Waarom die wêreldwye aandrang vir die oorskakeling van aandeelhouer- na belanghebberkapitalisme?

  • 1

Foto’s: Pixabay

Die beraad van die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) wat van 21 tot 24 Januarie 2020 in  Switserland plaasgevind het, word beskou as een van die belangrikste byeenkomste deur politieke en sakeleiers tot dusver hierdie eeu. Nie alleen is die vernaamste uitdagings  geïdentifiseer wat die wêreld tans in die gesig staar nie, maar in ooreenstemming met die tema van die beraad, naamlik “Belanghebbers vir ’n samehorige en volhoubare wêreld”, is ook verklaar dat oplossings vir hierdie probleme vereis dat die ekonomiese model van aandeelhouerkapitalisme deur belanghebberkapitalisme vervang word.

Hierdie standpunt is sedertdien wêreldwyd met instemming begroet deur duisende individue, regeringslui, wetenskaplikes, sakeleiers, ekonomiese verenigings, omgewingsbewustes en talle instellings in die burgerlike samelewings. Opmerklik is die feit dat veral die jonger generasies hulle tans op aktiewe wyse beywer vir die oorskakeling van aandeelhouer- na belanghebberkapitalisme. Die optrede van die jong Sweedse klimaataktivis Greta Thunberg dien as sprekende voorbeeld. Sy het sonder om te skroom die wêreld se politieke en ekonomiese leiers by verskeie geleenthede die afgelope paar jaar daarop gewys dat die voortsetting van die huidige ekonomiese model en die impak daarvan op die globale ekologie onvolhoubaar is en indien daarmee voortgegaan word, dit as verraad teen haar geslag en toekomstige geslagte beskou sal word.

In hierdie meningsartikel sal die vier belangrikste faktore aangedui word wat hierdie aandrang ten grondslag lê. Verder sal aangedui word hoe die uitbreek van die COVID-19-pandemie stukrag aan hierdie aandrang verleen. Laastens sal aangetoon word wat die huidige toedrag van sake in Suid-Afrika is.

  1. Die ongelykheid wat deur aandeelhouerkapitalisme geskep word

Die begrip aandeelhouerkapitalisme is gebaseer op die idees soos geformuleer deur Adam Smith in 1776 en Léon Walras in 1874. Die volgende terme is deur die jare as sinonieme daarvoor ontwikkel: liberale markekonomie (LME), ondernemingskapitalisme, Anglo-Amerikaanse kapitalisme, Atlantiese kapitalisme en “suiwer” kapitalisme. 

Die grondleggers van aandeelhouerkapitalisme was oortuig dat indien die onsigbare hand van ’n vryemarkstelsel toegelaat word om onbelemmerd in ’n samelewing te funksioneer, dit die effektiewe gebruik van bestaansbronne sal verseker en maatskaplike gelykheid tot gevolg sal hê. Die oortuiging was dat sodanige stelsel ’n “algemene ekonomiese ewewig” in die samelewing daar sou stel. Die volgende slagspreuke is wyd gebruik: “A rising tide lifts all boats” en “The greatest good for the greatest number”.

Hierdie utopiese visie wat deur die grondleggers van aandeelhouerkapitalisme in die vooruitsig gestel is, het egter nooit gerealiseer nie. Die Franse ekonoom Thomas Piketty het die verskynsel verklaar deur dit toe te skryf aan die teenwoordigheid in die kapitalistiese stelsel, soos toegepas sedert die 18de eeu, van ’n “sentrale teenstrydigheid”. Ofskoon sy siening fel gekritiseer is, het die kapitalistiese stelsel nie die beloofde ekonomiese ewewig teweeg gebring nie, maar het die teenoorgestelde gebeur. Die rykes in samelewings wêreldwyd het ryker geword en die armes het verder verarm. Tot oormaat van ramp het hierdie ongelykheid wat geskep is, in talle samelewings saamgeval met bepaalde kulturele, etniese en rasverdelings. Die uitwerking daarvan manifesteer tans op velerlei terreine en op velerlei wyses regoor die wêreld.

Erkenning aan hierdie teenstrydigheid inherent aan aandeelhouerkapitalisme is in 1970 deur Milton Friedman verleen in sy propagering van aandeelhouerteorie. Hy het die uitwerking van die sentrale teenstrydigheid in aandeelhouerkapitalisme nie alleen aanvaar en vir lief daarmee geneem nie, maar ook openlik verklaar dat, gegewe die feit dat “mense rasionele wesens is wat eiebelang maksimaliseer”, dit die primêre verantwoordelikheid van ’n sakeonderneming is om slegs die belange van die aandeelhouers te dien deur die lewering van maksimum wins. Die gevierde uitspraak  was: “The business of business is only business.”

..............

Die maatskaplike ongelykheid in die VSA, die wêreld se grootste ekonomie, is ’n treffende illustrasie van die ongelykheid wat deur aandeelhouerkapitalisme geskep is.

.............

Die maatskaplike ongelykheid in die VSA, die wêreld se grootste ekonomie, is ’n treffende illustrasie van die ongelykheid wat deur aandeelhouerkapitalisme geskep is. In hierdie samelewing het die boonste 10% van inkomsteverdieners in 2018 weggestap met 50% van alle inkomste en 89% van verhandelde aandele in sakeondernemings besit. Die boonste 1% het weggestap met nie minder nie as 20% van alle inkomste (Amadeo 2019). Gedurende die 1940’s het hoof- uitvoerende beamptes van sakeondernemings 20 keer meer as die werkslui verdien. Tans verdien hulle tussen 250 en 350 keer meer (Corning 2019).

Die syfers met betrekking tot ongelykheid in Suid-Afrika is ewe illustrerend. Deur die jongste gegewens van die Wêreld-Ongelykheidsdatabasis te gebruik dui Dennis Webster (2019) aan dat die boonste 1% van Suid-Afrikaanse inkomsteverdieners, soos in die VSA, 20% van alle inkomste verdien. Anders as in die VSA, waar die boonste 10% ongeveer 50% van inkomste verdien, is die syfer in Suid-Afrika egter 65%. Dit beteken dat die oorblywende 90% van Suid-Afrikaners slegs 35% van die totale inkomste verdien.

Selfs meer omvangryk is die ongelykheid in rykdom (wealth) wat in die globale stelsel in sy geheel bestaan. Volgens Paul Polman, die voormalige hoof- uitvoerende beampte van Unilever en aktiewe voorstander van die hervorming van die kapitalistiese stelsel, bereik 87% van die globale rykdom wat tans geskep word, slegs 1% van die wêreldbevolking. Volgens hom is dit ’n onhoudbare toestand wat noodwendig tot verset en rebellie sal lei (Rundell 2018).

  1. Die bewese sukses van belanghebberkapitalisme

Formele beslag aan die begrip belanghebberkapitalisme is gedurende die 1980’s deur Ian Mitroff en R Edward Freeman gegee. Die volgende terme is sedertdien as sinonieme daarvoor ontwikkel: gekoördineerde markekonomie (GME), Ryns-Alpynse kapitalisme en sosiale markekonomie. Die stelsel van kollektiewe kapitalisme soos dit deur Japan en etlike ander Suidoos-Asiatiese state in die na-oorlogse era toegepas is, sou ook tot die lys toegevoeg kon word. Breë konsensus bestaan dat die ekonomiese sukses wat Japan in die na-oorlogse era bereik het, direk toegeskryf kan word aan die toepassing van kollektiewe kapitalisme in samehang met die kulturele konsep wa (harmonie, eenheid en gehoorsaamheid).  

Volgens die grondleggers van belanghebberkapitalisme kan dit ten beste beskryf word as ’n sosio-ekonomiese model waar ’n vryemark- kapitalistiese stelsel gekombineer word met die bevordering en beskerming van die ekonomiese en maatskaplike welvaart van die samelewing. Die uitgangspunt is dat enige georganiseerde moderne samelewing nie bloot as ’n “mark” beskou kan word nie, maar in wese ’n omvangryke “projek” is wat daarop gerig is, en te alle tye moet wees, om in al die behoeftes van die samelewing te voorsien. Terwyl belanghebberkapitalisme toelaat dat individuele meriete, entrepreneurskap en vernuwende denke ruimskoots beloon moet word, rus daar ’n morele verpligting op sakeondernemings in alle sektore om ook die openbare belang te dien.

Waar hierdie morele verpligting op sakeondernemings aanvanklik bloot as ’n “corporate social responsibility” (CSR) beskou is, val die klem deesdae op ’n wye spektrum omgewings-, maatskaplike en bestuursaangeleenthede waaraan hierdie ondernemings in die voortsetting van hulle sakebedrywighede voorrang moet verleen. In die algemeen word daarna verwys as “environmental, social, governance and data (ESG&D) stewardship” . 

Belanghebberkapitalisme word tans met beduidende sukses toegepas in Europese state soos Oostenryk, België, Nederland, Luxemburg, Frankryk, Duitsland en die meeste Skandinawiese state. Die Duitse voorbeeld is van besondere belang. In hierdie staat, die wêreld se vierde grootste ekonomie, staan belanghebberkapitalisme bekend as sosiale markekonomie (Soziale Marktwirtschaft) en geniet dit wye steun in die samelewing. Van die talle voorbeelde word die volgende dikwels vermeld ten einde die sukses daarvan te illustreer: eerstens die formele erkenning van werkersregte, reeds sedert die 1970’s, deur ’n stelsel van medeseggenskap in die bestuursliggame van sakeondernemings sowel as in die werksomgewing. Dit staan as Mitbestimmung bekend.  Hierdie maatreël is dermate suksesvol dat dit reeds deur 18 state in die EU nagevolg word.

Die tweede voorbeeld is die maatreëls wat deur alle maatskaplike rolspelers aangeneem is ter beskerming van die omgewing deur ’n omvangryke nasionale energiebeleid bekend as Energiewende. Ingevolge hierdie beleid van energie-oorgang wat in 2013 aanvaar is, is dit die oogmerk om energieproduktiwiteit teen 2020 met 20% te verhoog vergeleke met 1990; om kweekhuisgasse teen 2020 met 40% te verminder, en 80% teen 2050 vergeleke met 1990; om die gedeelte van hernubare hulpbronne in energieverbruik te verhoog tot 18% teen 2020 en 60% teen 2050; en om die gedeelte van hernubare bronne in bruto elektrisiteitsverbruik te verhoog tot 35% in 2020 en 80% in 2050 (Fischer, Hake, Kuckshinrichs, Schroder en Venghaus 2016:1).

  1. Die bydrae van aandeelhouerkapitalisme tot die mees dreigende omgewingsprobleme

’n Derde faktor wat aan die wortel lê van die aandrang vir die oorskakeling van aandeelhouer- na belanghebberkapitalisme is die bydrae wat eersgemelde tot die ontstaan van die meeste van die dreigende globale omgewingsprobleme gelewer het. Hierdie omgewingsprobleme is volgens Nils Zimmermann (2016) die volgende: lugbesoedeling, kweekhuiseffek en klimaatsverandering; ontbossing; spesie-uitwissing; gronddegradering; en oorbevolking.

In die lig daarvan dat ruimte ontbreek vir ’n verduideliking van die bydrae deur aandeelhouerkapitalisme tot die meeste van die omgewingsprobleme, kan ’n begrip van die omvang van die bydrae nietemin verkry word deur slegs na die kweekhuiseffek en klimaatsverandering te verwys.

Wat hierdie aspek betref, is dit bekend dat die totale jaarlikse uitlating van slegs CO2  tans ongeveer 36 miljard ton beloop en besig is om toe te neem. Die state waarin die grootste CO2-uitlating geskied, is China (25%), die VSA (15%), die EU (10%), Indië (7%) en Rusland (5%). Wanneer die uitlating van CO2 kumulatief beskou word, verander die prentjie egter beduidend. Van die meer as 1,5 triljoen ton CO2 wat sedert 1751 in die atmosfeer uitgelaat is, was die VSA verantwoordelik vir 25%, die EU vir 22%, China vir 13%, Rusland vir 6% en Japan vir 4%. Hierdie massiewe uitlating oor so ’n lang tydperk het tot gevolg dat die CO2-vlakke in die atmosfeer tans die hoogste in 800 000 jaar is (Ritchie en Roser 2019).

Verdere belangrike feite is dat dit hoofsaaklik sakeondernemings in die energiesektor is wat die grootste bydrae tot die uitlating van CO2 en ander kweekhuisgasse lewer en dat minder as 100 van hierdie ondernemings tans verantwoordelik is vir meer as 70% van die totale uitlating. Nog meer: Die ooreengekome teiken om globale verwarming tot benede 2˚ C te beperk word nie bereik nie. Die verwagte toekomstige verwarming word op tussen 3,1 en 3,7˚ C bereken (Ritchie en Roser 2019). Wetenskaplikes skets katastrofiese scenario’s sou hierdie styging realiseer.

  1. Die inherente voordele van belanghebberkapitalisme vir regerings en  sakeondernemings

Daar bestaan wye aanvaarding van die feit dat belanghebberkapitalisme voordelig is vir regerings sowel as sakeondernemings. Die talle dreigende krisisse wat samelewings tans op velerlei terreine in die gesig staar, is van sodanige aard dat dit nie deur óf die openbare sektor óf die privaat sektor, of deur instellings in die burgerlike samelewing alleen opgelos kan word nie. Dit verg die gesamentlike en gekoördineerde optrede van almal.

Met spesifieke verwysing na die voordele vir sakeondernemings in die besonder het die navorsers Megan Blackburn (2019) en Tom Wright (2018) albei bevind dat  ondernemings in alle sektore waar die bestuur ’n verbintenis tot die bevordering van die belange van belanghebbers toon, besliste voordele kan verwag. In hierdie verband word spesifiek verwys na voordele soos hoër produktiwiteit; ’n hoë retensiesyfer met betrekking tot werknemers en klante; hoë investering deur finansiers; hoë werwing van nuwe talent; ontlokking van gesonde kompetisie; versekerde langtermyngroei; en ’n versekerde hoë etiese reputasie.

Verleen die COVID-19-pandemie stukrag aan die aandrang vir die oorskakeling van aandeelhouer- na belanghebberkapitalisme?

Dit kan onomwonde gestel word dat die uitbreek van die COVID-19-pandemie nie alleen stukrag aan die aandrang vir die oorskakeling van aandeelhouer- na belanghebberkapitalisme verleen het nie, maar tans daardie enkele faktor is wat direk, onverbloemd en op brutale wyse bydra tot die realisering van die oorskakelingsproses. Die instelling van omvangryke ingrendelmaatreëls wêreldwyd deur onvoorbereide en paniekbevange regerings op ’n oorhaastige en soms ondeurdagte en irrasionele wyse het sakeondernemings gedwing om tot herbesinning oor te gaan betreffende hulle rol in die samelewing.

................
Dit kan onomwonde gestel word dat die uitbreek van die COVID-19-pandemie nie alleen stukrag aan die aandrang vir die oorskakeling van aandeelhouer- na belanghebberkapitalisme verleen het nie, maar tans daardie enkele faktor is wat direk, onverbloemd en op brutale wyse bydra tot die realisering van die oorskakelingsproses.
.................

Tiperend van die gedwonge nuwe benadering wêreldwyd is die verklaring wat op 6 April 2020 deur die International Organisation of Employers (IOE) uitgereik is. Die IOE is die grootste netwerk van die privaatsektor in die wêreld. Dit bestaan uit 156 nasionale werkgewersorganisasies met ’n ledetal van meer as 50 miljoen sakeondernemings. In hierdie verklaring het die president van die IOE alle lede versoek om, in samewerking met hulle onderskeie regerings sowel as alle ander belanghebbers in die samelewing, die ontwrigting van die handel, voorsieningsketting en finansiële markte wat deur die koronaviruspandemie veroorsaak is, op aktiewe wyse te bekamp (Mkentane 2020).

Wat is die huidige toedrag van sake in Suid-Afrika?

Plaaslik is die proses van herbesinning en toepassing van ’n nuwe benadering om die impak van die pandemie te versag tans in volle swang. Die proses het afgeskop met die stigting van Business for South Africa (B4SA) in Maart 2020. Hierdie instelling verklaar openlik dat Suid-Afrika ’n kruispad bereik het en saam met die regering en ander maatskaplike rolspelers ’n inklusiewe ekonomiese toekoms vir Suid-Afrika moet skep. Dit is opgevolg deur 'n aankondiging van president Ramaphosa gedurende April 2020 dat Suid-Afrika ’n nuwe sosiale kontrak benodig waarin die sakesektor en die ander maatskaplike rolspelers gesamentlik en gekoördineerd moet optree om in die nadraai van die pandemie inklusiewe ekonomiese groei te bewerkstellig.

Die jongste stappe in die toepassing van ’n nuwe sosio-ekonomiese strategie vir Suid-Afrika deur twee hoofrolspelers het nie alleen op dieselfde dag, naamlik 10 Julie 2020, plaasgevind nie, maar vertoon ook ooreenkomste. Eerstens kan verwys word na B4SA se omvattende ekonomieseherstelprogram van R3,4 triljoen. Ingevolge hierdie program sal 12 projekte in 10 hoë-impak-sektore meebring dat die ekonomie oor die volgende dekade teen 5% per jaar groei. Die program vereis egter dat die regering met bepaalde strukturele hervormings vorendag moet kom (Coovadia 2020). Tweedens het die Ekonomiese Transformasie-komitee van die ANC die regering se raamwerk vir Herstrukturering, Groei en Transformasie bekendgestel met die doel om ’n nuwe inklusiewe ekonomie te bou met die klem op infrastruktuurontwikkeling (Du Plessis 2020).

Nieteenstaande die duidelike aanduiding van die noodsaak vir diepgrondige verandering deur die maatskaplike hoofrolspelers is dit op hierdie stadium onbekend of ’n nuwe sosiale kontrak en ’n oorskakeling na ’n model van belanghebberkapitalisme wel die lewenslig in Suid-Afrika sal aanskou. Twee partye in die Drieparty-alliansie en faksies binne die ANC self is nie alleen gekant teen die akkommodering van die kapitalistiese stelsel in enige vorm nie, maar toon ook ’n sterk verbintenis tot sosialisme. Dit geskied nieteenstaande die feit dat sosialisme as politieke en ekonomiese stelsel oral in die wêreld waar dit in die moderne geskiedenis in werking gestel is, misluk het. Die bekendste voorbeeld is die skouspelagtige mislukking in Oos-Europa en die USSR tydens die revolusies van 1989–91.

.............
Miskien is COVID-19 die snellermeganisme wat Suid-Afrika op ’n nuwe pad sal plaas om nie alleen die pandemie self nie, maar ook die talle ander “pandemies” wat die samelewing in die gesig staar te beveg. In hierdie verband word spesifiek verwys na die krisisse van ongelykheid, werkloosheid en armoede. 
.................

Miskien is COVID-19 die snellermeganisme wat Suid-Afrika op ’n nuwe pad sal plaas om nie alleen die pandemie self nie, maar ook die talle ander “pandemies” wat die samelewing in die gesig staar te beveg. In hierdie verband word spesifiek verwys na die krisisse van ongelykheid, werkloosheid en armoede. 

Dit was die Italiaanse diplomaat, filosoof en skrywer Niccolò Machiavelli (1469–1527) wat die volgende advies vir toekomstige leiers nagelaat het: Moenie die geleentheid wat ’n goeie krisis bied laat verbygaan nie!

 

Bibliografie

Amadeo, K. 2019. Income inequality in America, The Balance, 16 Desember. https://www.thebalance.com/income-inequality-in-america-3306190

Blackburn, M. 2019. What is stakeholder theory? Project Manager, 5 Maart. https://www.projectmanager.com/blog/what-is-stakeholder-theory.

Coovadia, C. 2020. With brave leadership our story can be one of hope and recovery.  BusinessDay, 12 Julie. https://www.businesslive.co.za/bd/opinion/2020-07-12-cas-coovadia-with-brave-leadership-our-story-can-be-one-of-hope-and-recovery.

Corning, P. 2019. Shareholder capitalism vs stakeholder capitalism. Institute for the Study of Complex Systems, 17 September. https://complexsystems.org/576/shareholder-capitalism-vs-stakeholder-capitalism.

Du Plessis, C. 2020, ANC’s post pandemic plan for economic revival set to trigger heated debate. Daily Maverick, 10 Julie. https://www.dailymaverick.co.za/article/2020-07-10-ancs-post-pandemic-plan-for-economic-revival-set-to-trigger-heated-debate/#gsc.tab=0.

Fisher, W,  J Hake, W Kuckshinrichs, T Schroder en S Venghaus. 2016. German energy policy and the way to sustainability: Five controversial issues in the debate on the “Energiewende”. Elsevier, 17 Mei. https://www.researchgate.net/profile/Sandra_Venghaus/publication/304810906_German_energy_policy_and_the_way_to_sustainability_Five_controversial_issues_in_the_debate_on_the_Energiewende/links/5b8ceada299bf1d5a73a1793/German-energy-policy-and-the-way-to-sustainability-Five-controversial-issues-in-the-debate-on-the-Energiewende.pdf.

Mkentane, L. 2020. Employers body vows to combat effects of Covid-19 pandemic. BusinessDay, 6 April. https://www.businesslive.co.za/bd/national/2020-04-06-employers-body-vows-to-combat-effects-of-covid-19-pandemic.

Ritchie, H en M Roser. 2019. CO2 and Greenhouse Gas Emissions. Our World in Data, Desember. https://ourworldindata.org/co2-and-other-greenhouse-gas-emissions.

Rundell, S. 2018. Unilever chief calls for new capitalism. Top1000Funds.com. 17 September. https://www.top1000funds.com/2018/09/unilever-chief-calls-for-new-capitalism.

Webster, D. 2019. Why South Africa is the world’s most unequal society. Mail&Guardian, 19 November. https://mg.co.za/article/2019-11-19-why-sa-is-the-worlds-most-unequal-society.

Whittaker, M. 2019. 5 Reasons to give stakeholder capitalism a chance. Forbes, 12 September. https://www.forbes.com/sites/martinwhittaker/2019/09/12/five-reasons-to-give-stakeholder-capitalism-a-chance/#730166bf4626.

Wright, T. 2018. The benefits of applying the stakeholder theory. The Cascade Blog, 16 Augustus. https://www.executestrategy.net/blog/stakeholder-theory.

Zimmermann, N. 2016. Five of the world’s biggest environmental problems. DW, 11 Oktober. https://www.dw.com/en/five-of-the-worlds-biggest-environmental-problems/a-35915705.

 

  • 1

Kommentaar

  • Dankie, Chris, dat jy só dapper is om jou te skaar agter die radikaal-linkse, anti-"whiteness" en anti-Westerse issue "mensgemaakte klimaatsverandering" waarvolgens Marxiste vir dekades lank reeds voorspel dat 'n imminente omgewingsapokalips die mensheid en die planeet net om die draai inwag. Die Kapitalistiese Weste se industrieë en konsumerisme is glo hoofsaaklik die sondaars.

    Uit jou saaklike aanvaarding van dié issue as 'n onweerspreeklike waarheid is dit duidelik dat jy - of die Globalistiese protagoniste daarvan waarin jy jou vertroue sonder teenspraak stel - oor kritiek-belangrike empiries-wetenskaplike bewyse beskik wat dit vir (veral) die groter Globalistiese gemeenskap moontlik sal maak om só 'n katastrofe suksesvol die hoof te bied.

    Jy - of daardie protagoniste - sal dus hopelik nie daarteen gekant wees om jul bewyse subiet aan die Koninklike Sweedse Akademie vir Wetenskap se Nobelpryskomitee vir Fisika voor te lê nie. Ons en ons planeet se ekologie sal jou - of die protagoniste - vir ewig dankbaar wees. Die Komitee is immers al vir langer as 'n eeu pro-aktief op die uitkyk na
    kataklismiese ontdekkings soos dié en sal die Nobel ongetwyfeld met die grootste graagte aan jou - of die protagoniste - wil toeken. Suid-Afrika het juis op hierdie stadium 'n yslike behoefte aan dié soort prestige waaroor net die wêreld se grootste prys vir fisika beskik.

    En Al Gore, tesame met Prince Charles the Woke, het net nou die dag nog voor Davos se bestes verklaar dat ons en die planeet se heil op die ondergang van die CO2-monster berus. Jy bevind jou dus in die heel beste geselskap. Die hele land wag in spanning op jou of die protagoniste se volgende skuif.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top