Senekal: Soms is ’n protes net ’n protes

  • 30

Bettina Wyngaard (foto: Naomi Bruwer)

"A riot is the language of the unheard," sê Martin Luther King by geleentheid. En soos soveel ander protesaksies die afgelope tyd, glo ek die Senekal-protes het ook ontstaan uit frustrasie omdat boere voel hulle word nie gehoor nie.

Dat ʼn jong man in die fleur van sy lewe so grusaam vermoor is, is skokkend en hartseer. Dat boere hulself sien in sy lewe en sterwe, is ook te verstane. Wanneer een vrou verkrag en vermoor word, voel alle vroue onveilig, want ons weet dit kon so maklik ons gewees het. There but for the grace of God ... As een swart persoon onnodig deur polisietoedoen sterf, voel alle swart mense dit aan hul eie bas. Hoekom sal plaasboere anders voel? Dalk is hierdie die George Floyd van die plaasboere.

Vroeër jare was daar in plaasgemeenskappe ʼn kommandostelsel wat boere se veiligheid help verseker het. Dis ontbind, en niks anders is in die plek daarvan gestel nie. Die probleem is, die kommando’s het by tye swart gemeenskappe geterroriseer. Nie oral nie, en nie almal nie, maar daar was genoeg gevalle om ʼn teiken op die rug van alle kommando’s te plaas. Ek self verkies dat mans (en dis meesal mans) met ʼn ego, ʼn wrok en ʼn reuse-chip op die skouer nie boonop bewapen word en mag gegee word om te polisieer nie. Met die ontbinding van die kommandostelsel in die vorm wat dit was, het ek geen probleem nie. Waarmee ek wel ʼn probleem het, is dat dit nie vervang is deur een of ander vorm van inklusiewe gemeenskapspolisiëring wat alle persone veilig maak in plaasgemeenskappe nie.

Ek bly self in ʼn plattelandse gemeenskap, en moes al meermale hoor hoedat mense wat ek ken, in hul plaashuise aangerand, beroof en aangehou was. Daar is kommunikasie tussen verskillende plase om mekaar te waarsku as daar ongewenste karakters raakgesien word, maar niks op die skaal van wat georganiseerde polisiëring kan doen nie.

Dus kan ek die frustrasie van die boere verstaan. Ek kan verstaan dat hulle hof toe sou gaan om met hul teenwoordigheid protes aan te teken. Daar is niks ongewoons aan nie. Hoeveel maal het ons nie al gesien hoedat verskillende groepe by verkragting- of moordsake gaan protesteer en vra dat die beskuldigdes nie op borg vrygelaat moet word nie?

Ek kan selfs verstaan dat Bheki Cele die optrede van die boere veroordeel. ʼn Polisievoertuig is aan die brand gesteek. Hy kan immers nie stilbly daaroor nie. Maar om dit rassistiese optrede te noem, is dalk net te eenvoudig.

Terwyl die boere in Senekal protesteer het, was ek in ʼn buurdorp om my bestuurslisensie te hernu. Ek kon dit nie in my eie dorp doen nie, want die verkeersdepartement is tydens protesaksie afgebrand. Deur swart protesteerders wat oor dienslewering protes aangeteken het. Niemand het die afbrand van die gebou as rassistiese aksie bestempel nie.

Die ras van die brandstigter behoort geen oorweging te wees nie. Die afbrand van die verkeersdepartement was krimineel. Die uitbrand van die polisievoertuig was krimineel. Dit behoort krimineel vervolg te word. Maar om politieke betekenis in die een te lees en nie in die ander nie, is belaglik. In beide gevalle word daar immers protes aangeteken omdat een of ander tak van die regering nie hul pligte teenoor burgers nakom nie. Net omdat die protesteerder dalk nie by die volgende verkiesing vir die regerende party gaan stem nie, beteken dit nog nie dat dienste nie gelewer behoort te word nie, of dit nou polisiëring of behuising is.

Geen jongmens van enige ras behoort in die fleur van sy lewe te sterf nie. Veral nie gewelddadig nie. Wanneer ons dit sonder protes kan aanvaar, is wanneer ons as samelewing ernstig onsself moet ondersoek.

Nee, Bheki Cele, dis nie rassisme as daar protes aangeteken word nie.

Maar as mense net aanhou ignoreer word, moenie verbaas wees as hulle vuurhoutjie in die hand hul ontevredenheid te kenne gee nie.

 

 

  • 30

Kommentaar

  • Daardie uitgebrande polisievoertuig is vir die libs 'n godsend; nou is die uitbrand van AL die ander polisievoertuie, biblioteke, skole, stadsale ens 'vrygespreek' kan jy maar sê.

  • Christine Heyns

    Die artikel laat my dadelik dink aan onderskeid, ons en julle, wit en swart, rassiste en mense wat nooit van rassiste beskuldig kan word nie. Dis asof die skrywer verbaas is oor die feit dat die "boere" (nog 'n aparte groepering) die reg het tot protes. Ons verstaan nie mekaar se leefwêrelde en denke. Totdat jy die komplekse aard van veediefstal en ander misdaad op die platreland en die polisie se aandeel in meeste daarvan verstaan nie, sal die optrede in Senekal vir jou 'n raaisel bly. Dis hartseer maar ja, ons sal mekaar seker nooit verstaan nie.

  • Gustaf Claassens

    Die punte word goed bymekaar gemaak. George Floyd wat 'n krimineel was, is egter nie 'n goeie voorbeeld of vergelyking nie. Dis wel 'n stuk wat dinge in perspektief plaas en wys op die kompleksiteit van Suid Afrika. Koel koppe is nodig en ons moet slim burgers wees.

  • Zane Paarwater

    Jy slaan die spyker op die kop, Bettina. Elke week is daar protesaksie reg oor die land waar geboue, voertuie ens ens afgebrand word. Enige vorm van kriminaliteit moet vervolg word, daar is geen twyfel daaraan nie. Die probleem is dat in Suid-Afrika ons ’n kultuur begin kweek het waar niemand na jou luister as jy nie skree, brand of erger nie. ’n Goeie voorbeeld is die Fees Must Fall beweging. My eie opinie oor die ideaal wat nagejaag word maak nie saak nie, die punt is, ’n geskree, brand van polisievoertuie, geboue ens het uiteindelik vir die beweging presies gegee wat hulle wou. Dit skep ’n presedent. Mense in Hoopstad is gatvol vir die tekort aan dienslewering, armoede, hul lewens wat elke dag slegter word, hulle brand ’n petrol lorrie, maak die dorp onbegaanbaar. Boere in Senekal is gatvol dat daar elke week nog berigte is van brutale aanvalle op plase, iets breek, ’n polisievoertuig brand. Weereens, ek stem glad nie met kriminaliteit saam nie, maar as die regering nie sy eie mense beskerm nie kan mens wel verstaan dat daar ’n breekpunt kom. Of dit nou in Hoopstad of Senekal is, wit, swart wat ook al. Soos jy tereg sê het hierdie niks met kleur te make nie, maar met vrees, gatvolheid en die presedent waaroor ek vroeër gepraat het. Dit is egter hartseer dat ’n klompie boere wat daardie breekpunt bereik het en krimineel geword het nou deur sekere politieke partye en sommige in die media verkoop word as verteenwoordigend van alle boere (of erger, alle witmense). Gaan lees gerus AgriSA se mediaverklarings van die afgelope paar jaar. Dis net so goed ons glo die EFF se uitsprake is verteenwoordigend van alle swartmense. Dis tyd dat ons regering ophou politiek-politiek speel en ons land se mense beskerm, of jy nou ’n kind is in Kraaifontein, ’n swanger vrou in Roodepoort, of ’n jong man in Paul Roux.

  • Baie waar. Ons is reg vir wat ons toekom maar hulle moet ook dan wees. Brand is nie die antwoord nie. Ons moet ook begin moor soos hulle? Nee ons kan nie want ons is mense. Wit mense

  • Julio Agrella

    Dankie Bettina! Ongelukkig raak ras (van en deur alle kante van die spektrum) te maklik 'n "verskoning"

  • Goed geskryf. Effens ongelukkige vergelyking om te sê "Dalk is hierdie die George Floyd van die plaasboere" George Floyd was 'n krimineel met 'n LAAANG rekord.

  • Gert Badenhorst

    Soms kan mens met Bettina se plasings saamstem en dit onderskryf. Hierdie is een van hulle. Dankie Bettina vir die nugtere en gebalanseerde skrywe!

  • Absoluut die waarheid! Hoekom kan die regering dit nie ook so insien nie, en nie altyd die rassekaart speel nie?

  • Johann Basson

    Goed beredeneerde artikel. Dankie. Nou my vraag: "Wat staan die Suid-Afrikaanse nasie te doene met 'n vrotsige regering soos die ANC-regering? Welke regsmiddele het die burgery sonder dat die ANC-regering belastinggelde misbruik vir gedingvoering nie?"

  • Ek dink nie Betinna het die slagoffers van 2 voorvalle met mekaar vergelyk nie, maar wel die voorvalle. Zane soos tereg gesê wil vir die breë publiek voorkom as of slegs reaksie is as protes met geweld gepraat gaan.

  • Veronica Herselman

    Ek luister na 'n swart politieke analis op Morning live hy sê "Daar is geen verskil tussen plaasmoorde as in die townships nie... daar is veel meer moorde daar. Groot verskil - townships is swart op swart, plaasmoorde swartes wat die dade pleeg meestal op wit boere. Dis is rassisme.

  • Hans Richardt

    Protes deur burgerregte-organisasie vs politieke militia?
    Sodra jy "uniform" aantrek en voorgee jy gaan iets of iemand se belange beskerm, is jy besig om die staat se pligte oor te neem.
    Wat politieke partye nog moet leer in SA, is dat hul nie die staat is nie!
    Dan: vreedsame protes deur 'n burgerregte-organisasie, wat nie in straatgeveg met politieke militia of saam met burgerlike militia wil deelneem nie, verteenwoordig tog die belange van mense wat wetsgehoorsaam teen swak dienslewering protes aanteken.
    Vele kommentators verstaan nie die dekorum van 2 uiteenlopende tipe organisasies nie, nl anargististiese burgerlike militia en VN-erkende burgerregte-organisasie nie.
    Die laaste wapens in enige oorlog is papier en pen. Nie die ou wie se piepie die grootste is nie!

  • So die boere is omgekrap. Die vraag is het hul rede om omgekrap te wees. Agter die optrede lê 'n lang geskiedenis van veediefstal waarby na bewering sommige lede van die plaaslike polisie betrokke is.
    'n Jong plaasvoorman word wreedaardig vermoor. Toegang tot hofverrigtinge is beperk, maar die polisiehoof Cele en die land se grootste opstoker Malema sit styf sy aan sy in die hofsaal.
    Buite is opstokers besig om nog meer op te stook met 'n dreigement dat daar gebrand sal word. Nie lank daarna lees 'n mens in Rapport: https://www.netwerk24.com/Nuus/Brande/betogers-se-brand-verswelg-duisende-hektaar-vee-in-VS.

    Hou die voorvalle verband met mekaar? Dit is moeilik om te bewys, maar dit is opmerklik dat waar die EFF betrokke is met enigiets, is daar skade en dat daar moontlik ’n verband is tussen opstokers se oproepe en die verwoestende brand.
    Die vraag is dan waarom is die polisie nie sou ingrypend om EFF opstokers te arresteer wat winkels plunder en grootskaalse skade aanrig nie, maar vinnig genoeg om twee boere voor die hof te sleep?

    Kan ’n mens enige optrede weerskante toe goed en wegpraat? Onder normale omstandighede nie, maar ons leef in abnormale tye van geweld en onrus, waar die polisie nie sy rol vervul om onrusstokers weerskante vas te vat nie, maar selektief te werk gaan en maklike teikens arresteer, lyk dit vir my; om te toon dat hul darem iets aan die saak doen.

  • Hans Richardt

    FC Boot, kommerwekkend is dat EFF lid sing "bel die brandweer..." en dan brand plase af in Vrystaat, Noordwes en Noordkaap.
    Dis KOMMERWEKKEND.
    Daar is weliswaar baie navorsing nodig oor spesifiek die "modus operandi vingerafdruk" van plaasaanvalle. As daar baie ooreenkomste is met hoe die aanvalle verloop, is daar georganiseerde misdaad by betrokke met oogmerk om paniek te saai, wat dit tereurdade maak. Hier wil ek noem, dat op sigbare oordeel, die mate van geweld teen slagoffers vir die ekonomiese waarde van goedere geroof, buite verband is. Die doel is om ooggetuies te elimineer of te intimideer, om vervolging te bemoeilik.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top