Boekonderhoud: Lugkasteel deur Annelie Botes

  • 12

lugkasteel_200

Lugkasteel
Annelie Botes
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781770229297

Annelie Botes gesels met Trisa Hugo oor Botes se nuwe boek, Lugkasteel.

Jy het 10 jaar geneem om Lugkasteel te skryf. Eers as mens die boek klaar gelees het, besef jy waarom. Is daar nog iets wat jy nou spyt is jy nie geskryf het nie?

Daar is talle klein tablo’tjies wat ek wou inskryf. Verál diesulkes wat handel oor ons gewone menslinge se lugkastele wat omdonder. Maar ek was versigtig dat dit nie word soos die onophoudelike drup van ’n kraan nie, alias Salomo. Die storietjie waaroor ek die spytste is dat ek dit nie tóg maar iewers ingewerk het nie, is oor die oom van Uniondale wat elke oggend 10 voor 10 in sy broek geskyt het. Waarom hy nie betyds by die longdrop in die agterjaart gekom het nie, terwyl hy geweet het van sy swakte, kan ek nie sê nie. Maar wanneer hy daardie stokstywe bol by sy broekspyp uitskud, kon die dorpsmense hulle horlosies daarop instel.

Ek is ook spyt dat ek weggeskram het van al die bonatuurlike insidente by die kasteel. Maar ek was bang die lesers dink ek plak opsetlik die pap dik aan, en dat my verbeelding met my op loop gesit het.

Dit is absoluut skrikwekkend wat jy deurgemaak het in die kasteel. Die vrou Josephine klink of sy meestal in ʼn dwaal was, soms het ek die indruk gekry dat sy net eenvoudig nie bewustelik dink dat jy nie kos gehad het om te eet nie. Het dit nooit by jou opgekom om haar bloot te vra wat van jou, jy het energie nodig om jou werk te doen nie?

Josephine was uitgeloog en sat. Hulpeloos verlam deur haar vier kinders se gebrek aan dissipline. Liggaamlik was sy by boomskraap. Om in haar laat dertigs vier kinders in sewe jaar te dra, te baar en te soog, is ’n bykans bomenslike taak. En sy het nie ’n vingernael se hulp van die lord gekry nie. Elke goewernante het padgegee kort na hulle aangeland het. Konsekwensie het totaal by die kasteelwerf uitgevlieg. Anders as met Granny se bemoerde dogter, het ek Josephine dikwels uit my siel jammer gekry.

Sy was ’n goeie mens, maar die omstandighede met die rebelse kinders het haar verstrooid en paniekerig gelaat. Sy het gereeld vergeet van hulle skoolbedrywighede, dis hoekom ek die skool gevra het om met my te kommunikeer via huiswerkboekies. Syself het min geëet; kos was nie hoog op haar agenda nie.  

Dikwels was ek só honger dat ek in ’n trans rondgesweef het. My kop het gesuis daarvan. Die kere dat ek wou kos vra, het die Kammanassie-vrou in my my verhoed om te vra. Bewustelik, en ook onbewustelik, het ek getoets wat my uithougrense is. Omdat ek ’n ryk verbeelding en ’n voorliefde vir dramatiese wendinge het, het die uithou-oorlog my nogal aangestaan. Omdat ek in my lewe nog nooit dun en plankerig was nie, en tog begeer het om só te wees, het die gevoel van skouerknoppe, sleutelbene en my skoene wat los aan my voete sit my op ’n rare manier geïnspireer om tevrede te wees met die minimum. En komende van Afrika het ek dit nie algeheel bisar gevind om hoenderkos en rou eiers en skille te eet nie.

Ja, die mens is ’n komplekse wese. Die Skotse dokter in Bedford het altyd gesê: “Annie, I don’t understand your emotional wiring.”

Dit was vir my net so ontstellend om te lees hoe Jarek gelyk en geleef het. Dis slawe-arbeid! Het jy nooit oorweeg om hulle by owerhede aan te gee toe jyself uit die situasie was nie?

Nee, nooit eens naastenby nie. My kinders het op daardie tydstip nog nie Britse burgerskap gehad nie, en die neersit van één skewe voet kon hulle groot skoolgeld kos. Ek het onwettig daar gewerk, en ek wou nêrens op die radar verskyn nie. Indien ek hulle aangekla het, sou ek ook na alle waarskynlikheid nooit weer die land kon binnegaan nie.

Jarek en Ludmila het hulle eie woonplekkie gehad, en hy het ’n ratelende kasteelkar gehad waarmee hy kon dorp toe ry om kos te koop. Hy moes ieder geval dikwels dorp toe ry om te gaan herstelwerkmateriaal koop. En hy en Ludmila het ’n weekloon gekry, so hulle was nie geldloos nie. My gedagte was altyd dat Jarek siek is, dié dat hy soos ’n uitgerafelde riet lyk.     

Die wit kat. Meeste mense gaan dink, regtig? Maar regtig nou?

Daar is geen verklaarbare antwoord wat ek kan gee nie. Witkat was nié ’n wasige gedaante nie. Hy was van vlees en warm bloed, en het gespin en teen my vel geknie. Hy het sy kop ingerol as ek hom vryf, en water gedrink uit ’n piering. Ekself verkies om nie in die bonatuurlike te glo nie. Bloot omdat dit my kriewelrig maak. Maar dát vele alledaagse mense al eienaardige en onverklaarbare ervarings gehad het wat grens aan ongeloofbaar, weet ek. Daarom is ek oortuig daar is mense wat onwrikbaar in die teenwoordigheid van Witkat sal glo. Soms, veral agterna, het ek gewonder of Witkat nie ’n engel was nie. Want ek glo beslis in engele. Sigbaar, en onsigbaar.

Daar het veel meer onnatuurlike insidente by die kasteel gebeur as wat in Lugkasteel vertel word. Ek is op geen manier ’n banggat mens nie. Maar ek erken ruiterlik dat ek soms verstard van kille angs was in daardie plek. Wanneer ek na die skilderye van stoere voorvaders gekyk het, kon ek sweer hulle oë roer. Die gang aan die suidekant met die voetboeie en slaghuishake teen die muur gemonteer, het my hartkloppings gegee. Net soos die hond wat op die kombuisvloer lê en slaap. Dan skielik lig hy sy kop op en spits sy ore, en sy oë volg iets of iemand. Dan knor hy. En slaan oor in tjanke, asof iemand hom seergemaak het.

Eendag wil ek egg-mayo maak vir middagtyd as die kinders van die skool af kom. Ek sit ses eiers in ’n pot op die Aga. Toe ek dit wil afhaal, is die eiers weg. Net weg. Die pot is nie drooggekook sodat die eiers dalk kon ontplof nie. Nêrens is ’n doppie te sien nie. Die hond sal nie kokende eiers uit die pot vreet nie. Of dalk hét hy?  

Op ’n ander dag kom ek in my kamer. Bo-op die spieëlkas lê drie griepkapsules wat ek uit SA saamgeneem het en wat in ’n botteltjie in die laai was. Al drie kapsules is oopgemaak, die poeier is uitgeskud op die laaikas, en die kapsules is weer toegedruk. Daar was daardie oggend niemand by die kasteel nie, net ek. Hóé het dit daar gekom?

Een laataand hoor ek die slag van glas wat breek. Naby. Ek weier om te gaan kyk. Toe ek toilet toe gaan voordat ek my lig afsit vir die nag, lê my tandepastaglas gebreek in die potysterbad. Die glas was in ’n muurkassie en die deur was toe. Hoe, vra ek jou, hóé?

Een van die grillerigste gebeure was toe ek een oggend met badtyd ’n skeef afgeknipte toonnael in die bad kry. Toe ek oorbuk om die prop in te druk, lê die aardige besigheid in die bad.

Sulke insidente ontstel my tot vandag toe. As ek nou, tien jaar later, op die bed sit en brei en ons kat lig skielik sy kop op en spits sy ore, voel dit of my kopvel styfspan.

As jy nou terugkyk en meer objektief kan oordeel, wat dink jy het intussen met die gesin in Meadow Court gebeur?

Niks. Hulle het net voortgeneuk. Die adelstand het allerlei finishing schools waar kinders gebeitel kan word om etiket aan te leer. En soos die kinders groter word, is daar altyd cousins en aunties wat help met die slypery.

Het jy ooit weer agterna kontak gehad met die gesin? Dink jy Josephine en George het agterna besef hoe hulle jou en ander werkers behandel het?

Vir omtrent ses maande nadat ek daar weg is, het ek en Josephine per e-pos gekorrespondeer. My vermoede is dat sy meer raad gesoek het, as geselskap of vriendskap. Omdat ek toe nie meer die housemaid was nie, kon ek onbevange reageer. Deur byvoorbeeld vir haar te sê daar is waardevolle artikels en oudhede in Meadow Court se herehuis wat skandelik verwaarloos is. Silwerware wat dringend gepoleer moet word. Leerartikels wat politoer kort.

Seker so vier maande nadat ek daar weg is, is Jarek en Ludmila terug Pole toe. Dit het haar erg ontstel, want toe moet ’n ander jaartkneg van voor af geleer word.

Nee, ek is oortuig hulle het nie oor die werkers gedink as mense wie se kragte op ’n einde kan kom nie.

Van tyd tot tyd loer ek op die kasteel se webwerf. En telkens staan ek verwonderd oor hoe móói en sprokiesagtig dit op die webwerf voorkom. Dan sien ek myself weer op my knieë op die vloer van die balsaal, besig om met ’n outydse borsel die vloer te politoer.

Ek weet nie of jy glo in reïnkarnasie nie, maar vir my lyk dit asof jy iets uit ’n vorige lewe moes kom beleef, om klaar te maak met ’n ervaring. Jy hoef nie hierop te antwoord nie, al wil ek die vraag graag die ruimte instuur.

Ja, ek glo in reïnkarnasie. Wedergeboorte, soos ék dit verstaan. En volgens mý geloof sterf elke mens met ongedane sake. Lesse wat nie geleer is nie. En hy moet terugkom om klaar te maak wat ongedaan gelaat is. Om die lesse te kom leer wat hom verbygegaan het.

Hoe het hierdie ervaring jou menswees en jou huwelik beïnvloed? Toe en nou, met die luukse van nabetragting? Vir enige ander skrywer sou ek nie hierdie vraag kon vra nie, maar jou rou eerlikheid daaroor is bekend en juis dít tref die mense.

Dit het my selfgeloof eindeloos versterk. Soos wat die tyd by Granny ook my selfgeloof hemelhoog laat groei het. Tog, nie op ’n egoïstiese manier nie. Ek dink nie ek is die hoender se hol nie. Ek weet net dat ek kans sien om enigiets aan te pak.

Die hele eskapade het nie ’n noemenswaardige invloed op my huwelik gehad nie. Ek reken dit sou eerder ’n negatiewe invloed gehad het as ek nié Meadow Court toe is nie. Want in die tyd by Granny en by Meadow Court het ek gesien dat dit nie altyd bevrydend is om jou vlerke te strek nie. Ek het met veel groter waardering vir die beskutting van my eie huis en die ou gryse se stille teenwoordigheid teruggekom van my verre reise af.

Hopelik sal die wander lust in my siel nooit stilraak nie. Maar ewe hopelik sal ek nooit weer so oorjeukerig raak nie.

Die heel laaste hoofstuk, die sinchronisiteit van Julian Friedman wat binne jou bereik was. Is dit tóg nog iets wat jy sou wou klaarmaak?

In my hart het ek dit lank reeds aan die genade oorgelaat. Eendag, so glo ek, sal die kans op my drumpel kom staan sonder dat ek so naarstiglik daarvoor hoef te soek.

Wat is daar wat jy gehoop het ek vra, wat ek nie gevra het nie? En wat het jy gehoop ek vra nié?

Ek is godsdankbaar jy het niks gevra oor ’n volgende boek nie. Of oor die politieke gemors van 2010 nie.

Daar is nie ’n vraag 10 nie. Annelie Botes doen dinge anders as ander skrywers.

  • 12

Kommentaar

  • A.E. (Elsa) van Rooyen

    Tans "verslind" ek LUGKASTELE vir twee redes: Annelie het die gawe om 'n gebeurtenis/storie haarfyn te vertel in so 'n mate dat die leser dit beleef. Die tweede rede is dat LUGKASTELE 'n Kersgeskenk vir my skoondogter uitmaak en dié geskenk moet in die pos kom!

    Annelie, as 'n goeie vriendin wat ek bevoorreg is om te mag ken en vir wie ek al minstens by drie (3) geleenthede genooi het om as gasspreker op te tree (en daar nie één onbehoorlike woord geval het nie): Mag ek vra: "Waarom is LUGKASTELE so deurspek met lelike woorde?" Waarom is die toneel waar jy en Chris liefde maak by die Telkom-toring ingesluit? Veral nadat die uitgewer dit NIE in Sabbatsreis ingesluit wou hê nie?

    Weet jy hoé moes ek jou die afgelope week verdedig het rondom jou taalgebruik onder gener en deser, bloot omdat ek in W/A-boodskappe melding van LUGKASTELE gemaak het sou iemand dit graag uit die hand wou bekom (en natuurlik goedkoper). Ek, Elsa, die "moeder Theresa" van almal! My hart was/is so seer . . .

    • Hantie van Wijk

      Ek verslind elke woord van AB. Sy praat my hart se woorde. Gevoelens, vrese, bekommernisse, frustrasies wat ek nie 'n naam kan gee nie, lig sy met soveel eerlikheid, opregtheid en menslikheid uit. Dit laat my minder krities na myself kyk. Ander mense is ook maar mense ...

      Dankie Annelie! En 'n lelike woord of twee is ook al 'n paar keer oor my lippe. Dis mos maar hoe baie van ons is. Net gewone mense. Sonder pretensie.

  • Laetitia Wolmarans

    Dankie, nou is my vrae ook beantwoord. Die boek, soos alles uit Annelie se pen, het so lekker gelees. Ek kon dit nie neersit nie. Die Bedford-stukkies was ook baie spesiaal.

  • Annelie Botes

    Ag, liewe Elsa, jy het nie nodig om my te verdedig nie. Al wat mense my moet gun, is om sonder voorgee te leef en my werk uit te stal. Ek was nog nooit 'n tweegatjakkals nie. Een van die trofees in my lewe is dat mense by my kry wat hulle sien. Ek is nie een dag só, en die ander dag sus nie. Jy, wat my goed ken, moes mos voor jou siel geweet het Lugkasteel sal nie 'n Sondagskoolles wees nie. Want ek is nie 'n Sondagskooljuffrou nie. 'n Tannie van 82 het openlik op FB gepos dat die toneeltjie op die bokseiltjie in die berg haar dié hardste lag in maande besorg het. Ek kry die idee dat jy nie 'n huwelik vol pret en stoutlikhede geken het nie. Laat jou hart nou ophou seer wees oor my doen en late. Ek vat volle baasskap vir elke woord wat ek in Lugkasteel geskryf het.

  • A.E. (Elsa) van Rooyen

    Liefste Annelietjie, dierbaarste Annelietjie, Ek dink daar is 'n groot misverstand tussen ons twee! Ek het aanvanklik na jou privaat e-pos 'n vraag gestuur, toe verwys jy my na LitNet ten einde die antwoord te kry. Ek aanvaar toe (lei verkeerdelik af) dat ons platform van kommunikasie LitNet sal wees. Wil jy nie asseblief ter wille van volledigheid die e-pos se bewoording HIER insluit/aanheg wat jy vir my geskryf het na aanleiding van bogenoemde vraag/kommentaar nie? Ek gaan nie 'n korrespondensie op-en-af aan die gang sit nie. Net ter wille van perspektief - asseblief sodat die "duisende lesers" wat LitNet lees, die volle prentjie kan kry nie? Ek bly jou bewonder vir jou skryftalent. Jy is ongekend talentvol en as ek nie hoef lelike woorde van voor tot agter te lees nie, waardeer ek jou nog meer! Mooi naweek. Elsa van Rooyen.

  • Annelie Botes

    Wátter volle prentjie? Jy het 'n vraag gevra en ek het geantwoord dat jy die onderhoud op LitNet moet lees om 'n antwoord te kry. Nee wat, Elsa, jy probeer nou 'n ding omdraai om te klink soos JY wil hê dit moet klink. Dis absoluut lagwekkend om te dink ek moet glo dat jy LitNet as ons kommunikasiekanaal beskou het. Ek is ver van 'n aap af. En kennelik is ek nie so Kristelik soos jy nie. Nimmer as te nooit sal ek jóú toelaat om voorskriftelik te wees oor my woordkeuses nie. Weet jy ooit wat "deurspek" beteken? Moet tog net in hemelsnaam nooit weer 'n boek van my koop of lees nie. Want dan moet jy weer van "voor tot agter" die abuse deurmaak. Wees versigtig . . . Jou publieke en herhaaldelike beweringe dat Lugkasteel "deurspek" is met lelike woorde "van voor tot agter" mag jou suurder te staan kom as waarop jy reken. Die teks bevat 95 000 woorde. As daar volgens skatting 50 "lelike" woorde is, kom dit wiskundig neer op ,05%. Dit is 5/100-stes van 1%. Besef jy enigsins hoe fraksioneel klein dit is? Hoe op aarde gaan jy dit wetlik regverdig as "deurspek"? En jy kan probeer soos jy wil, maar ek sal my nie laat soft soap met "liefste Annelietjie" nie. Jy ken die ou liedjie You started the joke ...? Oppas dat jy nie die een is wat huil nie. En hiermee sluit ek die korrespondensie af. Annelie

  • Ronelle Beukes

    Ek het pas laasnag Lugkasteel klaar gelees. Omdat ek moeilik baai sê vir Miss Bouts, haar bokseiltjie-storie en sonder pretensie skryf het ek eers kom Google wat op die internet is oor Lugkasteel. Baie dankie Annelie vir die opregte deel van jou menswees. Ek hoop opreg jy kry iets wat help om te kan skryf sonder pyn in jou sitvlak en ander lendene! Ronelle Beukes

  • Mêrie Scheepers

    Ek het pas Lugkasteel klaar gelees en ek kan net DANKIE sê. Sê nou net daar was nie 'n Annelie Botes wat in Afrikaans geskryf het nie? Reguit. Die waarheid, met insig en 'n lewenswysheid deur dure ondervinding bekom. Die stories is mooi, die stukke lewe is kosbaar. En niemand is windgat daaroor nie.

  • Ek woon in VSA. Het op Kwêla van Annelie gehoor. Is nou al 15 jaar lank weg van SA. Ek het 10 jaar laas enige Afrikaanse boek gelees. Sien die onderhoud, koop die boek "LugKastele" op Kindle and lees dit in 24 uur klaar. PERFEK. ONGELOOFLIK. FANTASTIES! Dankie Annelie dat jy weer Afrikaans vir my werklik gemaak het. EK LOVE die boek. Maar ek wil daardie Ingelse Lord gaan bliksem. Kan nie glo hulle het jou so sleg behandel nie.

  • Lynette Lombard

    Volgens my Annelie Botes se swakste skryfwerk tot dusver. Ek noem dit haar "wroegboek". Ek het die hele tyd, tydens die lees daarvan, die idee gekry sy twyfel aan haar eie skryfvermoë. Bly nog steeds 'n groot aanhanger en wag vir iets opwindends ....

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top