Annelie Botes thula nie oor bloedskande

  • 0

Titel: Thula-thula
Outeur: Annelie Botes
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624046851
Bladsye: 330
Prys: R165

 

Klik hier om jou eksemplaar van Thula-thula by kalahari.net te bestel.

“Want as daar ’n man van onkreukbare integriteit is wat dit nié aan sy dogter sou doen nie, is dit Abel Strydom.” (11)

Thula-thula vertel die skokkende verhaal van ’n pa wat twee en twintig jaar lank sy dogter molesteer, sodomiseer en verkrag en selfs ’n kind by haar verwek. Gertruida, of Truitjie, soos haar pa haar noem, het al die jare lank stilgebly oor die onreg wat aan haar liggaam en gees gedoen is. Wanneer haar ouers in ’n motorongeluk sterf, is sy vasbeslote om alle herinneringe van Abel en Susarah Strydom op hul plaas Kiepersolkloof uit te wis.

Annelie Botes het in 1995 gedebuteer met die roman Trippelsewe. Daarna publiseer sy nóg vyf romans, waaronder Klawervier (1997), waarvoor sy die ATKV-prosaprys in 1998 ontvang. Raaiselkind (2001) kom ook op die kortlys van die ATKV-prosaprys en is selfs in 2003 vir die verhoog verwerk. Verder het dié gesoute skrywer ook twee kortverhaalbundels, Die trousseaukis en ander stories (1998) en Nawelstring (2002), op haar kerfstok. Thula-Thula is haar sesde roman.

Thula-thula is ’n ontstellende roman oor ’n onderwerp wat vir baie jare in die Afrikaanse literatuur verswyg is. Net soos wat Annelie Botes in Raaiselkind die sosiaal-maatskaplike kwessie van outisme binne ’n gesin en ’n gemeenskap oopgeskryf het, spreek sy nou die kwessie van bloedskande aan. Wanneer die karakter Braham in Thula-Thula na die statistieke van bloedskande verwys, word die relevansie van die onderwerp beklemtoon. Volgens statistieke kom bloedskande in een uit elke vyf gesinne in Suid-Afrika voor.

’n Mens kan nie help om dadelik aan Elbie Lotter se Dis ek, Anna (2001) te dink nie. Die feit dat daar alreeds oor seksuele misbruik binne ’n gesin in Afrikaans geskryf is, doen egter nie afbreuk aan die kragtige impak van Thula-thula nie. Thula-thula is vernuwend in die opsig dat dit spesifiek bloedskande oopvlek, terwyl Dis ek, Anna seksuele mishandeling deur ’n stiefpa as hooftema het.

Thula-thula se skokgeel voorblad met die kindertekening op lyk van ver af té vrolik en helder vir die swaarwigtige tema van die roman. Van nader beskou is die kontras tussen die falliese rooi vetkryt en die getekende dogtertjie wat haar stokkiesarms voor haar geslagsdele hou, egter skreiend. Wat die voorblad verder treffend maak, is dat die dogtertjie in plaas van ’n mond net ’n kruisie het – ’n duidelike sinspeling op die titel, Thula­-thula, of “sjuut-sjuut”.

Die verhaal word uit twee karakters se perspektiewe vertel: die seksueel mishandelde Gertruida, en Mama Thandeka wat vir Abel as kind help grootmaak het. Gertruida se verhaal word vertel vanuit ’n derdepersoonsverteller se perspektief wat tussen die hede en die verlede wissel. Wanneer Mama Thandeka aan die woord is, word ’n eerstepersoonsverteller gebruik. Dis nie net die verskillende vertelinstansies wat dit maklik maak om te weet watter karakter aan die woord is nie, maar ook die karakters se taalgebruik. Waar Gertruida Standaardafrikaans praat, praat Mama Thandeka met ’n Afrika-dialek en gebruik sy uitdrukkings of metafore wat eie aan haar kultuur is, soos: “Ons het te lank met sneeu in onse harte gelewe” (108) en “Ou Pieta sit tot vandag met die grootmens-tjint. Nooit skool geloop nie” (113).

Die wisselende perspektiewe werk uitstekend in die sin dat die leser nie net die gebeure vanuit die slagoffer se oogpunt ervaar nie, maar ook ’n buitestander se blik op die Strydoms, veral Abel, kry. Mama Thandeka verwys baie keer na Abel se moeilike kinderjare. Dit wek nie heeltemal simpatie vir Abel by die leser nie, maar eerder begrip. Hy het immers nie skielik in ’n monster verander nie, maar sy beeld van ’n ouer-kind-verhouding, asook ’n huweliksverhouding, was van die begin af skeefgetrek.

Thula-thula slaag goed daarin om die dubbelsinnige verhouding tussen Abel en Gertruida uit te beeld. Alhoewel Abel Gertruida van vierjarige ouderdom af molesteer en sy hom haat (en by tye self daaraan dink om hom te skiet), is sy, veral as jong kind, tog ook lief vir hom - omdat hy haar pa is. Haar wroeging word die beste verwoord wanneer sy sê dat daar ’n “kloofbreë verskil tussen haar pa en Abel” is. (30) Abel is die monster wat sy verafsku omdat hy snags haar deurknop draai en haar ontneem van die reg oor haar eie liggaam. Haar pa is die man wat haar as jong kind leer skiet en saam met wie sy die pampoenland ploeg. Selfs wanneer Gertruida ouer is en haar pa toenemend verag, ervaar sy hom op die tennisbaan as ’n pa:

Duur raket, tennisklere, sportskoene. Soms het hy haar genooi om saam met die grootmense te speel, maar sy wou nie. Speel eerder ’n stel saam met hom voor die mense opdaag. Leergierig, want terwyl hulle op die baan is, is hy haar pá. Selfs al raak hy aan haar om iets te demonstreer, gril sy nie. (135)

Ook Gertruida se verhouding met haar ma is nie enkelvoudig nie. Susarah is sedert haar seuntjie, Anthonie, se dood ’n senuweewrak en boonop verslaaf aan lakseermiddels. Sy is dus nie in staat om vir Abel enigsins liefde en ondersteuning te gee nie. Susarah ignoreer Gertruida se hulpkrete oor wat Abel aan haar doen en beskuldig haar van liegstories en versinsels. Die tonele waar Susarah haar doof hou vir Gertruida se nood, is net so ontstellend as die tonele waar Abel haar seksueel misbruik. Die moontlikheid dat Susarah Abel nie teëgaan nie omdat sy self nie aan die ontvangkant van sy misbruik wil wees nie, word nie uitgesluit nie.

Ten spyte van haar ma se “hardhorendheid” voel Gertruida soms na aan haar ma wanneer hulle saam tee drink of naaldwerk doen. Dan is “die vrou agter die naaldwerkmasjien haar má, nie die hardhorende regter of die stom aandadige nie” (63).

Gertruida is verder oortuig daarvan dat sý die “gom [is] wat alles aanmekaarhou”, ook vir Abel en Susarah (128). Dit word veral geïllustreer in die aangrypende toneel in die kombuis waar Gertruida letterlik as “buffer” tussen haar ma en pa optree (129-30).

Daar is drie sake wat ontvlugting bied vir Gertruida: die kliphuis, die wêreld van woorde en Braham. Wanneer Susarah vir die week weggaan en Gertruida weet dat Abel sy frustrasies op háár gaan uithaal, vlug sy die veld in na haar kliphuis toe. Soms bly sy so lank weg dat dit ’n bietjie afbreuk doen aan die realistiese aspek van die verhaal. Gertruida se leergierigheid en fassinasie met woorde en letters bied ook vir haar ontvlugting. Dit dra by tot haar aanvanklike aangetrokkenheid tot Braham, haar Afrikaansonderwyser, wat ’n paar jaar ouer as sy is. Hy stel haar bloot aan digters en skrywers soos Ingrid Jonker, Eugène Marais, DF Malherbe, Boerneef, Francesco Petrarca en Mark Twain.

Gertruida se verhouding met Braham en die innerlike wroeging wat daarmee gepaard gaan, word goed uitgebeeld. Sy smag na sy liefde en beskerming, maar kan haarself nie vir hom gee nie, want sy verstaan nie iets soos liefde nie, en sy “weet nie wat goedheid is nie” (30). Die toneel op bladsy 240 is een van die hartroerendstes in die roman - omdat dit nie net Gertruida se poging tot liefdevolle liggaamlike kontak openbaar nie, maar ook Braham se insig in haar menswees.

In teenstelling met Gertruida wat kies om nie ’n klag teen Abel te lê nie, is daar haar klasmaat Andrea se verhaal. Andrea skenk geboorte aan ’n gebreklike kind en dit kom op die lappe dat dit ’n bloedskandelike kind van haar pa is. Gevolglik verloor haar pa sy werk as landdros, hulle verloor hul huis en sy en haar ma moet op die ou end in armoede leef. Dié verhaallyn funksioneer effektief deurdat dit ’n mens laat wonder of Gertruida se situasie beter sou wees indien sy nie stilgebly het oor Abel wat haar seksuele misbruik nie.

’n Mens kan nie anders as om die eerlikheid van die roman te waardeer nie. Gertruida word nie net as die hulpelose slagoffer uitgebeeld nie, maar ook as iemand wat die kuns van manipulasie vervolmaak het. So koop sy Abel om met gunsies om byvoorbeeld ’n motor te kry. Sy is egter nie gewetenloos nie, maar "weet sy is ’n manipuleerder. Dis ál mag wat sy het” (242). Gertruida se selfverwyt oor haar geslagsorgane wat menslik reageer het, word skreiend eerlik weergegee.

Die taalgebruik in Thula-thula is besonders. Mama Thandeka se uitdrukkings is soms soos rou poësie, soos wanneer sy byvoorbeeld na die dooies as “sterremense” verwys (256) en wanneer sy ’n verklaring probeer gee vir vroue en mans se verskillende maniere van hartseer verwerk: “’n vrou se kop is ampers heeltyd vol trane” (260), maar “’n man huil nie deur sy oë nie, hy huil deur sy spies” (220). Oorspronklike woordsamestellings soos “siekmooi” (64), “sneeuhart” (70) en “skeweskouer” (76) beskryf in ’n enkele woord dít wat normaalweg in ’n lang sin omskryf moet word, so akkuraat dat dit die leser bybly.

Wanneer Gertruida terugdink aan haar kinderdae, word die taalgebruik aangepas by haar kinderperspektief. Die kind se onmag en onbegrip dat dít wat met haar gebeur, nie normaal is nie, is juis so oortuigend vanweë die taalgebruik. Gertruida verwys byvoorbeeld na haar “pietermuis”, die “towersalf” en sprokieskarakters soos die “paddaprins” en “Doringrosie”. Die eufemismes vir geslagsorgane en die seksuele aktiwiteite maak dit aan die een kant makliker om die molesteringstonele te lees, maar omdat dit die onskuld van die kind beklemtoon en steeds grafiese beskrywings is, walg dit tegelykertyd die leser júis meer.

Die roman is vernuftig gestruktureer in die opsig dat die leser tot aan die einde toe wíl lees. Daar word baie vroeg in die roman reeds na belangrike gebeure verwys, byvoorbeeld Gertruida se swangerskap, Anthonie se dood en die konfrontasie met Braham. Die leser hou aan lees, nie om te sien wát alles met Gertruida gebeur het nie, maar eerder hóé alles gebeur het. Die enigste kere wanneer ’n mens die roman vir ’n rukkie wil neersit, is wanneer jy eers ’n bietjie moet asem skep ná sommige van die ontstellende gedeeltes. ’n Mens kry ook soms die gevoel dat sekere tipes molesteringstonele te veel herhaal word.

Thula-thula is definitief nié vir die sensitiewe leser bedoel nie. Die ouderdomsbeperking van agtien jaar is verstaanbaar, maar beteken nie dat tienderjariges dit nie met ouerbegeleiding kan lees nie. Dit is ’n roman wat jou tot in jou diepste ruk en ontstel, maar d ít is juis ook waar die krag van die teks lê. Die verhaal is oortuigend en realisties en spreek van deeglike navorsing oor ’n maatskaplike probleem waaroor daar te lank stilgebly is. Thula-thula is brutaal eerlik.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top