
Agtergrond: https://pixabay.com/photos/thunderstorm-weather-storm-thunder-1768742/; foto van Rudi Buys: Naomi Bruwer
..........
Heel moontlik, en selfs heel waarskynlik, is daar nuwe moontlikhede vir hoe ’n konvokasie wat uit ’n veelvoud van diverse groepe en belange bestaan, vir almal ’n stem kan gee en hulle belange in vennootskap met lede kan bevorder. Brugbouerskap nou is meer as net ’n wens, dit is nou ’n noodsaaklikheid.
............
’n Fokus op idees wat in gesprek met mekaar gestel word, is krities belangrik ten einde die gesamentlike wysheid wat beredenering skep, vir ’n proses te wen – die bal te speel, en nie die man nie, as’t ware. Ek begin my insette só omdat ek waardering het vir van die argumente wat my kollega, Frederik van Dyk, aanvoer, en met heelwat kan saamstem. Terselfdertyd is daar saamgevoegde, afwesige, en onderliggende perspektiewe wat ter wille van deeglike oorweging uitgewys moet word.
Dít is onbetwis: Nepotisme is verkeerd
Veel meer is daar nie oor die kwessie te sê nie, as net dit: Nepotisme is verkeerd.
Nêrens in berigte oor die saak, of stellings wat betrokkenes of belangstellendes maak oor die bewerings teen Wim de Villiers, word dié feit weerspreek nie.
Ook nie in die verskillende mosies wat ingedien is deur konvokasielede is daar onduidelikheid daaroor te bespeur nie.
Dié standpunt is deur die bank onbetwis – ’n feit wat dus die noue assosiasie tussen kritiek op die werkswyse van die dagbestuur, naamlik onvoldoende konsultasie, en die ondersoek na bewerings teen De Villiers weerspreek.
Dié assosiasie, wat die basis is daarvoor om hulle wat krities staan teenoor die konvokasie se dagbestuur te skets as “weerligafleiers”, “uitsmyters” en “rugkrappers”, is dus gebaseer op ’n feitefout en is daarom ’n onlogiese argument wat vraagstukke wat nie saam hoort nie, saamvoeg.
Dít word betwis: beraadslaging wat afwesig is
Ek lees die probleem wat konvokasielede wat besorg is oor konsultasie, op die tafel plaas, as ’n vraagstuk oor hoe verteenwoordiging van belange deur verkose verteenwoordigers hanteer moet word.
Twee benaderings sê mekaar tans die stryd aan, naamlik demokrasie as ’n verteenwoordigende of beraadslagende taak.
Aan die een kant staan die beskouing van die verantwoordelikheid en gesag van verteenwoordigers om volgens die beginsels van verteenwoordigende demokrasie te handel. Daarvolgens word van verteenwoordigers verwag om, nadat hulle tot bepaalde rolle verkies is, selfstandig die belange van konvokasielede te vertolk en aan te voer – verteenwoordigers het volgens dié benadering nie die plig om breedvoerig, direk of gereeld met lede oorleg te pleeg oor besluite wat die dagbestuur maak of standpunte wat namens lede ingeneem word nie. Wat die verteenwoordigers van die konvokasie verklaar, word beskou asof die konvokasie in sy geheel dit verklaar het, en dit word ook so verkondig en oor verslag gedoen. Verteenwoordigers wat wag om eers besluite en standpunte met lede te toets alvorens verder gehandel word, word volgens dié benadering verdink van onverskilligheid, afgewaterde oorwegings, en uiteindelik pligsversuim. Onderliggend tot die benadering tot verteenwoordiging is beskouings van die lede en die leiers van ’n organisasie. Die lede word beskou as mense wat hulle vertroue in leiers tydens ’n verkiesing verklaar het en daarna leiers vertrou om namens hulle te handel sonder om self deel te wil of behoort te wees van dit wat volg. Verteenwoordigers word hiervolgens beskou in ’n sterkman-perspektief wat as verdedigers van belange moet optree en daarom gesien moet word as om kragtig op te tree in die belang van die lede. Volgens dié beskouing moet leiers kritici ten sterkste weerspreek en seker maak dat hulle as vertolkers van die lede se belang die gesag as verkose verteenwoordigers behou. Dit is in wese demokrasie op ’n afstand – lede by die huis en leiers in die raadsaal.
Dít is die benadering wat die dagbestuur se argument teen kritici onderlê, soos ook blyk uit die argument wat mnr Van Dyk aanvoer.
Die benadering tot verteenwoordiging wat die protes teen die werkswyse van die dagbestuur van die konvokasie onderlê, is dié van beraadslagende demokrasie.
Volgens dié benadering word daar van verteenwoordigers verwag om na hulle verkiesing tot bepaalde rolle inisiatiewe daar te stel om dikwels en breedvoerig met die diversiteit van lede van die organisasie oorleg te pleeg. Verteenwoordigers moet so goed as moontlik die belange van lede vertolk te midde van die vraagstukke wat in hulle omgewing na vore tree, maar dit is hulle taak om so goed moontlik in oorleg ledestandpunte te handhaaf en besluite te neem. Die proses bring mee dat ’n dagbestuur meer omvattend prosesse moet volg wat dikwels ’n langer tydsverloop het. Verteenwoordigers wat nie besluite en standpunte met lede toets alvorens verder gehandel word nie, word volgens dié benadering verdink van magsvergrype, wanvoorstellings, en uiteindelik van pligsversuim. Die beskouings van die lede en die leiers wat die benadering onderlê, sien die lede van ’n organisasie as die eienaars van en primêre agente van die proses van demokrasie. Die vertroue wat in leiers gestel word, is direk afhanklik van die mate waartoe die leiers naby die lede beweeg en in voortdurende beraadslaging met hulle is oor kwessies van belang. Verteenwoordigers word hiervolgens beskou as onderhandelend en leiers wat as brugbouers moet optree wat verskeidenheid verwelkom en inklusief optree. Volgens dié beskouing kan leiers hul gesag as verteenwoordigers behou slegs deur konstant in gesprek te wees met lede en seker te maak dat hulle die stem van die lede laat hoor. Dit is in wese ’n omarmende demokrasie waar lede en leiers saam in die strate moet beweeg en eers daarna terugkeer huis toe en na die raadsaal.
Die ope geheime: toegang tot adresse en politiekery
Dit is natuurlik so dat ’n dagbestuur op verskillende tye en met verskillende vraagstukke tussen verskillende aspekte van die twee benaderings moet beweeg om goeie werk te doen. Die pragmatiese perspektief op bestuur onderlê op die oog af mnr Van Dyk se argument dat alhoewel gereelde konsultasie met die breë konvokasie wenslik is, dit merendeels onhaalbaar is – ’n dagbestuur het eerder die taak om namens lede op te tree.
Vandaar die argument en klagte teen die universiteit dat hy die dagbestuur toegang tot oudstudente se adresse kwaadwillig en onregmatig weerhou, en daarom die skakeling met lede verhoed – die dagbestuur is weens die stand van sake onmagtig om pragmaties op te tree en met lede te konsulteer. Dat konvokasielede die afgelope weke met mekaar begin skakel het, groepe gevorm het, veldtogte begin en met verskillende dagbestuurslede in gesprek getree het, weerspreek egter die argument, veral omdat die groepe teenoorstaande menings het. Die verwikkelinge dui daarop dat lede wel gekontak kan word, sowel as om vertrou te kan word om self netwerke van verskillende belange onder konvokasielede te vorm. Die beginpunt hiervoor is egter nie die formele reëling van toegang tot adresse van lede nie, maar die uitnodiging aan lede om self inisiatief te neem, en openheid van dagbestuurlede om met verskillende groepe in gesprek te tree.
Benewens die ope geheim dat die universiteit nie die dagbestuur toegang tot kontaklyste gee nie, is dit dus ook ’n ope geheim dat die dagbestuur min, indien enige, inisiatiewe onderneem om konvokasielede met mekaar te laat skakel om debat oor ernstige sake te voer.
Dié stand van sake is egter te verwagte wanneer die voorkeur vir verteenwoordigende demokrasie as verklaring aanvaar word, omdat só dagbestuur die verkiesing van verteenwoordigers as die vertrekpunt neem en die lede hoofsaaklik beskou as kiesers wat aan die dagbestuur ’n mandaat gegee het wat hulle op ’n afstand moet uitvoer.
Hiermee kom die volgende groot ope geheim aan die lig, naamlik dat die konvokasie as ’n verlengstuk van partypolitieke belang hanteer word. Leierskap van die konvokasie gaan oor die verkiesing van verteenwoordigers wat elders namens kiesers optree, net soos in die geval van partypolitiek in landsregering. Dit volg noodwendig dat die dagbestuur gemaklik is met die noue verband tussen die konvokasie en politiekepartyverteenwoordiging – ’n stand van sake wat veral geblyk het uit verslaggewing oor standpunte jeens die universiteitsbestuur die afgelope weke. Dit volg ook noodwendig omdat in verteenwoordigende demokrasie die verkose lede kan bepaal wat die verhouding is tussen partypolitiek en die konvokasie wat hulle as voordelig vir die lede ag. In beraadslagende verteenwoordiging sou die dagbestuur wat hulle meen die verhouding moet wees, eers breedvoerig met die lede moes toets.
Rederlikerwys is dit natuurlik ook geldig dat politiekery nie ’n uitsluitlike verskynsel van partypolitiek is nie, maar die onderliggende benadering van hoe verteenwoordigers die konvokasie se werksprogram moet inrig, bepaal die styl van hoe meningsverskille bepraat word.
Die Machiavelliaanse versoeking
Die argument oor verteenwoordiging wat die eiehandige optrede van die verteenwoordigers op ’n afstand van lede voorstaan, leen hom toe nie net tot partypolitieke assosiasie nie, maar bring ook tipiese politiekery daarmee saam. Anders as met argumente vir gereelde beraadslaging wat verteenwoordigers naby en onder voortdurend toesig van lede plaas, het leiers met daardie benadering meer vryheid om só debat te voer wat herinner aan smerige partypolitiek – die tipiese van Machiavelliaanse benaderings, wat dikwels beskryf word aan die hand van die stelling “Die doel heilig die middel”, of “Moet nooit iets met mag wen wat met misleiding gewen kan word nie.”
Dít is natuurlik nie die benadering wat mnr Van Dyk voorstaan nie. Dit is egter so dat van die argumente wat aangevoer word, en die sketse van kritici wat gebruik word om die argumente wat gestel word, slaankrag te gee, die tipe verdagmakery en ongetoetste bewerings versinnebeeld wat daagliks as werktuie vir die partypolitiek aangewend word.
Breedweg gelees is daar dus ten diepste in die huidige konflik onder konvokasielede ’n onvermydelike stryd tussen opregte bedoelings vir sinvolle verteenwoordiging en die Machiavelliaanse versoeking van onnodige vyandskap.
Heel moontlik, en selfs heel waarskynlik, is daar nuwe moontlikhede vir hoe ’n konvokasie wat uit ’n veelvoud van diverse groepe en belange bestaan, vir almal ’n stem kan gee en hulle belange in vennootskap met lede kan bevorder. Brugbouerskap nou is meer as net ’n wens, dit is nou ’n noodsaaklikheid.
Lees ook:

