Skrywersonderhoud: Annelie Botes oor Kammaland

  • 0

Remona Voges het met Annelie Botes oor die Engelse kanale en haar boek Kammaland gepraat.

Kammaland
Annelie Botes
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781776094158

Annelie, baie geluk met nog 'n suksesvolle boek.

Jy het al baie oor jou oorsese reise en ervarings geskryf. Watter tydperk staan vir jou uit en hoekom? Sal jy miskien ’n paar foto’s verskaf?

Die bootreis in die Europese winter van 2017 was meesleurend en betowerend. Omdat Chris by my was, het ek altyd veilig en geborge gevoel. Maar die tyd in 2004/2005 by Granny staan met breë skouers uit. Ek was ’n volle jaar by haar, en dit was ’n tappende jaar waarin ek meermale oorweeg het om by ’n brug in Londen af te spring. My uithouvermoë, geduld en oorlewingskrag is in daardie jaar tot die droesem getoets. Nie soseer met Granny nie, maar met haar onstabiele dogter wat nooit ’n geleentheid laat verbyglip het om my te tart en te verneder nie. Die dogter het aan ’n gediagnoseerde woedestoornis gely, en sy het dit op almal rondom haar uitgehaal. Maar omdat ek ’n “housemaid” was, het sy my onophoudelik getreiter. Dat ek haar nooit bestorm en gebliksem het nie, is ’n kale genade. En dat ek tot die einde uitgehou het, het aan my bewys ek kán my laat geld, al noem sy my “the scum of Africa”.  

‘n Brug en herfsweerkaatsings (foto: Chris Botes)

Kammaland is op jou eie ervaringe gebaseer. Kan jy kortliks vertel waaroor die boek handel?

Dit vertel die storie van die 91 dae toe ons twee alleen op ’n narrowboat (longboat; kanaalboot) kop eerste in die Engelse winter ingevaar het. Dis nie ’n reisjoernaal of ’n vakansiestorie nie. Dis ’n emosionele joernaal.

Die kanaalboot (foto: Chris Botes)

Hoekom het jy en jou man besluit om die reis na Engeland aan te pak?

Ons raak ouer. Ek was 60 en hy 65. Die tyd om avonture aan te pak, raak korter. Ons wou gaan toets waartoe ons nog fisiek in staat is. Sodat ons ons prioriteite kon rangskik vir die sowat 15 aktiewe jare wat dálk nog voorlê.

Jy en jou ou gryse was al deur diep waters (letterlik en figuurlik). Wat was die grootse uitdagings waarvoor jul te staan gekom het tydens jul verblyf in Engeland?

Om nie die onstabiele en vertreurigde omstandighede in Suid-Afrika met bitterheid te haat nie. 

’n Sluis in Engeland (foto: Chris Botes)

Julle het talle interessante karakters op jul reis ontmoet. Watter van hierdie mense of herinneringe bly jou die meeste by?

Elke persoon op die reis het sy eie unieke herinneringe. Maar ek is hard geslaan deur die ruïnes van die gebombardeerde katedraal in Coventry, en die horingoue oom wat juis op die dag toe ons daar was sy laaste groet kom afgee het aan die plek waar hy as jong soldaat uitmekaargeskiete mense se oorblyfsels moes bymekaarmaak. Die prosituut in Rugby sal my ook nooit verlaat nie. En die Afrika-man wat my glimlaggend voorrang gegee het by die roltrap in Lichfield.

En nou dat julle terug is in Suid-Afrika? Mis jy die Engelse kanale? Sal jy ná alles ’n kanaalvakansie aanbeveel?

Daar gaan nooit ’n dag verby dat ons nie dink aan waar ons ons sus of so lank gelede bevind het nie. Ons verlang. Ons vergelyk. Ons rou. Ons smag. Dit was nie ’n vakansie nie, en ons het eindeloos hard gewerk op die boot, want ons moes alles versorg en onderhou en hanteer. Ek sal dit nie aanbeveel nie, want dit verander ’n mens se lewe onherroeplik, en die rou en smagting hou nooit op nie. 

Annelie maak ’n sluis toe (foto: Chris Botes)

Is daar ’n ander reis in die vooruitsig? Na watter plekke sou jy nog graag wou gaan?

Ons is nou in die proses om finale uitsluitsel te kry oor ’n reis in Oktober 2020. Colorado toe. Ons is genooi om vir ’n maand housesitting te doen by ’n rykmanshouthuis op die platteland by Manitou Springs, terwyl die eienaars in Batavia vakansie hou. Ons hoef nie te werk as sulks nie; ons moet net ’n oog hou. In my kop is ek klaar in Colorado, ’n uur se stap van die Rocky Mountains af.

Jy skryf op ’n baie eerlike wyse oor jou lewe. Hoe ervaar jou naastes dit? Dit kan nie altyd maklik wees nie. En waar trek ’n  mens die streep oor wat jy sê en wat jy maar eerder oorlaat aan die leser se verbeelding?

Hulle laat maar die waters oor die akker loop. Ek vermy om te skryf oor goeters wat regtigwaar vernederend vir my huismense is. Maar selfs daarvan deins ek nie altyd weg nie.

’n Sluis in die winter (foto: Chris Botes)

Dalene Matthee was destyds jou musiekonderwyseres. Kan jy iets hieroor vertel? Het sy ook ’n invloed op jou loopbaan as skrywer gehad?

Alhoewel ek by haar kitaarlesse geneem het, was sy nie my musiekonderwyseres nie. Klavier is my hoofsintrument, en daarin het ek onderrig gekry by mevrou Hubert by die skool. Tannie Dalene was net die vrou van die Standard Bank se bestuurder in Uniondale. Sy het my nooit gehelp met skryfgoeters nie. Sy het altyd gesê: “Met skryf is dit jy en jy alleen.” Maar haar ganse menswees en wysheid en massiewe algemene kennis het ’n onuitwisbare invloed op die res van my lewe gehad.

Jou laaste paar boeke handel oor jou eie lewe. Kan lesers weer uitsien na ’n fiksieboek? En waarmee hou jy jouself op die oomblik besig?

Daar is ’n roman in die pyplyn vir 2021. Volkome fiktief. Die kontrak is klaar geteken, maar ek wil nie nou al daaroor praat nie. Daar is nog te baie fasette wat uitgekyk moet word.

Herfs op die kanale (foto: Chris Botes)

Watter belangrike lesse het jy tydens jou lang skrywersloopbaan geleer?

Te veel om op te noem. My eintlike skryfmoeder was Hettie Scholtz, doerietyd met Trippel Sewe. By Hettie het ek meer geleer as by al die skryfmeesters altesaam. Seker een van die grootste lesse wat ek geleer het, is om my instinkte te vertrou. En om my nie te veel te ontstel of te steur as die media my in die grond in trap nie. Die belangrikste dáárvan is om die krag te hê om regop te kom en voort te stap op die pad wat jy weet vir jou uitgemeet is. 

Wat is jou gunstelingboeke van 2019 en waarom?

In 2019 was ek kranklik en siek en fisiek was dit ’n veeleisende jaar. Hartprobleme. Blaasprobleme. Die driemaandegriep. Daarom het ek min gelees, want ek was knaend besig om agterstallige werk in te haal. Maar die boek wat my van 2019 sal bybly, is die aangrypende digbundel van Hannes Visser, Die jaar toe pa ... Niks in dié digbundel is verskans nie, en ’n mens hoef nooit te wonder wat hy bedoel nie. Die eenvoud daarvan, en die gepaardgaande emosionele reis saam met ’n tienjarige mynseuntjie, het my dikwels laat huil. Omdat ek ook eens op ’n tyd tien jaar oud was.

Lees ook:

Resensie: Kammaland deur Annelie Botes

FMR-resensie: Kammaland deur Annelie Botes

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top