
Foto van Michael le Cordeur: verskaf
Op Maandag 21 Julie 2025 is Buti Manamela deur pres Cyril Ramaphosa aangestel as die nuwe minister van hoër onderwys en opleiding. Dit volg nadat die vorige minister van dié problematiese departement, Nobuhle Nkabane, deur die President afgedank is. Nkabane se afdanking volg na maande lange bewerings van ongerymdhede, neopotisme en korrupsie met die aanstelling van die voorsitters en die rade van die 21 Setas.
Daarbenewens het sy ook onder skoot gekom omdat sy na bewering die parlement mislei het deur valse inligting te verskaf oor die prosedure wat gevolg sou gewees het met die aanstelling van die Seta-voorsitters. Die lys is oorheers deur ’n oormaat van ANC-kaders, wat ook geld vir die samestelling van die paneel wat die aanstellings gemaak het.
Manamela is op 22 Julie deur Ramaphosa ingehuldig saam met die nuwe adjunkminister, Nomusa Dube-Ncube. Laasgenoemde se aanstelling het ewe-eens die wenkbroue laat lig, omdat sy een van die Seta-voorsitters is wat onwettig deur Nkabane aangestel is.
Wie is Buti Manamela?
Manamela is op 10 Julie 1979 in Limpopo gebore. In sy skooldae het hy aktief deelgeneem aan skooldebatte en sport. Hy voltooi matriek aan die Phagameng Hoërskool en studeer daarna tot 2001 vir die N-sertifikaat in elektronika aan die Mamelodi Kollege, waarna die nagraadse diploma (2014) en ’n meesters in publieke bestuur volg (2017). As student was hy president van die studenteraad van die Mamelodi Kollege en later ook vir ’n termyn die president van SACSA (Southern Association for College Student Affairs).
Vanaf 2014 was hy nasionale sekretaris van die Young Communist League of South Africa (YCLSA) en het hy sy stem begin dik maak binne die ANC. Hy is beskryf as ’n groot Zuma-ondersteuner en het die vorige president namens die YCLSA verdedig teen bewerings van korrupsie. Alhoewel hy dit ontken het, word gespekuleer dat hy noue bande gehad met die vorige minister in hierdie portefeulje, Blade Nzimande, maar die twee se verhouding het later versuur.
Manamela dien reeds etlike jare in regeringsposte en is nie onbekend in die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) nie. Tot sy aanstelling gister was hy die adjunkminister van hoër onderwys en opleiding, ’n pos wat hy reeds sedert 2017 in die Zuma-administrasie beklee. Toe Ramaphosa aan bewind gekom het, is hy in hierdie pos behou.
Omstrede
Manamela se politieke loopbaan was nie sonder omstredenheid nie. In September 2024 het hy hom die gramskap van die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) op die hals gehaal toe hy nie vir die sitting van die komitee opgedaag het nie. Hy was veronderstel om verslag te doen oor die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) se ondersoeke na die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) se Nasionale Vaardigheidsfonds (NVF). In dié tyd was Nzimande die minister en Manamela sy adjunk. Die NVF kon van R5 miljard nie rekenskap gee nie. Terwyl die komitee van 25 lede op hom gewag het, was Manamela by ’n bekendstelling van ’n program in Johannesburg (klink dit bekend?). Belastinggeld is vermors op die lede se vlugte en verblyf, en veral die EFF het hom sterk teen Manamela uitgespreek.
Verwagtinge en uitdagings
Ten spyte van hierdie omstredenheid rus die taak om ’n departement reg te ruk wat reeds jare lank in omstredenheid gehul is, nou op Manamela se skouers. Sy aanstelling word gesien as ’n betekenisvolle skuif binne Suid-Afrika se hoëronderwyssektor. Hy sal egter berge moet versit voordat die DHOO weer vertroue by die publiek inboesem. Om mee te begin sal hy stabiliteit in die DHOO moet bring deur die hele Seta-proses te skrap en van voor af te begin om werklik onafhanklike en bekwame rade en voorsitters aan te stel.
NSFAS
........
Daar is hoë verwagtinge dat hy voortslepende uitdagings wat nou al vir jare ’n demper plaas op die werksaamhede van hierdie departement, sal aanspreek. Dit sluit in die voortgesette styging in studiekostes, studenteskuld en die hantering van NSFAS. Dié beursskema is sedert sy ontstaan in omstredenheid gehul.
........
Daar is hoë verwagtinge dat hy voortslepende uitdagings wat nou al vir jare ’n demper plaas op die werksaamhede van hierdie departement, sal aanspreek. Dit sluit in die voortgesette styging in studiekostes, studenteskuld en die hantering van NSFAS. Dié beursskema is sedert sy ontstaan in omstredenheid gehul. As visedekaan van Leer en Onderrig in die Fakulteit Opvoedkunde op Stellenbosch was ek daagliks betrokke by studente en NSFAS-beurse. Die aantal klagtes wat ons gereeld moes hanteer, getuig van swak bestuur. Studente kry kennis dat hulle ’n beurs ontvang en tref reëlings daarvolgens. Dit sluit in verblyf, inskryf vir kursusse, studiemateriaal en etes – en hoor dan in September dat die beurs afgeskaf is wanneer hulle reeds groot kostes (skuld) aangegaan het. Studente se uitslae word teruggehou en hulle kan nie aansoek doen vir werk nie. Dit vererger werkloosheid onder die jeug. Geen wonder so baie jongmense wyk uit om oorsee te gaan werk nie.
Terugploeg
Gepraat van ... Dit breek my hart as studente die land verlaat om elders in die wêreld te werk, nadat die staat hulle vir vier of vyf jaar gedra het. Belastingbetalers in ’n arm ontwikkelende land met baie skuld kan dit nie langer bekostig nie. Die jeug moet leer dat niks in hierdie lewe verniet is nie. Dit bekommer my dat so baie van die moderne jeug ’n houding inneem dat hulle op ondersteuning geregtig is sonder dat hulle self iets terugploeg.
Doellose grade
........
Suid-Afrika het ’n kopskuif nodig as dit by hoër onderwys kom. Nie alle matrikulante kan en hoef universiteitsgrade te verwerf nie. Studie aan ’n universiteit kos baie geld. Tog is daar honderde studente wat grade voltooi wat hulle nie bemagtig om ’n werk te kry nie. Dit dra by tot die werkloosheidsyfer onder die jeug. In die proses gaan kosbare hulpbronne en geld van die staat én individue verlore.
.........
Suid-Afrika het ’n kopskuif nodig as dit by hoër onderwys kom. Nie alle matrikulante kan en hoef universiteitsgrade te verwerf nie. Studie aan ’n universiteit kos baie geld. Tog is daar honderde studente wat grade voltooi wat hulle nie bemagtig om ’n werk te kry nie. Dit dra by tot die werkloosheidsyfer onder die jeug. In die proses gaan kosbare hulpbronne en geld van die staat én individue verlore. Die nuwe minister sal saam met universiteitsbesture ’n sisteem moet uitwerk waarvolgens slegs studente wat in ’n rigting studeer wat hulle toegang tot ’n loopbaan gee, ’n NSFAS-beurs sal ontvang. Grade en kursusse wat entrepreneurskap en werkskepping bevorder, behoort voorkeur te kry.
Vaardigheidsontwikkeling
Die nuwe minister van hoër onderwys sal sy fokus na vaardigheidsopleiding moet verskuif en baie meer fasiliteite hiervoor moet bou. Talle studente moes in die eerste plek nooit universiteit toe gekom het nie. Suid-Afrikaners dink steeds universiteitsopleiding is die enigste pad na sukses. Dit is waar dat ons onderwysers, dokters en advokate nodig het. Ons benodig egter ook vakmanne en -vroue om die hospitale, skole en howe te bou. Ek hoef slegs te verwys na die oneindige probleme wat munisipaliteite met watervoorsiening ondervind, asook die uitdagings rondom ons kragvoorsiener, Eskom. Dié probleme ontstaan omdat ons nie beskik oor tegnici met die nodige kundigheid en vaardighede nie.
Koshuiskultuur
Die nuwe minister sou kennis geneem het van die onverkwiklike sage rondom die Wilgenhof-koshuis op die kampus van die Universiteit Stellenbosch. Sonder om u te verveel met die besonderhede ... Vir my gaan dit daaroor dat ons na 30 jaar van demokrasie steeds nie ’n gemeenskaplike Suid-Afrikaanse kultuur sien op universiteitskampusse nie. Manamela kan gerus ’n daadwerklike veldtog oorweeg om ’n nuwe kampus- en koshuiskultuur te vestig – as ons ernstig is oor die demokrasie.
Inheemse tale
Iets wat my na aan die hart lê: My vakgebied is Afrikaanse letterkunde, en my navorsingsfokus is moedertaalonderrig. Oor die waarde van moedertaalonderrig het ek al boeke, hoofstukke en bladsye vol geskryf. Genoeg om te sê dat dit wêreldwyd wetenskaplik bewys is dat onderrig in die moedertaal die effektiefste manier van enige onderrig is. Die fout wat gemaak word, is dat moedertaalonderrig dikwels gesien word as sinoniem met Afrikaansonderrig, terwyl die DHOO veronderstel is om al 11 amptelike tale te bevorder.
Manamela sal sy naam eer aandoen as hy by elke universiteit ’n leerstoel vir die inheemse taal van daardie streek kan finansier pleks van eindelose NSFAS-beurse toe te ken wat op niks uitloop nie. Hier dink ek aan Kaaps aan die UWK en KSUT, Afrikaans aan die US en Sol Plaatjie, Venda aan die Universiteit van die Noorde, Xhosa aan die Nelson Mandela Universiteit, Engels aan Ikeys en Rhodes, Zoeloe aan UKZN en Durban-Westville, Sotho aan die Vrystaatse Universiteit en Tswana aan die NWU. Navorsing oor ons inheemse tale in samewerking met die Nasionale Navorsingsraad (NRF) kan lei tot woordeboeke en handeboeke wat vir studente wat in hul moedertaal wil studeer, baie sal beteken.
Dit sal ons akademiese prestasie tienvoudig verbeter.
Manamela se ondervinding as adjunkminister in hierdie departement bied ’n platform om die uitdagings hier bo genoem, suksesvol aan te spreek. Laat ons hoop.
- Michael le Cordeur is emeritus professor in Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch, en voorsitter van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans.
Lees ook:
Reading for comprehension deur Michael le Cordeur: ’n onderhoud
SteedsDink met LitNet Akademies: Michael le Cordeur oor sy akademiese navorsing
Moedertaalgebaseerde tweetalige onderrig: kommer oor inheemse tale

