Resensie: Kammaland deur Annelie Botes

  • 1

Kammaland
Annelie Botes
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781776094158

Min lesers staan neutraal teenoor Annelie Botes as skrywer. Jy is óf mal oor haar werk, óf jy lees dit glad nie.

Vir die negatiewes is haar werk so persoonlik dat dit die leser ongemaklik maak. Too much information, soos die jonges graag vir ouer mense sê as iets hulle ongemaklik maak. Asof die ouer garde nie ook op gevoelens en begeertes (veral dié van seksuele aard) geregtig is nie. Diegene sal wel in Kammaland ’n bietjie skietgoed kry om hulle mening te staaf. Maar net ’n klein bietjie, veel minder as in vorige boeke soos Sabbatsreis en Lugkasteel, waar sy intens persoonlike ervarings met kenmerkende openlikheid beskryf.

Die oorgrote meerderheid van die Afrikaanse leserskorps wag gretig op elke boek van Annelie Botes. Hulle ken al haar vorige boeke en daarmee saam ook haar lewensverhaal. Hulle weet van die dobbelverslawing (Trippel sewe) en die granny wat sy in Engeland opgepas het om haar dobbelskuld af te betaal (Sabbatsreis). Hulle weet van die stout adellike seuntjies en die honger en die koue van Lugkasteel. Hulle weet van foute en dwaashede en impulsiewe optredes en die ellende wat dikwels daaruit voortgespruit het. Maar dit word Botes nie alleen vergewe nie; haar lesers het haar juis lief oor die eerlike menslikheid wat sy in haar werk openbaar.

Die rede vir hierdie vergewensgesindheid en entoesiastiese aanhang is eintlik voor die hand liggend: Annelie Botes kán skryf. Sy is nie alleen ’n waagmoedige mens wat die lewe kaalhand aanpak nie; sy het ook die onteenseglike vermoë om haar ervarings op so ’n manier onder woorde te bring dat die leser ten diepste daarmee kan identifiseer.

Kammaland is geen uitsondering nie. Ook hier neem Botes die werklikheid van haar lewe en maak ’n boeiende verhaal daarvan, met skryfwerk wat om die beurt (effens) skok, vermaak en ontroer. Die situasie is aan baie lesers geensins onbekend nie: ’n Vrou word sestig en sy neem bestek op van haar lewe. Hoeveel goeie jare bly nog oor? Hoe benut ’n mens dit ten volle? Watter herinneringe gaan jy hê om te koester wanneer die tyd om dinge te doen en avonture te beleef verby is? Wat van al die verlore kanse? Wat van jou man van meer as 40 jaar wat op 65 moes aftree om vir jonger – en moontlik minder bekwame – opvolgers plek te maak? Wat is daar vir hom oor? Wat is daar vir julle twee saam oor? Hoe gemaak met al die klein en groot misstappe en wrokke van meer as vier dekades? Hoe gemaak met die behoefte om – dalk vir oulaas – iets besonders aan te pak, iets wat nooit uit jou geheue sal verdwyn nie?

Ja, die toneel is vir duisende lesers nie onbekend nie. Die verskil is dat Botes die moed en vermoë het om eerstens iets besonders – ja, mens sou ook kon sê iets dwaas – aan te pak en om tweedens onderhoudend en openlik daaroor te skryf.

Daar is alreeds baie oor Kammaland geskryf. Lesers weet waarskynlik die skrywer en haar ou gryse het die verregaande ding gedoen om vir drie maande op die kanale in Engeland te gaan vaar. Ja, Kammaland is die beskrywing van hierdie reis, maar dis bowenal die roerende beskrywing van die innerlike reis van twee mense wat al baie sakke sout saam opgeëet het. Die ruimte op die boot is min, die fisieke uitdagings is groot en soms is daar werklike lewensgevaar. En hulle is op mekaar aangewese. Die beskrywing van die verdieping van ’n veelbewoë en verwikkelde verhouding is so eg, so aards dat dit nie anders kan as om die leser diep aan te raak nie.

Soos reeds gesê – Botes kán skryf. Die idilliese tonele van die Engelse herfs word so lewend geteken dat mens nie anders kan as om na jou foon te gryp en te begin google nie. Elke aand as sy met haar laaste sigaret op die gereedskapskis sit, groet die leser die kanaal saam met haar. Elke oggend is die leser saam verras, verheug, onthuts of ontsteld deur die toneel wat haar begroet wanneer sy met haar koffie op die dek uitgaan.

Langs die pad ontmoet hulle talle interessante karakters en beleef hulle vele momente van kosbare menslike kontak met vreemdelinge. Weer eens het Botes nie alleen die besondere vermoë om met uiteenlopende mense werklik kontak te maak nie, maar kan sy dit ook vir die leser so lewendig dit maak dat dit voel of jy die mense self leer ken het.

Ja, dis ’n opbouende boek wat jou laat wonder of jy dit nie dalk ook in jou het om ’n ongewone avontuur aan te pak voor dit te laat is nie. Daar is wonderlike oomblikke en wonderskone tonele wat jou na ’n idilliese bestaan sonder misdaad en morsjorse en magsbehepte politici laat verlang. Maar gaandeweg besef jy saam met die skrywer: van Suid-Afrika kan jy jou nie sommer losmaak nie. Ook in hierdie opsig het Botes die moed en die vaardigheid om die wroeging van menige reisende Suid-Afrikaner oop te skryf: Ons verwonder ons aan die veiligheid en die skoonheid en die dinge wat bowenal wérk waar ons ook al kom. Ons smag na die dae toe dinge in ons land ook (meestal) gewerk het, toe dinge (op die oog af) eenvoudiger was. Ons smag bowenal na die vryheid van ’n lewe sonder vrees, sonder hoë heinings, sonder diefwering en paniekknoppies en daaglikse misdaadverwante tragedies in die koerante. Ons maak planne om dit alles agter te laat en ’n nuwe lewe elders te gaan begin. Maar die meeste van ons besef uiteindelik ons het geen keuse as om te bly in die land van ons hartklop en ons bloed en ons murg nie. Suid-Afrika laat los jou nie so maklik nie.

Kammaland is ’n boek wat jy nie lig gaan vergeet nie, want Annelie Botes weet hoe om emosies en ervarings te verwoord wat die gewone mens nie eens in sy privaatste gedagtes kan omskryf nie. As jy ’n Botes-fan is, is hierdie boek ’n moet vir jou. As jy nie van haar werk hou nie, kan dit juis die boek wees wat jou laat herbesin.

 

Kom luister by die Toyota US Woordfees na die gesprek "Annelie Botes (en die ou gryse): Kammaland": Donderdag, 12 Maart om 12:30 by die boektent.

 

 

 

Toyota US Woordfees 2020: volledige program

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top