Stakings en protesaksie in die Suid-Afrikaanse demokrasie

  • 0

......

Verskeie onlangse LitNet Akademies-artikels het arbeidswetgewing met betrekking tot stakings, gewelddadige protesoptredes, diensleweringsprotesoptredes, swak dienslewering deur munisipaliteite, asook korrupsie in die staatsdiens ondersoek:

......

Chris Nelson skryf oor die Suid-Afrikaanse demokrasie wat gekenmerk word deur en gebuk gaan onder stakings en burgerlike protesaksie, onder andere die protesaksies in Senekal, met al die emosie en polarisering wat daarmee gepaard gaan:

 1. Inleiding

Twee gebeurtenisse gedurende die eerste week van Oktober 2020 het opnuut die feit beklemtoon dat die Suid-Afrikaanse demokrasie gekenmerk word deur en gebuk gaan onder stakings en burgerlike protesaksie met al die emosie en polarisering wat daarmee gepaard gaan.

  • Op 7 Oktober 2020 het die vakbondfederasie Congress of South African Trade Unions (Cosatu) sy 1,8 miljoen lede opdrag gegee om tot ’n landwye staking oor te gaan. Die staking is gesteun deur die Federation of Unions of South Africa (Fedusa) sowel as die South African Federation of Trade Unions (Saftu). Hierdie staking is gereël ingevolge artikel 77 van die Wet op Arbeidsverhoudings, 1995 (WAV), wat beteken dat dit as ’n beskermde staking beskou sou word. Die regering het egter aangekondig dat die beginsel van “geen werk, geen betaling” vir die duur van die staking sou geld. Nie minder nie as 12 kwessies is deur Cosatu met die staking te berde gebring (Businesstech 2020a).
  • ’n Dag tevore, op 6 Oktober 2020, het ’n groep landbouleiers en lede van die plaaslike gemeenskap by die Landdroshof op Senekal, ’n dorp in die Vrystaat, byeengekom om tydens die verhoor van twee vermeende moordenaars van ’n wit plaasbestuurder hulle ontevredenheid met en weersin in die soveelste wreedaardige plaasmoord te kenne te gee. Tydens die protesaksie is die hofgebou deur sommige deelnemers aangeval en beskadig asook ’n polisievoertuig aan die brand gesteek. Enkele individue is in hegtenis geneem (Head 2020).

 2. Doel

Die doel van hierdie kort artikel is drieërlei: Om in breë trekke ’n oorsig te verstrek van die oorsake, omvang, intensiteit en gevolge van stakings in die Suid-Afrikaanse demokrasie; om in ewe breë trekke die omvang en oorsake van burgerlike protesaksies aan te dui; en om aan te dui wat die algemene oplossing vir hierdie uiters negatiewe, destruktiewe en ontwrigtende verskynsels is.

3. Die oorsake van stakingsaksie

Die oorsake van stakingsaksie in Suid-Afrika is in die algemeen uitermate gekompliseerd. Meermale handel dit egter oor baie spesifieke aangeleenthede. In hierdie verband onderskei die navorsers Murwirapachena en Sibanda (2014), onderskeidelik verbonde aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU) en die Universiteit van Fort Hare (UFH), die volgende kategorieë stakings in terme van doelstellings:

  • Stakings ten einde loonverhogings te verkry. Dit is ’n algemene verskynsel dat lone in Suid-Afrika betreklik laag is en dat werkgewers traag is om aan werkers se looneise te voldoen. Die buitensporige eise lê dikwels aan die wortel van die traagheid. In 2013 het die Suid-Afrikaanse Kamer van Mynwese, wat produsente in die mynbousektor verteenwoordig, ’n loonverhoging van 5% aan werkers aangebied. Die National Union of Mineworkers (NUM) was egter nie hiermee tevrede nie en het aangedring op ’n verhoging van 60%. Die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) het selfs verder gegaan en ’n verhoging van 150% geëis.
  • Stakings wat voortspruit uit die wedywering tussen vakbonde of vakbondfederasies. Vakbonde en vakbondfederasies is bykans sonder uitsondering militante outoritêre instellings met radikale politieke en ideologiese beskouings. Verder is vakbonde normaalweg in felle kompetisie met mekaar. Soms word die belange van die vakbondleiers van groter belang geag as die belange van die werkers wat hulle veronderstel is om te dien. In Suid-Afrika is daar talle voorbeelde hiervan. Verder is dit opvallend dat verskillende vakbonde in dieselde bedryf/sektor funksioneer. ’n Treffende voorbeeld is die van NUM en Amcu wat beide in die mynbousektor aktief is.
  • Stakings om armoede, werkloosheid en ongelykheid aan te spreek. Dit is bekend dat Suid-Afrika die mees ongelyke samelewing ter wêreld is. Oudpresident Thabo Mbeki het by geleentheid verwys na die bestaan van twee nasies in Suid-Afrika. Die een is die wit minderheid, wat relatief welvarend is en toegang het tot talle bestaansbronne. Die ander is die swart meerderheid wat onderontwikkeld is en geteister word deur onderontwikkeling, armoede en werkloosheid. Hierdie besondere kenmerk van die samelewing skep die ideale omstandighede vir vakbonde om bepaalde emosies by die werkerskorps op te wek en hulle vir stakingsaksie te mobiliseer.

Stakings in Suid-Afrika is egter in die meeste gevalle nie tot ’n spesifieke kwessie beperk nie. Dikwels word stakings deur vakbonde gereël om werkers se algemene ontevredenheid met ’n wye spektrum kwessies te kenne te gee. Hierdie kwessies kan byvoorbeeld betrekking hê op die teenwoordigheid van die groot getalle trekarbeiders, die nalatenskap van die apartheidsera, of bloot die moontlikheid van afdankings in ’n bepaalde sektor.

Die landwye staking van 7 Oktober 2020 wat deur Cosatu geïnisieer is, bied inderdaad ’n treffende illustrasie van die wye verskeidenheid kwessies wat tydens stakings te berde gebring kan word. Nie minder nie as twaalf kwessies is tydens hierdie staking pertinent vermeld:

  • Die gebrek aan persoonlike beskermende uitrusting vir gesondheidswerkers wat die COVID-19-pandemie beveg.
  • Die mislukking van die openbare vervoerstelsel.
  • Die ondermyning deur die regering van die kollektiewe bedingingstelsel in die openbare sektor.
  • Die algemene oneffektiwiteit van die regering van die dag.
  • Die plaag van korrupsie in Suid-Afrika.
  • Die verlies van R80 miljard deur prysoordragmanipulasie.
  • Die plundering deur werkgewers van die COVID-19 Tydelike Werknemersverligtingsfonds (TERS).
  • Wanbestuur van die staatsbeheerde ondernemings wat geldelike probleme ondervind of reeds in bankrotskap verval het.
  • Die onvoldoende magte van die Mededingingskommissie.
  • Voortgesette kartelvorming.
  • Die versuim om die wysigings van die Wet op Mededinging, 1998 wat voorsiening daarvoor maak dat direkteure en bestuurders van ondernemings krimineel vervolg word in werking te stel.
  • Die versuim om familielede van politici te verbied om sakebedrywighede met die staat te onderneem (Businesstech 2020a).

Dit is ironies dat etlike van die kwessies waaroor die staking gereël is, teen die regering gemik is terwyl Cosatu ’n deelgenoot van die regerende Drieparty-alliansie is.

4. Die omvang, intensiteit en gevolge van stakingsaksie

Die algemene beskouing in die samelewing is dat eietydse Suid-Afrika geteister word deur omvangryke arbeidsonrus en dat stakings in die besonder ’n bedreiging vir sosio-ekonomiese stabiliteit en vooruitgang daarstel. Sommige waarnemers is selfs oortuig dat ten einde hierdie tipe optrede te beperk, dit noodsaaklik is dat die WAV gewysig word om stakings te bemoeilik.

Volgens Carin Runciman (2018), senior navorser verbonde aan die Universiteit van Johannesburg, is hierdie beskouing rakende die voorkoms van stakings egter nie korrek nie. Deur gegewens soos verstrek deur die Departement van Arbeid betreffende die aantal werkonderbrekings en werksdae verloor as gevolg van stakingsaksie gedurende die tydperk 2006–2016 te bestudeer het sy tot twee interessante gevolgtrekkings gekom:

  • Ofskoon die aantal verlore werksdae in sekere jare hoog was, dui die algemene tendens op ’n afname.
  • Stakings was in die algemeen van korte tydsduur. Gedurende die onderhawige tydperk is 75% van alle stakings binne twee weke beëindig en 42% in minder as ’n week. Slegs ’n skamele 6,8% van stakings het langer as een maand geduur.

Deur navorsingsresultate van Haroon Bhorat en David Tseng, verbonde aan die Universiteit van Kaapstad, betreffende stakingsintensiteit te bestudeer het Runciman (2018) tot die gevolgtrekking gekom dat stakingsaktiwiteit in Suid-Afrika laer is as in onder andere Brasilië, die VSA, Indië, Argentinië, Spanje en Italië, en vergelykbaar is met Europese state soos Oostenryk, Finland en Denemarke. Dit beteken dat stakingsvlakke in Suid-Afrika vergelykbaar is met, en selfs laer is as etlike middel- en hoë-inkomste-state in die wêreld.

Laastens het Runciman, deur data te bestudeer wat deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens se afdeling vir Openbare Orde gedurende die tydperk 1997 tot 2013 ingesamel is, tot die gevolgtrekking gekom dat 88% van alle arbeidsverwante aksies vreedsaam was. Op grond van hierdie bevinding is sy nie oortuig dat daar ’n feitegrondslag bestaan om wysigings aan die WAV aan te bring nie.

......

“Nie alleen was en is daar steeds ’n toename in burgerlike protesaksie nie, maar daar is ook ’n toename in die vlakke van geweld tydens sulke aksies. Die onlangse gebeure in Senekal lewer sprekende bewys. Sodanig is die voorkoms van protesaksie dat eietydse Suid-Afrika onlangs beskryf is die ‘proteshoofstad’ van die wêreld.”

......

Waarnemers en kundiges oor arbeidsaangeleenthede is dit met mekaar eens dat ongeag die vlak van stakingsaktiwiteit en stakingsintensiteit in ’n samelewing, die gevolge van sodanige aktiwiteit altyd negatiewe implikasies inhou vir sowel die werknemers as die werkgewers. Die werkgewers se sakebelange word benadeel en die werknemers loop die gevaar om hul werk en/of inkomste te verloor. Ter illustrasie kan genoem word dat 137 712 werkers in Suid-Afrika in 2018 alleen R266 miljoen rand as gevolg van stakingsaksie verloor het. ’n Begrip van die prys wat werkgewers moes betaal, kan gevorm word as in ag geneem word dat vanweë die 165 stakings in 2018 soveel as 1 158 945 werksdae in die slag gebly het (Businesstech 2020b).

Murwirapachena en Sibanda (2014) bevestig die feit dat stakings selde positiewe resultate het. Ter illustrasie wys hulle daarop dat stakingsaksie bykans sonder uitsondering gepaard gaan met: produksieverliese vir sakeondernemings; die verbreking van verbintenisse tussen sakeondernemings en hulle voorsieners en klante/kliënte; investeringsverliese wat die ekonomie nadelig tref; werksverliese; inkomsteverliese; en soms selfs lewensverlies, soos wat die tragiese gebeure by Marikana in 2012 alte duidelik geïllustreer het.

5. Die omvang, oorsake en koste van burgerlike protesaksie

Hier bo is aangetoon dat stakingsvlakke en stakingsintensiteit, anders as wat algemeen aanvaar word, vergelykbaar is met, en selfs laer is as, dié in etlike middel- en hoë-inkomste-state in die wêreld. Die geweld wat met stakings gepaard gaan, is insgelyks nie baie hoog nie. Ongelukkig kan dieselfde nie verklaar word met betrekking tot burgerlike protesaksie nie. Nie alleen was en is daar steeds ’n toename in burgerlike protesaksie nie, maar daar is ook ’n toename in die vlakke van geweld tydens sulke aksies. Die onlangse gebeure in Senekal lewer sprekende bewys. Sodanig is die voorkoms van protesaksie dat eietydse Suid-Afrika onlangs beskryf is die “proteshoofstad” van die wêreld.

Navorsers se bevindings betreffende die omvang van burgerlike protesaksie in Suid-Afrika verskil hemelsbreed. Volgens Lizette Lancaster en Godfrey Mulaudzi (2020), navorsers verbonde aan die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) en wat data rakende protesaksie sedert 2013 versamel het, het 2,26 protesaksies per dag die afgelope sewe jaar plaasgevind. Die hoogste daaglikse gemiddeld was in 2013 en 2014 met meer as drie protesaksies per dag. Met die bewindsaanvaarding van president Ramaphosa in 2018 het die syfer gedaal tot een per dag. Die syfer het daarna weer gestyg tot 2,5 per dag in 2019. Die uitbreek van die COVID-19-pandemie in 2020 het egter die prentjie ingrypend verander. Bogenoemde navorsers wys daarop dat daar inderdaad ’n dramatiese toename in protesaksie sedert Julie 2020, na die verslapping van ingrendelmaatreëls, plaasgevind het. Gedurende hierdie maand het 232 protesaksies plaasgevind, ’n gemiddeld van 8 per dag, wat die hoogste syfer is sedert 2013 toe begin is om data te versamel.

......

In die lig daarvan dat Suid-Afrika reeds geteister word deur ongelykheid, armoede, werkloosheid, verdeeldheid en sistemiese korrupsie is dit gebiedend noodsaaklik dat met ’n oplossing vorendag gekom moet word. Die groot vraag is egter: Wat is die oplossing? 

......

Navorsers is ook nie eenstemmig oor die oorsake van burgerlike protesaksie in Suid-Afrika nie. Volgens Lancaster en Muluadzi (2020) kan die oorsake van die huidige hoë vlak van protesaksie wat deur hulle gemonitor is, eerstens in verband gebring word met die polisiëring van ingrendelmaatreëls en geweldsmisdaad, veral geslaggebaseerde geweld. Die tweede oorsaak was ontevredenheid oor arbeidsverwante kwessies, hoofsaaklik die verskaffing van beskermende uitrusting vir gesondheidswerkers. Derdens was diensleweringsprobleme die oorsaak vir protesaksie.

Die koste van burgerlike protesaksies in Suid-Afrika is moeilik bepaalbaar. Dat die koste egter enorm is, blyk uit die volgende voorbeeld. Volgens die Suid-Afrikaanse Spesiale-risikoversekeringsassosiasie (SASRIA) het die koste van openbare protesaksie in een jaar verdubbel. Gedurende die boekjaar 2017–2018 het eise R800 miljoen beloop, maar in die daaropvolgende jaar, 2018–2019, toegeneem tot R1,7 miljard (Talevi 2019).

6. Die oplossing vir stakings en burgerlike protesaksie

Ondanks die verskillende sienings rakende die omvang en intensiteit van stakings en protesaksie is dit ’n aanvaarde feit dat die gevolge van hierdie tipe optredes bykans sonder uitsondering ’n negatiewe, destruktiewe en verdelende uitwerking op elke samelewing het. In die lig daarvan dat Suid-Afrika reeds geteister word deur ongelykheid, armoede, werkloosheid, verdeeldheid en sistemiese korrupsie is dit gebiedend noodsaaklik dat met ’n oplossing vorendag gekom moet word. Die groot vraag is egter: Wat is die oplossing?

Die kort antwoord is dat, gegewe die feit dat hierdie verskynsels grootliks deur die heersende kapitalistiese ekonomiese model bekend as aandeelhouerkapitalisme veroorsaak is, dit noodsaaklik is dat daar na die alternatiewe kapitalistiese model, naamlik belanghebberskapitalisme, oorgeskakel word. Dit moet beklemtoon word dat oorskakeling na ’n sosialistiese model nie die antwoord is nie en nog nooit was nie. Sosialisme het oral in die wêreld waar dit tydens die moderne geskiedenis in werking gestel is, totaal misluk.

In ’n LitNet-artikel in September 2020 (“Waarom die wêreldwye aandrang vir die oorskakeling van aandeelhouer- na belanghebberkapitalisme?”) het ek dit pertinent gestel dat die bestaande kapitalistiese model van aandeelhouerkapitalisme nie meer tred hou met die eise van die moderne eeu nie en dat die oorskakeling na belanghebberkapitalisme die oplossing vir al die sosio-ekonomiese probleme bied waarmee alle moderne samelewings, insluitende die Suid-Afrikaanse samelewing, stoei. Die sukses wat bereik is deur Duitsland en etlike ander Europese en Skandinawiese state wat reeds die oorskakeling na ’n sosiale markekonomie, oftewel belanghebberkapitalisme, gedoen het, is bekend en word in gemelde artikel vermeld. 

Bibliografie

Businesstech 2020a. Major strike in South Africa today – everything you need to know. 7 Oktober 2020. https://businesstech.co.za/news/business/438589/major-strike-in-south-africa-today-everything-you-need-to-know (10 Oktober 2020 geraadpleeg).

—. 2020b. How much money South Africa’s striking workers lose in wages. 5 Februarie 2020. https://businesstech.co.za/news/business/371368/how-much-money-south-africas-striking-workers-lose-in-wages/#:~:text=South%20Africa's%20workers%20lost%20an,from%20the%20Department%20Labour%20shows.&text=The%20manufacturing%20industry%20was%20the,high%20wage%20demands%20by%20workers (11 Oktober 2020 geraadpleeg).

Head, T. 2020. Senekal protests: Cele wants farmers arrested, Malema hints at “showdown”. The South African, 7 Oktober 2020. https://www.thesouthafrican.com/news/senekal-protests-arrest-farmers-bheki-cele-reaction-julius-malema-next-court-date (10 Oktober 2020 geraadpleeg).

Lancaster, L en G Mulaudzi. 2020. Rising protests are a warning sign for South Africa’s government, Daily Maverick, 6 Augustus 2020. https://www.dailymaverick.co.za/article/2020-08-06-rising-protests-are-a-warning-sign-for-south-africas-government (12 Oktober 2020 geraadpleeg).

Murwirapachena, G en K Sibanda. 2014. Exploring the incidents of strikes in post-apartheid South Africa. Researchgate, April 2014. https://www.researchgate.net/publication/297747098_Exploring_the_incidents_of_strikes_in_post-apartheid_South_Africa (12 Oktober 2020 geraadpleeg).

Runciman, C. 2018. South Africa’s strike rate isn’t as bad as it’s made out to be. The Conversation, 24 April 2018. https://theconversation.com/south-africas-strike-rate-isnt-as-bad-as-its-made-out-to-be-95470 (11 Oktober 2020 geraadpleeg).

Talevi, G. 2019. Cost of service delivery protests more than doubles to R1,7bn. BusinessDay, 24 April 2019. https://www.businesslive.co.za/bd/national/2019-04-24-cost-of-service-delivery-protests-more-than-doubles-to-r17bn (13 Oktober 2020 geraadpleeg).

Lees en kyk ook

Senekal: Soms is ’n protes net ’n protes

Reguit met Robinson: ’n Zoom-gesprek met Theo de Jager

Senekal: Vigilantes, speurders en die stadige aksie van regsake

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top