“Ons moet die maskers afhaal en ophou om die verfoeilike Suid-Afrikaanse kuns van dubbelpraat en dubbeldink te beoefen. As ons nie ’n helderheid bevorder omtrent wie ons is en waarnatoe ons wil beweeg nie, word ons gedwing tot onaanvaarbare en beskamende kompromieë wat almal onbevredig laat.”
Dit was die digter en skrywer Breyten Breytenbach se boodskap Dinsdagaand aan byna 2 000 lede van die Universiteit Stellenbosch se konvokasie.
Hy was een van die sprekers tydens die grootste konvokasievergadering wat die universiteit in meer as twee dekades gehad het.
Alumni het in hulle honderde opgedaag om na die sprekers te luister. ’n Paar honderd lede van die konvokasie het voor die tyd aangedui hulle sou die vergadering bywoon. Uiteindelik moes die vergadering vir bykans ’n uur uitgestel word terwyl byna 2 000 stemgeregtigde oud-Maties hulle opwagting gemaak en tougestaan het om geregistreer te word.
Nie een van die sprekers het teleurgestel of doekies omgedraai nie.
Teenoor Breytenbach wat die pro-Afrikaanse stem laat hoor het, was daar die ewe uitgesproke en welsprekende Lovelyn Nwadeyi, oudstudenteleier aan die US. Sy het as Nigeriese meisie by Maties geland en moes op die harde manier leer hoe moeilik en ingewikkeld transformasie is. Die titel van haar toespraak was “Courage, Compassion and Complexity: Reflections on the new Matieland and South Africa”.
Ook sý het nie doekies omgedraai nie. Sy het die gehoor verras deur groot dele van haar toespraak in suiwer Afrikaans te hou. Baie dinge in Stellenbosch het verander sedert sy as Nigeriese meisie aan dié tradisioneel Afrikaanse universiteit begin studeer het. Maar baie vooroordele het dieselfde gebly, sê sy. Tydens haar voordrag moes sy by geleentheid haar emosies van hartseer beteuel.
Die nuwe geslag Suid-Afrikaners verlang ’n eerlike rassedialoog, het sy aan konvokasielede gesê. Die idee van ’n reënboognasie is besig om al hoe meer te vervaag namate mense besef ons is nie ’n reënboognasie nie. “Stellenbosch is nie ’n klein Europa nie, maar deel van die demokratiese Suid-Afrika,” sê sy.
“Die land is in groot moeilikheid. Swart Suid-Afrikaners het dinge in die land deurgemaak wat wit Suid-Afrikaners nooit sal begryp nie. In 2016 sal wit Suid-Afrikaners ’n slag die 'back seat' moet neem en vir ’n verandering moet luister na dit wat ander Suid-Afrikaners te sê het.”
“Ek is baie lief vir Afrikaans,” het sy die gehoor in suiwer Afrikaans meegedeel, maar die taak van ’n universiteit is volgens haar nie om ’n taal te beskerm nie maar om hoër onderwys te voorsien. “Afrikaans sal nie sterf as dit nie die hooftaal van onderrig aan die universiteit is nie.” Sy sê Afrikaans was nog nooit gebruik om niewit bevoorregting te beskerm nie.
Die sekretaris van die konvokasie, Nadia Marais, sê Nwadeyi het die konvokasie gehelp om dinge te verwoord waarvoor hulle nie woorde het nie, naamlik hoe om met die donker kant van ons verlede te handel.
Breytenbach se voordrag was rustig maar eweneens op die man af. Hy verwelkom oop en robuuste gesprek, maar nie ten koste van Afrikaans nie. Sy tema was: "Die koei in die Bosch: die raamwerk waarbinne oor taal besin word."
“Dit is belangrik dat ons dit hard en duidelik sê: Niedeelname in nasionale debatte kan nie voorgeskryf word as die prys wat betaal moet word deur minderhede vir voorwaardelike aanvaarding as medelandsburgers nie. Daardie onsin is die dooie koei wat taks uit die sloot gegrawe word deur vroom wittes om gemelk te word vir die gif van verdeling en morele afpersing.”
Hy het veral ’n “skimmelappeltjie” te skil gehad met Stellenbosch-universiteit as “versinnebeelding van parogiale Afrikaanse eienskappe – hardvogtigheid en skynheiligheid”.
Vir hom was dít nog altyd die teelaarde vir allerlei gewasse van gedienstigheid teenoor die heersers van die oomblik. “En dan nogal dikwels, uit hoofde van ’n selfbelangrike geleerdheid waar daar in feite net omgesien word na eie aansien en status, arrogant ook met ’n moralistiese opgeblasenheid. So asof politieke korrektheid hier as wiel ontwerp is.”
Die rektor en visekanselier van die US, Wim de Villiers, het aandagtig in die voorste ry na Breytenbach met sy bloedrooi hemp, swart broek en rooi skoene gesit en luister terwyl Breytenbach sy houe berekend uitgedeel het.
“Tog opvallend,” het Breytenbach die ysterkoei laat sweet, “hoeveel van hierdie beleidsbesluite as‘t ware in donker agterkamers aanmekaargetimmer en dan as onvermydelik en weldeurdag aan die groter gemeenskap voorgehou word.”
“Mens vra jou af watter klug hier opgevoer word, watter swartvoetjiesoekerigheid dit is.
“Ek wil ook glo die koeël is nie reeds deur die spreekwoordelike strooidakkerk nie, dat koerante moedswillig rapporteer die visekanseliere en die registrateurs het reeds met die Ministerie van Hoër Onderwys gekonkel dat Engels voortaan die onderrigtaal en gebruikstaal aan alle universiteite gaan wees, wat daarop neerkom dat die verenging tot ’n 'one-size-fits-all' hiervandaan die uitsluitingsmeganisme van tussenwoordigheid word.”
Breytenbach het sy voordrag opgedra aan Jan Rabie, Neville Alexander, Ingrid Jonker, Sheila Cussons en Piet Philander, “om uiteenlopende redes, maar met ewe veel erkentlikheid”.
Breytenbach sê hy het nie antwoorde vir die probleme wat die universiteit moes sien kom het nie. Wel die oortuiging dat bestaan in hierdie land tans weer ’n verskerpte soeke is en dat hy praat onder korreksie van groot en skerpsoekende geeste wat net soveel met die universiteit geassosieer word – Dirk Opperman, Johan Degenaar, Van Zyl Slabbert, om slegs enkeles te noem.
“Hoe het dit gebeur dat opgeleide mense kon buig voor die Orwelliaanse newspeak om ’n woord en ’n begrip soos transformasie, met ’n eerbare geskiedenis en verwysingsveld, uit te hol tot die sjibbolet of die slogan van 'om wit met swart te vervang'?” wou hy weet.
Sy pleidooi is dat die debat gesuiwer word van valse voorwendsels, verskuilde skuiwe en demagogiese gebaremakery.
Die “gesanik oor taal” is volgens hom net die oortjies van die seekoei. Hy meen hierdie gesprek is simptomaties van ’n veel ernstiger situasie: dat daar nie duidelikheid is oor die vitale interaksie tussen almal van die Suid-Afrikaanse samelewing in hierdie land waar almal behoort, en almal saam verantwoordelik is vir ’n toekoms wat gedeel moet word nie.
Soos alle Afrikaanssprekendes het hy wél ’n hond in hierdie fight, sê Breytenbach. “Dit gaan op die keper oor die moontlikheid van die onderlinge aanvaarding van ’n volwaardige burgerskap wat maak dat jy veilig en bruikbaar en verantwoordelik voel as méns.”
Maar, sê Breytenbach, dis nooit te laat om te leer nie, ook nie in Stellenbosch nie.
Hy meen die hik in die bottel is die onbevraagtekende aanvaarding dat Engels dié taal van rekord sal wees. “Sodoende word die meerderheid Suid-Afrikaners van alle agtergronde op soortgelyke manier vervreem van die gebruik en ontwikkeling van hulle geboortetale as onderrigmedium. Is ons dan nie almal gelyk hier nie?” wou hy weet.
“Yes, but some are more equal than others.” Hieroor het die Open Stellenbossers wat die vergadering bygewoon het, gegrinnik.
Wat ons volgens hom kortkom, is die vreesloosheid van ’n morele verbeelding.
Hy het na Jan Rabie se graf verwys waarop staan: “Sonder Afrikaans is ek niks”, en vervolg: “Ek wil beweer, en ek wéét dit, dat 'mét Afrikaans' geen waarborg kan bied dat ek iets sal wees nie. Maar indien my basterhart uit die Boland moet verdor en genegeer word, as ek nie meer ’n Afrikaner-Suid-Afrikaner-Afrikaan kan wees nie, dan sal ek wéét my vermoë tot deelname aan die groter welsyn van ons almal, aan die droom van mens te wees tussen mense, is afgestomp en klakkeloos.”
Christo Viljoen het die aand in sy hoedanigheid as uittredende president van die konvokasie opgesom met ’n pleidooi vir ’n Kodesa-tipe taalberaad waarin alle belangegroepe verteenwoordig sal wees, om praktiese uiting te gee aan die beginsels van gelyke taalregte.
“Ek wil die hoop uitspreek dat daar van nou af gestreef sal word na ’n wen-wen-benadering waarin almal as wenners uit die gesprekke kan uittree: dat die universiteit sal wen, dat sy studente sal wen, en dat die tale waarin onderrig word, almal sal wen. Dat ons mekaar bestaansreg sal gun en nie ’n 'winner takes all'-beheptheid nastreef nie,” het Viljoen sy termyn as president van die konvokasie afgesluit.
Sy voorstel is dat die universiteitsraad binnekort ’n verteenwoordigende paneel van onafhanklike deskundiges, insluitende taalsosioloë, sal aanstel om die hele situasie, na wye oorleg met alle partye, te ondersoek. “Persoonlik glo ek dat dit ’n Kodesa-tipe taalberaad moet insluit waarin alle belangegroepe verteenwoordig sal wees, om praktiese uiting te gee aan die beginsels van gelyke taalregte.”
Hy het gesê onderhandelinge moet met die Departement van Hoër Onderwys gevoer word nadat die Minister reeds in die openbaar erken het dat meertaligheid ’n addisionele finansiële las op universiteite plaas, en addisioneel deur die staat gesubsidieer behoort te word – iets wat die akademiese ontwikkeling van die inheemse tale sal fasiliteer.
Viljoen word as president van die konvokasie opgevolg deur Jan Heunis wat met ’n groot meerderheid verkies is.
Heunis, wat ’n sterk voorstander daarvan is dat Afrikaans gelyke behandeling as Engels aan die US moet geniet, se boodskap aan die visekanselier, Wim de Villiers, was kort en kragtig: Stellenbosch is meer as gewillig om te transformeer maar hy deel nie die siening dat dit ten koste van Afrikaans moet wees nie.
Die nuwe uitvoerende komitee van die konvokasie is: Jan Heunis as president met Jacques du Preez as visepresident. Nadia Marais is herkies as sekretaris en Sonja Loots en Michael le Cordeur is die nuwe addisionele lede.
Die Open Stellenbosch-groep wat telkens iemand vir die bestuur genomineer het, kon nie daarin slaag om regtig hulle stempel op die konvokasie se bestuur af te druk nie.
Tog het ’n potensieel plofbare vergadering uiteindelik in ’n ooglopend goeie gees geskied. Dalk was Breytenbach reg toe hy in sy voordrag opgemerk het “Vooruitsigte is dalk nie so somber as wat ek dit hier geskets het nie. Alles kan nog regkom, dié wat skaamkwaad en verlam deur die sonde nou kopsku is, of koes agter ’n gedissiplineerde fatalisme, kan nog uit hulle gemaksones gerook word; die brand van ’n meer eerbare en verdraagsame en wedersyds onderskragende saambestaan sou weer kon opvlam as elkeen net sy of haar plig wil doen.”
US-konvokasie 2016 |
US-konvokasietoespraak: Die koei in die bos Breyten Breytenbach
"Indien Afrikaans as omgangstaal, administratiewe taal, onderrigtaal hier sou verketter word en krimp, gaan dit uiteindelik tot ’n onvermydelike tot niet maak van ’n kosbare en geskakeerde instrument van bewuswording lei."
|
US-konvokasie 2016: Courage, Compassion and Complexity - Reflections on the new Matieland and South Africa Lovelyn Chidinma Nwadeyi
"Ladies and gentlemen, something is brewing in South Africa. I do not know the name of that something, but I know that it is irreversible and will continue to brew and boil over, whether we give it permission to do so or not."
|
US-konvokasie 2016: Afskeidstoespraak deur Christo Viljoen, uittredende president Christo Viljoen
"Stellenbosch dien Suid-Afrika al vir 150 jaar. Hy wil voortgaan om dit deur sy gehalte en deur ’n inklusiewe kultuur en taalgebruik te doen. Daarvoor het hy selfstandigheid en ruimte en ons almal se samewerking nodig. Dan kan Stellenbosch wéér sê hy staan vir ’n idee."
|
US-konvokasie 2016: Universiteit Stellenbosch: Vorentoe! Wim de Villiers
"Deur Engels as onderrigtaal te gebruik, sorg ons dat ons toeganklik is vir meer mense. Maar daar is steeds ’n groot behoefte aan en vraag na Afrikaans, daarom duur ons aanbod daarin voort." Rektor en visekanselier Wim de Villiers se mededelings aan die US-konvokasie.
|
Haal af die Bosch se maskers, vra Maties Jean Oosthuizen
Byna 2 000 stemgeregtigde oud-Maties het Dinsdagaand hulle opwagting gemaak by die US-konvokasievergadering. Jean Oosthuizen lewer verslag.
|
US-konvokasie 2016: Foto's en videos Naomi Bruwer
Die grootste konvokasievergadering in twee dekades is Dinsdagaand in die Coetzenburg-stadion op Stellenbosch gehou. Kyk na foto's en videos.
|
Kommentaar
Die debat oor Afrikaans aan Maties is 'n sub-debat. Die hoofdebat in die land is oor mutikulturisme teenoor integrasie. Onder multikulturisme sal daar ruimte wees vir 'afsonderlike' groepe, en vir die handhawing van taalregte as deel van groepregte. Maar die progressiewes, "the Left", die sosialiste en die rykdomverdelers wil integrasie daarstel as oorkoepelende doelstelling om by hulle uitpunt uit te kom. 'n Koffiekleurnasie.
En taalregte, en die mate van [sagte] eksklusiwiteit daarrondom, is vir hulle 'n rooi lap. Vir integrasie moet daar geen, soos in geen iets wees wat dalk iemand van ander taal of kleur kan pla of uitsluit nie.
Daarom moet Afrikaans volgens hulle waai.
My visie vir SA Uitnemende Vaktaal, Handboeke en Studente in Reënboogformaat!
Suid-Afrika is bekend as die Reënboognasie en as sulks is al ons tale en kulture en volke binne die nasie aanvaar as gelyk. Gelykheid beteken dat elke kultuur, taal en geskiedenis dieselfde geleenthede gegun word. Die verskeidenheid is wat ons kragtig en interessant maak.
US as uitnemende en geskiedkundige Afrikaanse universiteit sal die voortou neem in opvoeding in Afrikaans. Studentwerwing sal konsentreer op die uitnemende Afrikaanssprekende Suid-Afrikaanse student/skolier van regoor die land. Afrikaanssprekende uitnemende studente sal Eersteklas landburgers in Afrikaans oplewer, verteenwoordigend van kulture in Suid-Afrika.
US ondersteun vestiging van taalgerigte tersiêre instellings vir studie waar elke Reënboognasieburger wat verkies, in sy taal van keuse kan studeer.
Bv Universiteit in KwaZulu Natal vir Zulusprekendes en in Oos-Kaap vir Xhosasprekendes en Bloemfontein of elders vir Tswanasprekendes sal 'n groot sprong vorentoe wees om vaktaal in elke dissipline te bevorder en om handboeke en gesprekvoering in moedertale aan te moedig.
US sal ondersteuning verleen aan elke tersiêre Instelling vir opleiding, om 'n Afrikaanse leerstoel te vestig vir uitnemendheid, vaktaal, onderrigmateriaal en ondersteuning aan elke instelling om hul uitmuntendheid in kultuur en taal uit te leef, vaktaal van Afrikaans na ander tale.
bv. Zulu na Afrikaans-Woordeboek vir rekeningkunde.
US sal ’n taallaboratorium ondersteun om elke Reënboognasietaal-werkstuk, doktoraal, meesters of ander vaklektuur leesbaar te maak aan alle Suid-Afrikaners en die wêreld.
Verduideliking: Professore se dryfveer vir Engels as onderrigtaal is dat meester en doktorale werkstukke na bewering net in Engels aanvaarbaar is, daarom moet die hele Universiteit Engels wees. Net 5% van studente lewer ooit sodanige werkstukke, minder as 1% lewer werk van publikasiewaarde – “dus effens belaglike taal-argument”. Dis meer belangrik om aan die 95% onderrig te bied in hul gebruiks-moedertaal! Persoonlik het ek Regte, Ekonomie, Rekeningkunde uit Afrikaanse handboeke studeer. Dit het my nie weerhou van ’n loopbaan by ’n Britse bankgroep nie.
Inderdaad is Suid-Afrika se diversiteit juis direk verantwoordelik vir sy stabiliteit.
Indien ons ’n eenparty staat was sonder die DA in die Wes-Kaap sou die ANC bloot enige wet kon deurvoer en dan kan hulle so te sê maak wat hulle wil. ( Die ANC het al die regprekende gesag bloot geïgnoreer)
Dit is jong Afrikaanssprekende landsburgers se reg om in hul moedertaal te studeer. Dit sal hulle help om in tyd graad te vang, wat dan tyd en geld sal oorlos om by die Doktorsgrade uit te kom, indien dit hulle sou geval. 'n Publikasie-waardige tesis of artikel kan bloot vertaal word. Dit staan ook die outeur vry om in meer tale te publiseer.
Foksie van Noord
Soos Victor Ivanoff se spotprentbrak van ouds, het hierdie foksie die hele Stellenbosche taalgedoente wantrouig dopgehou. Hoewel dit gepas is om eenkant te bly en swaargewigte kans te gee om hulle blawwe te blaf, is enkele gelukwensinge nietemin gepas:-
Geluk aan Jean Oosthuizen wat skynbaar 'n stewige berig geskryf gekry het waarin hy selfs verwys na grinnikende 'Open Stellenbossers'. Aan oudstudente wat aan die moeder bewys het waar haar kinders is - of dat sy nog kinders het. Aan die immer bekkige Breyten wat verwysende na groot geeste - waaronder seker ook prof Hermann Giliomee - die ysterkoei [dankie Jean] behoorlik laat sweet. Aan Lovelyn Nwadeyi wat onteenseglik bewys hoe waardevol kennis van Afrikaans [en dus erkenning] kan wees. Soos ene Mmusi Maimane sou sy selfs so 'n presidentskandidaat kon word.
Aansluitend by Henri Benade wonder 'n mens tog of die hele gedoente nie 'n 'subdebat' is nie. Vanaf die De Doorns-staking om tot selfs 'n 100% salarisverhoging, die beeldestormlope en die ontwrigtende eise om gratis tersiêre onderrig - ongeag prestasie of vermoë, lyk die aksies al te veel na die optredes van 'huursoldate' ter bevordering van 'n globalisering wat ook nie tot hulle voordeel kan strek nie.
Ek het volle vertroue dat met Jan Heunis aan die voorpunt sal die Konvokasie en sy uitvoerende komitee die regte pad loop en die regte besluite neem. Ek het beide my kinders aan die US laat studeer omdat hulle volledig in Afrikaans kon studeer. Ek het my finansiële steun aan my alma mater [UV] gestaak oor sy nuwe taalbeleid.
As die geleerdes praat , praat hulle verby mekaar. 'n Eenvoudige vraag: As Piet, wie se familie in KZN bly, naby die huis wil studeer het hy net een keuse, UKZN. Kan hy aandring dat klasse in Afrikaans geskied en dat geboue se name moet verander sodat hy tuis voel? Kan enige student dit verwag? Soos in Duitsland? Frankryk? Of 'n student uit Nigerië?