Annelie Botes (1957–)

  • 2

Gebore en getoë

Annelie Botes word as ’n nooi Basson in Junie 1957 onder die teken van die Kreef op die plaas Grootfontein in die Kammanassie naby Uniondale gebore. Sy is die vierde van vyf kinders van Dick en Ann Basson. Sy is in Uniondale gebore, gedoop en grootgemaak en het aan die Hoërskool Uniondale skoolgegaan tot in matriek.

Annelie is ’n plaaskind wat somermaande kaalvoet onder die appelkoosbome gespeel het. Sondae het die gesin ’n vaste sitplek in die kerk gehad. “Ek is Calvinisties grootgemaak, ’n boerekind, aards geskaaf onder die vyl van eg tradisionele Afrikanernorme.”

Annelie se pa was al 52 toe sy gebore is, en omdat hy ’n anginahart gehad het, kon hy nie met haar speel en rondhardloop nie, maar hy het vir haar stories vertel. Sy vertel aan Salvelio Meyer  (Rooi Rose, 29 April 1989): “My pa was ’n magiese storieverteller, maar hy’t nooit stories vertel van feetjies en sulke goed nie. Sy stories was oor die Anglo-Boereoorlog; oor die Rebellie en die Boeregeneraals; en hoe hy van die Kaap tot in Kaïro gereis het. Dís wat ek van pa onthou. […] Natuurlik was daar ’n reuse-generasiegaping tussen ons, maar ek het vir my pa baie respek gehad. Toe ek klein was, het ek selfs gedink hy is die Here. As hulle in die Bybel praat van Jesus wat die storms stilmaak, het ek gedink dis my pa.”

Annelie se ouers is binne enkele maande van mekaar oorlede toe sy in matriek was. Haar pa was in die hospitaal na ’n beroerte-aanval en almal het gedink hy sal eerste sterf, maar toe is dit haar ma, wat heelwat jonger as Annelie se pa was, wat eerste oorlede is.

Aan Corlia Fourie (Rooi Rose, Junie 2002) vertel Annelie dat haar eertydse skoolhoof haar onthou as ’n voorbok, onlusstoker en nonkonformis. “En bowenal, ’n orator wat nie geskroom het om hom te probeer uitredeneer terwyl ek – in die diepste van moeilikhede – voor sy lessenaar aangetree gestaan het nie. Ek het van skool gehou, maar nie van die ingehokte roetine nie. Ek het dikwels stokkies gedraai, maar aan die ander kant dikwels naweke vir ure met my skoolboeke sit en ‘speel’. Dis skandelik, maar ek het feitlik nooit huiswerk gedoen nie. In die plek daarvan het ek ’n ekstensiewe opstel ingegee, ongeag of dit wiskunde of biologie was.”

Skryf was nog altyd in Annelie se bloed. Op driejarige ouderdom het sy op haar ma se Stuyvesant-papiertjies begin stories “skryf”. “Ek wou silwer stories hê,” vertel sy aan Shanda Luyt (Vrouekeur, 20 Julie 2007). “Ek kon nog nie skryf nie, maar ek het geskryf! En dan het ek die silwer papiertjies so opgevou en die stories in die renosterbosse begrawe. My vroegste herinneringe is hoe ek op Grootfontein met ’n renosterbosstokkie in die sand skryf. Onleesbare krulle en draaie, maar ek kon dit met dramatiese wendings aan my ma teruglees. Op laerskool skryf ek vir my ma briewe wat ek nooit gepos het nie. Daarin het ek vergesogte dramas versin oor alles wat in die koshuis gebeur het – met sprokies en liegstories en al.”

Die idee van lees gryp haar ook vroeg aan. “My grootste wens as kind was, o, as ek tog net kon léés. Toe ek skool toe is, het ek gedink ek sou ná die eerste dag al kon lees. Maar met die huis toe kom daardie eerste naweek kon ek natuurlik nog nie lees nie. Dit was vir my ’n ontsettende teleurstelling. Maar ek het toe vir my huismense vertel ek kán lees, ek wíl net nie vir hulle lees nie.” Haar broer was veertien jaar ouer as sy en sy lees toe een van sy voorgeskrewe boeke – een van Langenhoven se boeke. “[E]k het op die bed gaan lê en my oë so al met die swart lettertjies laat gaan, tot ek gedink het dis tyd om om te blaai. Vir dae het ek daardie boek gelê en ‘lees’. Lees was regtig vir my ’n passie.” (Rooi Rose, 29 April 1998)

“Ek het op ’n plaas in die Kammanassie grootgeword,” vertel sy aan Corlia Fourie (Rooi Rose, Mei 2001). “En ek en my sussie het vir die klô-goed Sondagskool gehou. My ma het vir ons lang rokke gemaak en my pa het tolletjies onder aan ons ou skoolskoene se hakke vasgeskroef, dan was ons ‘juffrou’. Ek het skokkende Bybelstories opgemaak en nuwe woorde vir kerkliedjies geskryf. Dit was ’n fees van verdigsel en onbestaande wêrelde. Ek dink ek het ’n besonderse verbeeldingswêreld. Gee my net ’n kort stukkie wol en ek brei ’n hele trui.”

Toe sy ongeveer dertien was, trek Dalene Matthee en haar gesin op Uniondale in. Van die begin af het Dalene Matthee met haar andersoortigheid ’n groot bekoring vir Annelie ingehou. En toe sy uitvind dat Dalene kitaar kan speel, het sy aanhou neul by haar ma om ook vir haar ’n kitaar te koop sodat sy kitaarlesse by Dalene kan neem. Annelie het hierdie musiekinstrument binne ’n maand baasgeraak, maar dit was nie die einde van die “lesse” nie – dié het aangehou met Annelie se kitaar.

Verdere studie en werk

Op agtien is Annelie se eerste storie in Die Brandwag gepubliseer. Op negentien word sy swanger en sy trou met haar jeugliefde, Chris. Die ou tikmasjien wat sy gehad het, was stukkend – sy e’s het nie gewerk nie. Eendag val die tikmasjien van die kas af en breek in honderd stukkies. Sy besluit dit is ’n teken dat dit die einde van haar skryfloopbaan is.

Annelie verwerf haar onderwyslisensiaat in klavier in 1986 aan Unisa en werk vir tien jaar as musiekonderwyseres. Intussen is haar twee kinders, Rudolph en Natasja, gebore. Sy is baie lief vir musiek. “Net soos daar altyd woorde en idees in my kop is, is daar permanent musiek in my kop. En dis nie van malligheid nie.” Sy kan ook orrel, kitaar en blokfluit speel. “Musiek is vir my die sterkste komponent van die krag van God. Daar is byvoorbeeld min dinge wat heiliger, groter en nader aan die hemel is as om kerkorrel te bespeel. Dis ’n magic experience wat my diep ontroer, veral as ek alleen in die kerk is.” (Rooi Rose, 29 April 1998)

Die gesin trek in 1982 na Bedford in die Oos-Kaap en in 1998 verhuis hulle na Port Elizabeth.

In 1993 hoor Annelie dat sy diabetes het en sy skrik baie groot. Nie net het sy gedink sy gaan blind raak nie, maar sy het ook gedink dat albei arms geamputeer moes word en dat sy nie meer sal kan werk nie. Dit is net daar waar sy vir haarself sê: “Annelie, nóú sal jy moet skryf.” En sy koop vir haar ’n rekenaar en begin skryf. Sy vertel self dat dit was soos ’n prop wat losgekom het. Binne vier jaar word 22 van haar kortverhale en novelles in Sarie en Huisgenoot gepubliseer.

In 1995 word Annelie se eerste boek, Trippel sewe, by Queillerie gepubliseer. Dit is ’n meesleurende verhaal oor mense wat alles wegdobbel. Annelie erken dat sy self vir vyf jaar ’n geswore dobbelslaaf was – sy het vir die casino’s gelewe. Sy het in 1985 heel onskuldig met dobbel kennis gemaak. Sy vertel aan Karen Nelmapius (Rooi Rose, 29 April 1998): “Dit was vir my ontsaglik opwindend, eintlik hemels, en die genotvolste tydverdryf wat ek my kon voorstel. Die atmosfeer van die casino het my soos ’n magneet getrek.” Sy begin groot geld wen op die dobbelmasjiene en getrou aan haar geaardheid, begin die masjiene haar gou verveel. Sy ontdek die blackjack- en roulettetafels. Sy begin verskonings uitdink om te gaan dobbel en in 1989 wen sy R70 000 op ’n blackjack-toernooi. “Ek het gedink ek is almagtig. God se uitverkorene. Nou kan ek groot begin speel.” Sy skei van haar man, los haar kinders by hom en gaan bly in die Kalahari, naby ’n casino. “Maar iets van my Grootfontein-jare het tog oorgebly. Ek het verlang, besef hoe lief ek vir hulle is en hoe dom ek was …” In 1990 is sy en Chris weer getroud, maar die dobbelgier het gebly totdat sy in 1993 die casinobestuurder gevra het om haar die casino te belet totdat sy die geld wat sy geskuld het, terugbetaal het.

Annelie het besef dat sy nie so kon voortgaan nie, want sy is besig om die hele gesin geldelik uit te roei. Sy het op haar rekenaar met die naam Sollie met haarself begin redeneer. “Tot malwordens toe. Uiteindelik het dit die roman geword. Ek het nie gedink ’n uitgewer sal belangstel nie, maar dit was ten minste ’n troos dat ek die afgryse van my dobbelverslawing met ’n onbekende gesig kon deel. Dit was uit my hart uit. Trippel sewe,” sê Annelie, “is fiksie. Dit is nie my storie nie en niemand moet ook vra wat is waarheid en wat nie. Maar dit is die storie van elke mens wat verswelg raak deur die yslike spinnerak van dobbel.”

Maureen Joubert skryf in Insig (Junie 1996) dat die roman onverwags aangrypend is, dat die skryfwerk knap gedaan is en dat ons weer van Annelie Botes sal hoor. Die roman word in 2007 heruitgegee.

In dieselfde jaar verskyn Ribbokvoete (wat vóór Trippel sewe geskryf is) by JP van der Walt. Die hoofkarakter, Rut, het net voor haar mondigwording ’n aborsie gehad en sy glo steeds dat sy daarvoor gestraf word. Sy veg met haar gewete en met God. Irma Loock skryf in Volksblad (5 Mei 1997) dat “die roman ’n aanwins vir die Afrikaanse literatuur is, sowel as vir geestelike lektuur in Afrikaans.”

Annelie se volgende roman, Klawervier, verskyn in 1997 en in 1998 word dit bekroon met die ATKV-Prosaprys. Sy vertel aan Sarie waaroor die storie van Klawervier gaan: “Dit gaan oor ’n man wat sy lewe daaraan gewy het om valse waardes na te jaag en in die proses die groot lewenswette verontagsaam het. En natuurlik betaal hy ’n prys daarvoor.” Sy noem die roman ’n bewaringsroman en nadat dit haar anderhalfjaar geneem het om al haar inligting bymekaar te maak, voltooi sy die roman binne drie maande. Klawervier word in Engels, Duits en Nederlands vertaal.

Daar was egter iets wat haar gepla het aan die benamings van ’n familiesage en plaasroman wat aan Klawervier toegedig is, sê sy aan Salvelio Meyer (Rooi Rose, 29 April 1998): “Dié beskrywing klink darem vreeslik outyds. ‘Plaasroman’ laat dit klink of ek van karringmelk en donkiekarre skryf, terwyl ‘familiesage’ mens aan JR Ewing se mense laat dink.”

Annelie beskryf die verhaal van Daniël Verreyne en sy seun Schoonraad  en hulle lewe in die fynboswêreld van die Kamanassie as ’n natuurroman wat eintlik heel toevallig ’n plaas as agtergrond het, “maar dit bly ’n natuurroman wat oor mense, en die verweefdheid van mense handel.”

Hans Ester (Zuid-Afrika, Oktober 2000) skryf oor die Nederlandse vertaling deur Riet de Jong-Goossens: “Klawervier is een prachtige roman, een belevenis om te lezen. We mogen ons als Nederlandstaligen gelukkig prijzen dat Riet de Jong-Goossens er een zeer zorgvuldige vertaling van heeft gemaakt.” JP Smuts (Skrywers en Boeke) beskou dit as ’n verfrissende en hoogs genietlike werk wat kan reken op ’n wye en waarderende leserspubliek.

In 1998 (met ’n heruitgawe in 2008) verskyn Die trousseaukis en ander stories, wat ’n keur uit haar tydskrifverhale is. Jaybee Roux (Beeld, 22 September 2008) skryf oor die heruitgawe dat Annelie met hierdie bundel bewys van haar talent bevestig. Hierdie talent sal verseker dat sy haar statuur as een van die gewildste skrywers in Afrikaans sal behou. Ook Stoffel Cilliers is komplimenterend oor Die Trousseaukis (Volksblad, 15 September 2008): “Met haar besonder eerlike en openhartige skryfwyse en haar diepgaande mensekennis neem die skrywer die leser na die binnekamers van  haar karakters. Dit is ’n verrykende, deernisvolle ervaring.”

In Die Burger van 30 September 1998 is Mariette van Manen die mening toegedaan dat Annelie Botes ’n “slag met woorde het en presies weet wanneer en hoe om ’n storie klaar te vertel, soms met ’n onverwagte wending. En al loop ’n storie soms af soos ’n mens vermoed, bly die aanslag vars.”

Raaiselkind word in 2001 gepubliseer. Willem Breytenbach skryf in Volksblad (30 April 2001): “Raaiselkind is ’n roman wat die wêreld van outisme genadeloos oopvlek. Twee vrouekarakters staan midde-in die aangrypende werklikheid: Ingrid Dorfling, die ma van Alexander, die outistiese seun, en Miriam, sy oppas-ma, wat met kinderlike Godsvertroue en aardse wysheid die enigste een is wat soms tot Boetatjie deurdring.”

Die publikasie van die boek volg op drie jaar se navorsing wat Annelie feitlik voltyds besig gehou het. Haar bure het selfs gesien hoe sy een oggend deur die polisie in hegtenis geneem is en daarna ’n nag in die polisieselle deurgebring het. Annelie verduidelik aan Elize Parker (Sarie, 11 Julie 2001): “Elke mens het ’n grens en ek wou vir myself sien hoe my karakter verby die grense in haarself gedryf is. Ek het alles wat my karakter Ingrid in die tronk ervaar het, self aan my lyf ervaar, tot die visentering vir ’n versteekte wapen.”
Die eerste prikkel van die storie het gekom toe sy hoor dat ’n kennis se seuntjie outisties is. Sy vertel aan Willem Breytenbach dat sy seker is dis waar die storie begin ontkiem het. “Verskeie gesinne met outistiese kinders het my baie gehelp met my navorsing en waarneming van outisme, die kinders se optrede en hoe hul gesinne dit hanteer en verwerk. Ook die personeel aan die Quest-skool op Uitenhage en die skool se stigter, Dianne Beukes-Jesson, en Guillome Olivier, die huidige hoof, het die raaisel vir my ontrafel. Ek het ook dae saam met van die gesinne deurgebring, saam na ’n restaurant gegaan, inkopies gaan doen en selfs kerk toe gegaan omdat ek eerstehands wou weet waaroor ek skryf.”

“Die navorsing was skrikwekkend baie, want ek het niks daarvan geweet nie,” vertel sy aan Corlia Fourie (Rooi Rose, Mei 2001). “Liggaamlik en emosioneel was dit uiters uitputtend.”

Raaiselkind word ook ’n aanklag teen die NG Kerk en sogenaamde Christene, want die tema hang baie nou saam met Suid-Afrikaners se beoefening van die Christelike godsdiens en die samelewing se reaksie daarop. Annelie sê dat haar navorsing oor die houding van die kerk, veral teenoor die underdogs van die gemeenskap, ontstellend was. Sy het met honderde mense – van bedelaars tot huishulpe en oumense, miljoenêrs en kerkleiers – gepraat oor hul siening van die kerk. “Ek het agtergekom hoe bebroeid die eiers is. Die uitgewers van Raaiselkind het my probeer stop en gevra ek moet die kerk met meer respek behandel, maar ek het geweier.”

Raaiselkind is in Nederlands (agtste druk in 2008) en Engels vertaal, en in 2003 is dit ook vir die verhoog verwerk. Dit is die eerste keer op die Stellenbosse Woordfees opgevoer, daarna by die KKNK en ook by die Volksblad-Kunstefees in Bloemfontein. Bekende akteurs soos Neels van Jaarsveld, Antoinette Kellerman en June van Merch speel in die stuk wat deur Saartjie Botha verwerk en deur Marthinus Basson geregisseer is. Die bekendstelling van Raaiselkind het in die Mountweg-polisiekantoor in Port Elizabeth plaasgevind en die gaste het hulle vrywillig in die selle laat toesluit. Die kaartjies vir dié bekendstelling was uitverkoop en ’n tweede geleentheid moes gereël word.

Elmari Rautenbach skryf in Volksblad (23 Julie 2001) dat dit ’n boek is wat verdien om gelees te word. “Daarin lê ’n hele lewe opgesluit van amper onmenslike pyn. En van die skuld van ’n gemeenskap wat in sy ondersteuningsfunksie gefaal het.”

Vir Dorothea van Zyl (Die Burger, 25 Junie 2001) is die merkwaardige prestasie van Annelie “dat sy ’n verhaal wat nie soseer verrassings ten opsigte van die gebeure inhou nie, so boeiend vertel dat ’n mens beswaarlik die boek kan neersit. Dit hang saam met haar uitstekende karakterisering van veral die twee moeders in die verhaal. In die geheel gesien, lewer Annelie Botes met hierdie roman weer volop bewyse van waarom sy ’n bekroonde skrywer is wie se werk ’n groeiende leserspubliek boei.”

Raaiselkind was die eerste Afrikaanse boek wat op die kortlys was van die Boek Data/SAPnet’s Booksellers’ Choice Award vir 2002. Dit was ook op die kortlys vir die ATKV-Prosaprys.

In 2002 verskyn Annelie se volgende bundel kortverhale, Nawelstring. Annelie vertel aan Pieter van Zyl (Die Burger, 23 Maart 2002)dat in hierdie bundel nie een tema is nie. “Die verhale loer na die mens se drif en oorlewing; om heel anderkant uit te kom. Elke storie is ’n entiteit op sy eie, a set of circumstances. Hierdie is ook verhale wat in tydskrifte verskyn het, maar,” sê Annelie, “ek dink tog dat ek in my verhale wegbeweeg van dié genre af. Ek skryf oor bloedskande, ’n predikant wat sy vrou agter toe pastoriedeure mishandel. Hierdie dinge kom nie gewoonlik in tydskrifverhale uit nie. Ek moes hierdie dinge in die tydskrifmark indwing.”

Volgens Cecile Cilliers (Beeld, 8 April 2001) is die verhale in die bundel nie almal ewe bevredigend nie, “maar in die werklik goeie verhale wys sy wat in haar steek en Nawelstring sal stellig baie geesdriftige lesers vind.”

Doks Briers skryf in Volksblad (4 Maart 2002): “Botes is by uitstek ’n skrywer wat die mens se weerloosheid teen die aanslae van die lewe en sy inherente krag om teenslae te bowe te kom, verwoord. Die verhale in die bundel stel dan ook nie teleur wat dit betref nie.”

Annelie is ’n rubriekskrywer van formaat vir onder andere Die Burger en Volksblad en in 2006 word haar rubriekstukke in ’n keurige publikasie saamgevat, naamlik Broodsonde. Mariana Loots (Die Burger, 23 September 2006) meen dat “hierdie 70 stuks skrywes ’n konkretisering is van Botes se diepste wese, wel en wee. Sy neem deeltjies uit die alledaagse lewe en omtower dit in meesleurende memoires van ’n mens, ’n moeder, ’n vrou.”

Tussen al die suksesse van haar skryfwerk deur kon Annelie egter nie loskom van die dobbelmanie nie. Sy teken in 2002 ’n selfgekose, lewenslange verbanning en sedert toe is sy ontslae van landcasino’s. “Maar,” vertel sy self (Volksblad, 31 Maart 2007), “ek het op die internet begin dobbel totdat my ankers voor my oë ineengestort het. Tog kon níks my stop nie. Tot die dag wat ek self begin vrees het. Ek het myself gesien as ’n hawelose, verfloiingde wrak. Iewers moes ek die grens trek, maar ek het my grense verloor. Ek ontdek toe Foreign exchange. Totdat ek daar ook dubbelgevou het. As dit nie vir my ou gryse se geldelike onderskraging was nie, sou ek ongetwyfeld bankrot gewees het.”

In September 2004 klim sy sonder ’n werkspermit op die vliegtuig na Londen – vasberade om ou mense op te pas en haar verliese terug te werk. “Toe ek die dag hier uit my huis is, was my plan om nooit weer terug te kom nie. Ek wou by ’n brug in Londen afspring, want ek het werklik baie skuld gehad en kon nie my verpligtinge nakom nie. […] Ek het besluit as ek nie binne twee weke werk het nie, sal ek van ’n brug afspring. Maar ek het werk gekry. Ek moes ’n bedlêende ou tannie versorg – ’n werk wat my in staat gestel het om binne ’n jaar my skuld af te betaal. Maar ook ’n werk vol frustrasie en humor,” vertel sy aan Shanda Luyt (Vrouekeur, 20 Julie 2007).

Sy pen haar ervaringe oorsee neer in die boek Sabbatsreis wat in 2007 gepubliseer is. Shanda Luyt skryf dat Sabbatsreis ’n storie van genesing en oorlewing is, van ’n Afrika-tuin in Londen. “’n  Menslike verhaal wat jou diepste emosies aanspreek en jou laat voel dit kon net sowel jy gewees  het. Soos alles uit Annelie se pen …” (Vrouekeur, 20 Julie 2007)

Hennie van Coller skryf in Volksblad (Rapport, 29 Julie 2007): “Maar daar is ook ’n onthutsende eerlikheid en vaart in die narratief wat jou teen wil en dank meesleur. Karakteriserings is deurgaans trefseker (veral van die verloopte Clare) en dialoë oortuigend. Die gebruik van batos, waar ’n verhewe en romantiese taalregister byvoorbeeld skielik deurbreek word met skunnighede, is uitstekend. Dis ’n boek – en dis my slotoordeel – vir meer mense as net die tipiese Botes-aanhangers, want dis ’n heel geslaagde poging om die demone in die persoonlike geskiedenis en psige te konfronteer en ter ruste te lê. En dit gebeur ook in en deur die taal, wat vir Botes, volgens dié roman, nog altyd die amulet teen die vuur was.”

Cari Coetzee (Die Burger, 20 Augustus 2007) skryf: “Ook in hierdie boek dwing Annelie Botes se kenmerkend eerlike en op-die-man-af styl lesers om hul vooropgestelde idees prys te gee. Hierdie roman lees nie net lekker nie, maar slaag daarin om taboes van ontrouheid, aborsie en verslawing op ’n eerlike en roerende wyse aan te durf. Moeiteloos word die leser meegesleur in hierdie vrou se reis na selfondersoek en selfaanvaarding.”

Annelie se volgende roman, Thula-thula, waarin sy die kwessie van bloedskande aanspreek, is in 2009 gepubliseer. In Beeld van 24 Mei 2003 vertel sy aan Elise Tempelhoff dat sy toe reeds al navorsing begin doen het oor die onderwerp. “Dis ’n donkersiek geheim en dit slaan toe op ryk en arm, geleerd en ongeleerd, Christen en ateïs. Dit ken nie kleurgrense nie. Hoe dieper ek daarin krap, hoe droër word my mond.”

Reeds tydens die navorsing wat Annelie vir Raaiselkind gedoen het, is die saadjie geplant vir dit wat Thula-thula sou word. Sy vertel aan Elmari Rautenbach: “Ek is geraak deur hoeveel mishandeling in familieverband plaasvind en hoe min ooit in die openbaar daaroor gesê word. Maar ek het die inligting eers in my agterkop gebêre. Toe breek die nuus van die Fedders-gesin in 2000.” Sy maak toe kontak met ’n speurder om hom te vra dat hy haar en haar man Delmas toe vat. Sy wou self sien. Daar kon sy toe die Fedders se plaas platstap, en het sy tot die polisiedossiere onder oë gehad en met die sielkundiges gesels. En dit was die begin van die roman, wat die storie vertel van Gertruida Strydom wat op vyfjarige ouderdom, nie lank nadat haar boetie oorlede is nie en met haar ma wat bedroef is en nie daaroor kan praat nie, deur haar bedroefde pa betas word.

Annelie het aan Kobus Burger (Volksblad, 5 September 2009) vertel dat sy tydens haar navorsing vir Raaiselkind sy onder die indruk gekom het van hoe baie kinders wat gestrem (fisies of verstandelik) is, onderwerp word aan seksuele misbruik. “Dit was toe nie my topic nie, maar dit was vir my ontstellend. Hulle kan dit nie praat nie. Hulle kan nie sê dit is verkeerd nie. Toe het die saad al geval.”

Benewens Gertruida se geval waaroor in Thula-thula vertel word, is daar ook Andrea wat, nadat haar pa haar gemolesteer word, polisie toe gaan, maar uiteindelik het dit ook nie gehelp nie, want die hele gesin se lewens is deur die blootstelling verwoes. Hierop sê Annelie aan Kobus Burger: “So die maatskaplike bestel is ondoeltreffend. As ’n meisie soos Andrea polisie toe gaan, wat gebeur met hulle? Hoekom kom dit op die koerante se voorblaaie? Hoekom mag mense foto's neem? Waarom word alles nie in camera gedoen nie? Die gesin moet self, saam met kundiges, hierdie ding gesond kry op ’n wyse wat vir hulle waardig en werkbaar is. Hulle moet om die eetkamertafel kan sit met die nodige hofbeamptes en kundiges.”

Tydens die bekendstelling van Thula-thula by die Volksblad-Kunstefees (2009) in Bloemfontein het daar ’n ouer dame opgestaan en vertel dat sy as kind seksueel misbruik is, dat Thula-thula vir haar die keerpunt was en dat sy toe vir die eerste maal tot die besef gekom het dat dit nie ’n skande was nie. Sy was ook nie die enigste vrou wat opgestaan het nie.

Prof Vollie Spies, ’n kenner op die gebied van bloedskande, meen dat Thula-thula die “kontrasterende gevoelens van die slagoffer op ’n realistiese manier takel: die ‘stoot-en-trek’, naamlik om die vaderfiguur te haat, maar ook te wil liefhê in ’n poging om juis die verlore vaderfiguur terug te wen.”

Nadat die manuskrip voltooi is, het die uitgewers bewus geraak van die implikasies van sekere tonele binne die definisie en omskrywing van die Wet op Films en Publikasies 65 van 1996. Die boek is aan die Publikasieraad voorgelê en op hulle voorskrif is ’n ouderdomsbeperking van 18 voorgestel.

Riana Barnard, Annelie se uitgewer by Tafelberg, meen teenoor Elmari Rautenbach dat dit nodig was datThula-thula verskyn. “Dit verstom my altyd hoe die lewe oor my lessenaar spoel wanneer ek sien waaroor mense skryf. Die letterkunde is net ’n byproduk van die lewe. Daarom glo ek steeds aan die beskawende invloed van boeke. Boeke het nie net ’n vermaaklikheidswaarde nie. Dit moet ook lei deur lesers ánders na die lewe te laat kyk, ánders te laat dink – al is dit nie altyd ’n aangename ervaring nie.” “Maar,” antwoord Annelie, “’n boek moet nooit ’n referaat wees nie. Of ’n politiekery nie. Thula-thula wil ’n storie vertel – ’n aangrypende storie.”

Slegs ’n maand nadat Thula-thula verskyn het, was die eerste drukoplaag uitverkoop en was ’n derde oplaag in die beplanning. Dit was onder die toptien verkopers van boekwinkels en het op die Nielson Boekdata se lys die no 2-plek beklee na Spud.

In Die Burger van 25 Julie 2009 skryf die resensent (word nie vermeld) dat Thula-thula ’n boek is “wat sy tema genadeloos ontgin en geen houe terughou nie, dit dra selfs ’n ouderdomsbeperking, tog is dit amper onverwags hoopvol en romanties, soos ’n jeugboek: die onderwyser, die ridder op die wit perd, het haar lief en is immer daar vir haar en sy beantwoord sy liefde, beskadigde psige en verslapte kringspier of te not. Maar Botes weet hoe om ’n storie te vertel. Die leser is hopeloos, afgryslik vasgenael. Lees dit as jy dapper is.”

Ook vir Jaybee Roux (Volksblad, 10 Augustus 2009) is Thula-thula “met leeuemoed en verbete eerlikheid geskryf: Nie een woord het ’n suikerlagie om nie. Selfs geharde lesers sal tot in hul murg geskok word. Dit is waarskynlik wat die skrywer wou bereik: om ’n nasie waarin euwels soos bloedskande oor alle grense heen lewens verwoes uit ’n waas van ontkenning en gelatenheid te skud.

“Tegnies skort daar nie veel met Thula-Thula nie. Die struktuur is interessant. Die roman speel hom oor enkele dae af, met brokke en skerwe uit Susarah (Gertruida se ma) se tragiese verlede wat bygetrek en met die hede vervleg word om ’n hegte eenheid, ’n lewensverhaal, te vorm.

“Soms wou iets my nie oortuig nie. Hoekom sou ’n ma wat self as kind gemolesteer is nie ingryp wanneer haar dogter misbruik word nie? Maar my eie navorsing bewys sulke ma’s is juis geneig om weg te kyk. Eindelik word die geloofwaardigheid waarmee Gertruida se ervarings en haar gevoelslewe as kind en volwassene uitgebeeld word, Thula-Thula se grootste bate.

Thula-Thula is méér as ’n aangrypende en ontstellende boek oor bloedskande. Bloedskande is ook ’n katalisator wat die emosionele chaos blootlê wat volg wanneer dinge nie gebeur soos dit móét nie, wanneer iemand se kindwees van haar weggeraap word. Dit bewys boosheid is dikwels oorerflik, maar skuil nie noodwendig in die gene nie. Bloedskande is ’n stuk ‘gereedskap’ wat die weerloosheid van die mens – veral teen die genadeloosheid van dié naaste aan jou – moet bewys. Selfs Abel (Gertruida se pa) ontsnap nie aan die weerloosheid nie; sy menswees word nie ontken nie. Ook dié karakter is volrond en eg.

“Daar is wel besware. Braham is die een karakter wat nie werklik oortuig nie. Dit is asof hy bygesleep is omdat ’n boek soos hierdie ’n manlike protagonis ‘moet’ hê. Daarby is die slot voorspelbaar en nie eksplosief genoeg nie, veral as ’n mens alles in ag neem wat dit voorafgaan. Maar daar is nie regtig ’n verskoning om nié die roman te lees nie. Dit is nie ’n boek vir sissies nie, maar een wat nogtans so wyd moontlik gelees moet word. ’n Mens wonder waarmee Botes volgende vorendag gaan kom. Hoe sy dié een gaan oortref, weet nugter. ’n Mens kan haar net sterkte toewens.”

In 2010 word Duiwelsbrood en ander kort en lang stories by LAPA gepubliseer.  In Die Burger van 5 Julie 2010 is Cecile Cilliers die volgende mening toegedaan oor Duiwelsbrood: “Annelie Botes het ’n saalsak vol stories wat sy met flair en vol selfvertroue, selfs met panache, aanbied. Sy is nie onbewus van die tekortkominge in haar werk nie, noem hulle by die naam in die essay wat die herpublikasie van Ribbokvoete in hierdie omnibus voorafgaan: Plotfoute, oordramatisering, soetlikheid, onnodige vloekery, opstopping …

“Sy het daardie oorspronklike kritiek deur die uitgewers ter harte geneem en hard gewerk om haar aanslag te verbeter, om sodoende suksesvolle skrywer te word, en dit is sy. Hierdie omnibus (sommige verhale het vantevore verskyn), is haar tiende boek.

“Ná Ribbokvoete aan die begin van haar skrywersloopbaan, het Annelie Botes probeer om nie te veel intrige in een verhaal in te prop nie, om nie te veel aan te dik nie, haar karakters ’n bietjie blaaskans te gee en sover moontlik, teen ­sentimentaliteit wal te gooi. Volkome suksesvol is sy egter ongelukkig nie. En ai, haar karakters, hetsy man, vrou of kind, kan wróég!

“Die verhaletemas in feitlik ­elkeen van die stories in hierdie versameling is vry ernstig van aard en het te make met onopgeloste probleme en bagasie wat nie afgelê kan word nie. Die gevaar verbonde aan hierdie swaarmoedige temas is dat die verhale eindelik aan ’n bepaalde eendersheid ly, wat onvermydelik op formule-skrywery afstuur: Hier’s ’n probleem, só word dit opgelos! In twee of drie van die verhale word daaraan ontsnap met ’n effe ligter aanslag: In ‘Die voorbode’, ‘’n Rand ’n lootjie’ en ‘Die ­oudagwens’ word daar lekker vertel, en Botes kán vertel, maar die slot van al drie is helaas voorspelbaar. Hierdie paar ­­ver­hale is die uitsondering. Op die keper beskou, is dit ’n donker wêreld wat Botes se karakters bewoon, en hulle moet deur baie smarte probeer deurdruk dagbreek toe.

“Vir my het die emosionele wroeging (Annelie Botes se eie woord in Ribbokvoete) ’n bietjie dik vir ’n daalder geword. Vir Botes se wye leserskring bied ­Duiwelsbrood weereens ’n lekker lees­ervaring, vir hulle wat nie saam wil wroeg nie, hou liewer verby.”

Op LitNet skryf Alette de Beer: “Die mens het ’n oeroue soeke na geloof, hoop en liefde. Hierdie soeke word opnuut uitgebeeld en ondersoek in die verbeeldingryke stories en tasbare, lewensgetroue karakters van Duiwelsbrood en ander kort en lang stories. Dit is ’n omnibus van drie novelles en 19 kortverhale, almal voorheen gepubliseer, deur die geliefde Afrikaanse skrywer Annelie Botes. Die 19 kortverhale het in 2002 verskyn as die bundel Nawelstring (2002). Ou aanhangers wat reeds bekend is met Botes se romans, rubrieke en tydskrifverhale sal die omnibus baie geniet. Dit is egter ook ’n goeie eerste kennismaking vir nuwe lesers, wat gou meegesleur sal word deur Botes se boeiende skryfstyl, haar dapper oopkrappery van die samelewing se skadukant en haar vermoë om die leser binne ’n paar paragrawe in ’n karakter se siel en leefwêreld in te trek. (…)

“Sedert haar vroegste skryfpogings huiwer Botes nie om kontroversiële en ongewilde sake te takel nie. Duiwelsbrood en ander kort en lang stories is geen uitsondering nie. Die bundel pak amper elke maatskaplike en sielkundige kwessie denkbaar – gesinsgeweld, bloedskande, alkoholisme, dobbelverslawing, depressie, selfmoordgedagtes, ras- en klasverskille, aborsie, egskeiding, armoede … Dit kan nogal neerdrukkend raak in groot dosisse, en is nie ’n boek om in een sitting deur te lees nie. Van die temas raak ook soms herhalend: dobbelverslawings, aborsies, tirannieke pa-figure en ’n stryd teen armoede kom in verskillende gedaantes weer en weer na vore. Dit is egter verstaanbaar as ’n mens dit beskou as die skrywer se eerlike uitdrukkings van haar persoonlike worstelinge, vrae en soeke. Hoewel ’n mens soms swaar kou aan al die gestoei en gesukkel, is daar by elke storie ook iets om te leer en te oordink, en is daar ’n paar karakters en narratiewe wat ’n mens lank bybly. Hou dit op die bedkassie en leer ken die karakters een vir een, stap ’n paadjie saam met hulle en lees iets anders vir comic relief tussenin. (…)

“Terwyl die kwessies en lewenswaarhede wat in die bundel aangespreek word, almal belangrik is, raak dit soms te ooglopend moraliserend, asof dit fabels of gelykenisse is wat as stories vermom word. ’n Mens is immers nie altyd lus vir ’n preek of ’n oordenking nie; soms wil ’n mens ook maar net ’n storie lees en geniet en amper per ongeluk daardeur nuwe insigte of wyshede ontdek.

Tog kan die waarde van ’n betrokke, denkende skrywer soos Botes nooit gering geskat word nie. Sy sê self dat sy sukkel om te skryf as daar nie ’n moral of the story is nie, en dit is haar diep denkproses, meelewing en eie soeke na geloof, hoop en liefde waarmee sy soveel lesers diep aanraak. Haar skryfwerk is nie ligte musiek nie. Dis betrokke, soekend, intens, menslik en daarom ook definitief die moeite en trane werd.”  

In Rapport van 22 November 2010 beland Annelie weer in die spervuur, maar hierdie keer is dit nie as gevolg van ’n omstrede kwessie wat sy in een van haar boeke aangeraak het nie. In ’n onderhoud met Hanlie Retief erken Annelie Botes dat sy nie weet hoekom haar boeke so gewild is nie. “Seker maar omdat ek nooit ’n lieg skryf nie.” En dit is iets wat sy by Dalene Matthee geleer het: “rou eerlikheid”.

“Elke keer as ek dink aan ’n voorval waar iemand verontreg is en ek stilgebly het, sak ’n naarte oor my. Van alles in my lewe – en ek het al verskriklike goed gedoen – is ek daaroor die skaamste.”

Toe hulle in Bedford gebly het, vertel sy aan Retief, het sy haar skribapos verloor omdat sy die kerkraad aangevat het oor ’n salarisverhoging van R12,50 vir die kerk se skoonmaker. Sy verduidelik verder: “Sy kry nie overalls nie, nie eens ’n koppie tee nie, sy moet piskrippe was, vee … en hulle verhoog haar maandsalaris van R125 met R12,50 … Twee weke later word ek aangekla dat ek as ongetroude by ’n man bly. Maar dis my eie man, van wie ek toe geskei was … so ek hét my k*k met die kerk gehad.”

En toe vra Hanlie Retief dié vraag aan Annelie wie se antwoord soveel bespreking uitgelok het: “Van watse mense hou sy nié?”

En haar antwoord: “Ek gaan nou verskriklik eerlik wees. En láát dit maar die land skok. Ek hou nie van swart mense nie. Ek verstáán hulle nie! In my grootwordjare op Uniondale was daar geen swart mense nie. As daar een rondloop, was dit ’n bandiet wat dros. En dan moet jy hárdloop, want hy gaan jou vang, nè. Ek wéét hulle’s net sulke mense soos ek. Ek wéét hulle’t dieselfde regte as ek. Maar ek verstáán hulle nie. En dan … hou ek nie van hulle nie. Ek vermy hulle, want ek’s bang vir hulle

“My buurman is wreed vermoor. Vir wat? As swart mense honger is, hoekom breek hulle nie soos in die ou jare in, steel die yskas leeg en loop nie? Ek weet waarvandaan dié woede kom. Dit het f*kol meer met apartheid te doen. Hulle’s woedend oor hulle eie on-be-kwaam-heid.

“Ná 16 jaar is die paaie in hulle moer, hospitale, skole, álles. En wie’t dit gedoen? Húlle!  Ek is ver-*****n-skriklik kwaad vir die swart regering wat omtrent al wat plaasskooltjie is, toegemaak het. Nou hardloop daai kinders wild rond. Hulle kan nie hul naam skryf of tot by 100 tel nie. Wat gaan hulle eendag word? Kriminele! Maar kyk na alles wat ons aan húlle gedoen het voor 1990 … jirre-dis-verskriklik. Die wit regering het net so gesteel. Daai ministers met hul slap karre en hul plase … Hulle’t op ander plekke gesteel, by doeane en aksyns, grondbelastings. Maar dis verdomp nie reg dat jy by arm mense en pensioenarisse en hospitale steel nie. Ek verstáán dit nie. As ek dit net kon verstaan, sou ek van hulle gehou het.

“Ek was nog nooit in my lewe ’n rassistiese en haatdraende mens nie. Kyk, ek het grootgeword in apartheid. Jy slaap in jóú huis, en ek drink uit mý koppie. Só’t die lewe gewerk. Met patrone. Sondae in die kerk: lofpsalm, geloofsbelydenis … patróne. Maar naweke en vakansies het ek nie ander maats gehad as brúin maats nie. Sáám botterboom van die damwal af gery. Op Grootfontein mag ek nie Outa Willem en Aai Ragel ge-jy- en-jou het nie. Ek moes vra: Outa Willem, kan Outa Willem se knipmes die doring uit my voet haal? Outa Willem mag my pak gegee het. En dan kry ek by my pa nóg ’n pak omdat dit vir Outa Willem nodig was om my te slaan.

“Iemand, iemand nié wit nie, moet ’n boek skryf oor die medemenslikheid tussen swart en wit. Hoe die witgatboere hul werkers dokter toe ry as hulle bybietjies kry. En as ons canfruit inlê, kry hulle ook … daai verhoudings het in die moderne politieke str*nt verlore gegaan. Niemand vertel dáái stories nie. Daar’s net ’n wanpersepsie dat ons net sleg was en hulle verdruk en geslaan het.”

Sy vertel aan Retief dat wanneer haar man Chris afgetree het (rondom 2017) gaan hulle Engeland toe, want “ek offer eerder my Afrikaanse kultuur op as om op 84 deur 13 swartes verkrag te word. Ek kan nie eens meer veilig kafee toe stap vir ’n tamatie nie. Hierdie land is nie meer die een waarvoor ek op aandag gestaan het nie … En dit het ef-ol met rassisme te doene. Ek het nie ’n probleem om ’n vurk en tafel en lavatory met ’n swart man te deel nie. Maar ek wil nié in vrees lewe nie. Ek wil net … leef.”

Ná die “oproer” in die media het Annelie om  verskoning gevra en gesê: “Indien die oorspronklike berig gelees word, kan enige regdenkende mens agterkom ek het nie  bedoel alle swart mense nie. Ek het gepraat van swart misdadigers en van ’n swart regering wat pateties regeer. Dít was waaroor dit in die onderhoud gegaan het, maar dit het nie so uitgekom nie.”

Die organisasie SA Vryskutskrywer het ’n veldtog begin om geld in te samel om te vergoed vir die R30 000 prysgeld wat sy verloor het. Hulle het gesê dat hoewel hulle hul distansieer van Botes se uitlatings, hulle meen dat dit nie reg is dat sy die toekenning verloor het net omdat sy polities nie korrek opgetree het nie. Hulle wil haar beloon vir die skryfwerk wat sy gedurende die vorige 12 jaar gelewer het en waarmee sy lesers “betower” het. Daar is uiteindelik net so oor die R10 000 ingesamel en Annelie sou dit gebruik vir die skryfskole wat sy self aanbied.

Die dagkoerante Die Burger en Beeld het haar ook afgedank as rubriekskrywer.

Hierdie erkentenis van Annelie het veroorsaak dat die K Sello Duiker-gedenktoekenning wat sy vir Thula-thula as deel van die SALA-toekennings ontvang het, teruggetrek is en sy die prysgeld verbeur het. Dit het weer ’n polemiek in die pers en op die internet aan die gang gesit.

In 2011 verskyn Tabernakel by Tafelberg. In Volksblad van 1 Februarie 2011 skryf JB Roux dat Annelie Botes in hierdie bundel drie jaar se bydraes wat in Volksblad en Die Burger-Oos verskyn het, bymekaargebring het. Dit is nie chronologies gerangskik nie, maar sy het dit “ingeryg om ’n menselewe in die spieël te bekyk” (p 9). Sy het ook geskaaf, uitgehaal en bygesit en alleenlik “mymeringe” oor haar lewe in Uniondale, Bedford en Port Elizabeth verskyn in die bundel. “Die resultaat is vertellings wat op mekaar inspeel en haar begrip vir die roman (of outobiografiese vertelling) as vorm bevestig.

“Die vrou wat haarself met onthutsende eerlikheid beskryf, is waaragtig uniek, hetsy as ‘aanneemouma’ vir die meenthuiskompleks se jongklomp, as ma van twee kinders wat haar skrikwekkende onkunde as moeder oorleef het, as een helfte van ’n ongewone huwelik of as Christen wat geloofsake sien soos sý dit sien.

“Dikwels voel jy diep meelewing met dié sterfling wat (vermoedelik) meer durf het as verstand, maar terselfdertyd ontstellend sensitief en weerloos is, en kompleks, met ’n ‘oop senuwee’ wat haar in trane laat uitbars wanneer die meeste van ons sou skouers ophaal. ’n Vrou wat as plaaskind vir die hoenders kerk gehou het en met straatkinders kaart speel. (Van kerk gepraat: Dit spreek vanself dat iemand wat so omvattend oor haar bestaanswêreld en sielslewe skryf, haar geestelike lewe deeglik in haar skryfwerk sal verken, soos die titel van ook dié boek bevestig.)

“Botes laat jou lag en beïndruk jou met wyshede, insig en taalvaardigheid. Al beswaar is dat daar te veel ‘ou nuus’ is, soos spesifieke staaltjies oor haar kinderjare en latere verblyf in Engeland.

“Botes se uitlatings in Rapport (sy het soveel meer kwytgeraak as een gewraakte sin) is ’n voortsetting van die ongeduld met misdaad en wanbestuur wat soos lemmetjiesdraad deur haar boeke krul. Ook in Tabernakel lees ons van haar misnoeë met die hedendaagse Suid-Afrika, van moorde en verkragtings, kinders wat deur regstellende aksie oorsee gedryf is. (…)

“Botes se bewering dat skrywers en hul werk los staan van mekaar, geld nie vir haar nie. Elke woord uit haar pen word vooraf in haar siel gebore: Botes kán nie lieg nie, al wil sy. Daarom is die deernis waarmee bruin, swart en wit in onder meer Tabernakel beskryf word, bo verdenking. Botes het dit teen die boosheid self, nie teen ’n rassegroep nie.

Tabernakel bevestig Botes het, waarskynlik onbedoeld, maar in pas met haar rebelse aard, die belangrikste versetskrywer in die nuwe bedeling geword. Sy is, deels weens die Rapport-verguisings wat van haar ’n soort martelaar gemaak het, vir die ‘nuwe’ Suid-Afrika wat André Brink vir die ‘ou’ Suid-Afrika was. Dieselfde Brink wat, soos vele ander, hoog opgee oor vryheid van spraak, maar tydens Botes se verguising dawerend geswyg het.

Tabernakel” se tegniese en emosionele uitmuntendheid is onbetwisbaar. Die vraag is of haar toekomstige werk haar reputasie as versetskrywer gaan bevestig – en of sy doelbewus daarvan gaan probeer wegskram.”

In 2012 lê Annelie haar volgende manuskrip met die titel Swart op wit vir publikasie aan Tafelberg voor, maar in Augustus word dit deur hulle afgekeur. Annelie vertel aan Mariska Spoormaker (Die Burger, 16 Oktober 2012) dat Swart op wit outobiografies is en dat dit as een van die redes voorgehou is hoekom Tafelberg nie die boek wou uitgee nie, aangesien sy al twee ander boeke met dieselfde strekking geskryf het. “Maar Swart op wit knoop net ’n bietjie aan by die verlede ter wille van die nuwe lesers. Verder gaan dit om die hele waarheid rondom die Rapport-onderhoud met my ‘Ek hou nie van swart mense nie’ en ‘Ek is bang vir hulle’-aanhalings wat die helse gemors veroorsaak het.

“In Swart op Wit delf ek verder ook dieper in my siening, na alle kante toe, en belewenisse van swart mense  … Ek dink ek moet die boek nou met rus laat. Ek het geen opsie nie.”

In 2013 word Swart op wit by Naledi gepubliseer. Volgens Melt Myburgh, toe redaksiehoof by Naledi, was daar groot belangstelling en voorafbestellings vir die boek. Annelie Botes het dit as ’n “memorieboek vir haar kinders” beskryf. Oor die tyd wat verloop het tussen die publikasie van Tabernakel en Swart op wit het Myburgh gesê dat dit ’n donker tyd in Annelie se lewe was, “maar sy is terug op die enigste manier wat sy ken. Sy verwoord die vrese en onbegrip van ’n groot groep landsburgers wat nog onseker is oor hul posisie binne ’n nuwe bedeling.”

Annelie vertel op LitNet aan Gisela Ullyatt dat Swart op wit se oorspronklike titel Kaart en transport  was. Haar dogter, Nasti, het op die internet na iets oor kaart en transport gesoek en daar uitgevind dat daar reeds ’n boek uitgegee is onder die titel Kaart en transport. “Omdat Kaart en transport verwys na die eiendomsreg wat ’n eienaar op sy huis sit, het ek iets gesoek wat te maak het met papierwerk en dokumentasie. In my omswerwinge het ek afgekom op die uitdrukking swart op wit, bedoelende om iets op skrif te sit. Kort en kragtig. Soos al my boektitels tot dusver. Ek het summier geweet my soektog na ’n titel het geëindig. Die titel het dus niks met politiek uit te waai nie. Maar die boek is nie ontdaan van politiek nie.”

Annelie verduidelik ook aan Ullyatt dat die boek nie as ’n skuldbelydenis gelees moet word nie. Sy wou met die boek vir haar kinders net iets op papier sit oor hulle ouers. Sy vertel ook dat die boek eintlik ’n “vorm van ’n selfmoordbrief” was, want voordat sy met die skryf daarvan begin het, sy in haar hart moes geglo het dat sy binnekort van Van Stadensbrug gaan afspring. En voordat sy dit doen, wou sy insidente en vertellings van hulle gesin se geskiedenis aanteken.

Hierdie “selfmoordbrief” het net langer geword en soos sy daaraan geskryf het, vertel sy, “het my gemoed al hoe ligter geword. Ek het besef dat ek ’n vreugdevolle lewe gehad het, dat ek geen rede het om selfmoord te pleeg nie. Ek is wie ek is, en ek hoef niks ander te wees nie.”

In Swart op wit vind die leser dat Laurika Rauch se liedjie “Die gang” ’n deurlopende tema is. Oor die rede vertel Annelie aan Ullyatt dat die liedjie haar aan die hart gegryp het vandat sy dit die eerste keer gehoor het. “Agter die woorde het ek oorhelder prentjies gesien van my ouma se huis en die portrette teen die gangmuur. Die ‘sonder elektrisiteit’ het soet herinneringe by my opgeroep van aande in my kinderjare toe ons by kerslig of by die lig van ’n paraffienlamp na die aandstorie oor die draadloos gesit en luister het op die mat in my ma-hulle se kamer. Ek het die lied maande aanmekaar gesing en kon dit nie wegkry uit my kop nie. Uiteindelik het ek die CD gekry en dag vir dag die spesifieke snit op herhaal gesit, tot Chris wou bars van frustrasie. In die gedermtes van daardie lied het ek iets van my eie weerloosheid aangevoel, iets van my land, iets van ons huisgesin, iets van die brose mensdom. Wanneer sy sing: ‘die lig is delikaat en fyn’, dan wil ek huil. Want elke mens moet ag gee daarop dat ons ewigdurend in die rigting van die Lig beweeg. Anders raak ons die pad byster in die donker gange van die lewe. ’n Gang met baie afdraaie na die onderskeie kamers van die lewe. In elke kamer speel ’n toneel af wat ’n merk op ons lewens laat, hetsy goed of sleg. Terwyl ek aan die teks gewerk het, het ek nie aanvanklik die lied ingeweef nie. Maar so baie dae dat ek sit en skryf het, was die lied op herhaal. Op ’n sonderlinge wyse hét dit struktuur in my kop geskep en ’n sussende effek op my gemoed gehad. Gaandeweg het dit amper onlosmaaklik deel van die boek se hartklop geword.”

Annemarié van Niekerk skryf in Rapport (8 Julie 2013) as volg oor Swart op wit: “In haar nuutste boek, Swart op wit, neem Botes bestek op van hierdie tyd van ontnugtering, spyt, selfverwyt en paniek. Sy vertel haar verhaal met ’n goeie kwota humor, selfspot, nugterheid, kwesbaarheid en die tipiese Botes-kruheid wat ’n ding sê soos hy is.

“Die leser leer haar intiem ken, hoe sy al vroegtyd weeskind geword het nadat haar ma in elk geval altyd silwerlepeltjies en die Blue Moon-roosboom meer liefgehad het as haar dogter. Hoe Annelie daarom aspris die rose van die boom afgebreek het, ná haar ouers se dood weens wangedrag uit die skoolkoshuis geskop is en hoe byna niemand op die dorp aan haar ’n kamer wou verhuur nie omdat haar reputasie haar vooruit geloop het, haar swaarkry- en arm jare, haar betrokkenheid by gemarginaliseerde mense, haar identifikasie met en hulp en steun aan die underdog, die ontwikkeling van haar politieke bewussyn.

“Maar ook haar eie foute en swakhede. Sy verswyg nie haar dobbelverslawing, huwelikskrisisse, hoe sy haar gesin eens versaak het, haar oorlewingstryd, haar impulsiwiteit en die probleme wat dit haar al besorg het nie. Sy gaan byna naak voor haar leser staan.

“Die beeld wat die leser kry, is dié van ’n vrou wat plat op die aarde staan, wat alles vir haar medemens oor het, ook haar eie laaste sent en minuut; ’n vrou wat diep ly by die aanskoue van ander se ellende – wit, bruin, swart, maak nie saak nie; dit gaan vir haar oor die een wat ly. Iemand wat die laaste myl met jou sal loop, nie een keer nie, maar keer op keer. Maar tog kry mens nie die gevoel dat sy probeer witvoetjie soek by haar leser nie. Daarvoor is sy te hard op haarself.

“In Swart op wit spreek Botes berou uit oor haar onbesonne en bot geformuleerde uitsprake in die berugte onderhoud. 'Daar was al baie kere in my lewe dat ek nie my woorde reg uitgekry het nie. Kere toe dit as beledigend of veroordelend of sarkasties oorgekom het, sonder dat dit so bedoel is. En ek innig spyt was dat ek nie eerder my snater toegeklap het nie. Ek is spyt ek het gesê ek hou nie van swart mense nie. Doodgewoon omdat dit nie die waarheid is nie. Ek besef alte goed dit was growwe veralgemening …’

“Botes se boek is onderhoudend, humoristies, ironies, selfkrities; mens leer haar tot onder haar vel ken. Haar taalgebruik is pragtig, bespikkel met kleurvolle, beeldende en dikwels selfgeskepte woorde soos ‘vermoedeloos’, ‘opmaakmense’, ‘’n beroertemens’. Dit is ’n boek wat die worsteling weergee van alle Suid-Afrikaners wat desperaat hul eie menswees probeer uitpluis, ’n menswees wat nie los te dink is van al die ander wat saam op Suid-Afrikaanse grond leef nie, ’n komplekse menswees.” 

Annelie erken dat dit een van haar strewes is om ’n normale lewe te lei. “Ek wil baie graag soos ’n VLV-tannie leef. My ma was ’n formidabele VLV-tannie! Ek weet waar alles in my huis is en al het my huis baie detail, is alles georden – sodat dit ook in my kop georden kan wees.”

Annelie vertel dat die eerste boek wat “’n diep dreuning in haar derms gemaak  (Beeld, 11 Junie 2001) […] André P Brink se Oomblik in die wind (was). Ek was betreklik jonk toe ek dit gelees het, en dáár het ek die krag en poëtiese kwaliteite van Afrikaans vir die eerste keer baie hard met my hoor praat. Ek het die boek seker al tien maal gelees.”

Sy skryf in Rooi Rose dat wanneer sy omgekrap of ontnugter is, sy op die esteties-poëtiese Bybeltaal terugval, veral Jesaja, en die soetheid van die Grimm-sprokies.

Annelie het ook gewone toekomsdrome, soos om ’n opera in die La Scala-operahuis in Italië te sien. En om kaalvoet in die strate van Jerusalem te loop. En om eendag Tibet toe te gaan. “En ek wens ek kan net een keer alles oorboord gooi wat my VLV-ma my geleer het en ’n passievolle nag saam met Bjorn Borg hê!”

Annelie voel dat sy ’n verpligting teenoor haar lesers het. “Hulle koop my boeke en het ’n absolute reg om my te ken op ’n ander vlak as bladsyvlak. Dis vir my van gróót belang dat hulle sal weet ek is ’n mens net soos hulle, en beslis geen ikoon of onaantasbare wese nie. Ek lag en huil en skinder en vloek en bid nes hulle. Ek  het ook ’n oortrokke bankrekening en sukkel ook met infeksies en ’n skommelende libido. My yskas is ook soms vuil en my beddegoed van tyd tot tyd pleitend vir ’n skoon oortrek. En wanneer ek dan so in alle windrigtings reis en op vreemde matrasse slaap en by onbekende tafels aansit, is dit doodgewoon ’n lewensreis na die doodgewone mense van die lewe.” (Kaapse Bibliotekaris, November/Desember 2003)

Verder skryf Annelie die volgende oor haarself: “Soms is ek só beterweterig en selfgesentreerd dat ek dit nie met myself kan uithou nie. Dan gooi ek leë bottels teen die garagemuur stukkend en praat in aaklige tale, sonder waardigheid of vroulikheid. Omdat ek ’n Kreef is, is ek by uitstek ’n huismaker en is verslaaf aan fyntuin maak. Al in die lewe waarvoor ek nie kans sien nie, is bergkranse klim en bungee-jumping. Ek is gek oor wollerige katte en geesryke boeke en is ’n telefoonslaaf. Ek het ’n gruwel in korrupsie en sal selfs die pous daaroor aanvat, al weet ek voor my siel ek gaan verloor. Die dinge wat my die meeste aantrek in die lewe, is kerse, reën, die ruising van die see en om in die middel van die nag wakker te word na ’n mooi droom. My grootste afkeure is as iemand dink ek is onnosel, as die bergwind waai en wanneer my hande taai is. En die vierde ergste is simpel grappe oor dom vrouens. Want ’n mens kry nie iets soos ’n dom vrou nie. As ek in ’n dier kon verander, wil ek ’n swart resiesperd of ’n pofadder wees. As ek vir die res van my lewe net een kossoort mag kies om te eet, sal dit sagte eiergeel op toast wees. As ek my lewe kon oorhê sal ek net een ding verander. Ek sal báie meer op my instinkte staatmaak vir visie en oorlewing. Dis ek. Niks méér as dit nie. Maar ook niks mínder nie.” (Inligtingstuk van Tafelberg)

Publikasies

Publikasie

Trippel sewe

Publikasiedatum

  • 1995
  • 2007

ISBN

  • 1874901392 (sb)
  • 9780624045076 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Queillerie
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ribbokvoete

Publikasiedatum

1995

ISBN

0799322334 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Klawervier

Publikasiedatum

  • 1997
  • 2004

ISBN

  • 0624036049 (sb)
  • 0624042286 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

ATKV-Prosaprys 1998

Vertalings

  • Duits
  • Nederlands
  • Engels 2005

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die trousseaukis en ander stories

Publikasiedatum

  • 1998
  • 2008

ISBN

  • 0624036855 (sb)
  • 9780624046509 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Raaiselkind

Publikasiedatum

2001

ISBN

0624040100 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

  • Nederlands vertaal deur Riet de Jong-Goossens
  • Engels

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Nawelstring

Publikasiedatum

2002

ISBN

0799329711 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Broodsonde

Publikasiedatum

2006

ISBN

0624044424 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Sabbatsreis

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780624045106 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Thula-Thula

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780624046851 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Duiwelsbrood en ander kort en lang stories

Publikasiedatum

2010

ISBN

97807993 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Sketse en kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Tabernakel

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780624

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Swart op wit

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780992176464 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Naledi

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels oor Annelie Botes beskikbaar op die internet

Artikels deur Annelie Botes beskikbaar op die internet

Hierbo word net ’n keur van Annelie Botes se rubrieke in die koerante aangetoon. Om ’n volledige lys te besigtig, kan die argiewe van Die Burger, Beeld, Volksblad en Rapport geraadpleeg word.

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

 

  • 2

Kommentaar

  • YVONNE SEAMAN

    More Annalie, ek het die afgelope vakansie by 'n vriendin in PE (Baai) gekuier en gevra vir leesstof vir die voor ek gaan slaap en sy het my jou boek Broodsonde gegee.
    Wat 'n wonderlike ervaring; ek wil jou baie geluk sê en jy het 'n "fan" uit Bloemfontein vir altyd!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top