
Agtergrond: https://pixabay.com/photos/thunderstorm-weather-storm-thunder-1768742/; foto van Frederik van Dyk: verskaf
..........
Franz Kafka, die meesterlike waarnemer van en romanskrywer oor die onpeilbare mistiek van die burokrasie van openbare instellings, sou baie inspirasie in die US-bestuur se hantering van die US se nepotismeskandaal vind.
............
Franz Kafka, die meesterlike waarnemer van en romanskrywer oor die onpeilbare mistiek van die burokrasie van openbare instellings, sou baie inspirasie in die US-bestuur se hantering van die US se nepotismeskandaal vind.
Die US-raad het Maandag 17 April 2023 besluit dat ’n onafhanklike kommissie aangewys moet word om te bepaal wat die mate van die rektor se aanspreeklikheid is vir die welbesproke voorval waar twee van sy nefies vir mediese keuring uitgesonder is, ten spyte daarvan dat daar diegene met meriete is om voorkeur te ontvang op die mediese keuringwaglys.
- “Wedersydse voordeligheid”
Die uitvoerende komitee (UK) van die US se konvokasie (wat bestaande uit vernaamlik alle gegradueerdes van die US) het op Vrydag 14 April en na deeglik beredeneerde oorweging, ’n mosie aangeneem dat die rektor en die US se registrateur weens die skandaal moet bedank. Verder, sou die twee amptenare nie bedank nie, moet die raad gepaste stappe doen en gelei word deur die vereistes van etiek, goeie beheerbestuur en die beste belange van die instelling. Die UK is dus tans tevrede dat die raad wel besluit het om te handel volgens waarvoor in die UK se mosie gehoop is.
Dit is goed so. Die US-statuut vereis (soos daardie konvokasielede wat krities oor die mosie is, tereg uitwys) dat die konvokasie, hul verteenwoordigers inkluis, hul bemoei met die handhawing van ’n “wedersyds voordelige verhouding” tussen die konvokasie en die universiteit ten einde die US se welsyn te bevorder.
Wat behels so ’n “wedersyds voordelige verhouding” dan wat moet help dat dit met die universiteit goed gaan?
Die konvokasie word in die statuut as ’n deelliggaam van die US georganiseer. Dit het minder magte as ander liggame. Dit kan nie enige vetoregte uitoefen of deurslaggewend deelneem aan bestuursbesluite nie. Dit het wel verteenwoordigers op die raad, maar dié persone se rol op die raad word eerder deur hul bevoeghede as raadslede gereguleer as deur bepalings in die statuut wat die konvokasie aangaan. Of dit so moet wees, is ’n debat vir ’n ander dag.
Op sy beurt is die UK se rol om die skakel te wees tussen dit wat die konvokasie op die hart dra en wat die US-bestuur beoog, ter wille van die universiteit se welsyn. Die UK adviseer die US-bestuur in hierdie verband. Dit impliseer dat die UK met die US-bestuur in verbinding moet wees en optree volgens wat hulle vertolk rondom diegene wat hulle demokraties verkies het, naamlik die konvokasielede. Verkieslik moet die UK hulle kiesers regstreeks kan peil om die liggaam se gevoel te toets.
Niks hiervan beteken egter dat die UK onverskillig moet staan teenoor optrede van die US-bestuur nie. As die US-bestuur so optree dat die konvokasie dit redelikerwys behoort af te keur ter wille van die welsyn van die universiteit, dan behoort die konvokasie se demokraties verkose UK te vergader, die kwessie voorhande te bespreek, en daarna die US-bestuur te adviseer. Dit doen ons deur gewone vergaderprosedure. Hier kan ’n mosie deur ’n UK-lid voorgestel word of dien as gewone agendapunt, waarna die meerderheidstem in die geval van ’n bestrede mosie die pad aanwys.
Daar kan nie van die UK verwag word om in situasies wat vanselfsprekend vir sterk morele leierskap vra, ’n afgewaterde standpunt in te neem nie. Die rede lê opgesluit in die statuut self: ’n Wedersyds voordelige verhouding tussen die US en die konvokasie dra by tot die universiteit se welsyn. Hoe kan daar sprake van ’n eties gesonde wedersyds voordelige verhouding wees indien die konvokasie deur sy UK nie kritiek uitspreek teenoor die bestuur nie? Die universiteit se welsyn kan nie gebou word op ’n stel verhoudings waar kritiek, debat en standpuntinname oor kwessies wat die welsyn van die US raak, taboe is nie. Wedersydse voordeligheid sluit kritiese advies in. Dit bevorder immers die welsyn van die universiteit as die konvokasie op goeie gronde kritiese advies aan die bestuur lewer. Die verhouding tussen die konvokasie en die instelling word wedersyds bevoordeel indien verantwoordbaarheid seëvier en die instelling teen vergrype beskerm word.
Dit is jammer dat die US-bestuur se selfaangestelde verdedigers hierdie wedersydse voordeligheid opgehaal en die UK-mosie op grond daarvan betreur het. As kritiese advies oor ernstige etiese tekortkominge volgens hierdie verdedigers nie deel vorm van ’n “wedersyds voordelige verhouding” nie, dan kan hul opvatting van wedersydse voordeligheid net sowel as “baantjies vir boeties” vertaal word. Soek hulle ’n rugkrapverhouding tussen die US en die konvokasie, sodat die US-bestuur kan maak en breek soos dit wil? Tot wie se voordeel?
- Konsultasie is ’n óú doring in die vlees
Die US-bestuur se verdedigers, spesifiek Thuli Madonsela en Leslie van Rooi (in sy Newzroom Afrika-onderhoud hier), asook die konvokasielid ene Louise van Rhyn, het hul beroep op wat ’n “ondemokratiese” tekort aan konsultasie deur die UK met die konvokasie sou wees voordat die UK-mosie deurgevoer is. Hulle meen dat die UK nie die konvokasie se gevoel oor die mosie regstreeks getoets het nie.
Hulle is heeltemal korrek: Ek lig nou die lesers graag in oor ’n openlike geheimpie van die US-konvokasie, en dit is dat daar geen regstreekse en ongesensureerde kommunikasiekanale tussen die UK en sy eie kiesers, die konvokasielede, bestaan nie. Nie net bestaan daar nie kanale nie, maar dit word ook nie toegelaat nie. Tydens ’n UK-ontmoeting in 2021 met lede van die US-bestuur het ’n viserektor – in antwoord op ’n versoek deur Jan Heunis dat ’n kommunikasiekanaal met die konvokasielede geopen word – eenvoudig die idee afgeskiet, omdat (ek parafraseer) ’n maatskappy se direksie nie kan toelaat dat ander amptenare met die mark kommunikeer sonder die direksie se goedkeuring nie. Benewens die totaal misplaaste vergelyking tussen ’n winsgerigte maatskappy en ’n openbare universiteit, was dit vir die soveelste maal duidelik dat die UK nie sy kiesers sal kan pols, peil of toets of met hulle kan beraadslaag tussen jaarvergaderings nie.
Die ironie van die US-verdedigers se standpunt is dat die mense wat hulle verdedig, die oorsaak van die UK se radiostilte onder die konvokasielede is! Waarom sou hulle nie eerder die US-bestuur reguit aanvat nie? Is hul werklik onkundig oor dié ope geheimpie?
Dit veroorsaak geweldige probleme, soos onbewustheid onder konvokasielede oor die rol van hul eie demokraties verkose leierskap, en ’n verkleinende deelname aan jaarvergaderings. Kollega Rudi Buys byvoorbeeld se verkiesingsveldtog was op die brugbou-aspek van die US en konvokasie se verhouding gerig. Hoe moet die demokraties verkose Rudi Buys aan sy brugbouprojek gestalte gee as die US-bestuur geen kommunikasie met sy kiesers toelaat nie?
Is die US-bestuur besig om die speelveld te dokter om die skyn te wek dat die konvokasie irrelevant raak, en sodat die huidige UK se aanhoudende aandrang op bestuursverantwoordbaarheid versag word?
- Die UK-mosie was prosedureel korrek
Indien die UK toegang tot kanale gehad het om die konvokasie se gevoel te peil, sou dit ’n kragtige verantwoordbaarheidsmeganisme wees. Nie net sou ons met groter insig weet waar ons eie kiesers staan nie, maar die US-bestuur sou hul optrede ook daarvolgens moes rig. Van die UK word egter nie statutêr verwag om elke keer die konvokasie se gevoel te toets wanneer ’n UK-lid ’n kritiese mosiestelling indien nie. Met of sonder kommunikasiekanale is dit heeltemal in orde vir die UK om kritiese advies aan die US-bestuur te rig. Die statuut verwag juis dat die UK die konvokasie moet ondersteun om die wedersyds voordelige verhouding met die instelling te handhaaf, en dit sluit beslis kritiese advies aan die bestuur in. Direkte demokrasie op elke punt klop nie met die statuut se daarstelling van demokraties verkose UK-lede nie.
Sonder onbevange kommunikasiekanale is die UK gedwing om hul kritiese advies aan die bestuur op grond van grondwetlike en openbare norme, asook die natuurlike etiese standaarde van die samelewing, te rig.
Die standpunt wat op die ou end die UK-mosie eenparig help deurvoer het, is dat dwingende bewerings van nepotisme deur die rektor, teen die agtergrond van die nasionale korrupsiekrisis en gemeet aan konsekwente verslaggewing oor die kwessie, ons toelaat om ’n mosie te aanvaar wat hierdie optrede veroordeel en die US-bestuur adviseer dat die rektor gevolge moet dra.
Ten slotte: Die US-bestuur en sy verdedigers is besig met ’n bedenklike en misplaaste spel om die UK van die konvokasie verdag te maak. Die US-bestuur se doelbewuste optrede isoleer ons van ons eie kiesers. Die bestuur weier ons toegang tot die dansbaan, en hul uitsmyters beweer dan dat ons weier om te konsulteer. Franz Kafka sou inderdaad nie verbaas wees nie.
Ten spyte van die US-bestuur se weerligafleiers bly die UK se oog op die bôl: In geen wêreld kan die verdoeselde voortrekkery van jou familie wanneer jy ’n openbare amp beklee, onaangeroer gelaat word nie. Die UK gaan nie ruggies krap nie. Ons sál krities adviseer as ons moet.
Lees ook:
Tussen eerlike bedoelings en die Machiavelliese versoeking: Rudi Buys lewer kommentaar


Kommentaar
Baie dankie vir 'n besonder insiggewende artikel. Ek was self as oudstudent en meer as 28 jaar dosent nie bewus van die muilband wat op kommunikasie tussen die Konvokasie se UK en die lede geplaas is nie. Dis sensorskap tot die uiterste gevoer, 'n soort van "Big Brother"-sindroom. Jy moet met my saamstem, anders is jy persona non grata.
Uitstekend geformuleer!