Kainsmerk deur Annelie Botes: ’n resensie

  • 0

Kainsmerk 
Annelie Botes
Uitgewer: Penguin Random House Suid-Afrika
ISBN: 9781776093038

Annelie Botes het self al gesê sy “neuk altyd terug na die mens en sy broosheid”. Eweneens met Kainsmerk.

Botes se nuwe bundel is ’n samestelling van verhale wat in Vrouekeur, Huisgenoot en Rooi Rose verskyn het. Dink mens egter aan ’n tradisionele tydskrifverhaal, is dit meestal nie wat jy in Kainsmerk sal aantref nie. Die verhale is oorwegend donker. Sommige, soos “Swart Vrydag se Manna” en “Duiwelsbrood”, is eerder novelles.

Botes se karakters dra swaar aan hul Kainsmerke, dit waaroor mense nie sommer praat nie, of dit wat hulle met opset van ander se wrede oë weerhou. In haar voorwoord verwys die skrywer na Genesis 4 wat vertel hoe Kain sy broer in die veld doodgemaak het. God het hom tot ’n doellose swerwersbestaan verdoem, tog het Hy hom begenadig deur ’n merk op sy voorkop aan te bring. Enigiemand wat dié letsel sien, sou weet dat hy sewe maal gestraf sou word as hy Kain sou doodmaak. “Só word ons almal beskut. Dalk juis oor die Kainsmerke wat ons dra,” skryf Botes in haar voorwoord.

Bybelse verwysings kom deurgaans voor.

Soos met dié skrywer se romans Raaiselkind, Trippel sewe en Thula-thula wat onderskeidelik oor outisme, dobbelverslawing en kindermolestering handel, is die temas gewigtig. Die karakters kry uiteindelik insig in hul probleem en dikwels skyn genade deur.

Swakhede, tekort, berou en verlies word belig. Temas wat onder die loep geneem word, sluit in vrouemishandeling, depressie, Alzheimersiekte, huwelikstagnasie, anoreksie, alkoholisme, afdanking, ongeletterdheid en die lewenslange nadraai wanneer ’n baba afgeteken word. Daar is ook ’n karakter met die vreemde obsessie volwassebaba-sindroom. (Google gerus “adult baby syndrome”.)

Die verhale het ’n ouwêreldse gevoel; van die woorde ook. Voorbeelde sluit in “mannekyn” (model), “skulde” (skuldig), “waffer” (watter), “onse” (ons), “fouters” (foto’s) en “slimte” (intelligensie). Die skrywer weerspieël inderwaarheid ’n tydvak wat ter wille van die geskiedenis behoue behoort te bly.

Botes skryf toeganklik; haar sterkpunt lê egter in dit wat nié daar staan nie. Sy gooi die leser elke nou en dan met ’n bom. Jy sal bereid moet wees om vinnig van emosie te verander. Van hartseer na fassinasie. Van skok na empatie. Woede word nie uitgesluit nie.

Soos dit hoort, tipeer die dialoog en taalgebruik die karakters se ouderdom en hul komvandaan. Hulle sê ook dikwels meer as dit wat hulle uiter.

Beskrywings en beeldspraak is treffend. In “Tyd van droogte” het Isak “’n afgesakte” gesig. In “Druppel vir die maag” verag ’n vrou haar man omdat “hy oor jare heen daarin geslaag het om haar af te skil en op te kou tot waar sy niks meer as ’n afgeëte stronk is nie”. In “Swart Vrydag se manna” “rasper” die dag aan ’n vrou. Net jammer dat die cliché “krampagtig vashou/klou” meer as een keer in die bundel voorkom. Daar moet ook sekerlik ’n meer oorspronklike beskrywing wees as om in die “fetusposisie” op te krul.

Die skrywer weet hoe om ’n spanningslyn styf te span, soos veral in “Die stil nag” ervaar word. ’n Plaasaanval vind plaas en gebeure stuur op ’n knalslot af. Ook hier slaag die beeldspraak: “Dan is hulle (die inbrekers) binne, dan is die sand in die nekkie van die uurglas.”

Soms skryf Botes by ’n slot verby. In “’n Tyd van droogte” sou die tweede laaste paragraaf, “Die eerste vet donderdruppels plof teen die ruite en die heilige reuk van nat stof waai by die voordeur in”, ’n treffender slotsin kon gewees het.

Ander kere word die vanselfsprekende ongelukkig uitgespel. “Gejaag na wind” bevat ’n voorbeeld:

“Die lewe het haar verbygegaan. En sy het Theuns baie ontneem.”

Soos dit hoort, is die milieuskildering deurgaans sintuiglik. In “Die huilboerboon” verlang Magdaleen “ongevraagd” en “tot in haar borsbeen” na Theuns. “Herroep sy hom waar hy in sy rolstoel met die bak op sy skoot onder die huilboerboon sit en ertjies uitpeul, die radio wat aan ’n takpunt hang en die oggendgesang speel. Bly by my, Heer, terwyl die skadu’s daal ... Die blydskap in sy oë toe hy haar met die teeskinkbord sien aankom.” In “Sewe maer jare” beleef Susarah tydens ’n kerkdiens ’n gevoel van geborgenheid nadat haar man, Herbert, aan selfdood oorlede is. Botes skryf: “Die soet reuk van nagmaalwyn. Die fyn netlap wat soos ’n bruidsluier oor die kelkies gedrapeer is. Tuisgebakte suurdeegbrood wat in haar mond verklont. Gedrae orrelmusiek tydens kollektetyd, wat lang vergete woorde na haar terugbring: By die kruis, by die kruis wil ek bly ... Tot die stryd hier benee is volstry ...”

Die perspektiefwisseling wat oraloor voorkom, is nie altyd opvallend funksioneel nie, eerder steurend, veral in “Druppel vir die maag”, waar daar van die eerste persoon (“ek”) na die tweede (“jy”) en dan na die derde (“haar”) oorgeskakel word.

Botes se navorsing is deeglik, maar dis onwaarskynlik dat ’n anoreksielyer na ander lyers as “geraamtes” sou verwys. Die skrywer slaag wel daarin om die moontlike oorsake van dié uitmergelende siekte subtiel weer te gee.  

Nes die karakters, sal die meeste lesers van die broeiende verhale in Kainsmerk in hul menswees groei.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top