie uniek aan ons land nie. Dieselfde geld vir tenders en besigheid met staatsinstansies. Vir ons jong demokrasie is dit ’n groeipyn.

Ek moet byvoeg dat die effek van staatskaping die klimaat vir korrupsie geweldig aangewakker het. Skielik was ons krimineleregstelsel en die SAID gebreek en was daar geen ware bedreiging vir skelms nie, en dit het hulle net meer aangespoor. Dit het, op sy beurt, aan ander skurke die teken gegee dat korrupsie ’n ding is waarmee jy gaan wegkom.

En so het dit soos ’n virus posgevat en versprei. Vandag sit ons met die nagevolge daarvan, en ek glo dit gaan vir nog baie geslagte lank met ons wees.

Die vraag oor hoe ons regering die polisiediens gaan regruk en bou, is kompleks en het geen eenvoudige antwoord nie. Die polisie vorm deel van ’n groter stelsel en ketting, wat onder andere die vervolgingsgesag, ons howe en so aan insluit. Ek dink ons moet sagter wees op die meerderheid mense in die polisie, want hulle is nie korrup nie. Die antwoord lê in ’n kombinasie van opleiding, voortgesette opleiding, en om die hele krimineleregstelsel in sy geheel te bestuur – van die beplanning tot die meetinstrumente, mense wat daar werk, die toewysing van jaarlikse begrotings, asook strategiese beplanning.

In hierdie stadium van ons land se ontwikkeling dink ons regering nog nie regtig aan hulleself as een groot stelsel wat interafhanklik van sy komponente is nie. Dit sal nog tyd neem. Staatskaping het ons regtig baie ver in die verlede teruggesit en dit self maak dinge baie moeiliker.

Maar ek het baie hoop vir ons nuwe generasie polisielede. Baie van hulle is kreatief en wil ’n verskil maak. Ons gaan in die nabye toekoms die resultate van hulle aksies begin sien. Ons het geen alternatief nie. Ons gaan móét sink of swem.

Topverkopers uit Johann van Loggerenberg se pen (Foto's: Jonathan Ball Publishers)

Korrupsie in sigself het pandemiese proporsies in Suid-Afrika aangeneem, en dit bevuil feitlik elke staatsinstelling in die land. Trouens, volgens André Duvenhage kan dié scenario aanleiding gee tot die ineenstorting van die ekonomie, en dit kan uiteindelik lei tot politieke onrus op enorme skaal, wat die mobilisering van mense volgens raslyne gaan aanmoedig. Met die drama wat verlede week in Senekal afgespeel het rondom die hofverskyning van vermeende plaasmoordenaars, sien ’n mens opnuut tekens van rassespanning. Dink jy ons is al driekwart oor die afgrond, of is daar nog omdraaikans?

Ek sou by wat ek hier bo genoem het, byvoeg dat mens die sogenaamde Pareto-effek altyd in gedagte moet hou as jy na misdaad kyk. Dit verwys min of meer na die aantal kriminele insidente aan die een kant in vergelyking met die aantal misdadigers aan die ander kant. Baie misdade kan verbind word aan dieselfde misdadigers, sindikate en bendes, wat dan die prentjie kan verander.

Die Senekal-kwessie is nie uniek nie. Soortgelyke insidente speel daagliks uit in die kleine in ons samelewing. Die hoofrede, na my mening, is die feit dat almal van ons in die land gewoonlik onwillig is om die ongemaklike realiteite van ons samelewing te erken of openlik aan te spreek. Die feit van die saak is dat ons land vir nog baie jare gaan sukkel om die wanbalans wat deur kolonialisme en apartheid veroorsaak is, reg te trek. Die effek van ons geskiedenis is steeds sistemies en kan deur niemand misgekyk word nie.

Wat die Senekal-geval wel doen, is om dinge na ’n hoër, meer sigbare vlak uit te lig. Ons moet hieruit leer. Ons Suid-Afrikaners kan nie maak of ons nié ’n nasie is nie. Jou blonde hare of die vorm van jou neus kan nie jou toekoms bepaal nie. Êrens moet ons mekaar begin vind.

Proporsioneel is die oorgrote meerderheid van ons landsburgers toevallig mense wat ’n sekere velpigmentasie het. Dit is dan logies dat die groter aantal uitskieters, of dit nou goeie mense of slegte mense is, dan ook dieselfde velkleur gaan hê. Dit beteken egter niks nie. Dit is so goed as om ’n studie te probeer doen oor die verband tussen mense se lengte en misdaad. Die kwessies is baie meer kompleks as hoe ons lyk en van mekaar verskil.

Staatskaping het ons krimineleregstelsel en ander komponente van die regering feitlik heeltemal afgebreek. Dit het ons teruggesit in tyd. Maar nie te lank terug nie was ons krimineleregstelsel suiwer daarop gemik om ’n klein deel van ons samelewing te bedien en die res te onderdruk. Dit is die basis waarvandaan ons in 1994 begin het. Dit was nie perfek nie en ons was besig om beter te raak.

Toe kom staatskaping.

As ons dit tóé kon doen, kan ons dit weer doen. Ons het geen ander keuse nie. Ek hou aan sê dat die meerderheid Suid-Afrikaners goeie mense is, ongeag hulle ideologie, herkoms of die rykdom wat hulle besit. Saam kan ons as nasie enige ding oorkom. Ons het al. Ons kan weer. Ons moet net nie moed opgee nie.

Kan jy jou indink as die ANC en PAC en ander anti-apartheidsgroepe in die laat 1980’s skielik moed opgegee het? Waar sou ons land vandag gewees het? Ons is nie ’n land van “quitters” nie. Ons het baie ander foute, maar opgee is nie een van hulle nie.

Kom ons vat ’n bietjie hande en rol ons moue op.

Jy het die snykant van die staatskapingprojek aan eie lyf gevoel toe jy deur skurke met ’n disinformasieveldtog geteiken is. In ’n neutedop: Waar staan dinge nou in terme van daardie ongelukkige sage? Duidelik het nog nie al die skuldiges aan die pen gery nie. Kon jy die mense wat jou en kollegas by die inkomstediens te na gekom het, al vergewe?

Ek het sedert 2014 tot op datum alles gedoen wat ek kon om die waarheid te laat seëvier. In die proses het ek en Carte Blanche in 2015 geskik en het hulle verskoning aanvaar. Dieselfde geld vir Sunday Times in 2015 by die persombud, en ook weer in 2016 en 2018, asook die geval met oudregter Kroon via die JSC.

Intussen het ek privaat dieselfde gedoen met so ’n paar lede van die sogenaamde Kroon-raad, asook ’n paar joernaliste, van wie een in die openbaar verskoning gevra het (Malcolm Rees). Dieselfde met sekere sakemanne en maatskappye in die tabakbedryf. Dit was nog altyd vir my belangrik dat hulle verskonings aangebied word aan die SAID in die eerste plek, dán aan alle SAID-amptenare en hulle gesinne, en dan spesifiek aan die betrokke individue.

So, daar is gevalle waar vrede uit onmin ontstaan het. Dit is moontlik.

Ek was ook ten duurste ingetrek by vele hofsake, waarvan ek almal gewen het of waar die ander partye ingegee en geskik het en kostes aangebied het. Maar steeds gaan die drama voort en die brandmerk is diep en sal na my mening vir ewig opgeroep word wanneer dit een of ander skelm se agenda pas. Dit is hoe propaganda werk.

Modder is taai.

Daar is wel baie mense wat hulle aan kriminele optrede skuldig gemaak het deur tydens staatskaping op die wa te spring en lekker saamgespeel het. Daardie mense moet die gevolge van die skade aan ons land, wat ek voor hulle deur lê, in die oë kyk. Ek is al geruime tyd besig om oorsigliggame en instansies binne die krimineleregstelsel by te staan om agter die waarheid van die sake te kom, die skuldiges te identifiseer en getuienis in te samel sodat hulle aan die pen kan ry.

In sommige gevalle het van die mense tot die besef gekom dat die waarheid altyd sal seëvier, en hulle het begin verduidelik wat werklik in daardie tyd gebeur het. Van die mense is aan die relevante ondersoekers uitgewys, en tot dusver gee hulle hul volle samewerking. Die waarheid sal uiteindelik uitkom, maar meer as dit wil ek nie in hierdie stadium sê nie.

In akademiese navorsing deur Rudolph Zinn wat onlangs in LitNet Akademies gepubliseer is, word aangedui dat vragmotorkapings tussen 1998/1999 en 2003/2004 in Suid-Afrika merkbaar afgeneem het. Maar terselfdertyd het geweldsmisdade in die land die afgelope dekade met 23,7% toegeneem. Watter rol speel georganiseerde misdaad in korrupsie? En is dit so dat die verskillende vorme van misdaad hand aan hand loop, en dat alles in ’n bose netwerk ineengestrengel is?

Die voorkoms en die aard van dié tipe misdrywe dui daarop dat georganiseerde misdaadsindikate beslis ’n hand in die saak het. Georganiseerde misdaadgroepe funksioneer nie baie anders as normale besighede nie – in die sin dat hulle aanpasbaar is na gelang van vraag en aanbod en heeltyd geleentheid soek om munt te slaan. Hulle huiwer ook nie om van die een tipe aktiwiteit na die volgende te diversifiseer nie. Daarom sal hulle aktiwiteite oor langer tydperke verskillend manifesteer in die misdaadstatistieke.

Weer eens: Die staatskapingfiasko het bygedra tot Suid-Afrika se algemene ekonomiese verknorsing, wat weer bydra tot sommige mense se toetrede tot misdaad uit pure desperaatheid. Gevestigde misdaadgroepe is altyd reg om nog mense in te trek. Dit is ’n komplekse onderwerp wat meer tyd en spasie nodig het om behoorlik uiteengesit te word.

Die feit van die saak is dat al die volgende faktore gesamentlik in gedagte gehou moet word as ons hiervan sin wil maak: ons geskiedenis, die relatiewe jonkheid van ons demokrasie, die skerp klasseverskille in ons samelewing, die onderontwikkelde en verarmde staatsdepartemente, ons stadige ekonomiese groei, staatskaping, rassekonflik, die gedrag van politici en leiers in die gemeenskap, werkloosheid – en nou nog die Covid-inperkings ook.

Cop under cover fokus spesifiek op die werksaamhede van ’n geheime polisieagent. “Intelligensiegedrewe polisiëringsinisiatiewe”, soos wat Rudolph Zinn in sy artikel daarna verwys, is uiteraard onontbeerlik in die bekamping van misdaad. Hoe omvangryk is intelligensiegedrewe aktiwiteite in die polisiediens se teenmisdaadpoging? Op watter tipe misdade fokus hierdie aktiwiteite meestal, en hoe suksesvol is dit in die algemeen?

Na my mening is die staat se intelligensievermoë, of dit nou misdaadintelligensie is of ander, verby power. Dit is nie die enigste manier waarop misdaad bekamp sal word nie; dit is maar een faset van ’n groter plan en aksies. Tans word dinge nie wetenskaplik benader nie. Die intelligensiediens trek dikwels die verkeerde persoonlikheidstipes aan, en die operasies wat aangepak word, is merendeels op ’n lae vlak. Dit gaan nog jare vat voor dinge behoorlik regkom.

Ons krimineleregstelsel moet veel eerder daarop fokus om eers die basiese elemente van misdaadbestryding gevestig te kry en daarop voort te bou voordat hulle na “luukshede” begin kyk. Dit impliseer dat misdaadintelligensie baie meer moeite en minder “sexy” gaan wees as bloot die gebruik van agente en informante. Vir eers is ’n sistemiese ontleding van ons behoeftes en vermoëns nodig om dinge in posisie te kry.

Samewerking tussen die SAPD en private sekuriteitsinstellings, soos in die geval met vragmotorkapings, is iets wat ons howe al in die 1990’s oorweeg en aangemoedig het. Ek kan dit nie beter opsom as die uitspraak in S v Botha en Andere (1) 1995 (2) SACR 598 nie. Die hof het bevind dat, in ’n moderne samelewing, sulke samewerking absoluut noodsaaklik is.

Om van die staat te verwag om alle misdaad self te bekamp, is te veel gevra. Wat belangrik is, is die raamwerk waarin sulke samewerking moet plaasvind. Soms word dit misbruik en word dit selfs ’n teelaarde vir allerlei vorme van korrupsie.

Laastens, ’n hipotetiese vraag: As jy vandag as minister van polisie aangestel moes word, watter stappe sou jy onmiddellik implementeer om die misdaadsituasie in Suid-Afrika aan te spreek?

Nee dankie. Ek sit eerder dié ene uit.

Ek sal wel waarsku dat ons nie moet dink dat om net ’n hoof aan te stel by staatsinstellings skielik ’n verskil gaan maak nie. Pasop vir die Messias-kompleks. Instellings is so goed soos die ruggraat van die hele span. Van bo af, na middelbestuur tot nuwe aanstellings.

Te veel word daar oplossings aangebied in die vorm van strukturele en sulke tipes veranderinge. Daar word gewoonlik baie gepraat en beloftes gemaak, en heeltemal te min moeite word gedoen om te kyk wat werk, waar duplisering plaasvind en waar nie, en wat regtig onderliggend aan die probleme is.

En dan moet die luiaards padvat. En die hele spul wat tydens staatskaping nie ’n hand gelig het nie – hulle moet waai. Solank hulle daar sit, is jou stelsel gekompromitteer. Hulle gaan jou om elke hoek en draai saboteer. Jy moet eers ’n probleem verstaan, die oorsake daarvan, en dan gaan sit en behoorlik beplan. En dan moet jy die plan deurvoer en aanhoudend meet en aanpas na gelang van sukses. Ek sien te min daarvan. Ons hoor van meer aanstellings en nuwe dinge, maar sien te min hoe dit wat daar is, optimaal aangewend word.

Een swaeltjie, al is dit nou ’n minister, gaan ongelukkig nie die somer bring nie.

 

Vir meer inligting, lees gerus die bevindinge van LitNet Akademies se navorsers:

Christo Smit en Johan van Graan: Korrupsie in die Suid-Afrikaanse staatsdiens: Is die Teenkorrupsietaakspan se multidissiplinêre benadering in die ondersoek na beweerde korrupsie onder staatsamptenare doeltreffend?

André Duvenhage: Dís die ergste wat met SA kan gebeur

André Duvenhage: Suid-Afrika by ’n kantelpunt – ’n slegte-saak-scenario?

Rudolph Zinn: Polisiëringsbestuurstrategiëe in intelligensiegedrewe ingrypings: vragmotorkapings as gevallestudie

Peter Goss en Johan van Graan: Die strategiese rol van die sakesektor in die bekamping van korrupsie

 

  • 1

Kommentaar

  • Theodoor Boekkooi

    Ons verkeer in 'n erstige gemors, en ek is heeltemal te oud om planne te beraam om iets aan die onheil te kan verander, dit te laat stop. Om dit te bewerkstellig, sal 'n totale innerlike ommekeer van ons land se bevolking verg.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top