Die Universiteit Stellenbosch se keuses in die 1990’s: in reaksie op Johann Rossouw

  • 1

Foto: Dieter Wolf op Unsplash; Andreas van Wyk: foto verskaf

As rektor van die Universiteit Stellenbosch van 1992 tot einde 2001 kan ek darem nie Johann Rossouw se verwronge weergawe van die US se strategiese keuses aan die einde van die ou staatkundige bedeling en die begin van die nuwe bedeling ná 1994 soos vervat in sy onlangse rubriek onbetwis so laat staan nie.

Volgens hom was dit ’n keuse vir ’n neutrale Anglo-Amerikaanse model van voortreflikheid en vir die prysgawe van die moontlikheid van aanspreeklikheid teenoor sy histories miskende bruin Afrikaanse steunbasis. Dit het sommer ook gepaard gegaan met die opskorting van sy organiese band met sy wit Afrikaanse voedingsgemeenskap.

Ek kan nie instaan vir latere besluite deur die instelling waaraan ek die grootste deel van my lewe gewy het nie, maar aan die begin van die Nuwe Suid-Afrika het Stellenbosch duidelik gekies om ’n inklusiewe Afrikaanstalige inrigting van hoër onderwys van internasionale gehalte te wees. Dit is bewustelik so geformuleer om dit duidelik te maak dat daar nie ’n teenspraak tussen Afrikaans en internasionale standaarde hoef te wees nie, soos vlakdenkenkes graag aanneem.

.............
Ek kan nie instaan vir latere besluite deur die instelling waaraan ek die grootste deel van my lewe gewy het nie, maar aan die begin van die Nuwe Suid-Afrika het Stellenbosch duidelik gekies om ’n inklusiewe Afrikaanstalige inrigting van hoër onderwys van internasionale gehalte te wees. Dit is bewustelik so geformuleer om dit duidelik te maak dat daar nie ’n teenspraak tussen Afrikaans en internasionale standaarde hoef te wees nie, soos vlakdenkenkes graag aanneem.
.................

Hierdie posisionering is destyds op verskillende maniere bevestig – eerstens deur dit in die oprigtingswet van die universiteit in te skryf, ’n stap wat gedoen is met die steun van die ANC se paar verteenwoordigers in die Volksraad waar die wetgewing ingevolge die Grondwet van 1993 deurgevoer moes word. Die verankering van Afrikaans is aan ’n antidiskriminasiebepaling gekoppel.

In 1997 is die individuele universiteitswette deur ’n algemene Wet op Hoër Onderwys vervang, opgestel deur my en Hugh Amoore van die Universiteit Kaapstad. Dit het universitêre outonomie bewustelik beskerm, onder andere deur die skep van ’n Raad op Hoër Onderwys as bufferliggaam tussen die uitvoerende gesag en die hoëronderwysinstellings. In die eerste strategiese plan wat die universiteit daarna in 2001 ná breë oorlegpleging aanvaar het, is Afrikaans ook ingeskryf as deel van die instelling se opdrag.

Die uitdruklike opdrag is verder aan die universiteit se studentewerwers gegee om klem te plaas op bruin Afrikaanstalige skole en kandidate. Dit was nie so ’n maklike taak as wat prof Rossouw mag dink nie. Weens die betreurenswaardige behandeling van die bruin gemeenskap deur die “Boere-regering” was daar beslis heelwat wantroue teenoor die universiteit in bruin onderwyskringe, maar danksy die verligte rektor Jannie de Villiers was daar reeds sedert die 1970’s bruin nagraadse studente in Stellenbosch. Hulle het elke jaar meer geword. Die groot probleem was nie juis polities nie, maar eerder sosiokultureel, finansieel en logisties. Ons het dit geweet en het stappe gedoen om dit aan te spreek.

.............
Weens die betreurenswaardige behandeling van die bruin gemeenskap deur die “Boere-regering” was daar beslis heelwat wantroue teenoor die universiteit in bruin onderwyskringe, maar danksy die verligte rektor Jannie de Villiers was daar reeds sedert die 1970’s bruin nagraadse studente in Stellenbosch. Hulle het elke jaar meer geword. Die groot probleem was nie juis polities nie, maar eerder sosiokultureel, finansieel en logisties. Ons het dit geweet en het stappe gedoen om dit aan te spreek.
................

Die Kaapse bruin bevolking het die laagste koers van deelname aan hoër onderwys in ons land. Ek raai dat dit onder andere ’n gevolg van hulle herkoms as afstammelinge van vakmanne en slawe uit die randgebiede van die Indiese Oseaan is. Vele bruin Suid-Afrikaners maak ’n bestaan as vakkundige werkers in byvoorbeeld die boubedryf, en al hoe meer in nuwe omgewings. In baie gesinne is dit ’n trotse tradisie. Ironies genoeg is dit juis op hierdie gebied dat ons samelewing se behoefte (maar ook Australië s’n) al hoe groter word. Maar ons naskoolse onderwysstelsel is feitlik suiwer akademies geöriënteerd: Gaan jy nie universiteit toe soos die slim kinders uit Soweto nie, bly jou gemeenskap agter.

Die finansiële probleme was die maklikste om aan te spreek deur beduidende bedrae aan beursgeld vir Afrikaanssprekende bruin studente beskikbaar te stel, onder andere uit die erflating van Jan H Marais, die universiteit se groot weldoener. Die logistieke uitdagings van busroetes tussen die Kaapse Vlakte en Stellenbosch was nie heeltemal in ons hande nie, maar daaraan kon ons iets probeer doen. En om akademiese agterstande aan te spreek het ons vir die eerste keer ontwikkelingskursusse begin aanbied in ’n spesiale afdeling onder leiding van die kundige Ludoph Botha. Dit was egter ook ons ervaring, soos dié van ander instellings hier en oorsee, dat die sukses van sulke kursusse beperk was omdat die agterstande ten opsigte van lees- en syfervaardigheid so diep was.

...........
En dan was daar die politieke hindernisse. Die ANC was prinsipieel gekant teen Afrikaanse universiteite, al het hulle dit nie hardop gesê nie.
..............

En dan was daar die politieke hindernisse. Die ANC was prinsipieel gekant teen Afrikaanse universiteite, al het hulle dit nie hardop gesê nie. In ’n gesprek in die Uniegebou tussen die destydse visepresident Thabo Mbeki en die rektore van die Afrikaanse universiteite is die gedagte van twee sulke instellings geopper, en Potchefstroom in die Noorde en Stellenbosch in die Suide het hulleself aangebied. Hierdie gedagte is verder gedra deur Jakes Gerwel, op daardie stadium die direkteur-generaal in die presidensie, met wie ek dit bespreek het. Sy aanbeveling te dien effekte aan Kader Asmal, die minister van onderwys, het net op laasgenoemde se tafel bly lê, al het ek verskeie kere daaroor navraag gedoen. Asmal wou dit laat sterf.

Van prof Rossouw se pro-Anglo-Saksiese keuse was daar 10 jaar na Kodesa geen sprake nie.

Stellenbosch het al sedert die sestigerjare groeiende getalle Engelssprekende studente, veral uit Natal, getrek. Die reputasie van die Regsfakulteit het dit ’n besondere aantrekkingspunt gemaak. Die Natalse wit Engelssprekende gemeenskap se persepsie van akademiese en sosiale agteruitgang op die Howard College-kampus het hierdie tendens versterk. Hierdie studente was egter oor al die jare onder geen wanindruk oor die US se pro-Afrikaanse taalbeleid nie (behalwe in die unieke Fakulteit Bosbou).

Nou, na 30 jaar in ons moderne demokratiese grondwetlike bedeling, sien sommige Afrikaners hulleself blykbaar ook voor ’n kruispad. Is dit so? Die Grondwet van 1996 kon beslis meer effektief in die beskerming van taal- en kultuurregte, veral in die onderwys, gewees het, maar om Afrikaners as ’n onderdrukte minderheid te bestempel, is eerder ’n simptoom van politieke mislukkings as ’n werklikheid: mislukkings hier te lande en in die VSA. En nou is ons paar miljoen Afrikaners die mediale speelbal van twee groepe goed bedoelende heethoofde.

Lees ook:

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Wat die De Villiers-era aan die Universiteit Stellenbosch ons kan leer

Meneer, mevrou, dominee, professor, doktor of eredoktor?

Toyota Stellenbosch Woordfees: Kunsmatige intelligensie en die tradisionele Universiteit (Netwerk24-gespreksreeks)

Hoër onderwys en die uitbou van demokrasie te midde van ’n polities omstrede landskap

Uitdagings vir die hoër onderwys

NSFAS-hulpskema vir studente kan lei tot nog ’n #FeesMustFall

DAK Netwerk se reaksie op die ondersoek van die MRK na die taalkwessie van die US

Van koshuise, tale en kommissies

’n Dekoloniale toekoms? Musiek, ras en taal aan die Universiteit Stellenbosch

 

  • 1

Kommentaar

  • Piet Croucamp

    Ek is dit eens met Andreas, Stellenbosch was ideaal geleë om ‘n uitnemende Afrikaanse universiteit te bly na 1994/96. Vir verskeie redes, maar meer spesifiek so vir redes wat te doen het met demografiese werklikhede. Maar, dalk is dit ook die rede hoekom dieselfde argument nie vir Potchefstroom kon geld nie. Ek is redelik oortuig dat die US nie meer oor 50 jaar Afrikaans sou wees nie, maar dit maak nie sin om iets te vernietig bloot omdat die toekoms onseker en onvoorspelbaar is nie.

    Dalk is Andreas se sterkste kritiek op Rossouw se historiese onervarendheid te lees in die volgende sin: “Die Grondwet van 1996 kon beslis meer effektief in die beskerming van taal- en kultuurregte, veral in die onderwys, gewees het, maar om Afrikaners as ’n onderdrukte minderheid te bestempel, is eerder ’n simptoom van politieke mislukkings as ’n werklikheid: mislukkings hier te lande en in die VSA.”

    Soms is dit belangrik om ‘n ervaring te beleef, eerder as om met retrospektiewe ‘wysheid’ ‘n eier daaroor te lê. Ek sal liewers nie kommentaar lewer op Rossouw se relaas nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top