Hersiene taalbeleid by Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit ’n groot sprong vorentoe

  • 0

DAK Netwerk het ’n verbete stryd gevoer met die Universiteit Stellenbosch oor die implementering van hul aangepaste taalbeleid asook met die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding vir die erkenning van Afrikaans as ’n inheemse taal. Ongelukkig het die universiteit Afrikaans op ’n syspoor gerangeer en basies as onbruikbaar gelaat.

Dit was, en is steeds, ’n akademiese tragedie dat Afrikaans, wat as ’n nasionale bate gesien en benut behoort te word, op hierdie wyse hanteer was. Ek wil nie AfriForum/Solidariteit se Afrikaanse universiteit, Akademia, by hierdie argument betrek nie, want dit is ’n privaat inisiatief wat geen ondersteuning van die regering ontvang nie.

Die fokus verskuif egter na die NMMU in Gqeberha wat op 27 Maart 2026 hul nuwe hersiene taalbeleid bekendgestel het na ’n proses van konsultasie en interne navorsing. Die hersiene taalbeleid maak voorsiening vir aanbieding van Xhosa en Afrikaans as tale van onderrig en leer om deel te vorm van die taalbeleid om akademiese vooruitgang te bevorder en te bevestig. Engels sal steeds die primêre taal van onderrig bly, maar erkenning sal nou gegee word aan die ander twee tale wat op die kampus teenwoordig is. Dit maak toegang tot akademiese vryheid moontlik en dra ook by tot akademiese uitnemendheid. Die universiteit het verder veeltaligheid ’n werklikheid gemaak deur hierdie grondverskuiwende en aktiewe nuwe taalbeleid.

........
Die hersiene taalbeleid maak voorsiening vir aanbieding van Xhosa en Afrikaans as tale van onderrig en leer om deel te vorm van die taalbeleid om akademiese vooruitgang te bevorder en te bevestig.
.........

Die universiteit se visekanselier, Sibongile Muthwa, en haar bestuur verdien ’n pluimpie vir hierdie grootse beleidsaanpassing wat alle studente tot voordeel sal strek. Dit dien vermeld te word dat die voormalige visekanselier, Geraldine Fraser-Moleketi, die inisiatief begin het, maar haar termyn het op 2 April 2026 verstryk. Die universiteit het die dominansie van Engels direk gekonfronteer, wat nog deur geen ander Suid-Afrikaanse universiteit gedoen was nie. Hier moet veral klem gelê word op die status van Afrikaans as ’n volle ontwikkelde akademiese taal. Ook gee die Universiteit op ’n indirekte wyse erkenning aan Afrikaans as ’n inheemse taal.

Sentraal tot hierdie beleid is die onderskeid tussen tale van onderrig en tale van navorsing, opleiding en leer. Lesings sal voortgaan met aanbieding in Engels, maar fakulteite sal voorsiening moet maak om leermateriaal, konsultasies en assesseringsondersteuning in ander tale daar te stel. Ook sal van fakulteite verwag word om implementeringsplanne met moniteringsmeganismes daar te stel.

Die universiteit het herhaal dat Engels nie vervang sal word nie, maar dat hulle beoog om toegang tot kennis te verbreed, met inagneming van studente se moedertale. Die universiteit erken dat taal die draer van kennis is en dat die ontwikkeling van inheemse tale prioriteit behoort te kry. Veral Xhosa sal ontwikkel moet word as ’n taal van akademiese belang. Ook is die universiteit daaraan toegewyd om Suid-Afrikaanse Gebaretaal te bevorder. Dit moet aanvaar word dat studente op geen wyse uitgesluit moet voel nie. Sonder insluiting sal studente die risiko loop om “refugees” in die universiteit te word. Veeltaligheid sal voorrang moet geniet en ’n omgewing moet geskep word waar alle student tuis moet voel om gemaklik in hul voorkeurtaal te kommunikeer en navorsing te doen. Eerstejaarstudente sal hulp ontvang in Afrikaans, Xhosa en Engels om die brug oor te steek tussen akademiese uitdrukking en begrip. ’n Student moet die vrymoedigheid hê om ’n vraag te vra, of om duidelikheid te verkry, in die taal van sy of haar keuse. Ook sal ’n student beter en met meer begrip reageer indien ’n konsep in sy moedertaal verduidelik word.

Die taalbeleid beoog ook om taal sentraal te stel in gemeenskapsvennootskappe en biblioteek- en inligtingdienste, asook om veeltaligheid deur middel van aanwysings op kampus ook in Xhosa en Afrikaans te plaas en nie slegs in Engels nie. Dit sal as rigtingaanwysers die taak van studente en besoekers vergemaklik.

Hierdie inisiatiewe dui op ’n breër institusionele skuif. Die universiteit se toewyding en oortuiging om veeltaligheid aan die universiteit te bevorder as ’n transformatiewe bemagtigingsinstrument in hoër onderwys verryk nie slegs onderrig en leer nie, maar bevestig die intellektuele waarde van inheemse tale en identiteite.

Die universiteit het bewys dat die geleentheid benut kan word deur die erkenning van inheemse tale, waar Afrikaans sentraal staan, as tale van geletterdheid. Afrikaans sal die geleentheid bied waarin Afrikaanssprekende studente hul volledig sal kan uitleef. Dieselfde kan ook van Xhosasprekende studente gesê word. Die hersiene taalbeleid het ook die kwessie van taalidentiteit aangespreek en hoe taal ’n persoon se ondervinding van leer binne so ’n omgewing, kan bevorder.   Studente hoef nou nie meer hulself van hul linguistiese erfenis te distansieer om akademies uit te blink nie.

Die universiteit het ook tale as ’n nasionale bate gesien wat ’n groot bydrae kan lewer tot die ekonomiese en sosiale vooruitgang van die land en wat ook tot groter samehorigheid kan lei. Daar moet ook kennis geneem word van die akademiese waarde van Afrikaans as ’n taal met hoëronderwyswaarde. Die departement kan gerus kennis neem van hierdie ontwikkeling en dit in hul strategieë en beleide aanbeveel.

Ook wys die universiteit daarop dat verandering op kampus in die breë nie vanuit die taalbeleid alleen sal kom nie. Die verantwoordelikheid vir implementering van die beleid lê ook by die algehele universiteitsgemeenskap. Hierdie hersiene taalbeleid verwys na ’n groter skuif na hoe taal in hoër onderwys ervaar sal word deur taal nie slegs as ’ n medium van onderrig te sien nie, maar as ’n implement van insluiting, deelname en die skep en verkryging van kennis.

Vir die NMMU is die doelwit duidelik: Skep ’n omgewing waarin leer en onderrig kan gedy en waar taal studente help om suksesvol te wees eerder as wat dit ’n versperring is en ’n vertraging kan wees. Dit is duidelik dat hierdie nuwe en hersiene taalbeleid van die universiteit nie ideologies gedrewe was nie, maar suiwer gevestig is op akademiese konsepte wat tot voordeel van studente en die hele gemeenskap sal strek. Die universiteit  moet gelukgewens word met hierdie stap wat voordele verskaf aan al die betrokkenes. Dit is wat die akademiese gemeenskap in Suid-Afrika nodig het: versiendheid en ’n toegewydheid tot uitnemendheid. Slegs daardeur sal Suid-Afrika kan groei en sy plek langs ander ontwikkelde lande kan inneem.

Danie van Wyk, Voorsitter: DAK Netwerk

Lees ook:

Méér as feestale: denkarbeid in ons moedertale

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top