Annelie Botes en Deborah Steinmair gesels oor Voetstoots

  • 0

Annelie Botes se nuwe boek, Voetstoots, bundel van haar beste rubrieke oor dekades heen. Dit is duidelik dat sy, soos Bart Nel nog hý was, nog steeds sý is, hierdie lesersliefling. Sy lok allerweë bewondering uit vir die prontuit manier waarop sy ʼn spyker op die kop slaan, die helderheid van haar skrywes. Sy noem ’n graaf ’n bleddie graaf. Die wag voor haar mond is AWOL en sy skroom nie om haarself in al haar onvolmaakte menslikheid te wys nie, soos haar destydse dobbelverslawing. Sy was al in die moeilikheid oor ’n onbesonne politieke uitlating, maar deesdae kners sy op haar tande en skryf oor die dinge rondom haar. Sy is orrelis van formaat. Ons was al saam met haar deur casino’s, bloedskande, sabbatsreis en ’n bargvaart, onder andere. Altyd plaas sy ’n mens vierkantig in die raam.

Sy beantwoord vrae met haar kenmerkende gebrek aan skroomvalligheid en voorgee.

Deborah Steinmair het die onderhoud gevoer.

Jy het geskryf jou ouers het hoë eise aan jou gestel en jy het daarom nooit geleer hoe om te verloor nie. Het jy intussen geleer, of was dit nie nodig nie?

Niémand hou daarvan om te verloor nie. Dis afbrekend vir die psige. Wat ek dubbeld en dwars geleer het, is om, alhoewel teësinnig, te aanvaar wanneer ek verloor. Maar ek moet die innerlike sekerheid hê dat ek nooit my eie beginsels mag verloor nie.

Jy skryf dat jy nie van vrouebidure hou nie omdat daar altyd geskinder word. Dink jy mans skinder minder?

Dalk nie minder nie, maar mans skinder oor ander dinge. Politiek, rugby, vroumense, geld, karre. Maar hulle geskinder, as jy dit so kan noem, is minder giftig.

Jy skryf oor “opskeploerders”, spongers, parasiete. Dink jy mense herken hulleself soms in jou skrywes? Dit lyk nie asof dit lesers afskrik nie.

Ek dink tog so. Maar dit skrik hulle nie af nie, want in die oë van sulke bloedsuiers is dit altyd iemand anders wat buite orde is. Nooit húlle nie.

Jy skryf baie oor die Gryse. Is daar ooit reperkussies van mense oor wie jy skryf en indien wel, hoe hanteer jy dit?

Die Gryse wil my gereeld hof toe sleep. Maar hy weet hy sal die regskoste moet betaal, so hy los dit eerder. Omdat ek oor ware mense en ware situasies skryf, en dié mense meesal by hulle regte name noem, hoor ek nogal gereeld van lesers wat ook vir sus en so ken. Of wat teenwoordig was toe dit of dat gebeur het. Maar in al die lange jare het niemand my nog ooit uitgedinges daaroor nie. Dalk wóú hulle, maar omdat dit feitelik korrek is, weet hulle dat hulle nie regtig ’n redenasie het nie.

Vertel van die Rio Abajo Rio, die rivier onder die rivier uit Women who run with the wolves en hoe jy daarby uitkom?

Each woman has potential access to Rio Abajo Rio, this river beneath the river. She arrives there through deep meditation, dance, writing, painting, prayermaking, singing, drumming, active imagination, or any activity which requires an intense altered consciousness. A woman arrives in this world-between-worlds through yearning and by seeking something she can see just out of the corner of her eye. She arrives there by deeply creative acts, through intentional solitude, and by practice of any of the arts. (Clarissa Pinkola Estés)

Die Engelse aanhaling sê alles. Die tragedie is dat vroue, én mans, soms verbasend onbewus is van die bestaan van so ’n innerlike rivier. Nog minder is hulle bewus dat hulle riviermond verstop is, en dan drink en drink hulle maar weer en weer die vergiftigde waters. En hulle word sieker en sieker. In ’n poging om gesond te word, vang hulle groter nonsens aan. Drink dit weg. Eet hande vol pille. Het affairs. Maak skuld. Speel sosiale vlinder. Vorm klieks. Word buitensporig-oppervlakkige bekeerdes. Dis nié die oplossings of antwoorde in die mens se tye van donker dale nie. Om die innerlike rivier skoon te kry van slik en rietgroeisels en dooie visse is eindelose harde werk. Dis moeilikste deel daarvan is selfeerlikheid. Dáárvoor sien hulle nie kans nie.

Jy noem ʼn ding by die naam, soos jou pisbuis waarop die predikant staan toe hy siekbedbesoek in die hospitaal doen. Kry jy ooit klagtes oor sulke woorde, of is mense verlig dat jy dinge namens hulle verwoord?

Ja, daar was oor die jare heen hier en daar mense wat gekla het. Maar dis dun gesaai. Solank ék voel die woord is in konteks gebruik, probeer ek om sonder pretensies te skryf. Daardie asprisgat-predikant het my bloed gesoek, en hy het vir my ’n brandende pyn veroorsaak. My gemoedstoestand was ontstoke. Ek wóú hom skok, sodat hy kan padgee.

Jou rubrieke is dikwels uitwysend (dit druk die vinger op die sweer) eerder as opbeurend. Is dit jou missie?

Dis nooit opbeurend om aan ’n pitsweer te druk nie. Inteendeel, dis pynlik. Maar omdat ek nie ’n vrou is wie se oggend- en aandpraatjies verskil nie, staan ek soms verstom oor hoe mense se lewensreëls en oortuiginge kan wipplank ry. Dan wonder ek hoe kry hulle snags sonder gewetenslas geslaap. My hoofmissie is om sélf rustig te kan slaap.

Hoe op aarde kry jy jaar na jaar soveel om te sê?

’n Mens moet oplettend wees oor wat rondom jou gebeur. Elke dag het sy eie klein tablo’s wat op sypaadjies, in winkeltoue, by restauranttafels, in die verkeer afspeel. As jy dit nie raaksien nie, en ook nie daaroor nadink nie, sal jy niks hê om oor te skryf nie.

Rubrieke is ook soos gedigte: Jy het ʼn enkele helder beeld of metafoor nodig, dan loop dit, lyk dit my. Soos die geheue wat soos ʼn konsertinasoetkys is. Wanneer val die idees jou gewoonlik by?

As iets my emosioneel aanraak, word dit soos die gedrup van ’n lekkende dak in my kop. Hetsy vreugde, woede, frustrasie, verdriet, skok of walging. Wanneer ek emosioneel afstandelik staan van iets, skryf ek bitter moeilik daaroor.

Ek lees van Hermaans wat moes buk vir die poets met die kat se stert. Is jy steeds ʼn poetsbakker?

Ek sal nie daarop roem dat ek ’n wafferse poetsbakker is nie. Maar ek hou van lag en stout en ondeund wees.

Hoe het dit gekom dat jou dogter ʼn swart pop gehad het?

Ons het daardie tyd nog in Bedford gebly en is kort voor Kersfees Port Elizabeth toe vir Krismiskoop. Toe is al die Germaanse slaappoppe uitverkoop. Toe kry sy ’n Xhosa-babatjie genaamd Beauty. Want in haar onleesbare briefie aan Vader Krismis het sy ’n pop geteken. Ek kon die kind mos nie teleurstel nie.

Ek sien jy het einde verlede jaar nog die poskantoor gebruik om boeke te versend. Doen jy dit nog?

Net vir oorsese pakkies. Sedert die inperking begin het, gebruik ek net Aramex-koeriers, wat op lesers se voorstoepe aflewer. Hulle diens is betroubaar en blitsig.

Jy hou van aanhalings uit ou Afrikaanse gedigte. Het jy dit gememoriseer, is dit deel van jou binnegesprek?

Daar is ’n musikaliteit in ou Afrikaanse gedigte. Dis selde dat ek ’n volle gedig memoriseer, maar sedert my hoërskooljare kan ek talle grepe in my slaap opsê. Alhoewel ek nie ’n kerkmens is nie, kan ek ewe veel Bybelgrepe resiteer. Op ’n keer wou ek by die Gryse geld leen. Toe sê hy botweg nee. En net daar in die kombuis slaan ek oor na die Klaagliedere van Jeremia (4:3) en sê vir hom: “Selfs ’n jakkals gee vir sy kleintjie die speen en laat hom drink ...” Toe leen hy maar die geld vir my.

Jy huiwer nie om jouself te beswadder nie. Dink jy dit is deel van jou gewildheid, dat mense kan identifiseer omdat dit eg is?

Of ek gewild is, kan ek nie sê nie. Baie mense hou nie van my nie, omdat ek nie iets soos grysland ken nie. En omdat ek gladweg in bleddie ongeskikte tale kan praat. Maar ek is nie blind vir my eie foute nie, en erken dit sonder skroom. Om jou eie swakhede te verbloem, is ’n las wat jy op jou skof laai. Ek dink mense hou daarvan om te sien die aarde hou nie op met draai as jy ’n fout begaan nie.

Leen jy nog boeke uit?

Ja, maar nie aan enige Jan Rap en sy maat nie. En ek teken aan wat ek uitleen. En ook die datum waarop dit terug moet wees, soos bepaal.

Lees jy ander mense se rubrieke en wat maak ʼn rubriek volgens jou geslaagd?

Ja, ek lees gereeld ander mense se rubrieke. Maar rubrieke wat vir my geen prentjie teken nie, en in stywe akademiese taal geskryf is, verveel my tot die dood. So, wat myself aanbetref, glo ek uitbeelding en leesbaarheid maak ’n rubriek geslaagd.

Wanneer skryf jy – het jy ʼn vaste roetine?

By Hettie Scholtz het ek báie geleer, en een van die dinge was: “Not a day without a word.” Maar ek het geen vaste roetine nie. My vrugbaarste skryftyd is in die nag, want dan is daar min onderbrekings en my gedagtes kan vloei. Ek hou van die knusheid van my lessenaarlamp en my sagte vlieskamerjas, en om in die donker van die kleinnag te gaan melkkoffie drink op ons stoepie.

Dit lyk nie asof jy jou veel uitspreek oor die regering en die stand van sake in die land nie. Is dit moeilik om stil te bly?

Hel moeilik. Soms jeuk ek soos iemand wat rooihond het. Maar ek weerhou my. Want as ek afblaas, kan dit ’n groot stoombol afgee. Deesdae lag ek in my mou oor iets wat doer in 2012 gebeur het. Swart op wit, wat seker beskryf kan word as ’n politieke boek, is daardie tyd afgekeur vir publikasie by Tafelberg. In die eerste draft van die boek het ek iets geskryf oor die buitelandse pers wat Jacob Zuma beskryf as ’n nar. Toe sê die keurder in die uiters negatiewe keurverslag: “... boonop praat sy sleg van meneer Zuma.” Vandag wonder ek stilletjies of hy wens hy kan daardie woorde terugtrek.

Jy laat jouself geld, maar is sekerlik nie ʼn feminis nie. Soms voel dit vir my asof jy ʼn ongeduld, ʼn geïrriteerdheid met vroue het – jy het byvoorbeeld ʼn koerantberiggie bewaar van ʼn Algerynse man wat tronkstraf verkies het bo huisarres saam met sy praatsieke vrou. Is dit waar, die ongeduld/geïrriteerdheid?

Ek is geïrriteerd met énige mens wat lieg, bevark, grootpraat en ’n gebrek aan basiese waardes het. Wat my die meeste irriteer van spesifiek vroue, is wat in die reeds genoemde Women who run with the Wolves beskryf word as “overladylikeness”. Die pruilmond. Die oordrewe uitspreek van woorde. Die allerheilige plastiekmondering.

My ma het altyd gesê: “Soos die ma is, só sal die huis en die kinders wees.” Ek raak sielsongeduldig met vroue wat dink hulle kinders is engeltjies met sjiffonvlerke, maar kennelik leer sy hulle nie wat is goeie maniere nie.

My volgende irritasie is met vroue wat in verkleinwoordjies praat. Soos: “Mooi daggie vir jou”; “Ek het vir die arme mensie in die hospitaal ’n bossie rosies geneem”; “Geniet die nawekie ...”

Ek raak ook erg krapperig met vroue wat oor niks anders as hulle mans se siekte en hulle opvreetbare hondjie en winkel specials en al hulle operasies en pille kan praat nie.

Maar in dieselfde asem het ek groot meelewing en deernis met vroue wat probéér, al kry hulle nie die Victrix Ludorum nie. Daar is min dinge so aangrypend soos ’n vrou wat haar opdraandes met ’n regop rug stap.

Die Bybel en ʼn woordeboek het jou lief gemaak vir lees, skryf jy. Watter boeke sal jy gryp as jou huis afbrand?

Ons het ’n A4-hardebandboek in onse huis, kompleet met inhoudsopgawe. Ons noem dit ons Lewensboek. Dit word áltyd op dieselfde plek gebêre, en daarin word alle belangrike inligting aangeteken. Bankbesonderhede. Polisse. Administratiewe telefoonnommers, adresse en e-pos-adresse. Besonderhede van ons mediese en pensioenfonds. Waardasies. Geplakte afskrifte van ons ID-kaarte, paspoorte, bankkaarte, motorpapiere, testament, kaart en transport van ons huis. Ons kinders se lewensdinge. Ek sal ons Lewensboek gryp.

Lees ook:

Skrywersonderhoud: Annelie Botes oor Kammaland

Annelie Botes (1957–)

FMR-resensie: Kammaland deur Annelie Botes

Lugkasteel deur Annelie Botes, ’n resensie

Kainsmerk deur Annelie Botes: ’n resensie

Annelie Botes thula nie oor bloedskande

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top