Wit, witter, wittes

  • 2

Wit mense is weer in die beskuldigdebank, het een van Suid-Afrika se voorste filosowe, Achille Mbembe, ’n paar jaar gelede geskryf. Hulle bevind hulle nog steeds daar. Die teiken is spesifiek “witheid”, wat volgens baie swart kommentators op allerlei maniere op Suid-Afrika afgedwing word. Maar Mbembe het sy stuk met ’n waarskuwing geëindig: die fel aanslag op witheid kan patologiese gevolge vir swart mense hê – hulle siek maak –  want “whiteness has become this accursed part of ourselves we are deeply attached to,” sê hy.

Mbembe se essay moet gelees word teen die agtergrond van verskynsels soos die Fallist-veldtogte, die Maties-taalaanslag en die opkoms van voorregstudies, waarin die oorgeërfde voordele van apartheid onder die loep kom. ’n Mens kan bespiegel oor die redes vir die soms heethoofdige en rassistiese fokus op die sondes van witheid – dat dit ’n nostalgiese teruggrype is na die tye voor 1994 toe politieke kwessies makliker, en letterlik in swart en wit afgebaken was. Toe is wit heerssug oop en bloot toegepas, en was dit iets waarvoor die meeste Suid-Afrikaners moes keer asof hul lewens daarvan afhang (en dit hét dikwels).

Nou word wit meerderwaardigheid gesien as iets in verskuilde vorm, ’n ongeneeslike toestand waaraan alle wit mense sou ly. Dit word volgens die nuwe klas swart aktiviste onbewustelik toegepas deur selfs liberales met die beste bedoelinge, hul toewyding aan ’n nierassige Suid-Afrika ten spyt.

Mbembe se artikel moet in sy geheel gelees word, maar sy waarskuwing oor die witheid waaraan alle swart mense ook ly, het my genoop om dit om te keer en te kyk of wit mense nie gevaar loop om te misken hoe ook “swartheid ’n vervloekte deel van onsself geword het waaraan ons diep geheg geraak het” nie.

Die swartheid in wit mense was inderdaad ’n vloek in die apartheidstye, en heel letterlik ook. JA Heese, ’n stoere Afrikaner, het ’n groot opskudding veroorsaak met sy navorsing in die 1980’s oor die genetiese geskiedenis van Afrikaners. Hy het bereken dat gemiddeld 7% van alle mense wat as wit Afrikaanssprekendes geklassifiseer is, “swart gene” gehad het. “Throwbacks” – om die Engelse woord te gebruik, want ek kry nie ’n Afrikaanse een in die woordeboek nie – was ’n katastrofe vir wit families, en het gesorg vir die siek drama rondom Sandra Laing, wat deur haar eie familie na ’n lokasie gestuur is toe haar gelaatstrekke te swart begin raak het.

Die roman Eilande deur Dan Sleigh, gebaseer op dekades se werk as argivaris, is ’n wonderlike weergawe in dosyne ineengevlegte verhale van die wel en wee van die eerste generasies van die Hollandse kolonie aan die Kaap. Hy wys hoe die kolonie deur gewelddadige onderwerping van die plaaslike stamgroepe gevestig is, maar ook hoe die rasse vermeng het, tot in Jan van Riebeeck se huishouding self. Hierdie vermenging se vrug was Afrikaans.

In vele ander werke, soos Herman Giliomee se “biografie”, Die Afrikaners, word die skisoïede toestand geskets waarin die meganismes van apartheid en wit rassisme gevestig is, maar die vermenging tussen rasse onder Afrikaanssprekendes voortgeduur het. Swartheid, of “Afrikaanskap”, was een van die dryfvere toe Adam Tas teen die Hollands Oos-Indische Maatschappij gerebelleer het – dis hy wat ook die irriterende taktiek toegepas het om sy teenstanders te nooi vir ’n braaivleis in die agterplaas, daar waar meer slawe en bediendes is as burgers, pleks van ’n formele aandete in ’n bedompige binnekamer.

Nog ’n rebel, Hendrik Biebouw, het aan Afrikaners hul naam gegee toe hy sy afkeer in Europese kultuur – Mbembe se “witheid”? – uitgedruk het deur aan ’n magistraat te skree: “Ik ben een Afrikaander …” Die meeste van Biebouw se broers en susters sou in die apartheidsjare as kleurlinge geklassifiseer gewees het.

So belangrik was hierdie rebellies teen “Europeesheid” dat Libertas (“Tas is uiteindelik vry”) die naam van die eerste minister se woning in Bryntirion, Pretoria was totdat die eerste swart president van Suid-Afrika dit betrek het.

Natuurlik is hierdie “swartheid” opsy geskuif soos die wit rassisme hom ingegrawe het, tot dit uitgeloop het op die talle oorloë teen swart stamme in die binneland om hul grond af te neem en hul te omskep in arbeiders, wat weer die basis van die Britse kolonialisme en apartheid gevorm het.

Maar dat die “swart gene” van blankes net in ’n soort resessiewe modus  dormant geraak het, is op verrassende wyse aan my gedemonstreer tydens ’n onderhoud met ’n Amerikaanse joernalis in 1984. Hy is na Suid-Afrika gestuur om CNN se eerste lewende transkontinentale uitsending van ’n debat tussen Afrikaner- en swart joernaliste in Johannesburg te kom dek, want dit was so ’n seminale oomblik in die geskiedenis van televisie.

In ’n gesprek terwyl ons koffie drink het hy my uitgevra oor wat ’n groot raaisel vir hom was: Waarom, op die hoogtepunt van apartheid, toe wit mense veronderstel was om swart mense te haat soos die Nazi’s die Jode gehaat het, die Bill Cosby Show as die gewildste televisieprogram onder Afrikaners aangewys is. Ek het ’n ontleding aangebied rondom Cosby as simbool van die Amerikaanse middelklas lewenswyse waarna Afrikaanse mense sou streef, en kon iets genoem het oor wat later as die “coconut”-verskynsel beskryf is – mense wat swart van buite maar wit van binne is – maar hy was glad nie oortuig nie, en ek ook nie.

Die antwoord, het ek later besef, het meer te doen met wat ’n mens die Raka-verskynsel kan noem. Die epiese gedig Raka word deur baie as die hoogtepunt van NP Van Wyk Louw se werk beskou. Die meeste Afrikaanssprekendes met ’n gevorderde opvoeding, van my geslag altans, is die een of ander tyd blootgestel aan die meesleurende digkuns en die spanningsvolle drama van die stuk, wat ook al as ’n ballet opgevoer is. ’n Mens kan ’n goeie saak uitmaak dat jy Afrikaners nie kan verstaan sonder om Raka te lees nie. (Dit sou ook ’n bietjie help om die wyn wat na Raka vernoem is, te drink.)

Die mees ooglopende aspek van Raka is dat dit ’n geheel swart rolverdeling het. Dit is die verhaal van die aristokratiese Koki, en hoe hy ondergaan in die ondermyning deur Raka, die duiwelse, Dionisiese en anargistiese woesteling, wat die stam binnedring deur die vrouens te betower. Baie lesings is moontlik, soos met alle groot kunswerke die geval is, en Van Wyk Louw se behandeling van vroue as die swakkere vat is deur die tyd ingehaal (Shakespeare s’n ook). Dit is afgeskryf as ’n uitdrukking van die “swart gevaar”-sindroom, maar as ’n mens nou wel ’n kontemporêre politieke lesing daarop moet afdwing, kan jy eweseer die drama van Jacob Zuma se oorwinning oor Thabo Mbeki in Polokwane daarop toepas. Die werk het meer te doen met idees rondom wet en orde, en die aristokratiese ideaal, iets wat glad nie deur die huidige swart elite misken word nie.

Miskien sal lesers met my verskil, maar ek het nog nie enige beswaar teen die swart rolverdeling gehoor van selfs die mees regse Afrikaner of Boere-aktivis nie. Elders in die vroeë Afrikaanse letterkunde is daar baie gevalle waarin swartheid besing word – dink maar aan Eugène Marais en sy “Mabalel”, of Dwaalstories.

Trouens, daar is min in die “Afrikanerkultuur” – en daar bestaan beslis vandag nie meer so ’n eenvormige ding nie – wat heeltemal wit is. Ons skisoïede verhouding met Afrika kan dalk help om lig te werp op een van die mees verwaarlooste aspekte van die Suid-Afrikaanse Wonderwerk – hoe wit mense in die referendum hulself uit die stoele van mag gestem het nadat hulle enkele jare tevore nog massiewe steun aan die Nasionale Party gegee het. 

Een van die dinge wat ’n erkenning van die swartheid in hulself aan wit mense kan besorg, is ’n beswering van die vrees vir transformasie. Transformasie hoef nie die vyand te wees nie – Afrikaners is reeds halfpad op pad daarheen. Trouens, met hulle  besondere antikoloniale geskiedenis en die naam wat hulle gebruik, behoort hulle eerder te dink aan maniere om die leiding daarin te neem.

Dwarsdeur Afrikaners se geskiedenis is groot wreedhede teenoor mense wat nie wit is nie, gepleeg, maar daar was ook deurgaans ’n bereidwilligheid om te vermeng, vleeslik maar veral geestelik. Die groot tragedie van apartheid, vir Afrikaners, was dat in tye van snelle globalisering en verstedeliking, toe die prekoloniale isolasies begin verdwyn het en wit en swart langs mekaar begin woon het, hierdie bereidwilligheid onderdruk is.

Die grootste middel hiervoor was die geskeide onderwysstelsel, waar pleks van om hierdie bereidwilligheid, hierdie potensiaal te ontgin om Afrikanerkinders te dwing om ’n swart taal te bemeester, is swart tale verban na die townships met hul swak skole. Hierdie sonde van ons Afrikanervaders is besig om aan hul kinders en dié se kinders besoek te word.

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Louis de Villiers

    Hans
    Interessante brief!
    Ter agtergrond kan jy dalk ook bietjie gaan nalees oor Afrika-gene van ander (wit) Europese volke. Dit mag jou dalk verbaas dat daar wit Europese volke is wat 'n hoër Afrika-geen komponent het as die Afrikaners, ten spyte van die Afrikaner se "bereidwilligheid tot vleeslike vermenging".
    Hierdie gene is meesal ook nie onlangs, te wete in die koloniale era "verwerf" nie, maar oor duisende jare van migrasie van die menslike spesie.
    Groete.

    • Avatar
      Johannes Comestor

      Louis, ek dink nie Europese volke se tradisionele geneigdheid tot prestasie kan aan die Afrikakomponent toegeskryf word nie. Al sou dit polities byderwets wees, dink ek dat plaaslike blankes nie na meer Afrikagene moet streef nie. Laat iedere etniese groep liewer kultureel op sy eie manier uitmunt.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top