
Regter Steven Majiedt van die Konstitusionele Hof (foto: Jean Oosthuizen)
Dit gebeur selde dat ’n dienende regter van die hoogste hof in die land hom in die openbaar só sterk en ondubbelsinnig uitlaat oor Afrikaans, die taal se geskiedenis en die grondwetlike plek daarvan in Suid-Afrika. Nog minder gebeur dit dat so ’n regter openlik die narratief bevraagteken dat Afrikaans bloot “die taal van die onderdrukker” is.
Maar dit is presies wat Steven Majiedt, regter van die Konstitusionele Hof, die afgelope naweek in Kaapstad gedoen het tydens die sewende Danny Titus-gedenklesing van DAK-netwerk.
Tydens hierdie geskiedkundige gedenklesing in Kuilsrivier het regter Majiedt nie net die nalatenskap van wyle Danny Titus geëer nie, maar ook ’n handgranaat in die loopgrawe van die Suid-Afrikaanse taalstryd gewerp. Dit is die eerste keer in die demokratiese era dat ’n dienende regter van die Konstitusionele Hof hom so onomwonde en vlymskerp in die openbaar uitlaat oor die sistematiese marginalisering van Afrikaans en die bruin gemeenskap.
En dit maak sy toespraak waarskynlik een van die belangrikste openbare uitsprake nóg deur ’n lid van die Konstitusionele Hof oor Afrikaans in die demokratiese era.
Dit was ’n politieke en kultuurhistoriese waterskeiding. Nog nooit vantevore het ’n dienende Konstitusionele Hof-regter die amptelike narratief oor Afrikaans so reguit gekonfronteer, en die rassistiese kortsigtigheid van die regerende elite so kaalvuis oopgevlek nie.
Majiedt het nie net die geskiedenis van Afrikaans verdedig nie; hy het ook die taal se inheemse wortels beklemtoon, die marginalisering van bruin Afrikaanssprekendes aangespreek, en skerp kritiek uitgespreek teen politici en amptenare wat volgens hom die taal se ontstaan verdraai.
“Dit grens aan die ondenkbare wanneer ’n mens ministers en senior regeringsamptenare so openlik hoor verklaar dat Afrikaans nie ’n inheemse taal is nie,” het hy gesê.
“Waar, vra ek met trane in my oë, kom dit dan vandaan? Dit is die enigste taal wat die naam van ons vasteland bevat, en dít behoort eintlik die einde van die argument te wees.”
Dit is sterk taal. Veral uit die mond van ’n regter van die hoogste hof in die land.
Majiedt het Titus beskryf as iemand wat onverpoosd geveg het vir menseregte, vir bruin gemeenskappe en vir Afrikaans.
Maar sy voordrag het vinnig veel groter geword as bloot ’n huldeblyk aan ’n vriend en oudstudiegenoot.
Dit het ontwikkel in ’n diep persoonlike én politieke besinning oor identiteit, geskiedenis, taal, uitsluiting en die onvervulde beloftes van die demokratiese Suid-Afrika.
Daar was geen poging om sy frustrasie oor die toestand van die land weg te steek nie.

Foto's: Danie van Wyk, uitvoerende voorsitter van DAK-Netwerk, en regter Steven Majiedt van die Konstitusionele Hof (links); Danie van Wyk, Steven Majiedt en Wouter de Vos, DA-raadslid van Kuilsriver (regs). Albei foto’s: Jean Oosthuizen
"In ’n samelewing waarin minderhede, veral ons bruin mense, steeds sukkel vir erkenning, aanvaarding en geleenthede, het die droom van 26 Junie 1955 by Kliptown (die Vryheidsmanifes) en van 10 Desember 1996 by Sharpeville (die Finale Grondwet) klaarblyklik vervaag in ’n illusie," het Majiedt sonder skroom verklaar.
Majiedt het sy toespraak begin met ’n belangrike vrywaring: Hy praat nie namens die Konstitusionele Hof of die regbank nie. Tog dra sy woorde besondere gewig juis omdat hy ’n dienende regter van dié hof is.
Hy het DAK-netwerk geloof as “’n skitterende baken van hoop” in ’n land waar die “grondwetlike demokratiese droom” volgens hom onder geweldige druk verkeer weens gierigheid, disfunksionaliteit en identiteitspolitiek.
Dit is merkwaardig hoe direk hy oor bruin vervreemding praat – iets waaroor baie politici versigtig trap.
Nog meer opvallend is dat Majiedt sy eie familiegeskiedenis eksplisiet in die gesprek plaas. Hy verwys na homself as iemand wat afstam van ’n slaaf uit Java en ’n Khoisan-vrou. Daarmee posisioneer hy homself doelbewus binne die geskiedenis van Afrikaans as ’n kreoolse, vermengde taal wat nie uitsluitlik aan wit Afrikaners behoort nie.
Dit is juis hierdie deel van sy voordrag wat waarskynlik die grootste impak het.
Vir jare reeds woed daar ’n hewige debat oor Afrikaans se status. Aan die een kant is daar diegene wat die taal steeds hoofsaaklik verbind aan apartheid, uitsluiting en wit Afrikaner-nasionalisme. Aan die ander kant is daar Afrikaanssprekendes – veral lede van bruin gemeenskappe – wat daarop wys dat die taal lank voor apartheid reeds aan die Kaap ontwikkel het uit ’n komplekse vermenging van Nederlands, Khoi-tale, Maleis, Portugees en Arabies-Afrikaans.
Majiedt sluit hom onomwonde by laasgenoemde standpunt aan.
Hy het uitvoerig verwys na die historiese Unisa-uitspraak van 2021, wat hy self in sowel Engels as Afrikaans geskryf het – ’n kragtige simboliese gebaar, soortgelyk aan hoofregter Mandisa Maya se besluit om ’n vroeëre uitspraak in Engels en Xhosa te lewer.
In daardie Unisa-saak het die Konstitusionele Hof bevind dat die universiteit se besluit om Afrikaans as onderrigtaal af te skaf, ongrondwetlik en ongeldig was.
Volgens Majiedt was dit belangrik om in die uitspraak duidelik te maak dat vorige hofuitsprake oor taalbeleid aan universiteite nie beteken dat Afrikaans eenvoudig op die agtergrond geskuif kan word nie.
Hy sê hy het die uitspraak doelbewus in sowel Engels as Afrikaans geskryf as ’n simboliese gebaar in ’n hof waar uitsprake gewoonlik net in Engels geskryf word.
Vir te lank het die amptelike, post-1994 narratief die geskiedenis van Afrikaans doelbewus verdraai om politieke punte aan te teken. Majiedt het die toehoorders herinner dat die hof se vroeëre beslissings in die omstrede sake van die Universiteit van die Vrystaat en Stellenbosch (Gelyke Kanse) nie beteken dat Afrikaans bloot die agterste gestoeltes in die hoër onderwys moet inneem nie. Die rol van Afrikaans kan nie gereduseer word tot ’n vereenvoudigde narratief van hegemonie en agteruitgang nie.
In die Unisa-uitspraak het hy volgens sy voordrag eksplisiet probeer wegbeweeg van die simplistiese idee dat Afrikaans net die taal van wit onderdrukking is.
Hy haal die bekende Nigeriese skrywer Chinua Achebe aan: “Totdat die leeus hul eie geskiedskrywers het, sal die geskiedenis van die jag altyd die jagter verheerlik.”
Dit is ’n belangrike sleutel tot sy hele argument.
.......
Majiedt voer aan dat die geskiedenis van Afrikaans te lank vertel is vanuit die perspektief van die “jagter” – met ander woorde vanuit wit Afrikaner-nasionalistiese geskiedskrywing én later ook vanuit antiapartheidnarratiewe wat Afrikaans uitsluitlik met onderdrukking vereenselwig het.
........
Majiedt voer aan dat die geskiedenis van Afrikaans te lank vertel is vanuit die perspektief van die “jagter” – met ander woorde vanuit wit Afrikaner-nasionalistiese geskiedskrywing én later ook vanuit antiapartheidnarratiewe wat Afrikaans uitsluitlik met onderdrukking vereenselwig het.
Volgens hom het beide dié benaderings die taal se “vergete swart geskiedenis” verdring.
Hy het direk verwys na ’n opmerking van voormalige hoofregter Mogoeng Mogoeng wat in die Universiteit van die Vrystaat-saak gesê het Afrikaans is die taal van die onderdrukker.
Majiedt het hierdie historiese flater voor ’n vol gehoor in Kuilsrivier reggestel. Hy het die taal se geskiedenis teruggevoer na sy ware wortels in die vroeë Kaapse nedersetting as ’n kreoolse taal wat gevorm is uit die ryk potpourri van Nederlands, Maleis, Portugees, die Khoi-tale en Arabies-Afrikaans.
Dit is waarskynlik die eerste keer dat ’n dienende regter van die Konstitusionele Hof so eksplisiet ’n vorige hoofregter se historiese interpretasie van Afrikaans bevraagteken.
Terselfdertyd ontken Majiedt glad nie die taal se donker geskiedenis onder apartheid nie. Inteendeel. Hy erken volledig dat apartheid die taal gekaap het en dat Afrikaans inderdaad vir miljoene swart Suid-Afrikaners die taal van vernedering, polisiëring en gedwonge verskuiwings geword het.
Hy verwys selfs na die historikus Hermann Giliomee se beskrywing van Afrikaans as die taal wat gebruik is wanneer wit polisiemanne swart mense gearresteer of uit hul huise gesit het.
Maar sy punt is dat dit nie die hele verhaal van Afrikaans is nie.
“Ons kan nooit aan Afrikaans ’n eendimensionele geskiedenis toedig nie,” sê hy. Dit was “nog nooit ooit slegs die taal van die onderdrukker en die wit mense se taal nie”.
Hier lê waarskynlik die kern van sy hele voordrag.
Majiedt probeer nie die geskiedenis van apartheid versag nie. Hy probeer eerder die geskiedenis van Afrikaans terugvat van politieke oorvereenvoudiging – beide van oud- regse nasionaliste én van moderne politieke retoriek wat die taal tot ’n simbool van wit mag reduseer.
Wat sy voordrag besonder relevant maak, is die huidige politieke klimaat waarin debatte oor taal, identiteit en transformasie al hoe skerper word.
Afrikaans bevind hom in ’n vreemde posisie in die demokratiese Suid-Afrika: enersyds een van die grootste moedertale in die land, maar andersyds ’n taal wat gereeld verdedig moet word teen beskuldigings van historiese skuld.
Universiteite soos Stellenbosch en die Universiteit van die Vrystaat het reeds grootliks wegbeweeg van Afrikaans as onderrigtaal. Die argument daarvoor was meestal dat parallelmediumonderrig in die praktyk uitsluiting versterk het.
Teenstanders van dié beleid voer weer aan dat Afrikaanssprekende studente – veral arm en bruin studente – nou toenemend hul moedertaalregte verloor.
Dit is binne daardie spanningsveld dat Majiedt se woorde so betekenisvol raak. Hy plaas hom duidelik aan die kant van ’n inklusiewe, veelrassige verstaan van Afrikaans.
........
Dit is binne daardie spanningsveld dat Majiedt se woorde so betekenisvol raak. Hy plaas hom duidelik aan die kant van ’n inklusiewe, veelrassige verstaan van Afrikaans.
Nog ’n belangrike aspek van sy voordrag is sy sterk verdediging van Kaaps. “Ons moet seker maak dat Kaaps nie beskou word as ’n afwyking en onsuiwer mismaaksel van die taal nie,” sê hy.
........
Nog ’n belangrike aspek van sy voordrag is sy sterk verdediging van Kaaps. “Ons moet seker maak dat Kaaps nie beskou word as ’n afwyking en onsuiwer mismaaksel van die taal nie,” sê hy.
Dit is ’n direkte uitdaging aan puristiese idees oor “Standaardafrikaans”.
Vir baie jong Kaapse Afrikaanssprekendes is Kaaps lank reeds nie meer iets waarvoor verskoning gevra word nie, maar ’n identiteitstaal met eie kulturele gesag. Dat ’n Konstitusionele Hof-regter dit nou so eksplisiet erken, dra simboliese betekenis.
Wat Majiedt uiteindelik doen, is om Afrikaans los te ruk uit die nou raamwerk van wit Afrikaner-nasionalisme én uit die teenreaksie daarteen.
Hy probeer die taal terugplaas in sy oorspronklike Afrika-konteks: ’n taal van vermenging, oorlewing, pyn, kreatiwiteit en aanpassing.
En wanneer daardie argument kom van ’n regter van die Konstitusionele Hof en nie van ’n kultuuraktivis of taalstryder nie, verkry dit ’n heel ander gewig en sê dit waarskynlik meer oor die huidige identiteitskrisis van baie bruin Suid-Afrikaners as talle akademiese studies.
Majiedt se toespraak raak egter aan meer as taal alleen. Daar loop deurentyd ’n onderliggende frustrasie oor die posisie van bruin Suid-Afrikaners in die demokratiese bestel.
Hy het sy eie eenparige uitspraak in die bekende "Zimbabwe-martelingsaak" van 2014 as riglyn gebruik om te wys hoe Suid-Afrika homself verbind het tot internasionale menseregtenorme en die bekamping van straffeloosheid.
Dit is dieselfde internasionale verpligtinge, het hy verduidelik, wat die Suid-Afrikaanse regering onlangs aangespoor het om die opspraakwekkende volksmoordsaak teen Israel by die Internasionale Geregshof in Den Haag aanhangig te maak. Dit was ’n morele, beginselvaste standpunt wat die ondersteuning van elke regdenkende mens verdien, sê hy.
Hy vra egter waarom Suid-Afrika met groot morele oortuiging op internasionale vlak vir Palestynse menseregte kan veg, maar steeds versuim om sy eie arm en gemarginaliseerde gemeenskappe voldoende op te hef.
"As ons hierdie grootse standpunt kan inneem op die internasionale verhoog, waarom kan ons nie dieselfde doen vir ons mense hier by die huis nie? Waarom kan ons met soveel oorgawe strewe teen ’n koste van miljoene vir die afdwinging van die menseregte van die mense van Palestina, maar dit nalaat by ons mense hier tuis?"
Dit is ’n gewaagde vraag in ’n politieke klimaat waar kritiek op die regering se binnelandse prioriteite dikwels vinnig verdag gemaak word. Tog plaas Majiedt dit binne ’n breër morele argument oor menswaardigheid, erkenning en historiese geregtigheid.
Of sy uitsprake die openbare debat oor Afrikaans gaan verander, is onseker.
Maar een ding is duidelik: Dit is nie elke dag dat ’n dienende Konstitusionele Hof-regter in die openbaar verklaar dat Afrikaans inheems is, dat die taal se geskiedenis verdraai is, en dat bruin Afrikaanssprekendes steeds vir erkenning moet veg nie.
Daarom was Steven Majiedt se Danny Titus-lesing veel meer as net ’n gedenktoespraak. Dit was ’n grondwetlike regter se openbare pleidooi vir ’n meer volledige Suid-Afrikaanse geheue.
Vir diegene wat die debatte oor taal en identiteit noukeurig volg, is Majiedt se uitsprake ’n waterskeiding. Dit stroop die ideologiese argumente van die ANC-regering en universiteitsbesture van hul morele skynheiligheid.
As die hoogste hof in die land bevind dat die afskaffing van Afrikaans grondwetlik onaanvaarbaar is, en as ’n regter van daardie selfde hof die kreoolse, inheemse karakter van die taal bevestig, op watter wetlike of morele grond staan diegene wat Afrikaans as onderrigtaal steeds wil uitfaseer?
Lees ook:
Universiteitseminaar: Guerrillas en die universiteit wat moet kom
DAK Netwerk se reaksie op die ondersoek van die MRK na die taalkwessie van die US
LitNet Akademies Weerdink-onderhoud: onderrig in die tale wat kinders en studente tuis praat
Die Universiteit Stellenbosch se keuses in die 1990’s: in reaksie op Johann Rossouw
Human Rights Day 2025: mind your language! About language rights and recent developments at UCT
Nuwe minister van Hoër Onderwys: Strawwe toets wag op Buti Manamela
Skeppende KI se uitdagings en oplossings vir akademiese vaktydskrifte
Hersiene taalbeleid by Nelson Mandela Universiteit ’n groot sprong vorentoe

