
Prent: Pixabay
In die moderne wêreld loop mens gereeld mense raak met indrukwekkende titels voor hul name – Doktor, Professor, Dominee – maar wat beteken hierdie titels werklik vir diegene wat dit dra, en vir dié wat dit gebruik?
Vir sommige mense is hierdie titels ’n noodsaaklike teken van respek en erkenning van harde werk en toewyding, terwyl dit vir ander net ’n formele byvoegsel is wat hulle skaars noem.
Dan is daar ook diegene wat dalk nie regtig kwalifiseer nie, maar die titel met groot trots dra, soos iemand met ’n eredoktorsgraad wat as “Doktor” aangespreek wil word, al is daar nêrens ’n PhD op die horison nie. Om nie te praat van “Mevrou dominee” en “Mevrou doktor” nie.
Die vraag hoe iemand met ’n eredoktorsgraad aangespreek behoort te word het verskeie mense opnuut aan die dink gesit toe die oudkoerantredakteur Hennie van Deventer onlangs daarna op Facebook verwys het en dit ook op LitNet gedeel is.
Waarom is hierdie titels vir sommiges so belangrik en vir ander so irrelevant? Hoekom verkies sommige geleerdes om sonder enige titels bekend te staan, terwyl ander nie ’n kans laat verbygaan om hulle titels te gebruik nie?
........
In die Suid-Afrikaanse konteks, asook in baie ander lande, word ’n persoon met ’n eredoktorsgraad (honoris causa) nie formeel as Doktor aangespreek nie, aangesien die graad nie ’n akademiese of professionele kwalifikasie in die gewone sin is nie.
........
In die Suid-Afrikaanse konteks, asook in baie ander lande, word ’n persoon met ’n eredoktorsgraad (honoris causa) nie formeel as Doktor aangespreek nie, aangesien die graad nie ’n akademiese of professionele kwalifikasie in die gewone sin is nie.
Dit is eerder ’n eerbetoon wat aan die persoon toegeken word vir hul bydrae tot ’n spesifieke veld of die samelewing in die algemeen.
Indien ’n persoon wel as Doktor aangespreek wil word, moet hy of sy ’n volwaardige doktorsgraad (PhD, DPhil) behaal deur middel van navorsing en ’n proefskrif. Die eerbewys van ’n eredoktorsgraad verleen nie die reg om die titel Doktor in professionele of akademiese situasies te gebruik nie, tensy die konteks uitdruklik aandui dat dit ’n eredoktorsgraad is.
“’n Eredoktorsgraad is ’n reuse-eer. Maar verander jou status met die toekenning outomaties van meneer of mevrou tot doktor, of berus die besluit by die ontvanger?” vra Van Deventer in sy skrywe.
“Ek het mense geken wat voor die plegtigheid doodgewoon ’n meneer of mevrou was en onmiddellik daarna, tot aan die graf, doktor. Dan is daar mense soos Helen Suzman wat 27 eredoktorgrade ontvang het en Ton Vosloo (drie) sonder om dit te gebruik,” het Van Deventer geskryf.
Nog doktore wat nie hulle titels gebruik nie, is die veteraanjoernalis Max du Preez, wat ’n eredoktorsgraad in die filosofie van die Universiteit Stellenbosch ontvang het, en die Springbokafrigter Rassie Erasmus, wat die graad met die gewigtige naam Philosophiae Doctor (Honoris Causa) in die dissipline afrigtingswetenskap van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Fakulteit Gesondheidswetenskappe ontvang het.
Van Deventer meen daar behoort groter duidelikheid te bestaan oor hoe die uitdelers van sulke grade die saak sien. Anders heers daar verwarring en word daar eenvoudig onnodige druk op die ontvangers daarvan geplaas.
In reaksie op Van Deventer se skrywe blyk dit daar ontbreek inderdaad ’n vaste protokol hieroor.
Die digter en akademikus Joan Hambidge skryf in haar reaksie op LitNet dit is ’n eretitel, dit wil sê simbolies. “Dit word gebruik in korrespondensie of by amptelike universiteitsgeleenthede. Die titel Dr is alleen vir iemand wat ’n doktorale studie voltooi het.”
Alles waar, maar hoe gemaak met dr Anton Rupert? Laat hoor die kommunikasiekenner Johannes Froneman van hom. “Hy het na my wete ‘net’ ’n MSc gehad en daarna ’n eregraad gekry. Trouens, meer as een. Die res van sy lewe is hy so aangespreek en niemand het dit bevraagteken nie. Sal ons dan nou wenkbroue lig vir Irwin Khoza wat ’n eregraad gekry het én dit gebruik?”
Die politikus Mangosuthu Buthelezi is nog ’n voorbeeld van iemand sonder ’n werklike doktorsgraad wat as dr Buthelezi bekend gestaan het. Hy is bekroon met vier eredoktorsgrade in die regte: van die Universiteit van Zoeloeland in 1976, die Universiteit van Kaapstad in 1978, Florida se Tampa Universiteit in 1985, en Boston Universiteit in 1986. Hoewel hy nie ’n volwaardige doktorsgraad gehad het nie, is daar ook deurgaans in die media na hom verwys as dr Buthelezi (of prins Buthelezi).
Daarteenoor is daar nooit na politici soos FW de Klerk, Thabo Mbeki en vele ander as doktor verwys nie, hoewel ook hulle met eredoktorsgrade bekroon is.
Die toekenning van ’n eregraad aan politieke figure kan op sigself problematies wees en het al wêreldwyd protes van fakulteite of studente uitgelok. In 2001 het George W Bush van die VSA ’n eregraad van Yale ontvang waar hy in 1968 sy baccalaureusgraad in geskiedenis verwerf het. Sommige studente en fakulteite het verkies om die plegtigheid as gevolg daarvan te boikot.
Andrew Card, wat van 2001 tot 2006 as Bush se stafhoof gedien het, het in reaksie op betogings van studente en fakulteite by die aanvangseremonie uiteindelik verkies om nie te praat toe die Universiteit van Massachusetts Amherst in 2007 ’n eregraad aan hom toegeken het nie.
Sommige universiteite en kolleges is al selfs daarvan beskuldig dat hulle eregrade in ruil vir groot skenkings toeken.
Eregraadontvangers, veral diegene wat geen vorige akademiese kwalifikasies het nie, word dikwels gekritiseer as hulle daarop aandring om Doktor genoem te word, omdat die eretitel die algemene publiek oor iemand se kwalifikasies kan mislei.
In 1985 het die Universiteit van Oxford gestem om Margaret Thatcher ’n eregraad te weier in protes teen haar besnoeiings in befondsing vir hoër onderwys. Hierdie toekenning is voorheen aan alle eerste ministers gegee wat by Oxford opgelei is.
In die Suid-Afrikaanse media is daar geen duidelikheid oor die gebruik van eretitels nie.
.........
So word daar byvoorbeeld in mediaberigte (asook op die US se webwerf) na die voorsitter van die US-raad as dr Newton-King verwys terwyl daar nêrens enige aanduiding is dat sy enige doktorale kwalifikasies het nie.
.........
So word daar byvoorbeeld in mediaberigte (asook op die US se webwerf) na die voorsitter van die US-raad as dr Newton-King verwys terwyl daar nêrens enige aanduiding is dat sy enige doktorale kwalifikasies het nie.
Sy het wel ’n BA LLB-kwalifikasie van die US, en het in 2021 ’n eredoktorsgraad van die universiteit ontvang. Sy het ook ’n LLM-graad aan Cambridge-Universiteit behaal.
Vra mens ’n bietjie rond, blyk dit niemand weet regtig of daar ’n beleid van een of ander aard daaroor aan die universiteit is nie. Die meeste mense is dit egter eens dat daar nie na sulke persone as doktor verwys behoort te word nie. Die universiteit wat die eregraad toegeken het, sal wel die ontvangers daarvan in amptelike korrespondensie as Dr aanspreek tensy die persoon ’n professor is.
In ’n gewone berig in die media behoort daar nie na iemand met ’n eredoktorsgraad as doktor verwys te word nie, aangesien ’n eredoktorsgraad (honoris causa) nie ’n formele akademiese kwalifikasie is wat dieselfde titelregte het as ’n volwaardige doktorsgraad (PhD of DPhil) nie.
Nie-eretitels soos die gewone meneer, mevrou, mejuffrou of me is die korrekte titels en aanspreekvorme om te gebruik vir iemand met ’n eredoktorsgraad in ’n mediaberig, tensy daar ’n spesifieke rede is om die persoon se “doktor”-titel te beklemtoon en dit dan duidelik te maak dat dit ’n honoris causa-titel is.
In sommige gevalle kan die eredoktorsgraad kortliks genoem word om die persoon se prestasies te erken, maar dit moet duidelik wees dat dit ’n eregraad is.
Volgens Froneman neem universiteite verkeerdelik aan dat mense weet hoe dit werk. Dit is ook die geval met “buitengewone” professorate; dié posisies geld gewoonlik net vir ’n tydperk en behoort nie deur die betrokke persone in hul professionele hoedanigheid gebruik te word om as “professor” aangespreek te word nie.
Maar hoe sê jy vir “professor” X hy of sy misbruik eintlik die titel? vra Froneman tereg.
........
Dit wil voorkom of die verskynsel om iemand op hulle eretitel aan te speek dikwels gewortel is in respek, kultuur, selfbeeld en, soms, ’n bietjie pretensie.
........
Dit wil voorkom of die verskynsel om iemand op hulle eretitel aan te speek dikwels gewortel is in respek, kultuur, selfbeeld en, soms, ’n bietjie pretensie.
Die algemene reël bly egter dat ’n persoon met ’n eredoktorsgraad nie as doktor aangespreek word nie, tensy hulle ook ’n formele doktorsgraad besit.
Dit is ook nie eties of akkuraat vir iemand om na hulself as “doktor” in hul CV te verwys as hulle slegs ’n eredoktorsgraad ontvang het en nie ’n formele akademiese doktorsgraad verwerf het nie. Hierdie foutiewe gebruik kan potensieel misleidend wees vir werkgewers, akademiese instellings of die publiek.
Die beste praktyk in ’n CV is om die eredoktorsgraad duidelik en uitdruklik as ’n eredoktorsgraad aan te dui, byvoorbeeld: “Eredoktorsgraad in [Dissipline] (honoris causa), Universiteit van [Naam]”.
Die praktyk om eregrade toe te ken dateer volgens Wikipedia terug na die Middeleeue, wanneer ’n universiteit om verskeie redes oorreed kon word, of dit andersins goed geag het, om vrystelling van sommige of al die gewone statutêre vereistes vir die toekenning van ’n graad te verleen. Die vroegste aangetekende eregraad is in die laat 1470’s deur die Universiteit van Oxford aan Lionel Woodville toegeken. Hy het later biskop van Salisbury geword.
In onlangse jare het sommige universiteite heeltemal aparte postnominale titels vir eregrade aangeneem, deels te wyte aan die verwarring wat eregrade veroorsaak het. Die meeste Amerikaanse universiteite ken slegs die grade LLD (Doctor of Laws), LittD (Doctor of Letters), LHD (Doctor of Humane Letters), ScD (Doctor of Science), PedD (Doctor of Pedagogy) en DD (Doctor of Divinity) as eregrade toe.
Amerikaanse universiteite het ook nie die stelsel van “hoër doktorsgrade” wat in die VK en sommige ander universiteite regoor die wêreld gebruik word nie.
Sommige Amerikaanse universiteite, soos die Massachusetts Institute of Technology (MIT), Cornell University, Stanford University en Rice University, ken as deel van hulle beleid glad nie eregrade toe nie. Die Universiteit van Virginia, wat in 1819 gestig is, was waarskynlik die eerste Amerikaanse universiteit wat uitdruklik ’n beleid gehad het om in opdrag van sy stigter, Thomas Jefferson, nie eregrade toe te ken nie.
In 1845 het William Barton Rogers, ’n professor in natuurfilosofie en later ook in chemie, hierdie beleid kragtig verdedig; in 1861 het hy die Massachusetts Institute of Technology (MIT) in 1861 in Boston gestig en hierdie praktyk voortgesit. Die Universiteit van Virginia ken wel jaarliks Thomas Jefferson-medaljes in argitektuur en in die regte toe as die hoogste eerbewyse wat deur daardie instelling toegeken word.
Ontvangers van eredoktorsgrade behoort ook nie mondelings of skriftelik as doktor aangespreek te word deur ander akademiese instellings nie. Dit is nie korrek om hulle as doktor aan te spreek in hul professionele of persoonlike lewe nie.
Hulle behoort steeds mondelings en skriftelik aangespreek te word met die aanspreekvorm waarop hulle geregtig was voor die ontvangs van die eerbewys, byvoorbeeld meneer of mevrou.
Hierdie sosiale konvensie word egter nie altyd noukeurig nagekom nie. Bekende mense wat die erevoorvoegsel wêreldwyd gebruik het, sluit al die onderstaande persone in:
Maya Angelou, ’n memorieskrywer en digter wat geen verdienstelike grade gehad het nie. Sy het dosyne eregrade ontvang en het verkies om Dr Angelou genoem te word.
Benjamin Franklin, wat in 1756 ’n eremeestersgraad van The College of William and Mary ontvang het, en doktorsgrade van die Universiteit van St Andrews in 1759 en die Universiteit van Oxford in 1762 vir sy wetenskaplike prestasies. Hy het daarna na homself as Doctor Franklin verwys.
Alan García, voormalige Peruaanse president en politikus, wat vir baie jare die titel doktor in amptelike aanbiedings as staatshoof en as burgerlike regdeur sy politieke loopbaan gebruik. Hy is hewig gekritiseer deur die media toe daar ontdek is dat sy laaste graad ’n meestersgraad in ekonomiese ontwikkeling was en dat hy nie sy doktorale studie in die regte voltooi het nie. Hy het wel ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van Delhi in 1987 ontvang terwyl hy op ’n amptelike besoek aan Indië was tydens sy eerste termyn as president.
Edwin H Land, wat die Land Camera-kitskamera uitgevind het en ’n medestigter van die Polaroid Corporation was. Hy het ’n eredoktorsgraad van Harvard Universiteit ontvang en daar is dikwels na hom verwys as Dr Land, alhoewel hy nie enige verdienstelike graad gehad het nie.
Richard Stallman, die stigter van die Free Software Foundation, wat van 1996 tot 2014 14 eredoktorsgrade van verskeie internasionale opvoedkundige instellings ontvang het, insluitend die Noord-Amerikaanse Lakehead Universiteit in 2009. Volgens sekere bronne verwys Stallman soms na homself as Dr Richard Stallman in kontekste soos toesprake of in kommunikasie waar eretitels erken kan word. Stallman gebruik egter sy titel oor die algemeen spaarsamig en beklemtoon dit nie konsekwent nie. Stallman het in 1974 ’n BA in fisika van Harvard verwerf. Hy het ’n aantal jare spandeer om ’n PhD in rekenaarwetenskap aan MIT te verwerf, maar het in 1984 bedank voordat hy die graadvereistes voltooi het.
Sukarno, die eerste president van Indonesië, wat 26 eredoktorsgrade van verskeie internasionale universiteite ontvang het, insluitend Columbia Universiteit, die Universiteit van Michigan, die Universiteit van Berlyn, die Al-Azhar Universiteit, die Universiteit van Belgrado, die Lomonosov Universiteit en vele meer. Daar is destyds dikwels deur die Indonesiese regering na hom as Dr Ir Sukarno verwys, gekombineer met sy ingenieursgraad (Ir).
Die knoop is klaarblyklik, soos wat Van Deventer tereg opmerk, dat nie alle ontvangers snap hoe die vurk in die hef steek nie. Hulle omarm maar te gretig die besonderse eer en sal niemand ontmoedig om hulle as doktor aan te spreek nie. Hy meen die antwoord lê in beter kommunikasie opgesluit en dat instellings hul vereerdes volledig oor protokolle moet inlig, en hulle dalk selfs moet vermaan as hulle “oortree”.
Lees ook:
Elders gesien: Verander jou status met die toekenning van ’n eredoktorsgraad?
Hoër onderwys en die uitbou van demokrasie te midde van ’n polities omstrede landskap
US-konvokasie 2016: Afskeidstoespraak deur Christo Viljoen, uittredende president
Kommentaar
Die gebruik om 'n geneesheer / mediese dokter / MB ChB-gegradueerde as dr / dokter / in Engels doctor aan te spreek, ontbreek bo.
Ek kners op my tande elke oggend wanneer ek die jongste hofbeslissings op http://www.saflii.org lees. In Kwazulu-Natal dui die regters die advokate aan as "Mr X" of "Ms Y", maar elders is dit die vertonerige "Advocate X". "Advokaat" was nog nooit die aanspreekvorm vir 'n advokaat nie. Dit is ook nie 'n titel nie. Advokate is net soos die res van die bevolking meneer, mevr, mejuffrou, met die onlangse me vir vroue wat daardie aanspreekvorm verkies. In die howe word geen advokaat as "Advokaat P" aangespreek nie. Geen Britse advokaat (barrister) word as "Barrister so and so" aangespreek of geïndentifiseer nie.
Waarom dan by ons? Pretensieus en vernaam, as jy my vra.
My oorlede vriend en kollega Kemp J Kemp sal in sy graf omdraai indien hy sou hoor iemand verwys na hom as professor doctor advocate Kemp SC. In die hofverslae is hy Mnr K. J. Kemp SC tot in die Appèlhof, net soos dit hoort.
Die persoon wat deur 'n spesifieke universiteit met 'n eredoktorsgraad vereer is, word - sover ek deur die akademie gevorder het - gewoonmlik slegs op hierdie spesifieke kampus as 'doktor' aangespreek en voorgestel. Van die kampus af bestaan dié titel nie.
Ek volstaan. Dis 'n ere-titel, net gebruik in korrespondensie met die bepaalde universiteit wat dit toegeken het.
Die titel doktor is vir iemand wat 'n doktorale studie voltooi het.
Net soos die titel Advokaat wat net binne konteks gebruik word.
Vernaamdoenery?
Of onkunde? Daardie bepaalde universiteit behoort die misbruikers van so 'n titel aan te praat.