Hennie van Deventer skryf op Facebook:
’n Eredoktorsgraad is ’n reuse-eer. Maar verander jou status met toekenning outomaties van meneer of mevrou tot doktor, of berus die besluit by die ontvanger?
Op die oomblik ontbreek hieroor ’n vaste protokol, wil dit vir my voorkom.
Ek het mense geken wat voor die plegtigheid doodgewoon ’n meneer of mevrou was en onmiddellik daarna, tot aan die graf, doktor. Dan is daar mense soos Helen Suzman wat 27 eredoktorgrade ontvang het en Ton Vosloo (drie) sonder om dit te gebruik.
Om die toekenning van ’n eregraad die toets te maak vir ’n mens se beskeidenheid, of gebrek daaraan, lyk vir my onbillik. Groter duidelikheid behoort te bestaan oor hoe die uitdelers van sulke grade die saak sien. Anders heers verwarring en word eenvoudig onnodige druk op ontvangers geplaas.
Of krap ek nou waar dit nie jeuk nie?
Kommentaar
Interessante vraag, maar tog nie gekompliseerd nie. In die laureati se CVs word dit ook onder toekennings gelys en nie kwalifikasies behaal nie.
Kyk hiervoor Wikipedia https://en.wikipedia.org/wiki/Honorary_degree en volg spesifiek voetnotas 4 en 5 na.
Dit is net beperk tot korrespondensie met die bepaalde organisasie. Soos ek dit verstaan.
Dis 'n ere-titel, dws simbolies. Dit word gebruik in korrespondensie of by amptelike universiteitsgeleenthede. Die titel Dr is alleen vir iemand wat 'n doktorale studie voltooi het.
Dis hoe ek dit verstaan.
lnderdaad Joan Hambidge. Goed saamgevat. Dit is ook veronderstel om so te werk. Universiteite moet dit miskien beter of opnuut kommunikeer.
Ek gaan akkoord met die kollegas se opmerkings hier bo. Net ter verdere opklaring: in baie gevalle word ‘n ere-doktorsgraad toegeken aan persone wat alreeds ‘n PhD-proefskrif suksesvol voltooi het en wat uitnemend presteer het op akademiese gebied.
Alles waar, maar hoe gemaak met doktor Anton Rupert? Hy het na my wete "net" 'n MSc gehad en daarna 'n eregraad gekry. Trouens, meer as een. Die res van sy lewe is hy so aangespreek en niemand het dit bevraagteken nie. Sal ons dan nou wenkbroue lig vir Irwin Khoza wat 'n eregraad gekry het én dit gebruik? (Rassie sal seker nie!)
Sommige ontvangers is inderdaad groter as die eregrade en hoef dit nie te gebruik om hul status te verhoog nie.
Universiteite aanvaar verkeerdelik dat mense weet hoe dit werk. Ook met buitengewone professorate. Dit geld gewoonlik net vir 'n tydperk en behoort regtig nie deur die persone in hul professionele hoedanigheid gebruik te word nie. Maar hoe sê jy vir "professor" X hulle misbruik eintlik die titel? Al die goeie werk daarmee heen...
Johannes, Johan se Wikipedia artikel dek ook daardie vraag. Dis maar gewoon 'n geval dat die mensdom nie aldag by reëls hou nie. Die politici is ook veronderstel om die hele begroting op noodsaaklike dienste te spandeer, maar dit gebeur ook nie. Reëls is mos daar om gebreek te word. Ander goeie voorbeeld is Nelson Mandela, wat mens dikwels ook geskryf sien met die titel van Dr.
Die knoop is klaarblyklik dat nie alle ontvangers snap hoe die vurk in die hef steek nie. Hulle omarm maar te gretig die besonderse eer en sal niemand ontmoedig om hulle as doktor aan te spreek nie. Soos hier in kommentare vermeld, is die antwoord in beter kommunikasie opgesluit, Instellings behoort hul vereerdes volledig oor protokolle in te lig, en dalk selfs te vermaan as hulle "oortree", dink ek.