FMR-resensie: Kammaland deur Annelie Botes

  • 4

Titel: Kammaland
Skrywer: Annelie Botes
Uitgewer: Penguin Books
ISBN: 978177609 415 8 (druk)
ISBN: 9781776094165 (e-Pub)

Hierdie resensie is op 16 Oktober in Boekkeuse olv Amanda Botha uitgesaai.

Annelie Botes is 'n gewilde skrywer van aktuele romans en kortverhale. Ook skryf sy koerantrubrieke wat sy dan later as bundels kort tekste versamel. Hier nou haar jongste: Kammaland. Dit is ’n besonder netjiese en aantreklike uitgawe van Penguin Books in 'n baie lesersvriendelike formaat.

In Kammaland gaan dit om die tydperk Oktober 2017 tot Januarie 2018 toe sy en Chris alias die ou gryse rondgevaar het op die kanale in Engeland. Daaroor het sy destyds ook rubrieke geskryf. Netjies word voor in die boek vermeld watter plekke hulle beleef het op die heen-en-terug-reis. Plekke soos Banbury, Rugby, Oxford, Coventry, Great Haywood, Stoke-on-Trent en vele meer. Hulle het albei spesifieke take gehad: sy was byvoorbeeld die “sluisoopmaker”, hy die skipper en versorger van masjinerie. Dit word duidelik beskryf. En dan ook die weer, die koue, die landskap, die plantegroei, die diere, inkopies, die gebruike, stories en geskiedenis. En ook ’n verskeidenheid mense wat hulle gaandeweg ontmoet. 'n Aantal kleurfoto's gee 'n pragtige indruk van mense en plekke.

Die lesers van haar boeke ken vir haar en Chris, en ook hulle dogter Nasti en seun Rudolph wat in Engeland woon en hulle tydens die togte kom besoek het. Maar dis of jy hier vir hulle almal nog béter leer ken deur hulle verhoudings onderling. Annelie haal ook die verlede telkens op – hoe dit hul lewens beïnvloed het en dit nog steeds doen. Op bl 113 onthou Chris byvoorbeeld van ’n botsing in sy jeug met sy pa.

Nou noem ek 'n paar dinge waarmee ek nie vrede het nie.

In die erkenning van liedere en gedigte se kopiereg is daar 'n fout. Die digter van "Heimwee" is nie JML van Bruggen nie, maar JRL van Bruggen, die digter wat ook Kleinjan van Bruggen genoem is.

Lesers sal Annelie se oortuigende natuurbeskrywings bewonder, haar taalvernuf. Hulle sal ook haar gewáágdhede herken, wanneer sy byvoorbeeld die funksies van hulle onderlywe "rof en onbeskof" sal betrek (bv op ble 110 tot 111; bl 150). Lesers sal sekerlik verskillend reageer op haar en Chris se sekspraatjies en lyflikhede; party sal lag en ander sal dalk gesteurd die boek toemaak. Dit is ook opmerklik dat ná sulke skatologiese en erotiese insette daar dikwels gou godsdienstig gepraat word. God word geloof vir alles om hulle heen. God se seën word gevra. Soos op bl 81: "Bless die boot. Bless ons huis in Afrika. Bless die hande. Bless die beursie. Bless die swane en eende. Bless vir Kainsmerk. Bless die komende Raaiselkind-film. Bless die warm stortwater. Bless die herfs. Bless ons."

Dit sal ook nie by almal byval vind nie, veral nie saam met die ongesofistikeerdheid nie.

Annelie besin oor die toer in die algemeen: "Ons bestaan is 'n ongejaagdheid, bedreigingloos, sleutelloos” (bl 142).

"Die ding waarvan ons die graagste wou wegkom uit Suid-Afrika, is die nimmereindigende beskuldiging van rassisme.

"Van dag een af was ons met 'n vingerklap van al sulke ellendes ontslae. Binne 'n week het 'n ongekende gemoedsrus oor ons gekom" (bl 175.)

Sy huil nie oor haar eie sondes nie; daaroor het sy al baie gehuil Maar oor haar "geboorteland wat verskrompel” (bl 143).

Gewoonlik kan herhaling as 'n letterkundige hulpmiddel beskou word. Maar Annelie ooreis dit hier. Sy herhaal en herhaal die volgende werkwyse: Sy beskryf 'n gebeurtenis of toneel entoesiasties, besing dan die lof van Engeland na aanleiding daarvan. Hoe edel is die land en sy regering en sy mense nie!

Skaars 'n paragraaf of wat later skep sy 'n kontras met die Engelse voortreflikheid. Sy ryg ritse negatiwiteite oor Suid-Afrika in. Hulle sien byvoorbeeld hoe 'n bejaarde sonder vrese in die oopte slaap, met sy knapsak onbewaak (bl 40). Dan roep sy Suid-Afrika op. Dáár moet "’n ander oumens in helleangs luister hoe sy voordeur na middernag afgebreek word en toekyk hoe word sy rolstoel gekluisterde, godvresende vrou deur vier mans verkrag." Op bl 33 gee sy konkrete voorbeelde van die donkerte in Suid-Afrika. In ’n township word ’n sewejarige beroof by ’n spaza, verkrag en verwurg, op ’n ashoop of in ’n puttoilet “weggesmyt”.

Sy gee 'n rede vir hulle reis (bl 174): "Ons het gesmag om vir 'n tyd weg te kom van die politieke knoeiwerk in Suid-Afrika. Misdaad. Plaasmoorde. Mense wat verkrag en vermoor word. Die knellende waterskaarste. Beurtkrag. Vullishope. Skole en biblioteke wat afgebrand word. Protesoptogte wat wesentlik vandalisme-paarties is. Paniekknoppies. Veiligheidsdeure. Alarmstelsels.''

In Engeland kan jy betaal vir goedere deur geld in ’n “eerlikheidskissie” te plaas. Nêrens sien jy diefwering nie. Ergste misdaad is die steel van 'n fiets; daarvoor kan jy wel tronk toe gestuur word.

"So anders as in ons land: Ons s'n is 'n land van ontreddering en pandemonium." Op bl 49 noem sy Suid-Afrika ’n “verfoeste land”.

Die ophaal van hierdie verskille? Dit is tog tot 'n groot hoogte onoortuigend? Albei lande ken boosheid en edelheid. Heel teen die einde raak-raak sy aan Engelse wandade.

Na aanleiding van wonderbaarlike gebeurtenisse kom sy by nog ’n soort herhaling uit, nou feitlik woordeliks.

Sy beskryf iets moois in die natuur: "Ons raak stil en kyk na die druiwepers sonsondergang deurweef met goudblink streephale." Sy besluit sy sal die toneel in haar geheue bewaar en as sy eendag in 'n ouetehuis (let op die verouderde woord) se traliebed lê, dit gelukkig onthou. (Sien ble 115, 127, 218, 158 en 224.) Dis 'n beskrywing van 'n versorgingsoord wat deur die boek heen herhaal word. Op bl 19 gee sy ’n omvangryker en ontstellender beskrywing van mense op pad na die dood in so ’n oord. Uit ondervinding kan ek sê daar is verskillende soorte aftreeoorde met verskillende soorte versorgingseenhede. Nie altyd so neerdrukkend soos sy dit voorstel nie. 

Ten slotte iets verdoemends oor Suid-Afrika op bl 90:

Wanneer ons in Januarie huis toe gaan, gaan ons terug na ons eie chaotiese toring van Babel. ’n Toring wat eendag, nie so ver in die verskiet nie, topswaar gaan word en donderend grond toe kantel. Sodat almal in die nabyheid sal verstik in die asfaltwolke. En dié wat nie vermorsel word of doodverstik nie, sal stofblind rondtas.

  • 4

Kommentaar

  • En van Annelie Botes se bestes! Het heerlik saam met Annelie en die Ou Gryse gevaar. Bless hierdie resensie én resensent.

  • Ag nee! Soveel persoonlike voor- en afkeure in hierdie resensie. Die lewe, veral in SA, is vol kontraste en op-en-affe! Terwyl ek in die kerk die Here loof, word my kar buite gesteel. Met ‘n lied in my hart vloek ek die kardief.

    Dis wonderlik om ook ‘n eerlike boek oor kontraste te lees.

  • Avatar
    Salomé Jansen

    Vir my was “Kammaland” ‘n heerlike saamreis met Annelie en die ou Gryse wat ek helaas nie meer self sal kan onderneem nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top