Voetstoots deur Annelie Botes: ’n resensie

  • 0

Titel: Voetstoots
Skrywer: Annelie Botes
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781776095247

Die titel van Annelie Botes se bundel koerantrubrieke, Voetstoots, is besonder gepas. Volgens HAT beteken voetstoots onder meer "net soos dit is, met alle sigbare en onsigbare gebreke" — en dit is dan ook hoe Botes se skrywes my opval — wat jy sien is wat jy kry, sonder pretensie of vertoon, kaalvuis en op die man af. Sy skryf jou kop óóp en laat jou na die elkedagse alledaagse kyk asof jy dit die heel eerste keer opmerk. Jy betrap jouself dat jy met haar saamstem, want wat sy skryf maak sin, en jy weet dis hoe dit behóórt te wees — in ’n perfekte wêreld.

Botes is deurwinterd en deurleef, as skrywer en as mens, en dit wys in die emosionele intelligensie wat uit haar werk straal. Deur dieselfde ongetinte brilglase waarmee sy na haarself kyk, besigtig sy dit wat om haar is en verwoord dit vlymskerp — soms genadeloos en priemend reguit, maar altyd met deernis, want sy verstáán dat die mens feilbaar is. En dis hierdie bewustheid van feilbaarheid wat haar toelaat om ook tong-in-die-kies en met heerlike humor te skryf, want as jy nie vir jouself kan lag (en vingerwys) nie, wat bly oor?

Die oorgrote meerderheid van die 215 rubrieke in Voetstoots het my tot introspeksie gedwing. Moenie die fout maak om te dink dat die skrywes prekerig en beterweterig is nie. Die verteltrant herinner eerder aan vertellinge wat jou beste vriendin oor ’n pot tee met jou sal deel. Dit is (dankie tog!) ook nie stroperig nie. Dit is eerder eerlike relase en kommentaar deurspek met waarnemings, mymeringe, koesterdinge, lewenswaarhede, vermanings en ook humor. Miskien práát Botes se skrywes reeds met haar lesers omdat sy nie haar innerlike stem verontagsaam en stilmaak nie. Is dit nie daardie stemmetjie hier binne-in ons wat ons so dikwels doodsmoor wat hoeka die euwel van alle kwaad is nie? Want as jy toelaat dat jou gewete jou aankla en ag slaan op dit wat kennelik reg en verkeerd is, sál jy mos genade in jou hart vind vir ’n ander en ook vir jouself. Dis reeds daardie stemmetjie wat jou in staat stel om, soos en wanneer dit nodig is, ook jou eie sondes onder die loep te neem, en ja, jou eie kop deeglik te was.

Botes skryf in "Vertrekpunt" só oor Voetstoots: "Dis allesbehalwe ’n foutlose boek. Soms val ons almal oor ons eie voete. Telkens staan ons op, stof ons kniekoppe af, swaai weer die pluksak oor ons skouers. En begin vir die soveelste maal by ’n vars vertrekpunt." Die rubrieke, wat sedert 2004 verskyn het, is opgedeel onder die volgende hofies: Ons kinders se kinders; Vêr in die wêreld, Kittie; Huis en haard; Dieretaal; ’n Tuinparadys; Aanhouer wen; Kapteinskap; Op reis; Vreemdelinge langs die pad; Die weë van die mens; Janusgesigte; Natuurwette; Iemand moet pa staan; Lelies van die veld; Op doktersorders; Toentertyd; Ingryping, en In die Kersseisoen. Dit is ’n heerlike mengelmoes van lekkerleesskrywes wat jy wens nooit wil ophou nie. Ek het sommer soggens ’n handvol op ’n slag gelees en dan deur die dag onwillekeurig nabetragting gedoen. Die verhale het soos fyn, taai spinnerakkies aan my onderbewussyn bly klou — geensins ’n hinderlike gewaarwording nie. Die woorde het my net bygebly, en ek het graag daaraan herkou en daaroor besin.

Koerantrubrieke se woordtellings word streng bepaal. Die skrywer moet dus baie ekonomies met woordkeuses omgaan. Elke woord moet na behore geweeg word om seker te maak dit dra wel die boodskap oor. Hierdie manier van skryf leer die skrywer selfdissipline, want jy moet jou vertel ken. Nie net moet jy jou kieskeurige koerantleser boei nie, maar jy moet die spreekwoordelike kaf van die koring skei. Botes kry dié toertjie baie goed reg. Sy slaag daarin om haar skrywes interessant en aktueel te hou, maar steeds tot die been te sny — sonder om beskrywings daaronder te laat ly én sonder om haar mond met aalwynsap uit te spoel. Sy skryf op bladsy 162: "Galbraak is seker nie verkeerd nie, maar dis hóé jy dit doen."

Skryf is immers ’n wetenskap, soos sy ook in "Sukses kom selde na jou toe aangestap" te kenne gee. Sy skryf in "Die storieboek wat in ’n mens vasgekeer lê" dat die belangrikste gereedskap wat ’n skrywer moet hê, woorde, herinneringe en verbeelding is. Jou herinneringe is die put waaruit jy water moet skep. Jy moet dit lewend hou anders verwaas dit in die vergetelheid — "Gebruik gereeld tyd om terug te blaai na die padborde van jou lewe. Ruik jou oupa se perskeboord. Sién jou ouma wat anysbeskuit knie. Trek gedagtegewyse weer jou trourok aan. Gooi weer ’n paar roosblare in ’n lieflingmens se oop graf. Dans weer soos toe jy agttien was. Oefen om jou witgekalkte mylpale te onthou. Ook dié wat omgeval het" (134).

Sy handhaaf ook ’n fyn en ingeoefende balans wat betref vertel en dialoog. In "Los tog die naelbyters om vredesontwil uit" skryf sy: "Deesdae het ek my resep gereed. As iemand my hand gryp en gegru na my naels kyk en vra ‘Annelie, hóékom byt jy jou naels so aaklig?’, dan loop ek tot agter haar en bekyk haar kussingdikke gatkant. Vra oënskynlik kalm: ‘En sê my: hóékom vreet jý jou boude tot sulke pampoenstampers?’" Reguit. Sonder blik of bloos of doekies omdraai. Maar op só ’n wyse gestel dat die leser luid wil "amen" daarop.

Die alewige stry en geskerts tussen haar en haar geliefde ou gryse is ’n bron van groot vermaak. So vertel sy: "Laat Dinsdag is die gryse hospitaal toe vir ’n skeur aan sy oortrommel wat herstel moet word. Meer as ’n jaar vantevore het hy in die see geswem en ’n hoogwaterbrander het sy trommelvlies laat bars. Maar vir almal vertel hy ék het glo sy oortrommel stukkend gepráát" (177). Sy deel ook kwistig huweliksadvies uit: "Sleggehumeurde dikbekkigheid is ’n slegte karaktertrek. Dis ’n aanduiding dat die persoon emosioneel nooit volwasse geword het nie. Ons almal verloor soms ons humeur of loop met bolkieste rond. Maar om jou kwasterigheid te misbruik om die mense wat teenaan jou heup leef te beheer, is vrotsige emosionele verrinnewering. [...] Al voel ons nie daarna nie, hê medelye en lag, gesels waar moontlik. Probéér die ander party gelukkig maak. Dis nie vals nie, dis ’n teken van sterk karakter en goeie opvoeding" (184).

Botes laat haar nie stilmaak nie. Sy gesels al skrywend met haar leser oor letterlik alles en nog wat. Sy trek te velde, lewer sosiale kommentaar, dra vaandels en lê eiertjies by dosyne. Sy put inspirasie deur haar oë en ore oop te hou en wakker deur die lewe te gaan. Sy het ’n lewendige belangstelling in alles om haar. En hiermee identifiseer haar lesers. Hulle lees iets van hulle eie leefwêrelde en ervaringe in haar skrywes raak wat aan hulle ’n gevoel van bekendheid gee. Sy verwoord wat baie van ons dink en voel. Ons lag saam met haar, huil saam met haar, onthou saam met haar, word kwaad saam met haar en skud ons koppe saam met haar. Dankie tog sy skryf op die agterblad: "Ek sal skryf tot die potlood in my kop stomp word, of tot ek dood neerslaan. Want skryf is vir my ’n sielsding."

Ek beveel Voetstoots, wat ’n hele 389 bladsye beslaan, heelhartig aan vir ’n besonderse leeservaring wat jou nie onaangeraak sal laat nie.


Meer oor die skrywer: Annelie Botes en haar eggenoot, Chris, bly al vir meer as twee dekades lank in Port Elizabeth. Lugkasteel, Kainsmerk en Kammaland het voorheen uit haar pen verskyn, asook Raaiselkind, Trippel sewe, Ribbokvoete, Klawervier, Sabbatsreis, Thula-thula, en ander.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top